DIE EERSTE BIDUUR
Die dissipels het teruggegaan van die Olyfberg, naby Jerusalem, en bymekaar gekom in die bovertrek waar hulle gewoond was om saam met Jesus te vertoef. Hy was nou nie meer by hulle nie, Hy het teruggegaan na sy Vader in die hemel soos Hy meer as een keer vir hulle verduidelik het. Hulle het saam gestaan en kyk hoedat Hy opgevaar het die hemel in, hoedat ‘n wolk tussen hulle en Hom ingeskuif het en hulle Hom nie meer kon sien nie. Hulle het woordeloos net gestaan en kyk en kyk. Jesus het nog sy hande uitgestrek oor hulle en hulle geseën toe Hy sommer net so geruisloos van die grond af begin opstyg het! Nie een van hulle het na Hom gegryp om Hom te probeer terughou nie, hulle was so verstom en verslae. Sou Hy weer terugkom?





“Foeitog, het jy uit die nes geval?” Dibri tel die voëltjie op en voel hoe die hartjie teen sy vingers klop. Hy laat dit in sy bak hand sit en bekyk dit van alle kante. Die voëltjie het ‘n gesonde veredos en lyk asof dit gereed is om te leer vlieg. Dibri kyk op in die boom, maar kan glad nie ‘n nes sien nie. Hy loop na die klein stroompie wat dig teen die boom verby vloei, druk sy vingers in die water en drup dit op die voëltjie se bekkie.
Die son sit al hoog, maar vandag maak die sonstrale hom nie warm nie. Joshua sien dat sy ma haar tjalie stywer om haar trek en besef dat sy ook die koue voel. Hy rek doelbewus sy treë om in te val by haar pas, want hy durf haar nie tussen die skare uit die oog verloor nie. Toe iemand hom ongeduldig uit die pad stamp, gryp hy instinktief na sy ma se hand en kyk verskrik op in haar gesig. Sy kyk af en glimlag gerustellend. Hy ontspan. Sy ma is sy toevlug tussen al hierdie vreemdelinge. Sy weet dat hy nie die voetstappe en stemme van almal om hulle kan hoor nie, en sy weet ook dat dit hom bang en onseker maak. Hy hou niks daarvan om tussen hierdie groot klomp mense te wees nie en hy begryp ook nie waarom sy ma hom op so ‘n lang reis saamneem nie. Hulle stap al van sonop vanoggend en hy sien hoe die skare net groter en groter word.