Die dissipels het teruggegaan van die Olyfberg, naby Jerusalem, en bymekaar gekom in die bovertrek waar hulle gewoond was om saam met Jesus te vertoef. Hy was nou nie meer by hulle nie, Hy het teruggegaan na sy Vader in die hemel soos Hy meer as een keer vir hulle verduidelik het. Hulle het saam gestaan en kyk hoedat Hy opgevaar het die hemel in, hoedat ‘n wolk tussen hulle en Hom ingeskuif het en hulle Hom nie meer kon sien nie. Hulle het woordeloos net gestaan en kyk en kyk. Jesus het nog sy hande uitgestrek oor hulle en hulle geseën toe Hy sommer net so geruisloos van die grond af begin opstyg het! Nie een van hulle het na Hom gegryp om Hom te probeer terughou nie, hulle was so verstom en verslae. Sou Hy weer terugkom?
Twee mans in wit klere het skielik by hulle gestaan en hulle teruggeroep na die werklikheid. “Waarom staan julle so en opkyk, Galilese manne? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” Dit was engele, boodskappers van God, wat gestuur was om die dissipels te vertroos – Jesus sou weer terugkom. Toe Jesus in die wêreld gebore is, het engele gekom en dit aan die herders van Betlehem openbaar en hier waar Jesus weer die wêreld verlaat het, was die engele weer daar, die keer om Jesus se volgelinge te verseker van sy wederkoms.
Op pad terug na Jerusalem, na die bovertrek waar hulle so dikwels met Jesus vertoef het, het hulle seker gesels en mekaar herinner dat Jesus dikwels vir hulle vertel het dat Hy teruggaan na sy Vader in die hemel. Ook die versekering dat as Hy vir hulle daar plek berei het Hy weer sal kom en hulle kom haal. Daar was ‘n vreugde in hulle harte, ‘n afwagting, want hulle het gesien en beleef hoedat alles wat Jesus vir hulle van Homself vertel het, waar geword het. Jesus het hulle verseker dat Hy die belofte van sy Vader vir hulle sal stuur, maar hulle moet in Jerusalem gaan wag totdat hulle met krag uit die hoogte toegerus word. Hulle moes van Hom gaan getuig tot aan die eindes van die aarde, maar eers wag vir die belofte – krag vanuit die hemel om die opdrag uit te voer.
Meer en meer mense het hulle kom opsoek daar in die bovertrek. Maria, die moeder van Jesus en sy broers wat saam met Hom grootgeword het, was ook onder hulle. Wat ‘n verstommende bymekaarkom moes dit nie gewees het nie! Hulle het almal gekom om te bid! Die Bybel vertel ons nie wat daar tussen die groep gebeur het wat vir tien dae lank daar saam gewag het vir die vervulling van Jesus se belofte nie – net dat hulle eendragtig in gebed saam was en gereeld in die tempel bymekaar gekom het om God te loof en te prys.
‘n Mens kan jou voorstel hoe hulle dinge met mekaar reggemaak het waar hulle so in aanbidding voor die Here vergader het. Johannes en Jakobus het seker met ‘n diep droefheid onthou van die dag toe Jesus hulle vertel het wat met Hom in Jerusalem sou gebeur. Dat Hy oorgelewer sou word, tot die dood veroordeel sou word en in die hande van heidene sou beland wat Hom sou bespot, bespuug en sou doodmaak, maar dat Hy op die derde dag weer sou opstaan. Hulle twee het nie begryp waaroor Hy gepraat het nie en het Hom nie gevra om te verduidelik nie, hulle was net vol van die verlange om hoë posisies te kry wanneer Hy sy koninkryk gevestig het. Hulle sou sekerlik om vergifnis gevra het aan die ander dissipels wat daardie dag so verontwaardig was oor hulle versoek. En hulle het gedink dat hulle die beker kon drink wat Jesus gedrink het en gedoop kon word met die doop waarmee Hy gedoop is. Hoe sou hulle nie geween het voor die Here en die ander dissipels nie.
Die broers van Jesus wat so hard en onvriendelik met Hom was toe Hy begin het om openlik te verkondig dat die koninkryk van die hemel naby gekom het, dat mense hulle moet bekeer, het hulle seker voor die ander verootmoedig en in gebed vir Jesus om vergifnis gevra vir hulle ongeloof. Saam met hulle ma het hulle Hom gaan soek daar waar groot skares Hom verdring het, hulle het gedink dat Hy sy verstand verloor het. Hulle was seker daar toe Hy sy tuisdorp besoek het en soos sy gewoonte was in die sinagoge uit die boekrol voorgelees het. Daardie dag toe die mense van Nasaret so aanstoot geneem het oor sy woorde dat hulle Hom uit die dorp verdryf het en van die kranse wou afgooi. Ek kan my voorstel hoe almal wat daar saam gekom het hulleself voor God verootmoedig het om alle wanopvattings oor Jesus en die ongeloof van hulle harte te bely. Hoe sou hulle nie geween het oor die hoogmoed van hulle harte nie, die beter-weet, die onderlinge gestryery. Alles wat tussen hulle gehaak en gekrap het, het hulle sekerlik mee afgereken om daar te kom dat hulle in so ‘n diepe, ware eenheid voor God kon saamkom om te bid en te vra vir die vervulling van Jesus se belofte.
Hoe sou hulle nie teruggedink het aan alles wat Hy hulle geleer het nie. Sy ma, Maria en sy broers het seker dinge uit sy kinderjare vertel. Tien dae later was hulle diep gereinig van enige saak wat tussen hulle verwydering kon bring. Hulle was een van hart in geloof dat Jesus die Christus is, die Seun van God, die Messias wat verwag was. Een van hart in die verlange dat Christus weer moes kom, een in hulle verlange om te ontvang wat Hy belowe het. Honderd-en-twintig siele en honderd–en-twintig koppe wat almal dieselfde gevoel en gedink het!
Die Bybel sê: “Hulle het eendragtig volhard in gebed en smeking…”
Dit is duidelik dat Christus eers ‘n gemeente, ‘n Liggaam vir Hom daargestel het – gelowiges wat een van hart was – voordat Hy die Gees gestuur het. Toe hulle een was, waarlik een in gees en siel en verstand, het die Belofte gekom. Hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het krag ontvang om getuies te wees van Jesus Christus. Krag om dissipels te maak vir wie hulle kon leer om alles te onderhou wat Christus beveel het.
En hulle het! Daarom is ek en jy vandag dissipels van Jesus Christus en getuies van Hom en sy magtige verlossingskrag.
Die kerkgenootskap waaraan my ouers behoort het, was by verre die invloedrykste in ons streek, eintlik in die hele Wes-Kaap daardie tyd. Hulle het ‘n instelling gehad dat die tien dae voor die herdenking van Pinkster Sondag elke aand ‘n diens gehou moes word. So het man en muis dan saans opgetrek kerk toe en die wat te ver gewoon het, het bidure op sekere van die plase gereël. Ons koshuiskinders het dan getrou, mooi in gelid, saans kerk toe gestap. So netjies in gelid het ons stil ingeskuif in die kerkbanke waar ons koshuiskinders gewoonlik gesit het. Die kerk se binnekant was vir my mooi met die baie prominente koper orrelpype. Oompie-orrelis kon darem daardie pype laat galm deur die kerk met die mooiste klanke! Ek is tot vandag toe nog baie lief vir orrelmusiek. Die preekstoel was redelik hoog bokant ons koppe, darem nie so hoog dat ‘n mens se nek seer geraak het van opkyk nie. Ek kan nie die dienste onthou nie, maar wel die predikante. Deur my koshuisjare was daar verskillende predikante in ons gemeente. Een dominee het ‘n vreemde gewoonte gehad. Dit het vir ons gelyk asof hy nooit in die oë van sy gemeentelede gekyk het nie, maar altyd hoog bo-oor ons koppe. Ons koshuiskinders het vas geglo dat hy vir blinde mense gepreek het voordat hy na ons toe gekom het. Dan was daar ‘n dominee wat sy hare altyd so geolie het dat dit roerloos plat teen sy kop gelê het. Die eerste keer toe hy op die plaas kom huisbesoek doen het, het my pa gedink dat hy ‘n agent van die oliemaatskappy was. Een dominee wat duidelik bewus was van ons klomp kinders het gewoonlik met ‘n vriendelikheid na ons gekyk en iets gesê wat ons ingesluit het. As hy ons in die straat raakgeloop het, het hy altyd gestop om te hoor hoe dit gaan. Ons het baie van hom gehou. Sommige van die dominees het vir die gemeentelede kans gegee om te bid. Was ons bly as van die ooms wat kort gebid het eerste opgestaan het, want daar was tannies en ooms wat baie lank kon bid, so asof hulle nooit weer wou ophou nie.
Tog het die Pinkster dienste ‘n groot seën ingehou, veral vir die ouer kinders in die koshuis. Dis net so jammer dat dit nie lank gehou het nie, die ywer vir die Here het verflou en dan moes ‘n mens maar weer wag vir die volgende jaar se spesiale aanddienste. So was dit egter nie met die heel eerste Pinkster biduur in die geskiedenis van die kerk van Christus nie. Daardie biduur het blywende vrug gedra. Wonderbare vrug. Die Heilige Gees is uitgestort om in die Liggaam van Christus al die werke te verrig en te bekragtig wat God in Christus vir die kerk voorberei het.
As daardie ware eenheid van hart en gees en gedagtes vandag in ons bidure gevind word, sal daardie seën en vrug van die eerste biduur nie ook in ons lewens sigbaar wees soos in die eerste dissipels van Christus nie? Dit is moontlik in die tyd waarin ons leef – sestig jaar gelede het dit in ons eie land onder die Zoeloes gebeur. Die sendeling, Erlo Stegen, skryf in sy boek Herlewing begin by jouself hoedat hy en ‘n klein groepie Zoeloe gelowiges gereeld bymekaar gekom het om die Here te soek vir ‘n diep en blywende werk in hul lewens, sodat sy krag in hulle geopenbaar word. Nadat hulle hul lewens gereinig het van alle sonde waarvan die Heilige Gees hulle oortuig het en van alles wat onderling tussen mekaar skeiding gebring het, het hulle ook ‘n biduur beleef waar hulle eendragtig bymekaar was, een van hart en gees. Skielik het die geluid van ‘n rukwind die bymekaarkom plekkie gevul en hulle het ervaar dat die Here daar was. Hulle is vervul met die Heilige Gees en kon in sy krag uitgaan. ‘n Herlewing het begin en ver uitgekring. Tot vandag toe nog is die vrug daar in lewens wat vol is met die Heilige Gees, volgelinge van Christus wat in eenheid saambid en saamwerk en die hele wêreld ingaan om getuies te wees van Christus se verlossingskrag en om die wat tot geloof kom te leer om alles te onderhou wat Christus geleer het.