Waar die Hart van Vol is ...
DIT WAS WEER KERSFEES!
Hierdie Kersfees kon ek dit nie verhelp nie, my gedagtes het gedurig in Israel gaan kuier. Daar in Betlehem waar ons Messias in ‘n stal gebore is. Maria, sowel as Josef aan haar sy, was Jode. Hulle was afstammelinge van Abraham, die vriend van God. Abraham wat uitgelei is na die land wat God vir hom en sy nageslag belowe het. Abraham wat ook die vader geword het van almal dwarsoor die wêreld wat in Christus glo. Wie hier op aarde kan die feit uitkanselleer dat die Messias gekom het deur die volk van God? Al die nasies en volke word in Hom geseën soos God aan Abraham beloof het.
MAAR JULLE, GELIEFDES!
Die brief wat Judas aan die gelowiges geskryf het is nie lank nie, eintlik ongewoon kort, net vyf-en-twintig verse. Dit is verstommend hoe hy sy woorde kon inperk terwyl sy hart brandend was om met die gemeentes te gesels oor hul wonderbare gesamentlike geloof in Jesus Christus. Na sy opregte groet aan almal wat geroep was, in God die Vader geheilig was en vir Christus bewaar is, weerklink sy seënwense wat hy oor hulle uitgespreek het tot vandag toe ook vir ons wat geroep is, vir ons wat in God die Vader geheilig en ook tussen die is wat vir Christus bewaar word:
“Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word.”
SOUT WAT LAF GEWORD HET?
As iets darem nie eers goed genoeg is om op die ashoop gegooi te word nie, nie eers daarvoor deug nie, dan is dit regtig erg! Dit is die voorland vir sout wat laf geword het. Die smaak kan nooit weer teruggesit word nie. Nou kan jy miskien dink, maar wat het dit nou eintlik met my te doen of sout goed of laf is – ‘n mens kry tog altyd sout op ‘n winkelrak wat jy sonder enige probleme kan gebruik. Die saak staan egter so; dit wat Christus gesê het oor sout het baie definitief op my en jou betrekking, veral op die van ons wat nie van ons besittings afstand kan doen nie. “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie. Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word?
IS JOU OOG DAN VERKEERD?
Hy het op ‘n heuwel gaan sit – so kwaad dat hy kon sterf. Dit was die hele rede hoekom hy weggehardloop het, hy wou nie daar wees nie. Tevergeefs het hy probeer om van God af weg te vlug deur op ‘n skip te gaan wegkruip. Hy was ‘n profeet en moes geweet het dat ‘n mens dit nie kan doen nie. Die Here sien en weet alles, en wat meer is, Hy heers ook oor alles. Dus het ‘n verwoede storm op die see hom in sy wegkruipplek ingehaal en hom as die skuldige uitgewys. Ewe vroom het hy gevra dat die matrose hom maar oor boord moet gooi, liewers verdrink as om by God te pleit vir vergifnis. God is egter ook nie ‘n profeet se speelmaat nie. Hy het nie in die stormagtige see verdrink nie, want God in die hemel het een van sy groot visse gestuur om hom in te sluk.
WORD SOOS KINDERTJIES
Sy het so pas twee geword, hierdie agterkleinkind van my. Sy en haar ma het kom groet, want haar ma moes vroeg by die skool wees en het haar vir ‘n rukkie saamgeneem. Met ‘n ernstige gesiggie het sy vir my gesê: ”Skool toe,” en uitgegaan. In die gang het sy omgedraai, weer tot by my gekom, haar hand opgelig en met dieselfde ernstige gesiggie gesê: “Moenie huil.” Gedurende die predikante konferensie was daar ‘n bejaarde Zoeloe egpaar wat ook hier by ons in die huis oorgebly het. Ons almal was besig om êrens te help, maar een het agtergebly saam met die klein mensie om ook ons gaste te ontvang. Sy het dadelik haar poppe en haar sagte speelgoed aan die gryskop prediker kom voorstel daar waar hy gesit en tee drink het.
WERP JOU BROOD OP DIE WATER
“Kan ek gou Tannie se sak huis toe neem?” Hy was sekerlik op pad werk toe, maar hy het sy motorfiets langs my gestop en die swaar sak uit my hand gevat. Vir hom was dit geen moeite om gou om te draai en vinnig na my huis toe te ry nie. Ek het die vriendelike man agterna gekyk en onthou hoedat hy as ‘n klein seuntjie aan my deur kom klop het. “Kan Tannie vir my nog verder vertel van Bennie en Japie, asseblief.” Dit was twee karakters wat ek geskep het vir ons weeklikse Afrikaanse vervolgverhaal elke Vrydag. Hulle klompie van graad een tot graad sewe het dan hulle stoele in ‘n kring kom sit en weggeraak in die volgende episode. Min het hy geweet dat ek nog nie die volgende episode uitgedink het nie, die storie het maar met elke aflewering sommer so spontaan ontplooi.
DIE WERELD IS KLEIN
Nadat ons ontmoet het en ek verneem dat sy ouers in Madagaskar grootgeword het, het ek so terloops gevra: “Het jy dalk vir Daniël Rajakoba geken?” Sy gesig het oopgebreek in ‘n groot glimlag, asof ‘n lig vir hom op die vreemde plek aangesteek is: “Het jy hom geken! Hy was soos ‘n oupa vir my en my familie. Ons het hom goed geken en baie van hom geleer.” Die wêreld is klein! Hy en sy broer het van Frankryk gekom en ook die predikante konferensie hier bygewoon. Hulle het foto’s op hulle fone van Daniël wat soos hulle oupa was, en het dit vir my gewys. Het ons nou stories uitgeruil van die man wat ons geken het! Hy was ‘n besondere mens en ek was so bly om te hoor dat die oudste broer en nog ander beplan om ‘n biografie oor sy lewe saam te stel.
WORTEL VOOR DIE NEUS
Soos ek groot geword het, was die skilpaaie maar altyd daar in ‘n toegespande kampie agter ons huis. Daar was ‘n groot wyfie skilpad wat selde ‘n gat gereed gemaak het om eiers te lê – reg daar in die harde grond van die skilpad kampie. Dit was vir my en my broertjie ‘n baie interessante gebeurtenis. Ons was kort-kort daar in die kampie om te kyk hoe diep die gat al is, want ons wou gaan tel hoeveel eiers sy daar in die grond sou wegbêre. Baie metodies het die skilpad wyfie te werk gegaan. Eers het sy die area natgemaak, dan met die een agterpoot grond begin wegskraap, dan die ander poot. Vir ure het sy daar gesit en grou in die grond. Die gat het al dieper en dieper geword, bietjie vir bietjie het sy die grond uitgelig, eers met die een poot, dan met die ander poot.
HEUNING UIT DIE ROTS
Van my oupagrootjie aan vaderskant weet ek nie baie nie. Sy grafsteen is daar op die plaas waar ek grootgeword het; Barend Bartholomeus – gebore 30 S0eptember 1835 – gesterf 3 Maart 1919. Daar was altyd meer inligting oor sy pa, Jozua Petrus, die vyfde geslag van die ou stamvader, Pierre Joubert wat as Hugenoot van Frankryk na Suid-Afrika gekom het. Die Jozua was ‘n bekende perdeboer en ‘n wamaker, ‘n vrederegter en ook ‘n leier in gemeentesake. As ek nou my eie afleidings maak, dan was my oupagrootjie ‘n jong man van vyf – en -twintig toe daar onverwags in 1860 ‘n herlewing onder die mense van Montagu en plase in die distrik begin het. In die Kerkbode van Desember 1860 was daar ‘n verslag van professor Hofmeyer oor dié herlewing.
GEE JY DIE LAASTE…
My ouma het ons vertel toe sy en haar ma terug is na die afgebrande plaas, het hulle gebruik wat hulle kon. Die vryheid na die jare in die konsentrasiekamp was heerlik om te beleef. Die oorlog was verby en hulle het gehoop dat haar pa en broers tussen die oorlewende krysgevangenes sou wees wat volgens hoorsê op pad terug was. Nuus was skaars en sy en haar ma het vertrou dat hulle mense hulle daar op die plaas sou kom soek. My ouma was toe so ‘n sestienjarige dogter. Sy en haar ma het hard gewerk om ‘n leefbare slaapplek en kookplek vir hulle in te rig. Die vuur het verslind wat dit kon, maar hier en daar het iets agtergebly wat nog bruikbaar was. Die fonteintjie was nog daar en die stewige geboude wasplek buite. .”
BEDAGSAAMHEID
‘n Ruk gelede het die opskrif in my Bybel by Lukas 14 vanaf vers 25 – 35 my oog gevang: Gelykenis oor bedagsaamheid. Bedagsaamheid. Ek dink almal sal instemmend knik dat dit aangenaam is om saam met ‘n bedagsame mens te woon en te werk. Dit is ‘n mooi karaktertrek in iemand se lewe, iets wat mense aantrek en selfs harde harte bereik. Om met iemand om te gaan wat versigtig is hoe hy teenoor ander optree, oplettend is oor ‘n ander se behoeftes, sorgsaam is, tegemoetkomend en hulpgewend, bring warmte in die hart van die ontvanger. Iemand wat so ‘n bedagsame lewenswyse het, is ‘n maklike mens om mee oor die weg te kom, want die self kom nooit in die pad nie – ‘n ander is altyd meer belangrik as hyself.
LEER OM NEE TE Sê
Al die jare wat ek haar ken praat sy Duits met my en ek praat Engels met haar. Sy verstaan Engels en ek verstaan Duits. Ons twee het vanmiddag gesit en gesels oor haar lewe en hoe sy pyn as metgesel leer ken het. “Watter lesse het jy geleer deur al die lyding wat jy moes deurmaak?” het ek haar gevra. “Ek het geleer om nee te sê.” Ek het my ore gespits! Hoe dikwels wanneer mense in ‘n penarie beland en gevra word: “Maar waarom het jy dit dan gedoen?” Is die antwoord: “Ek kon nie nee sê nie.” So asof dit ‘n verskoning is wat aanvaar behoort te word. Soos iemand vir my een keer verduidelik het. “Die Here weet mos ek is swak, waarom het Hy dan die versoeking in my pad laat kom? Hy wèèt mos ek sal nie kan nee sê nie.” Blaamverskuiwing is vir sommige mense glad nie moeilik nie, al maak dit eintlik nie sin nie.
SLEGTE MANIERE
Ons het van kleins af geleer dat ‘n mens nie jou kos met oopmond kou en jou koffie nie met ‘n slurpgeluid drink nie, dis slegte maniere. Om oor die eettafel te strek om kos by te kom, is slegte maniere. Vra dat dit vir jou aangegee word. Om in jou neus te krap en iemand in die rede te val wanneer hy praat, is slegte maniere. Om ander nie te groet nie, om luid te staan en gesels waar ander teenwoordig is, is slegte maniere. Om ander mense te bespreek agter hulle rug en te spot en te lag, is slegte maniere: “‘n Mens maak nie so nie.” Slegte maniere is selde gestraf met ‘n pak slae. My ma se voorbeeld, berisping en onderrig het daar gelei en gerig. Behalwe wanneer my ma se ore opgetel het dat een van ons op ‘n astrante en onbeleefde manier met een van die werksmense op die plaas gepraat het, dan was daar ‘n goeie pak slae in die badkamer.
DIE DIEPER DORS
Net so voordat oom Flip Mclachlan uitgetree het as leier van die Stellenboschse Universiteitskoor, het hulle toer ook ‘n draai in Malawi gemaak. Ons moes slaapplek vir so sestig koorlede vir ‘n paar nagte daar in Blantyre reël en was geraak dat oom Flip en sy vrou verkies het om by ons te bly. Ek onthou hoe dankbaar hy was om ontbyt in die bed te kry, want die lang reis van die vorige dag was uitputtend. Vars gebakte bruinbrood en geroomde heuning was vir hom so lekker dat hy dit sommer dadelik vir die volgende ontbyt bestel het. Dit was ‘n aangename tyd met mense uit die Boland wat almal Afrikaans gepraat het. Die konsul van Suid-Afrika het die kans gebruik en al die Suid-Afrikaners in Blantyre uitgenooi om saam met die koor by sy huis te vergader vir ‘n ete.
VLUG VIR JOU LEWE!
Toe ek in standerd vier was, het ons ‘n leesstuk in ons Afrikaanse taalboek gehad wat ek tot vandag toe nog onthou. Die gebeure het êrens in die Ooste afgespeel. Dit het vertel van ‘n man wat een oggend baie vroeg uitgegaan het om in die rysvelde te werk. Hy het afgekyk op die dorpie ver onder op seevlak waar mense stadig besig was om wakker te word. Toe hy uitkyk oor die see het hy verstyf van skrik. Dit het gelyk asof ‘n reuse, donker berg van ‘n golf baie ver in die see oprys. ‘n Tsunami! Daar was nie tyd dat hy na die dorpie kon hardloop om mense te waarsku nie. Blitsvinnig het hy die rysvelde aan die brand gesteek. Onmiddellik was daar die gewenste reaksie. Iemand wat die rook gesien het, het alarm gemaak. Oud en jonk het hulle gehaas na die hoogtes om brand te slaan. Dit was hulle stapelvoedsel wat onder gevaar was.
MAAK TYD VIR GOD
Henog is ‘n karakter in die Bybel wat tyd vir God gemaak het. Die Bybel sê dat na die geboorte van sy oudste seun hy nog driehonderd jaar met God gewandel – toe het God hom kom haal. Hy het nie ‘n begrafnis hier op aarde gehad nie, hy was eendag sommer net nie meer te vinde nie. In Hebreërs lees ons dat hy as geloofsheld die dood nie gesien het nie omdat God hom weggeneem het. ‘n Sondagskool juffrou het eendag vir haar kleintjies gevra wie van hulle kon onthou waaroor hulle die vorige Sondag gepraat het. ‘n Dogtertjie het opgespring en gesê:
“Juffrou het ons van Henog vertel.”
“En wat onthou jy van hom?”
DIE HEEL LAASTE WOONPLEK
Verlede Sondag het ek op ‘n plaas gaan kuier waar die ou opstal gerestoreer word. Die jongmense het ‘n groot taak aangepak, maar hulle ywer en entoesiame was eintlik aansteeklik. Op die terugrit het ek ver teruggedink aan al die huise waarin ek al gewoon het, die sweet en harde werk wat daarin gegaan het om sommige leefbaar te maak – dertien verskillende woonplekke in die bestek van twintig jaar!
Op een plek waar ons was, het ‘n mediese dokter ‘n plaas in die distrik gekoop en vir my man die huis aangebied om in te gaan bly. My man het gedink dat dit ‘n aangename avontuur sou wees om daar te woon en heen en weer skool toe te ry. Hy was reg. Dit was voorwaar ‘n avontuur!
DIE UITNODIGING
Dit was reeds laatmiddag toe die telefoon lui en Tannie Sophie se bekende stem my begroet: “Ag, Esther ek loop nou al dae lank rond met ‘n lus vir vetkoek. Sal jy vir ons bak? Ek ry by die winkel verby en bring botter en appelkooskonfyt saam. Sien jou so oor ‘n halfuur.”
Tannie Sophie was ‘n kleurvolle karakter met ‘n nog meer kleurvolle verlede! Ons het haar in Malawi leer ken waar sy in Blantyre die seketaresse vir die konsul van Suid-Afrika was. Sy het al aangestap in jare, want toe ek in matriek was, was die saak teen Suid-Afrika oor Suidwes-Afrika aan die gang en sy was daar in Den Haag een van die gekonfyte sekretaresses vir die span Afrikaanse advokate.
HOE LYK JOU KAS?
‘n Paar aande gelede het my kleindogter een van my kas se deure oopgemaak. Sy wou vir haar man wys hoe diep die pakplek is en hoe prakties. Ek het opgemerk dat sy darem eers gekyk het of sy dit maar kon oopmaak! Dit het my gedagtes teruggeneem na die jonkmanskas in ons kamer daar op die plaas – ‘n pragtige kas van geelhout en stinkhout. Dit was ‘n ou familieplaas waar ons reeds die vyfde geslag was. Oral in die huis was daar meubels uit my oupagrootjie se tyd. Pragtige groot kaste in die slaapkamers met houtsneewerk op die deure en reuse ovaalvorminge spieëls in die middel.
EN DIT WAS SO
‘n Paar dae gelede het ek het weer die Skeppingsverhaal in Genesis gelees. Wanneer God ‘n bevel gegee het: “Laat daar … wees,”
Dan sê die Bybel: “En dit was so.”
Iets het in my hart gebeur elke keer wanneer ek die spesifieke woorde gelees het. ‘n Verlange het te voorskyn gekom, ‘n verlange dat dit oor my lewe gesê kan word.
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, en met jou hele siel, en met jou hele verstand en al jou kragte…”
En was dit so?
ONUITBLUSBAAR!
Baie jare gelede was ons een middag bymekaar vir ‘n personeelvergadering. Catherine het die woorde van ‘n lied op die swartbord geskryf terwyl ons vir die skoolhoof gewag het. Ons wou dit leer en saam sing.
“Lord, lay some soul upon my heart
And love that soul through me.
And may I humbly do my part
To win that soul for Thee.”
Oom Erlo het onverwags by die klaskamer ingestap en in een van die banke gaan sit.
IS DAAR NOG HOOP?
Waar kry ‘n mens ‘n beskrywing wat meer hopeloos is as dit wat in die Bybel in Markus 5 geskryf staan?
“… ’n man met ‘n onreine gees wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie; want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie. En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan.”
VERBETE WEERSTAND
Dit is al amper weer Kersfees. Die winkels is al lankal versier en baie mense het al klaar geskenke gekoop. Familie byeenkomste word beplan en spyskaarte sorgvuldig uitgewerk met kragonderbrekings in gedagte.
Sommige wat moet werk, voel sommer al by voorbaat die pyn dat hulle nie die samesyn sal kan beleef nie.
Dan is daar mense vir wie Kersfees ‘n tyd van emosies en ‘n tyd van herinneringe is. By sommige maak die herinneringe seer en die vrolike Kerstyd musiek wat oral opklink, veroorsaak ‘n wrang smaak…
WANNEER MENSE…
“Geseënd is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel…” (Lukas 6:22-23)
Ons leier en herder het sy loon in die hemel ontvang! Oom Erlo het so sag weggegaan, net opgehou asemhaal en hy was daar in die hemel by Christus wat hom kom haal het. So voor ons oë het hy geleef wat hy gepreek het en voor ons oë het hy getrou gebly tot die einde toe.
SKOON GEWETE
Nadat ek onlangs weer gelees het oor Paulus toe hy voor die goewerneur, Felix aangekla gestaan het – aangekla deur sy eie godsdienstige leiers – kom sy woorde dikwels terug in my gedagtes. Hy het gesê: “Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê.” Hy was onskuldig op al die aanklagte, sy gewete was rein voor God en ook rein voor die wat hom beskuldig het dat hy ‘n pes onder hulle was, ‘n verwekker van oproer en die voorman van ‘n sekte.
HERINNERINGE
Elke mens het herinneringe, want normaalweg het ons mos darem almal ‘n geheue wat gebeure en gesprekke wegstoor. My ma was sewe en neëntig jaar oud toe sy gesterf het en by haar het ek nooit ‘n bitter herinnering opgetel nie. Toe ek haar eendag daarna uitvra het sy vir my met ‘n glimlag gesê: “Ag kind, ek onthou net die mooi uit die lewe.”
My ma moes die gesindheid by haar ma geleer het want my ouma was ook so. Sy was ‘n dogter van dertien jaar oud toe hulle plaashuis in die Boere oorlog afgebrand is…
SIMSON SE MA
Die feit dat sy kinderloos was, was vir haar seker ‘n groter hartseer as die moeilike tye waarin hulle geleef het. Miskien was die droefheid maar altyd in haar gedagtes omdat daar in hulle gemeenskap ‘n onuitgesproke minagting teenoor haar was. Volgens hulle oorlewering het die seën van die Here nie op ‘n vrou gerus wat nie ‘n kind in die wêreld kon bring nie. Daar moes egter in haar iets gewees het wat die Here se aandag op haar gevestig het.
STRUIKELBLOKKE
Op ‘n sekere plaas was daar ‘n seun gebore – blind en verstandelik gestrem. Twee seuns van buurplase het graag die blinde seun geterg, op ‘n lelike manier geterg om vir hulle pret te verskaf. Soms het hulle hom na die rivier toe saamgeneem en daar sy skoene weggevat. Omdat daar baie doringbome gegroei het en hy nie kon sien nie, het hy dan met sy kaal voete bo-op die pendorings getrap. Sy uitroepe van pyn en hoe hy probeer het om versigtiger te loop, was vir hulle so snaaks …
DIE STYWE NEK
Om ‘n mens se nek styf te maak wanneer jy iets nie wil doen nie is sekerlik aan almal van ons al van kleintyd af bekend. Hoe baie geduld en tyd spandeer ‘n ouer nie om sy kind te leer om te buig en te kies dit wat reg en die beste vir hom sal wees nie. Ons weet almal dat gehoorsaamheid en ‘n stywe nek nie saam gaan nie, dit is of die een of die ander. Om die wil van ‘n kind te oefen en te rig om te buig, is die besondere en geseënde werk van ouers. Almal wat kinders groot maak weet watter uitdaging dit kan wees, want sommige kinders het ‘n wil van hulle eie wat skrik vir niks!
VERSLUIER ONDER DIGTE MIS
Vroeg een oggend het iets gebeur wat ek al dikwels voorheen gesien het, maar die dag het dit ‘n reuse effek op my gehad. Soos gewoonlik het die son opgekom en die landskap wat ek deur my venster kon sien, helder verlig. Ek het deur my kamervenster na al die bekende boorde en werksaamhede op die plaas gesit en kyk en toe het ek my weer in die brief van Petrus verdiep waar ek gelees het oor die hoop op ‘n onverganklike, onverwelklike en onbesmette erfenis wat daar in Christus vir ons is …
DIE DEUR
Net die ander dag het ‘n broer uit Openbaring 3:20 vir ons gelees: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou en hy met My.” Toe het hy opgekyk en gevra: “Dink julle ooit daaraan wie dit is wat by die deur staan en klop en aan watter deur Hy klop?”
JOB SE VROU
Dit is nou al weke lank dat my gedagtes so elke nou en dan terugkeer na Job se vrou. Oor haar man is daar ‘n hele boek geskryf, maar oor haar, net ‘n paar woorde. Toe Job daar bo in die hemel onder bespreking was, is sy nooit eers genoem nie. Nie soos Sara wat saam met Abraham genoem was nie of soos Elisabet wat saam met Sagaria genoem word nie. Job se vrou is sonder naam!
TERUG!
Terug in Suid-Afrika! Terug by ons kinders! Terug op die sending! Ek was maar net nie ‘n mens wat maklik kon weggaan nie! Daardie warm, heerlike gevoel en wete dat ek weer by my eie mense was, het my elke nuwe more ingewag wanneer ek wakker word. Dan was daar ook die gebruik om soggens vroeg by elke rondawel koffie te bedien. ‘n Sagte klop aan die deur, ‘n meisie wat inkom, vriendelik groet en nadat sy die koffie neergesit het nog eers bid voordat sy weer uitgaan. Dit was heerlik om tuis te wees!
TOTSIENS FRANKRYK!
Die tyd vir ons finale eksamen by die Taalskool het aangebreek en daarna was die plan om na Switserland te gaan vir ‘n drie maande kursus in kinderevangelisasie. Ek het egter al hoe sterker begin voel dat ek na die kinders in Suid-Afrika moes terugkeer. Maar hoe? Ons het die vorige jaar net eenrigting vlugkaartjies gekoop en daar was net mooi niks om vir my terugvlug te betaal nie. Eers het ek tjoepstil gebly, maar later was die geklop in my hart: “Jy moet huistoe gaan. Jy moet huistoe gaan”, darem so intens dat ek een oggend …
ONS KINDERS BY ONS!
Ons was heeltemal te vroeg op die lughawe en het met groot opgewondenheid gewag dat hulle land. Van ver af kon ons hulle al sien. Al drie warm aangetrek vir die winterkoue, maar tog net dieselfde. Natuurlik was daar ook trane van pure vreugde in die groetery; ons was weer almal bymekaar. In die motor op pad terug na die taalskool het hulle vrolik vertel van alles wat hulle op die lang vlug ervaar en beleef het. Was dit nou ‘n heerlikheid om weer die woorde pappa en mamma te hoor! Ons harte was so uitgehonger.
IN DIE TAALSKOOL
Gedurende die tien maande in die taalskool was daar insidente wat ek helder onthou. Soos die keer toe ek amper benoud vir die Here gevra het hoe ek ooit daar vir Hom ‘n getuie kon wees, want ek kon dan nie eers een woord in Frans sê nie. Woorde wat God vir Abraham gesê het, het in my hart kom woon as die riglyn vir my eie lewe daar in die Centre Missionnaire: “Ek is God, die Almagtige, wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.” Ek het beter begryp watter uitdaging daar vir ons gewag het om deur ons lewens die Evangelie te verkondig toe iemand kort na ons aankoms ons vir aandete genooi het.
HEIMWEE
Ek was bewus daarvan dat my huisvasgeit die rede was van die heimwee wat so maklik oor my geloop het. Een van my tannies het net mooi niks gehou van mense met baie geite nie. Gedurende my jare as kind in die koshuis het hierde heimweegeit alreeds vir my probleme veroorsaak. Daar het ek soms in my klerekas weggekruip dat ander nie my trane moes opmerk nie.
Skaars drie weke na ons troue was ons per trein op pad na Salisbury (nou Harare) en ek het by die venster gestaan en uitkyk soos die trein die heuwels bokant die Heksriviervallei uitgestoom het.
VER WEG IN DIE VREEMDE
Ons het ingetrek in ‘n woonstelletjie by Centre Missionnaire nie te ver van die grens van Switserland nie. ‘n Franse vriend en sy vrou het ons gaan haal op die lughawe van Geneve en daar afgelaai. Hulle kon Engels praat en so ook die Amerikaanse studente wat in die gebou gebly het. Verder was alles net Frans en my mond was vol tande, ek kon nie eers in die taal groet nie. Ons was waarlik in die vreemde!
Eers het ons maande lank gepraat oor my man wat Frankryk toe sou gaan om Frans te leer, want hy wou terug in Afrika om sendingwerk te gaan doen, spesifiek na die Franssprekende lande.
UIT MY EIE LEWE – VINGER OP DIE PROBLEEM
Splinternuut in die rol as getroude is ek in 1967 bekendgestel aan die lewe op ‘n sendingstasie in Malawi. Ons buurvrou wou aanvanklik nie met my man praat nie, sy was kwaad vir hom. Toe ek by haar gaan tee drink, het sy my ingelig waarom sy so omgekrap was.
“Jy lyk nog soos ‘n dogtertjie van skaars sestien! Hoe kon jou man jou so ver van jou mense af wegneem! Hy het ‘n goeie pak slae nodig!”
“Tannie, ek is amper twee-en-twintig en my ouers het nie besware daarteen dat ek hier is nie.”
UIT MY EIE LEWE – ABAMBO CHIPALIWALI EN AMAI MOLINA
Die einde van daardie jaar het ons vir goed terug na Suid-Afrika verhuis.
Die oggend voor ons weg is, was ek besig om te pak in ons studeerkamer wat ‘n buitedeur gehad het. Dit was nog pikdonker, my man wou dat ons reeds teen vyfuur in die pad moes val. Daar was ‘n sagte krapgeluid teen die deur en toe ek dit oopmaak het die ou vader Chipaliwali en sy vrou, ma Molina, daar gestaan. Hulle het op die oorkanste heuwel gebly en het in die donker die paar kilometer gestap om te kom groet.
Hulle was reeds oud, baie oud.
UIT MY EIE LEWE – TERUG IN ONS LAND
Ons het weer nes geskrop in ons land en huis gekoop. Deur alles heen het daardie geestelike ontwaking wat ek in Malawi beleef het nie weggewaai nie. Daar was ‘n vae en onrustige soeke na ‘n dieper lewe wat my bly ontwyk het. Dikwels het ek my afgesonder om te bid. Ek het ook begin om vir my man om vergifnis te vra vir insidente waar ek hom seergemaak het want dit het baie meer belangrik geword dat ek hom moes gelukkig maak. Ek het met nuwe oë van waardering na hom en ons kinders gekyk. Dit was so ‘n vreugde om spesiale dinge vir hulle almal te doen en dit saam met hulle te geniet. Dit was vir my belangrik om by die huis te wees en toe te sien dat dit ‘n tuiste is waar almal gelukkig en ontspanne kon wees.
UIT MY EIE LEWE – DIE DUIWEL HET SY HOU INGEKRY
Na ‘n diens in die kerk wat my geraak het, het ek gebid en die Here gevra waar ek inpas in sy koninkryk, wat dit was wat Hy bedoel het vir my lewe hier op aarde. Na die gebed het ek toe een nag ‘n droom gehad, so helder en duidelik. In die droom het ek in ‘n kamer ingestap en oral het stukkende kruike rondgelê. Met ‘n diep deernis en besorgdheid het ek van die stukke opgetel en in my hande het die stukke bymekaar gekom en weer ‘n heelgemaakte kruik geword – sonder ‘n enkele kraak of barsie.
UIT MY EIE LEWE – ONTSNAPPING
Dit is een ding om ‘n verkeerde pad in te slaan, maar om dit in te sien en om te draai, is nie altyd so ‘n eenvoudige sakie nie! My bravade, galoperende moed en entoesiasme het gou verdwyn in die nuwe omgewing waar ek niemand geken het nie. My man het by die wysheid om die skuif te maak, nog wysheid bygevoeg en geweier dat ‘n telefoon in ons huis geinstalleer word. Dit was baie effektief! Selfs om net met my ma kontak te kon maak, moes ek ver afstap na die dorp om by ‘n publieke telefoon uit te kom. Dus het die groep waarin ek beweeg het uit my lewe verdwyn. Daar was min en later geen kontak meer nie.
UIT MY EIE LEWE – WONDERBARE HERSTELLING
Terug by ons huis het ek dadelik my man om vergifnis gevra vir al die seer en skande wat ek oor hom gebring het. Dit was vir my absoluut noodsaaklik om alles waarvan die Here my oortuig het vir hom te vertel. Hy het my diepe berou gesien en beleef en saam met my gehuil. Hy kon my vergewe!
Een vir een het ek ons drie kinders eenkant geneem en vir hulle om vergifnis gevra vir elke spesifieke ding waarvan die Here my oortuig het, waar ek voor hulle verkeerd opgetree het. Ook daarna, wanneer ek bewus geword het dat ek seergemaak het met woorde of ‘n verkeerde reaksie, het ek dit dadelik reggemaak.
UIT MY EIE LEWE – GOD LAAT NIE MET HOM SPOT NIE
Tog was daar al die maande iets wat aan my geknaag het en my diep in my innerlike nie met rus gelaat het nie. Ek het dit hardnekkig net van my weggestoot en geweier om enige aandag daaraan te gee. Die Here in die hemel het egter ‘n werk in my begin en Hy het nie toegelaat dat ek dit net ignoreer nie. Seker so ‘n jaar nadat ek daar hulp ontvang het, het ons hele gesin vir ‘n gedeelte van ‘n skoolvakansie na die sending gegaan. Daardie Sondag was dit Nagmaal en die hoof van die sending het met ‘n diepe erns gepreek. Die Skriflesing was uit 1 Korinthiërs 10:21-22 en dit het my ongemaklikheid onderstreep.
UIT MY EIE LEWE – EINDE VAN WILDE EN ONGETEMDE VERBEELDING
Maande na die ondervinding het ek bewus geword van iets vreemds in my optrede. Wanneer dit soggenS nog donker was en ek alleen wou wees om Bybel te lees, het ‘n vrees my bekruip. Soms het ek selfs kortasem geword en my hart het in my keel geklop. Dit was makliker om weer na ons slaapkamer te gaan, want sodra ek saam met iemand anders was, het die vrees verdwyn. Ek wou egter groei in my geestelike lewe en wandel met die Here, daarom kon ek dit nie sommer net aanvaar nie. Wanneer sou ek dan weer in die besige dag tyd kry om so stil te word dat ek alles kon uitsluit en tot die Here my God bid as dit nie was voordat die huismense wakker geword het nie?
DIT WAS SO MOOI WANNEER MY MA GESING HET
Ek het eers later sommetjies gemaak en besef dat my ma agtien jaar lank alleen in haar plaashuisie gewoon het. Die ou opstal was so ‘n bietjie verder as klipgooi, maar my broer en sy gesin het hulle lewens gelei en as dit aand geword het, was my ma alleen. Nie dat ‘n mens ooit agtergekom het dat die alleenheid in drukkende eensaamheid oorgegaan het nie. Sy was tevrede en doodgelukkig. Sy het haar skryfwerk gehad waarmee sy besig was, en dan het sy graag gelees en gesing.
HAAR GEBEDE LEEF NOG VOORT
Daar leef tussen ons kinders ook die mooiste herinneringe van my ma en haar gebede. Net van die waarvan sy ons self vertel het, want my ma was baie privaat oor haar en haar geloof. Tog het ek dikwels in die agtien jaar wat sy alleen in haar plaashuisie gewoon het, gaan kuier en dan by haar in die kamer geslaap. Saans het ons gewoonlik eers saam gelees en gebid voordat sy die lig afgeskakel het. Dit was vir my van die kosbaarste ondervindinge om te hoor hoedat my ma met die Here praat oor haar kinders en kleinkinders, oor plaaswerksaamhede en die plaaswerkers.
HY WAS MY OOM!
My pa se broer het nooit getrou nie en hy het by ons in die huis gewoon. Bedags het hy op sy plaas gewerk en dan saans teruggekom. Een aand was hy laat en ek het sy kos vir hom warm gehou.
“Weet jy, ou Esthertjie, ek is nie eers lus vir eet nie. Ek het iets gesien wat my sommer so naar maak op die maag,” het my oom gesê en die bord teruggestoot.
“Wat het Oom dan gesien?” het ek bekommerd gevra.
“Jy onthou mos dat ek daar by die boorgat ‘n windpomp opgesit het met ‘n ronde sink opgaartenk?
“Ja, Oom.”
ONS HET GRAAG GELUISTER
My oom was ook ‘n baas storieverteller.
So onthou ek van die tyd toe ek al ‘n opgeskote dogter was dat daar ‘n ernstige probleem met jakkalse was. Deur hulle het baie kleinvee in die slag gebly en van die boere het koppe bymekaar gesit in ‘n poging om die jakkalsplaag die hoof te bied. ‘n Jakkalsklub is gestig en ‘n groot
klomp jakkalshonde is aangeskaf en iemand is aangestel as die amptelike jakkalsjagter. Hy en sy gesin het in die huis op my oom se plaas ingetrek. Hokke is gebou vir die honde en die bak van ‘n vragmotor is so ingerig dat die honde daarin vervoer kon word.
MY OUMA EN OUPA HET ONTHOU WAT HULLE BELOWE HET
“As jy ‘n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe het.” (Prediker 5: 3)
‘n Mens kan nie maklik my ouma vergeet as jy haar geken het nie. Sy was ‘n groot vrou. Sterk, nie net sterk met krag in haar liggaam nie, sy was innerlik ‘n sterk mens.
Ek het eendag by die swaai onder die moerbeiboom gespeel, die grootmense het my nie daar in die skaduwee opgemerk nie. Ek het gehoor hoedat my ouma my pa bestraf oor wat uit sy mond uitgekom het en dit het diep in my vasgesteek.
BIDDAG VIR REËN EN DIE AARDBEWING
My ma het vir ons iets vertel wat gebeur het toe sy so ongeveer nege jaar oud was. Dit was lank baie droog en die vrugtebome en diere het swaargekry. Die damme was dolleeg en die son het warm neergebak op die dorre aarde. Hulle het gevrees dat daar die jaar geen vrugte oes sou wees nie.
Die boere van die omgewing het ‘n dag bepaal waar hulle almal saam sou kom en die Here aanroep om genade. Hulle sou pleit vir reën.
My oupa het die afleislote op sy plaas laat skoon skoffel en hy was gereed vir die reën wat die Here sou stuur.
MY PA
My pa was seker al so ses-en-veertig toe ek, die vierde kind, gebore was, maar ek onthou hom as ‘n lang, groot en sterk pappa. Hy het altyd ‘n kakiebroek en kakiehemp gedra, ‘n hemp met lang moue vir beskerming teen die son. Toe ek groter was en gehelp het om my pa en oom se klere uit te sorteer en weg te pak, het ek die verskil geken aan die reuk. My oom het ook kakieklere gedra, maar sy klere het na sigaretrook geruik. Ek het dikwels my pa se hemp teen my gesig gedruk en daardie skoon vars reuk van die veld geniet. Hy het nooit gerook nie.
TOE MY PA SY BEEN VERLOOR HET
‘n Paar jaar nadat ons terug was vanuit die sendingveld, was my pa daar in die hospitaal van ons dorp besig om te herstel nadat sy been afgesit was. Sy dokter het my in die nag gebel: “Kom tog dadelik hospitaal toe, jou pa is al in die teater, ons moet dringend opereer, daar is gangreen in die ingewande.”
Vir my het dit soos ure gevoel voordat die dokter by die operasiesaal uitgekom het en vir my gesê het: “Bly vannag by hom.”
MY SUSTER JOHANNA
Sy was langer, baie slimmer en ‘n baie beter mens as ek, al was sy net vyftien maande ouer as ek. Sy was my maat en ons het ure lank op die plaas saamgespeel. Een somersmiddag moes ons stil op ons beddens wees totdat die versengende hitte van die dag ‘n bietjie gebreek het. Ons was verveeld en het besluit om ‘n huisie vir ons te maak bo-op die geelhout jonkmanskas in ons kamer. Ons het ons ousus se popspeel porselein teestel uitgehaal en dit daar bo-op die kas met die groot plat oppervlakte, oopgepak.