UIT MY EIE LEWE - VINGER OP DIE PROBLEEM
Splinternuut in die rol as getroude is ek in 1967 bekendgestel aan die lewe op ‘n sendingstasie in Malawi. Ons buurvrou wou aanvanklik nie met my man praat nie, sy was kwaad vir hom. Toe ek by haar gaan tee drink, het sy my ingelig waarom sy so omgekrap was.
“Jy lyk nog soos ‘n dogtertjie van skaars sestien! Hoe kon jou man jou so ver van jou mense af wegneem! Hy het ‘n goeie pak slae nodig!”
“Tannie, ek is amper twee-en-twintig en my ouers het nie besware daarteen dat ek hier is nie.” Ons het goeie vriende met die oom en tannie geword.
Ek het my hare mooi bedees laag agter my kop vasgebind. Dit het nie regtig gehelp nie. ‘n Paar maande later is ek saam na ‘n vrouekamp ver van die sending. So ver weg waar kinders nog nie eintlik ‘n blanke persoon gesien het nie. Daar het die vrouens my een oggend geroep:
“Mtsikana, (dogtertjie) kom help ons om die pap te roer.”
Ek het natuurlik nie verstaan nie, maar Lottie het vir my getolk wat hulle vra. Die reuse pot het op klippe oor die vuur gestaan en daar was ‘n houtspaan van roeispaangrote in die pot stywepap. Ek het die spaan vasgegryp, met my hande bokant my gesig probeer om dit te roer. Ek kon die groot houtspaan nie beweeg nie! Dit was bokant my vuurmaakplek! Die vrouens het hartlik saam met my gelag en goedig gesê: “Jy hoort nog by jou ma.”
Daardie pap was styf en spierwit, gemaak van die fynste mieliemeel. Dit word dan uitgeskep in ‘n bak gevolg met ‘n bak souserige bykos, soos vleis, boontjies of ander lekker groente. Die huisgesin eet uit dieselfde pot. Behendig word ‘n bondeltjie pap tussen die vingers in ‘n balletjie gevorm. Dan druk die duim en voorvinger dit reg om te skep in die bykos en die hele happie gaan so mond toe.
Een van die sendelinge het my eendag saamgenooi om ‘n siek gemeentelid te gaan besoek. Die voetslaan paadjie deur die heuwels was mooi en na etlike kilometers het ons haar huis bereik. Volgens gebruik het ons eers veraf bly staan op die Achewa manier geklop:
“Odi.”
“Odini,” het iemand van die huis af geantwoord.
Toe was ons vry om nader te stap. By die huis en het ons tjoepstil gestaan en wag dat iemand eers die werf skoonvee. Nadat ‘n strooimat oopgegooi en ons genooi was om te kom sit, is ons gegroet met ‘n handskud en uitgevra na ons welstand. Ek kon darem al groet: “Muli bwanji? Hoe gaan dit? Ndiri bwino . Goed, dankie”. Verder moes die handige woord zikomo my uithelp.
Die vrou was te siek om uit haar bed op te staan, dus was ons twee binne genooi. Daar het sy gelê, duidelik baie swak. Lenie het dig by haar bed gaan sit en met haar gesels. Ek kon niks verstaan nie, maar die vrou se oë het my gefassineer. So ‘n vrede en stilte het ek nog nie voorheen in iemand se oë gesien nie. Nadat Lenie gebid het, het die vrou met ‘n stralende glimlag iets vir haar gesê. Ons is toe daar weg. Op pad terug het ek vir Lenie gevra: “Wat het die vrou vir jou gesê voordat ons weg is?”
“Sy het ‘n boodskap vir die gemeente gestuur.”
“Mag ek weet wat dit is?”
“Sy het gevra dat ons moet bid of die Here haar nie kan kom haal nie, want die pyn is nou so ondraaglik. Sy is gereed om Hom te ontmoet.”
Gereed om die Here te ontmoet? Ek moes dit seker voorheen dikwels gehoor het, want ek het tog kerk toe gegaan en self die Bybel gelees, maar my begrip was bottoe. Die gedagte het ‘n vae onrus en ‘n vraag by my gewek: Hoe ontmoet ‘n mens die Here? Die woorde van daardie siek vrou het ‘n vinger op my geestelike probleem gedruk- ek het gehoor en gehoor, maar nooit verstaan nie. Ek kon oor die Here praat wanneer ek moes, beswaarlik in die biduur hardop bid, want in my lewe was daar ‘n groot gebrek, ek het nie ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus geken nie. Die vrou, haar rustige, vredevolle oë, haar glimlag en haar woorde het my gewink na ‘n dieper lewe. Tog het dit baie lange jare geneem voordat ek kon hoor, verstaan en doen.
Daar het ‘n innerlike krisis binne-in my ontstaan. Ons oudste dogtertjie is weg na die twee-man skooltjie op die hoofstasie van die sending. Sy was daar in die koshuis. Iemand het vir my ‘n briefie van haar gebring. Sy het geskryf:
“Mamma, elke aand as ek gaan slaap, bid ek en vra die Here Jesus as ek die volgende oggend my oë oopmaak, moet Mamma asseblief daar wees. Maar Mamma is nooit daar wanneer ek my oë oopmaak nie, Jesus het nie gehoor nie.”
‘n Messteek veroorsaak seker nie groter pyn nie. Ek kon so met die klein mensie identifiseer. Ek moes ook van Graad een af in die koshuis bly. Soms teen ‘n Donderdag kon ek my verlange huistoe nie meer onderdruk nie en het van êrens die nodige tiekie gekry om my ma te skakel van die koshuisfoon af. Wanneer ek haar stem gehoor het, kon ek nie ‘n woord uitkry nie. Ek het net gestaan en snik.
“Esther, is dit jy, kindjie?
Net harder snikke.
“Toemaar, more kom jy huistoe. Dis nie meer so lank nie.”
Met my eie kind weg van die huis het ek besef wat my ma moes deurgaan. Dit was pynlik. My ma het geweet hoe om haar laste by die Here te los, maar ek het die lesse nog nie geleer nie. Ander se pyn en swaarkry het my maklik afgeknou en aan my geknaag.
Nog erger was dat my man ‘n diep probleem gehad het en so te sê afwesig was. Hy het soggens gaan werk, teruggekom en op die bed gaan lê, geslaap of gelees. Geen gemoedelike samesyn of ver ente saam gaan stap met die ander twee lewenslustige kleintjies nie. Geen speletjies en saamlag nie. Hy wou ook nie gesels nie. Dit het vir my te veel geword. Ek kon snags nie meer slaap nie. Iets was verkeerd, en vir my het dit gevoel asof ek niks daaraan kon doen nie. Na baie nagte van nie slaap nie, het ek bang geword dat ek die kluts gaan kwytraak.
Ek het gaan rondvra of iemand nie dalk vir my slaappille het nie. ‘n Buurvrou uit Amerika het sommer ‘n hele botteltjie vol in my hand gedruk. Nadat die kinders bed toe is, het ek twee slaappille gedrink. Twee ure later was ek nog wakker. Toe drink ek nog twee. Teen twaalfuur die nag was ek nog wakker, toe drink ek weer twee! Die volgende oggend het ek eers nege uur die oggend wakker geskrik, alleen in die kamer. Ek het vrolike kinderstemme buite voor die venster gehoor en besef dat hulle alleen reggekom het. Hulle pa het seker vir hulle ontbyt gegee. Ek het van die bed afgegly en daar op my knieë die Here aangeroep:
“Hemelse Vader, help ons asseblief! Hier is iets verkeerd. Werk tog in ons lewens en ek vra U om in my lewe te begin.”
Die slaaploosheid was gebreek en in my hart het hoop gegroei dat die Here my gebed gehoor het. My hart was ligter en ek kon weer sing terwyl my hande gewerk het. Op een of ander manier het daar ‘n geestelik ontwaking in my gekom – ‘n verlange na ‘n dieper verhouding met die Here.