WORD SOOS KINDERTJIES

Sy het so pas twee geword, hierdie agterkleinkind van my. Sy en haar ma het kom groet, want haar ma moes vroeg by die skool wees en het haar vir ‘n rukkie saamgeneem. 

Met ‘n ernstige gesiggie het sy vir my gesê: ”Skool toe,” en uitgegaan. In die gang het sy omgedraai, weer tot by my gekom, haar hand opgelig en met dieselfde ernstige gesiggie gesê: “Moenie huil.”

Gedurende die predikante konferensie was daar ‘n bejaarde Zoeloe egpaar wat ook hier by ons in die huis oorgebly het. Ons almal was besig om êrens te help, maar een het agtergebly saam met die klein mensie om ook ons gaste te ontvang. Sy het dadelik haar poppe en haar sagte speelgoed aan die gryskop prediker kom voorstel daar waar hy gesit en tee drink het. Toe ek inkom, was hy net besig om die poppe, die beertjie, die hasie en die lama mooi bymekaar op die bank te rangskik en vir die klein mensie en haar speelgoed totsiens te sê. Hulle wou by die eetsaal gaan inloer.
 

Ek het laggend gesê: “’n Mens kan sien dat u ‘n oupa is.”

“Ja, en ek begeer om die hart van ‘n kindjie te hê voordat ek tot sterwe kom.”
 

Hy was al uit by die deur, maar sy woorde het agtergebly.  Jesus Christus het vir sy dissipels gesê: “As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!”  Dit was vir hulle ore bedoel toe hulle onder mekaar geredeneer het wie die grootste in die koninkryk sou wees. Hy het ‘n kindjie nader geroep: “Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.”  Hedendaagse dissipels van Christus durf hierdie woorde nie ignoreer nie, want dit is ook vir ons ore bedoel. Soos die bejaarde Zoeloe prediker wat dit gehoor en ter harte geneem het. Die voorwaarde wat Jesus daardie dag toe Hy ‘n kindjie tussen hulle laat staan het voor die dissipels gelê het, het betrekking op ons. Ook ek en jy moet leer om onsself te verneder soos ‘n klein kindjie.

Dink maar aan daardie seuntjie tussen die groot skare wat vir Jesus gevolg het. In sy mandjie was die padkos wat sy ma seker met sorgsaamheid vir hom voorberei het – twee vissies en vyf gars brode. Hy het nie aan sy padkos vasgeklou en begin huil toe Andreas hom gevra het of hy dit maar na Jesus toe kon neem nie. Hy het nie vir homself bejammer dat hy dit moes deel nie. So eie aan die ingesteldheid van ‘n kindjie het hy dit vol vertroue en heeltemal gewillig aan die dissipel gegee. Saam met hulle almal het hy die wonder beleef dat meer as vyfduisend mense daarvan geëet en versadig geword het.
 

Wat van daardie klein dogtertjie wat deur ‘n bende plunderaars ontvoer was, weg van haar huis, haar land en haar mense en in die huis van Naäman, die leërowerste, beland het. Daar was sy ‘n slavin, maar haar hart was nog die van ‘n kind. Sy het so ‘n diep meegevoel gehad met die man in wie se huis sy eintlik ‘n gevangene was. Hy was  melaats: “Ag, as my baas tog maar net daar in my land by die profeet kon wees, dan sou hy sy melaatsheid wegneem.”

Kyk net na die kinderhart – geen wrokke, geen begeerte om te vergeld nie, geen lekkerkry omdat haar baas nou swaarkry nie, want hy wou mos sy mense in haar land instuur om kwaad te doen. Niks daarvan nie, net ‘n verlange dat hy van die melaatsheid kon genees word. Sy het seker nooit gehoor van iemand wat van melaatsheid genees was nie, maar daardie hart wat maklik kon vertrou, het teruggedink aan die profete van Israel en die groot dade wat God deur hulle gedoen het. Sy het ook nie gedink aan die gevolge wat haar een enkele uitgesproke versugting teweeg sou bring nie. Sy was nog net ‘n dogtertjie met die hart van ‘n kind, opreg en vol vertroue.
 

“As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!”

Sy dissipels het ervaar dat Hy hulle verkwalik toe hulle die ma’s wat hulle kindertjies na Hom wou bring, voorgekeer het. Hulle het seker gedink dat dit nie nodig was dat die Meester gepla moes word deur vrouens wat wou hê dat Hy sy hande op hulle kleintjies moes lê en vir hulle bid nie.
 
“Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.”
 Daarmee saam is nog die ernstige vermaning van Jesus aan elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in Hom glo, laat struikel. Jesus Christus sê dat dit beter is vir so ‘n mens dat ‘n meulsteen om sy nek gehang word en hy in die see gegooi word om te verdrink.
Glo ons dit nog vandag? Waarom dan die tragiese mensehandel – hulpelose kindertjies,  volkome onmagtig om hulleself te help, gekoop en verkoop vir doeleindes wat niks te doen het met die koninkryk van die hemele nie, niks te doen het met Jesus Christus wat verlang om hulle die hande op te lê en hulle te seën nie. Wie is daar wat  vir ‘n klein kindjie ‘n selfoon as speelding gee? Wie is daar wat ‘n klein kindjie wat lastig word inprop voor die televisie om hom besig te hou? Hoeveel mense is daar wat nie meer regdenkend is nie en klein kindertjies misbruik om hulle onbeteuelde begeertes te bevredig? Hoekom word kindertjies verhinder om na Christus te kom?
 
Baie, eintlik ontelbare meulstene sou nodig wees om hier op aarde die beter ding te doen waarvan Jesus Christus praat.
en_ZAEnglish (South Africa)