ONS KINDERS BY ONS!
Ons was heeltemal te vroeg op die lughawe en het met groot opgewondenheid gewag dat hulle land. Van ver af kon ons hulle al sien. Al drie warm aangetrek vir die winterkoue, maar tog net dieselfde. Natuurlik was daar ook trane van pure vreugde in die groetery; ons was weer almal bymekaar. In die motor op pad terug na die taalskool het hulle vrolik vertel van alles wat hulle op die lang vlug ervaar en beleef het. Was dit nou ‘n heerlikheid om weer die woorde pappa en mamma te hoor! Ons harte was so uitgehonger.
Van die ander studente het spesiaal die kinders uitgenooi en hulle getrakteer op etes en speletjies. Van ons kant af het ons ook van die Amerikaners oor genooi. So het dit gekom dat Rachel een dag by ons was vir ete. Ek was eenkant in die kombuisie besig om nagereg voor te berei. Toe ek terugkom by die tafel en haar vra of sy nog iets wou eet, het sy in Afrikaans met ‘n swaar aksent gesê: “Nee dankie, Esther, ek is dik.” Ons kinders het geskaterlag oor die verbasing op my gesig. Die rakkers het haar met opset so ‘n sin geleer, net om my reaksie te sien.
Sy het ‘n vriendin geword gedurende die tyd daar. Haar pa was ‘n predikant en hulle gesin was bekend vir saamsing. As ek reg onthou het sy nog vyf susters gehad en saam met die ouers was hulle dikwels na byeenkomste uitgenooi om te sing. Sy het ons die aand vertel van ‘n gebeurtenis uit haar pa se lewe wat diep spore in sy lewe getrap het en wat hy gebruik het om hulle te onderrig. Hy was ‘n predikant êrens in ‘n Amerikaanse dorp toe hy eendag dringend ervaar dat hy ‘n sekere jongman in die tronk daar moes gaan besoek. Hy was egter besig en het die besoek uitgestel. Die volgende dag was daardie dringende gevoel weer daar dat hy die jongman moes gaan opsoek, maar hy het dit weer weggestoot, want daar was ander sake waaraan hy tyd moes bestee. Die volgende oggend het hy verneem dat daardie jongman die vorige nag probeer het om uit die tronk te ontsnap en in die proses sy lewe verloor het. Die ontsetting en berou in sy hart dat hy nie aan die leiding van die Heilige Gees gehoorsaam was nie, het iets blywends in hom bewerk. Later het ons die voorreg gehad om Rachel se ma te ontmoet toe sy haar dogter besoek het. Sy het die koeksisters geproe wat ons gebak het, en aangedring dat ek haar moes leer hoe om dit te bak. Op die terugvlug na Amerika is sy weg met ‘n baksel koeksisters en die resep veilig in haar sak!
Wanneer die weer dit toegelaat het, kon ons na klas saam met die kinders lang ente gaan stap. Afdae, Woensdae en Sondae, het ons gebruik om hulle rond te wys. Saans kon ons weer saam sing, dit was iets wat ek baie gemis het. Ons twee het soms na aandete van ons Afrikaanse gesange en psalms gesing, maar sonder die kinderstemme was dit net nie dieselfde nie. Ons kinders het baie gehad om te vertel! Insidente uit hulle skoollewe, van hulle verskillende onderwysers en klasmaats. Ook van hulle belewenisse op die sending en al die mense daar. Sommer so onverwags kon ek ‘n knop in die keel kry wanneer hulle gepraat het oor al die goedheid wat hulle ontvang het. Veral die jongste kon aanmekaar babbel en het niks teruggehou nie. Ons as ouers het die indruk gekry dat hulle gelukkig was daar op die sendingstasie ten spyte van ons afwesigheid en dit het ons getroos en die skeiding makliker gemaak.
Die taalskool het ‘n paar dae voor Kersfees gesluit en klasse het eers weer na Nuwejaar begin. ‘n Oud-skoolhoof van my man, nog uit hulle Kenia dae toe hy ‘n leerling in die Van Riebeeck Hoërskool op Thomson Falls was, het vir ons baie goeie nuus gebring. Die gemeente van Cote-aux-Fees in die Jura gebergte van Switserland het ons uitgenooi om hulle gaste te wees. Dit was ‘n klein dorpie met seker nie meer as vyfhonderd inwoners nie wat bekend was vir hul gasvryheid teenoor buitelandse sendelinge. Hulle het ‘n spesiale huis vir die doel gehad en wou dat ons by hulle kom kuier. Die oud-skoolhoof het aangebied om ons self daarheen te neem. Die oom was reeds bejaard, maar nog baie aktief in sendingwerk, veral op die eilande, Reunion en Madagaskar. Dit het gelyk asof die gemoedelike en geselserige oom nie juis baie gepla was oor die feit dat hy eintlik die een was wat bestuur het nie! Hy het selfs omgekyk wanneer hy iets vertel en sommer gery daar waar hy beduie het. Ons oë was vasgenael op die pad en die mooi natuurskoon het nie baie aandag gekry nie, want dit was ‘n bergpas met draaie en afgronde!
By die grenspos tussen Frankryk en Switserland wou die doeane beamptes dat ons al die tasse uithaal sodat dit deursoek kon word. Die oom het verduidelik dat ons sendelinge uit Afrika was en gedink dat die oponthoud onnodig was. Een van die doeane personeel het gelag: “Dit beteken vir ons net mooi niks dat julle sendelinge is nie! Onlangs het ‘n smokkelaar hom in priesterklere vermom met ‘n besending dwelms onder sy toga versteek.” Hulle was darem tevrede dat net my man uitgeklim het en sy sak deursoek was.
Die huis in Cote-aux-Fees was ‘n hele belewenis! Met die intrapslag het ons almal se oë op die eetkamertafel geval. Dit was oorlaai met Kersfees eetgoed! Koekies, sjokolade, neute en vrugte. Die yskas was propvol kos, alles waaroor ‘n mens net droom. Die beddens in die kamers was opgemaak met sulke opgepofte vereduvets met nog ‘n sjokolade op elke bed. Ek kan nie meer onthou hoe die huis verwarm was nie, maar in die een hoek van die kombuis, reg langs die buitedeur was ‘n reuse stort met die heerlikste warm water. ‘n Swaar, dik gordyn het die stort van die kombuis area afgesluit. Vir ons wat so gewoond was aan ‘n badkamerdeur wat agter jou kon sluit, was dit eers ‘n bietjie skrikkerig en ‘n mens het dubbeld seker gemaak dat almal in die huis weet en hoor dat jy besig was om te stort! Ons het egter gou daaraan gewoond geraak en in die winterkoue die heerlike warm stort terdeë geniet. Dit het gelyk asof elke winkel en persoon in die dorp van ons geweet het. Wat kortgekom het in die huis was toiletpapier en tot ons verbasing wou die winkelier nie toelaat dat ons daarvoor betaal nie! Hy het verleë om verskoning gevra dat hulle daarvan vergeet het.
Die mense was vir ons so goed. Ons was uitgenooi na verskillende huise vir etes en my man moes ook dikwels vertel oor ons lewe in Suid-Afrika. Dit het nie baie gesneeu daardie jaar nie, tog kon die kinders gaan slee ry en in die sneeu speel. Dit was net een lekkerte! Een spesifieke inwoner van die dorp het baie aandag aan ons gegee. In sy huis het ons films van die vroeër jare in die dorp en distrik gesien, hoe dik die sneeu op die huise en tuine gelê het. Hy het ook vertel van ‘n gebruik wat hulle elke Oujaarsaand gehad het. Dan het gemeentelede van oral oor die heuwels na die laataand kerkdiens aangeskie gekom, elkeen met ‘n lig in die hand. Die aand toe ons daar was, was daar nie genoeg sneeu vir ski nie en almal het die Oujaarsaand te voet by die kerk opgedaag. Ons kon die lang toue bewegende ligte oor die heuwels sien aankom tot daar waar almal by die kerkgebou vergader het.
Die einde van die vakansie in Cote-aux-Fees het aangebreek en ons het die liewe, gasvrye mense met groot dankbaarheid gegroet. Iemand het nog eers ‘n koevert in my man se hand gedruk, geld vir ons treinrit terug na Frankryk. Ek het ‘n karton van die bakkery gekry om saam te neem. Dit was een van daardie aller lekkerste pekanneut terte. Die treinrit terug was asemrowend mooi. Doodstil het ek gesit en uitkyk deur die trein venster. Die venster het al hier onder by ‘n mens se voete begin en die uitsig oor die bergpasse was verstommend. Ek het onthou dat die Bybel sê die aarde is vol van die goedheid van die Here, en soos ek rustig alles kon bedink wat ons beleef het, het my hart oor en oor beaam dat die goedheid van die Here ons werklik omring het. Die kinders moes ook weer vertrek, maar die Here se goedheid het dit moontlik gemaak dat ons kon volhard waar ons agtergebly het en hulle daar waarheen hulle gegaan het totdat ons weer bymekaar kon wees.