UIT MY EIE LEWE - GOD LAAT NIE MET HOM SPOT NIE
Tog was daar al die maande iets wat aan my geknaag het en my diep in my innerlike nie met rus gelaat het nie. Ek het dit hardnekkig net van my weggestoot en geweier om enige aandag daaraan te gee. Die Here in die hemel het egter ‘n werk in my begin en Hy het nie toegelaat dat ek dit net ignoreer nie. Seker so ‘n jaar nadat ek daar hulp ontvang het, het ons hele gesin vir ‘n gedeelte van ‘n skoolvakansie na die sending gegaan. Daardie Sondag was dit Nagmaal en die hoof van die sending het met ‘n diepe erns gepreek. Die Skriflesing was uit 1 Korinthiërs 10:21-22 en dit het my ongemaklikheid onderstreep.
“Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie. Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?”
Soos die prediker die woord benadruk het, het ek in my hart geweet dat ek nie voor ‘n mens gestaan het nie, want geen mens het geweet wat ek in my binneste probeer wegsteek het nie. Ek het voor die lewende God gestaan, die Een wat male sonder tal met my gepraat het oor die saak, maar ek het doelbewus nie aandag gegee nie, want ek wou nie. Ek het gekies om doof te wees, ek wou nie glo wat die Gees van die Waarheid vir my gewys het nie.
Ek het begin bewe en geweet dat ek nie my hand kon uitsteek om van die brood te eet of die wyn te drink nie, ek sou sterf – ek het nog aan die tafel van die duiwels gesit en uit die beker van die duiwels gedrink. Toe ek die vorige jaar na die sending gekom het vir hulp en so diep onder die oortuiging van sonde was, het die Here ook sy vinger gedruk op daardie taal waarin ek gebid het. Ek het net botweg geweier om te erken dat daardie taal vanuit die hel aan my gegee was. Ek wou myself oortuig dat dit ‘n gawe van God was. Ek het aangegaan om nog soms in daardie spesifieke taal te bid wanneer versoekings sou kom, maar dan het benoudheid en twyfel my vasgegryp. Ek het dit afgemaak dat die duiwel my aangeval het en my wou beroof van die vrede van die Here. Gedurende daardie Nagmaal het die Woord van God so diep ingedring en skeiding gemaak tussen lig en duisternis binne in my. Ek het nie die Nagmaal gebruik nie en na ‘n hewige stryd het ek ‘n berader gaan opsoek en gevra dat hy bid dat die Here my vergewe. Vir soveel maande het ek Hom teëgestaan en ongehoorsaam aangegaan met iets wat direk van die duiwel was. Die hele storie van daardie opgemaakte ding van innerlike genesing het ek begryp en ingesien dat ek gruwelik mislei was en opgetree het soos ‘n medium van satan. Waarom ek nie wou insien en aanvaar dat die taal wat ek ontvang het ook in dieselfde katogorie van misleiding geval het nie, kon ek net toeskryf aan die hoogmoed wat so deel van my karakter was.
Daardie ernstige vermaning van my oupa: “God is nie ‘n mens se speelmaat nie,” het skielik lewend geword. ‘n Diep ontsetting het my vasgevat en een enkele sin uit die Woord van God het onophoudelik deur my gedagtes gemaal: “God laat nie met Hom spot nie.” Daardie dag van die Nagmaal het ek in aanraking gekom met die heiligheid van God. Die saak waarin ek Hom teëgestaan het en vir ‘n jaar lank Hom uitgemaak het as ‘n leuenaar, was ‘n saak wat God met my as oortreder gehad het. Dit was iets tussen my en my Skepper. Ek het Sy ywer opgewek, want ek het gedink ek weet beter as Hy en aangehou om uit die beker van duiwels te drink, terwyl Hy dag na dag my aandag probeer vestig het op die duiwelse ding waarmee ek my besig gehou het.
Soos ‘n verstandelose mens het ek op en af geloop, ver ente alleen gaan stap, maar van die woorde in my kop: “God laat nie met Hom spot nie,” kon ek nie wegkom nie. Ek kon nie bid nie, ek kon geen woord uit die Bybel onthou om my te help nie. Ek wou na mense toe hardloop en vra: “Vertel my tog, hoe word ek deel van Christus soos die Nagmaal dit beskryf?” Hoogmoed het my teruggehou, wat sou hulle van my dink! Hoeveel dae ek so rondgedwaal het, kan ek nie onthou nie, maar dit was ‘n aaklige nagmerrie tyd. My man en ons kinders het een aand ‘n diens bygewoon en ek het alleen in die rondawel agtergebly. Aan die einde van myself en al my gespook het ek gekniel en dit uitgekreet:
“Hemelse Vader, ek is verlore! Ek weet nie hoe om U te vind nie. Ek het met U gespot. Ek is skuldig! Die heel eerste dag toe U my oortuig het van sonde, was die oortuiging daar dat ook die taal waarin ek gebid het, sonde was wat my van U geskei het. Vergewe my dat ek U so dikwels tekens gevra het om aan my te bevestig dat die taal nie van U was nie. U het my geantwoord en daardie teken laat gebeur, maar ek het dit moedswillig weer verdraai. Ek is ‘n verlore sondaar wat met U gespot het. Sien my in genade aan en vind U my, asseblief.”
Uitgeput het ek gaan lê en gemaak asof ek slaap toe my gesin teruggekom het. Ek kon nie slaap nie, die toestand van my geestelike lewe was die heeltyd voor my. Ek het so baie genade van God ontvang, maar ek het Hom teëgestaan! Erens gedurende die nag het ek iets beleef. Dit was nie ‘n droom nie, ek was wakker, maar ek het myself skielik in die diepste duisternis bevind. So ‘n duisternis waar daar nie eers ‘n skynseltjie van lig deurgeskemer het nie. Net ‘n dik, verstikkende, ondeurdringbare duisternis het my omsluit. Ek het geweet dat dit die duisternis van die hel was en het uitgeroep: “Here Jesus Christus, red my. Ek is verlore!”
‘n Stem het my op my naam geroep: “Esther, ek gee jou nog een kans. Gaan en maak jou lewe reg.” Die duisternis het verdwyn en die sonde wat toegedek was onder die duiwel se taal wat ek ontvang en beoefen het, het duidelik opgeskryf voor my kom staan. Ek het geweet wat ek moes regmaak! Dit wat daar in die hemel in die boeke van God teen my naam opgeskryf gestaan het, het voor my verskyn.
Die volgende oggend het ek skaars krag gehad om ons bed op te maak.
“Wat is verkeerd met jou, Esther,” het my man besorgd gevra.
“Die Here het met my gepraat.”
Daar was iemand wat bereid was om my te help. Een vir een het ek daardie opgeskryfde sondes voor ‘n getuie bely. Toe kom ek by iets wat so verskriklik pervers en aaklig was, dat ek stilletjies in my binneste besluit het dat ek dit liewers nie sal uitspreek nie. Onmiddellik het ek die woorde in my gedagtes gehoor: “Esther, ek gee jou nog een kans!”
Die heilige God in die hemel kon selfs my gedagtes lees!!
Ek het alles bely en weereens het die gebed van ‘n regverdige daardie dag met groot krag in my lewe gewerk. Die wete dat die heilige Vader in die hemel my sonde vergewe het, het my bewende gemoed deurspoel. Die bloed van die Lam van God het alles skoon en rein gewas en ek kon sonder skuld voor Sy aangesig verskyn as ‘n verloste!
Ek het daardie een kans wat ek van die alsiende en alwetende God gekry het, aangegryp en tot vandag toe nog nie vergeet nie. Ek kon nooit weer daarna iets probeer wegsteek of sommer net ignoreer nie. Die waarskuwing dat ek nog een kans ontvang het en die les wat ek geleer het dat God nie met Hom laat spot nie, bly lewend in my. Dit bewaar my om op die weg van die Here te wandel. Wanneer ek van ‘n verkeerde optrede of gedagte bewus word, ken ek net een pad. Bring dit na die Here wat jou daarvan oortuig het, bring dit alles in sy lig voor een van Sy gesalfdes, ‘n regverdige, dat hy vir my kan bid en ‘n getuie van my belydenis kan wees. Daardie diepe dankbaarheid dat die Here ‘n weg gewys het uit die worstelstryd wat nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die magte van die duisternis wat nooit moeg word in hulle pogings om ‘n mens se siel te belas nie, leef vandag nog in my. Voordat ek hulp by die sending gekry het, het ek so in die verbygaan vir die Here gevra om tog my sonde te vergewe, maar die herinnering en die skuld van my oortreding het maar elke keer weer teruggesypel en my van vooraf belas. Maar na daardie ware sonde oortuiging wat deur die genadige ingryping van God my so vasgevat het dat ek nie kon stilbly nie, het ek vryheid beleef.
Om so ‘n verlossing en so ‘n vryheid in die Here te verkry, is iets wat ‘n mens nie weer weggooi nie! Daardie taal vanuit die hel wat aan my as ‘n present gegee is en my ‘n medium gemaak het deur wie die duiwel in ander kon werk, is in ‘n oogwink deur die krag van die Kruisdood van Christus uit my geheue en uit my mond weggevee. Waarlik, vir ons God is niks onmoontlik nie.