Waar die Hart van Vol is...(Nuutste)

DIE EERSTE BIDUUR

Die dissipels het teruggegaan van die Olyfberg, naby Jerusalem, en bymekaar gekom in die bovertrek waar hulle gewoond was om saam met Jesus te vertoef. Hy was nou nie meer by hulle nie, Hy het teruggegaan na sy Vader in die hemel soos Hy meer as een keer vir hulle verduidelik het. Hulle het saam gestaan en kyk hoedat Hy opgevaar het die hemel in, hoedat ‘n wolk tussen hulle en Hom ingeskuif het en hulle Hom nie meer kon sien nie. Hulle het woordeloos net gestaan en kyk en kyk. Jesus het nog sy hande uitgestrek oor hulle en hulle geseën toe Hy sommer net so geruisloos van die grond af begin opstyg het! Nie een van hulle het na Hom gegryp om Hom te probeer terughou nie, hulle was so verstom en verslae. Sou Hy weer terugkom?

Lees Verder »

MIDDERNAGFEES

Waarom ‘n middernagfees so ‘n bekoring ingehou het gedurende ons koshuisjare kon ek nog nooit regtig in woorde vaspen nie. Dit klink eintlik ‘n bietjie mallerig. Wekkers het ons nie gehad nie, want die koshuisklok het ons soggens baie luid vertel dat dit opstaan tyd was, en armhorlosies was baie skaars. Iemand moes wakker bly en die slae van die kerkhorlosie tel. Daardie twee ure na ligte uit in die koshuis het stadig omgegaan. Die kerkhorlosie het elke halfuur geslaan. So, half elf het redelik gou gekom. Die slaap het geklop, maar die elf slae wat helder deur die nagstilte weerklink het, het hoop gebring. Daar was nog ‘n uur oor om te wag.

Lees Verder »

DIE GEKNAKTE RIET

Jesus het op ‘n Sabbatdag in ‘n sinagoge gekom en daar ‘n man met ‘n verdorde hand gesond gemaak. Die Fariseërs was vir Hom smoorkwaad omdat Hy op ‘n Sabbat aan iemand goed gedoen het. Volgens hulle was dit nie geoorloof nie! Dink net! Hulle wou vir Jesus doodmaak omdat Hy aan ‘n man wat deur sy gebrek soos ‘n geknakte riet was, goed gedoen het. Jesus het toe vandaar weggegaan en op ‘n ander plek al die siekes wat agter Hom aangeloop het, gesond gemaak. Ons lees dat Hy hulle streng beveel het om Hom nie bekend te maak nie sodat die woord wat deur die profeet Jesaja gespreek is vervul kon word. Dan volg hierdie aanhaling dat sy stem nie in twis en harde uitroepe op straat gehoor sal word nie.

Lees Verder »

Explore the Books

Vanuit ‘n weduwee se pen

Heart at Rest

Om skielik weduwee te word is ‘n ingrypende gebeurtenis in ‘n vrou se lewe. Dit is soos ‘n ysterhand wat jou innerlike in ‘n greep beetkry en nie weer wil skiet gee nie.
Lees gerus die storie van die pad wat ek geloop het op soek na ‘n hart wat stil geword het onder die hand van die Een wat my weduwee gemaak het.

The Promise

This is one of those stories which knocked long and hard to be released. A story which I just had to write. Although it has characters who really existed, it remains a story. The main character is God, the Creator of Adam and Eve and the story is about the promise He gave them.
Then the story jumps to the fulfillment of that promise centuries later.

Shorter Stories

Dibri

“Foeitog, het jy uit die nes geval?” Dibri tel die voëltjie op en voel hoe die hartjie teen sy vingers klop. Hy laat dit in sy bak hand sit en bekyk dit van alle kante. Die voëltjie het ‘n gesonde veredos en lyk asof dit gereed is om te leer vlieg. Dibri kyk op in die boom, maar kan glad nie ‘n nes sien nie. Hy loop na die klein stroompie wat dig teen die boom verby vloei, druk sy vingers in die water en drup dit op die voëltjie se bekkie.

“Is jy uit jou nes geskop? Hou jou ma nie van jou nie? Toemaar wat, dit maak dan twee van ons. Ek is ook nie welkom in my ouma se huis nie, sy hou niks van my nie. Sy sê ek lyk nes my pa. Miskien lyk jy ook nes jou pa. Ouma hou ook nie van my pa nie.”

Hy druk die voëltjie teen sy wang en vryf dan saggies met sy voorvinger oor die koppie. “Ek ken nie my pa nie. Ook nie my ma nie, sy is dood. Daar is net Ouma en sy raas altyd met my. Ek probeer so hard, maar ek doen niks reg nie. Ek sal vir jou sorg, dan kan jy leer vlieg en dan gaan stap ons daar ver agter my pa se witklip, waar niemand met ons sal raas nie. Ek was nog altyd te bang om op te klim na die witklip, my ouma sê daar bly spoke. Maar as jy saam met my gaan, dan gaan klim ons daar rond. Kyk, hier praat ek nou so baie en jy is seker honger? Kom ek vat jou saam dan gaan haal ek koring uit die kruik daar in die kombuis.”

Dibri lag skielik vrolik en hou die voëltjie reg voor sy gesig: “Ek is nie so dom nie! Ek weet mos jy kan nog nie ‘n heel koringkorrel insluk nie, ek sal dit fyn kou en dan sal jy dit kan inkry.”

Dibri druk die oorhang takke weg en stap uit die koelte van die boom in die middagson in. Ouma sit buite in die skaduwee van die huis met haar rug na hom toe. Die buurvrou is daar by haar. Hulle sien hom nie en hy glip stilletjies by die deur in. Toe hoor hy dat hulle van hom praat. Dikwels merk hy op dat mense ophou praat wanneer hulle hom sien, maar nou weet Ouma nie dat hy hier agter haar rug staan en luister nie.

Lees verder…

Joshua

Die son sit al hoog, maar vandag maak die sonstrale hom nie warm nie. Joshua sien dat sy ma haar tjalie stywer om haar trek en besef dat sy ook die koue voel. Hy rek doelbewus sy treë om in te val by haar pas, want hy durf haar nie tussen die skare uit die oog verloor nie. Toe iemand hom ongeduldig uit die pad stamp, gryp hy instinktief na sy ma se hand en kyk verskrik op in haar gesig. Sy kyk af en glimlag gerustellend. Hy ontspan. Sy ma is sy toevlug tussen al hierdie vreemdelinge. Sy weet dat hy nie die voetstappe en stemme van almal om hulle kan hoor nie, en sy weet ook dat dit hom bang en onseker maak. Hy hou niks daarvan om tussen hierdie groot klomp mense te wees nie en hy begryp ook nie waarom sy ma hom op so ‘n lang reis saamneem nie. Hulle stap al van sonop vanoggend en hy sien hoe die skare net groter en groter word.

Sy ma stoot hom sag na die kant van die skare en toe eers merk hy dat hulle besig is om teen ‘n heuwel op te stap. Sommige mense het selfs al daar heel bo gaan sit. Toe hulle ook die top bereik, vat sy ma sy hand in ‘n stewige greep vas en baan vir hulle ‘n pad tussen die sittendes deur. Hy volg haar en probeer versigtig om op niemand se klere te trap of oor iemand se bene te val nie.

Uiteindelik is sy ma tevrede, gaan sit en trek hom langs haar neer. Hy sit styf teen haar en kyk belangstellend na die mans wat op groterige rotse reg voor hulle plaasgeneem het. Een van die mans is besig om te praat. Nie dat Joshua hom kan hoor nie, maar van al die mans daar, is dit net sy lippe wat beweeg. Joshua se oë bly vasgenael op die man se gesig, op die vriendelikheid wat van hom uitstraal, op die manier hoe hy sy hande beweeg terwyl hy praat. Hy is anders as al die ander.

Toe kyk die man skielik reguit in Joshua se oë. Joshua, die seun wat doof gebore was en vir elf jaar lank net deur sy oë kan waarneem wat aangaan. Hulle twee se oë ontmoet en die man wink vir Joshua om na hom toe te kom. Sonder om eers aan sy ma te dink, spring Joshua dadelik op en stap vorentoe met die grootste vrymoedigheid. Hy vertrou hierdie man en iets in hom trek die seun aan.

Lees verder…

 © Heart at Rest

en_ZAEnglish (South Africa)