HOEKOM HOU MENSE NIE VAN MY NIE?
Dit het nie geklink asof sy haar self bejammer nie, selfs ook nie eers verbitterd was nie. Sy was nog glad nie oud en afgeleef nie, daar was nog baie energie in haar. Sy het die vraag gevra soos een wat skielik oor haar eie lewe begin dink het en oor wat om haar omgaan, want sy was gewoonlik iemand wat heel gelukkig was met haarself en haar doen en late.
“Hoekom dink jy dat mense nie van jou hou nie?”
“Ek is altyd alleen, niemand kom kuier nie. Mense sal verby ry, maar nie stop om in te loer nie. Dit was toe ek nou so siek was dat ek opgemerk het dat daar nie oproepe is om te hoor hoe dit gaan nie, of ‘n buurvrou wat kom hoor of alles reg is nie. Ek het net begin wonder hoekom mense dan nie aan my dink nie, nie van my hou nie.”





“Foeitog, het jy uit die nes geval?” Dibri tel die voëltjie op en voel hoe die hartjie teen sy vingers klop. Hy laat dit in sy bak hand sit en bekyk dit van alle kante. Die voëltjie het ‘n gesonde veredos en lyk asof dit gereed is om te leer vlieg. Dibri kyk op in die boom, maar kan glad nie ‘n nes sien nie. Hy loop na die klein stroompie wat dig teen die boom verby vloei, druk sy vingers in die water en drup dit op die voëltjie se bekkie.
Die son sit al hoog, maar vandag maak die sonstrale hom nie warm nie. Joshua sien dat sy ma haar tjalie stywer om haar trek en besef dat sy ook die koue voel. Hy rek doelbewus sy treë om in te val by haar pas, want hy durf haar nie tussen die skare uit die oog verloor nie. Toe iemand hom ongeduldig uit die pad stamp, gryp hy instinktief na sy ma se hand en kyk verskrik op in haar gesig. Sy kyk af en glimlag gerustellend. Hy ontspan. Sy ma is sy toevlug tussen al hierdie vreemdelinge. Sy weet dat hy nie die voetstappe en stemme van almal om hulle kan hoor nie, en sy weet ook dat dit hom bang en onseker maak. Hy hou niks daarvan om tussen hierdie groot klomp mense te wees nie en hy begryp ook nie waarom sy ma hom op so ‘n lang reis saamneem nie. Hulle stap al van sonop vanoggend en hy sien hoe die skare net groter en groter word.