HOEKOM HOU MENSE NIE VAN MY NIE?

Dit het nie geklink asof sy haar self bejammer nie, selfs ook nie eers verbitterd was nie. Sy was nog glad nie oud en afgeleef nie, daar was nog baie energie in haar. Sy het die vraag gevra soos een wat  skielik oor haar eie lewe begin dink het en oor wat om haar omgaan, want sy was gewoonlik iemand wat heel gelukkig was met haarself en haar doen en late.

“Hoekom dink jy dat mense nie van jou hou nie?”

“Ek is altyd alleen, niemand kom kuier nie. Mense sal verby ry, maar nie stop om in te loer nie. Dit was toe ek nou so siek was dat ek opgemerk het dat daar nie oproepe is om te hoor hoe dit gaan nie, of ‘n buurvrou wat kom hoor of alles reg is nie. Ek het net begin wonder hoekom mense dan nie aan my dink nie, nie van my hou nie.”

“Mag ek vra of jy van mense hou?”
 

“Ek is al so baie in my lewe teleurgestel deur mense wat ek vertrou het. Ek vertrou nou niemand nie. Ek hou ook nie daarvan om by mense te gaan kuier nie, hulle steek mens so maklik in die rug wanneer hulle iets van jou persoonlike lewe weet, gooi sommer ‘n mens se naam oral rond. En as iemand siek is, gaan ek glad nie my gesig wys nie, want ek weet nie wat om te sê nie, buitendien is my beursie altyd plat, ek kan nie eers iets vir hulle koop nie.”

Deur die venster kon mens ’n tuin sien wat baie aandag kry. Pragtige rose en ander blomme was oral sigbaar. Sy het seker nog nie daaraan gedink dat ‘n bossie blomme uit haar tuin ook iets is wat ‘n mens vir die sieke kan gee nie,  blomme het mos ‘n taal van hul eie.

“Die Bybel leer ons baie duidelik: “Doen aan ander wat jy wil hê hulle moet vir jou doen.”

“Dankie, met die Bybel kan ‘n mens nie stry nie. Ek sal daaroor dink.”

Dit is waar, met die Bybel kan ‘n mens nie stry nie. Net so jammer dat daar nie baie mense is wat nog die Bybel opneem om dit te lees nie. Die Woord van God word maklik geïgnoreer en die mens leef soos hy wil en mis die wonderbare besef dat God in die hemel van jou hou. ‘n Mens mis dan ook die belewenis hoe aardse dinge vaag word in die lig van God se intense belangstelling in jou en in die siel wat Hy jou geskenk het. Maar Hy stel net so intens belang in die lewe van jou bure en in die lewe van die bedelaar wat snags nie ver van jou daar onder die brug slaap nie. Daarom verwag Hy van jou om nie net vir jouself te leef nie, maar vir ander rondom jou.

Die Bybel sê: “Laat jou vriendelikheid aan alle mense bekend word.” Miskien hoor jy, maar jy het die gewoonte om terug te praat. Nie dat jy stry nie, nee, jy sê net jou sê: “Ek sal net groet as hulle my groet, as hulle verby my loop asof ek nie bestaan nie, dan maak ek ook soos hulle. Hoekom sal ek my aan hulle steur en elke keer weer seerkry?”

Die Bybel sê ook: “Gee aan die wat van jou vra. Dit is beter om te gee as om te ontvang.” Dalk het jy daarop ook iets te sê?  “Ek werk hard vir my bestaan, lui mense probeer verniet by my bedel. Hulle kan ook werk en self geld verdien. Hoekom moet my huis se deur en my hand gedurig oopstaan vir die buurvrou wat nie kan beplan nie en alewig ‘n koppie meel wil leen, of twee eiers of melk, want hare het opgeraak.”

Jesus Christus het van mense gehou, maar so baie het nie van Hom gehou nie. Hulle het met Hom gestry, hom uitgeskel en sleggesê omdat Hy net goed gedoen het. Húlle kon nie blindes laat sien nie, húlle het nie die geloof gehad om lammes en kreupeles op te rig nie. Hulle het nie eers naby ‘n melaatse gekom nie, wat nog te sê van genees! Dit was egter waarmee Jesus besig was. Waar Hy gegaan het, was daar skares wat Hom gevolg het. Die wat nie van Hom gehou het nie, kon Hom nie stop nie. Oral in die land het mense oor Hom gepraat – hoe Hy met een enkele bevel die storm op die see laat bedaar het, die groot, woeste golwe en die wind het onmiddellik tot rus gekom. Die storie-aandraers by die wat nie van Hom gehou het nie,  moes hulle sekerlik gaan vertel het van die groot skare wat Hy gevoed het uit ‘n paar broodjies en vissies, ook van die wonderlike dinge wat Hy vertel het van die koninkryk van die hemel. Hulle het seker gewens dat hulle nie ore gehad het om nog meer te verneem nie. En daar was baie meer! Hy het dooies weer opgewek. Die berugte besetene wat daar tussen die grafte van Gadara gebly het, is bevry en die demone het van hom af uitgegaan en in ‘n trop varke wat teen die berghang gewei het, ingevaar. Soos mal goed het die varke begin hardloop en oor die kranse gestort om in die see te verdrink.

Jesus het nooit gewonder waarom mense nie van Hom hou nie, Hy het geweet. Hy was die Lig wat vanuit die hemel gekom het om elke mens te verlig en Hy was die waarheid en beide was nie welkom in hierdie wêreld nie. Jesus het mens geword met een doel – om die wil van Sy Vader te doen, of mense van Hom gehou het of nie. Nie soos Absalom wat die koninkryk van sy vader wou steel nie. Hy het doelbewus soggens vroeg uitgegaan om almal voor te keer wat op pad was na sy pa om raad te soek. Met bedekte motiewe in sy hart het hy met hulle gesimpatiseer omdat hulle nie hulp sal vind by die koning se huis nie. “Kyk, jou saak is goed en reg, maar van die koning se kant sal niemand jou gehoor gee nie. Mag hulle my as regter in die land aanstel, dat elkeen wat ‘n geskil of regsaak het na mý kan kom, dan sal ék aan hom reg laat geskied. En elke keer as iemand nader kom om voor hom te buig, steek hy sy hand uit en gryp hom en soen hom. Op dié manier het Absalom met al die Israeliete gehandel wat vir regspraak na die koning kom, sodat Absalom die hart van die manne van Israel gesteel het.” (2 Samuel 15:3 – 6)

Jesus Christus het niks vir Homself gesoek nie, alles wat Hy gedoen en geleer het, was om sy Vader in die hemel te verhoog. Die diepste verlange van sy hart en die heersende motief van sy lewe was om mense te versoen met sy Vader in die hemel dat Hy weer kon herstel wat Adam verbreek het. Daarom het Hy Homself vrywillig gegee om die mens te verlos van die sonde wat skeiding maak tussen God in die hemel en die mense wat Hy geskape het.  Die volk van Israel het egter nie aan Hom gedoen wat Hy vir hulle gedoen het nie. Hulle het Hom uit haat vir sy goeie dade laat kruisig, tog het Hy vir hulle gebid: “Vader, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Hy het sy lewe gegee omdat Hy van ons hou!

Hoekom hou jy dan nie van Christus nie? Is sy lig te skerp? Is sy waarheid te oopvlekkend? Is sy standaard te hoog?

 Absalom, met sy liefde vir homself, het nie baie ver gekom nie. Die kroon van sy bewondering, sy hare, het in die pad gestaan toe hy ‘n soldaat wou wees wat die koningskap van sy pa met geweld wou afneem. Toe sy rydier, ‘n muil, onder die digte takke van ‘n terpentynboom ingeloop het, het hy onverwags ontslae geraak van die ruiter op sy rug. Absalom se groot bos hare het vasgehaak en hom aan ‘n boomtak opgehang.  Dit was so ‘n perfekte galg dat sy arms en bene hom daar nie kon help nie. Nie dat sy nek gebreek het nie, dit was sy hart wat daar onbewapend gehang het as teiken vir die spies van sy pa se aanvoerder. Sy einde was ‘n graf in die bos met ‘n groot hoop klippe daarop gestapel.  Christus met sy liefde vir sy Vader in die hemel en die mense op aarde, is verhoog tot die Een aan wie alle mag in die hemel en op aarde gegee is. Hy leef tot in ewigheid en sit aan die regterhand van sy Vader in die hemel vanwaar Hy eendag met al sy engele sal kom om alles hier op aarde te finaliseer en af te handel.

Die wat van Christus hou, hou ook van mense en hulle stry nie met die Bybel nie. Die Bybel sê: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van volmaaktheid is.”

Heerlik is dit om te weet dat God van jou hou, dat jou naam in die boek van die lewe ingeskryf is en dat daar ‘n woonplek in die hemel vir jou gereed gemaak word. Dan maak dit mos nie saak of mense van jou hou of nie – jy hou van mense, want die Bybel staan opgeskryf in jou hart en met wat die Bybel sê stry ‘n mens nie, jy doen dit net. 
en_ZAEnglish (South Africa)