Sy was langer, baie slimmer en ‘n baie beter mens as ek, al was sy net vyftien maande ouer as ek. Sy was my maat en ons het ure lank op die plaas saamgespeel. Een somersmiddag moes ons stil op ons beddens wees totdat die versengende hitte van die dag ‘n bietjie gebreek het. Ons was verveeld en het besluit om ‘n huisie vir ons te maak bo-op die geelhout jonkmanskas in ons kamer. Ons het ons ousus se popspeel porselein teestel uitgehaal en dit daar bo-op die kas met die groot plat oppervlakte, oopgepak. Verdiep in ons speletjie van twee vreemde vrouens wat bymekaar kuier, lig ek die skinkbordjie op en sê vriendelik: “Mevrou, hier is ons tee. Neem vir u.”
Johanna was egter vasbeslote om die gasvrou te wees, dus het sy die skinkbord uit my hande gevat en wou vir my tee aanbied. Tussen ons twee se hande het die skinkbordjie met die koppies en die teepot na benede gestort en met ‘n groot geraas op die plankvoer in skerwe gespat.
Ons was stokstyf geskrik en het eers in beweging gekom toe ons ons pa se voetstappe in die gang gehoor het. Ons het afgespring van die kas op ons beddens, toe Pappa alreeds die deur oopgemaak het. Die pak slae was seer, maar ek dink ons het slegter gevoel dat ons twee ons ousus se mooi liggroen porselein speelgoed gebreek het.
Wanneer ons resies gehardloop het, was ek so ‘n kop voor haar by die wenstreep, maar nie wanneer ons ‘n hinderniswedloop vir onsself opgestel het nie. Sommer in die begin van die wedloop was daar ‘n suurlemoen wat eers opgeëet moes word, voordat ons verder kon hardloop. Vir haar was suurgoed nie ‘n probleem nie, maar ek het eindeloos gesukkel om dit afgesluk te kry. My eerlikheid het my ook teruggehou om nie die suurlemoen net weg te gooi nie, want my suster was ver voor my en het al deur die boomstam geklim terwyl ek nog met die vrug baklei het. Sy kon ook baie vinniger deur die boom klim met haar lang bene. Die hindernis wedloop het sy altyd lank voor my klaar gemaak.
Sy was net een klas voor my en in die hoërskool het ek ook dieselfde vakke as sy geneem. Toe sy in matriek geblok het vir die eindeksamens, was ek soms geskok en besorg dat sy so deur haar boek sit en blaai wanneer sy moes leer. Eenkeer het sy opgekyk met ‘n breë glimlag en vir my gesê: “Ag ou Esthertjie, die kennis loop al by my ore uit!”
“Even bin ik op my pen geklommen om aan gij een brief te schrijven”, het sy uit haar Nederlandse voorgeskrewe boek ‘n lang stuk aangehaal terwyl sy uitgestap het om eers gou ‘n paar liedere op ons huisorrel te gaan speel. Sy is maklik deur die skool en het goeie punte behaal.
Die dierbare suster van my kon so groot skrik en dit het gemaak dat ons haar geterg het net om haar reaksie te beleef. Eendag moes sy die hoenders gaan kos gee, maar in die hoenderkamp was daar ‘n nare hoenderhaan wat ons bekruip het en dan so seer teen ons bene geskop het. Daarom het sy die voerkamertjie se onderdeur agter haar toegemaak om die haan weg te hou. Toe sy die streepsak oor die voerbalie wou oplig, het sy amper aan die geelslang gevat wat bo-op die sak gelê het. Met ‘n gil het sy bo-oor die toe onderdeur gespring en ons ouboet gaan soek om te vertel van die slang. Hy het die slang doodgeskiet en toe gaan verbrand volgens die reëls van ons plaas.
Die storie het egter nie daar geëindig nie. Die ondeunde jonger boet het gehoor hoe sy, die aand na melktyd, staan en sing daar waar sy die roomafskeier beman het. Haar rug was na die deur. Hy het geweet van die slang episode vroëer die dag en het die lang sweep geswaai dat dit saggies om haar bene gekrul het. Met ‘n bloedstollende gil het sy in die lug opgespring en uit die kamertjie gevlug. Die slinger van die roomafskeier het nog momentum gehad en ‘n paar draaie gegee. Dit was my oom wat gou ingespring het om die situasie met ‘n onbemande roomafskeier te red! Ons het sommer almal raas gekry dat ons so onverantwoordelik kon wees.
Eendag het sy so gegil dat ek geskrik het soos selde in my lewe. Dit was tyd vir middagete en my ma het gevra: “Waar is Johanna dan? Gaan roep haar gou.”
In ons kamer het sy op die haar bed gelê en lees met haar rug na die deur toe. Ek het saggies tot reg agter haar geloop en toe ‘n nare geluid soos ‘n roofdier gemaak. Met ‘n angswekkende gil het sy die boek weggeslinger en haar bene en arms wild in die lug geswaai. Ek het so groot geskrik dat ek haar net aangestaar het. Na ‘n oomblik van doodse stilte het ons altwee begin lag. Om die eettafel was daar ook ‘n vriendelike gelag, want hulle het die gil en daarna die stilte gehoor en geraai wat gebeur het. “Ek was net mooitjies by die spannendste oomblik in die boek,” het Johanna laggend verduidelik toe sy haar stoel uittrek.
Een koue winteraand het sy haar nuwe warm pajamas aangetrek. In die middel van die nag het ek wakker geskrik toe sy ‘n vuurhoutjie trek om die kers aan te steek.
“Wat soek jy?”, het ek deur die slaap gevra.
“Waar is my skêr?”
Tot my stomme verbasing het ek gesien hoedat sy met die skêr eers die een broekspyp en toe die ander een ook oopgeknip het. Toe het sy die kers doodgeblaas en met ‘n sug gesê: “So ja, nou is dit nie meer te styf nie,” en het ook sommer dadelik weer weggeraak in‘n diep slaap. Die volgende oggend toe sy opstaantyd haar bene van die bed afswaai, het sy verbaas uitgeroep: “En dit? Wat het hier gebeur?”Verslae het sy na haar pajamabroekspype gesit en kyk wat so los en oopgeknip oor haar bene gehang het.
Sy wou my nie glo nie.
“Jy sit nou en jok vir my met ‘n breë glimlag op jou bakkies.”
“Nee, regtig, jy het dit self oopgeknip!”
“Dan moes ek dit in my slaap gedoen het, of hier loop spoke rond, want ek weet niks hiervan nie!”
Sy was al in haar derde jaar op onderwyskollege toe haar koshuishoof my skakel waar ek op ‘n naburige dorp gewerk het. Hy het gevra of ek kon oorkom, my suster het skielik siek geword en vra na my.
Sy was terug in haar koshuiskamer na al die toetse in die hospitaal, bleek en stil.
“Die toetse wys niks.Die dokter dink dit kon ‘n ligte beroerte aanval gewees het en sê ek moet rus.”
“’n Beroerte aanval op jou ouderdom, Sus!” Ek kon my ontsteltenis en ongeloof nie wegsteek nie.
“Wil jy saam met my kom?”
“Ek skryf een van die dae eksamen. Sal liewer hier bly en leer.”
Haar linkerhand en linkerbeen het dommer geword. Goed het sommer onverwags uit haar hand geval. Dikwels het haar voet onverwags geknak en dan het sy geval. Maar my suster het haar vierde jaar voltooi met liggamsoefening onderrig as haar hoofvak!
Sy het ‘n pos aangeneem by ‘n laerskool in Alliwal-Noord. Met swemafrigting het dit beter gegaan as met die tennis en atletiek.
Daar het sy dikwels gestruikel en geval, maar altyd met ‘n lag opgestaan en voortgegaan. Die kinders was lief vir haar.
Eendag daar in Malawi waar my man onderwys gegee het in die sendingskool, het ek ‘n brief van my suster ontvang. Die Here het haar geroep om ‘n pos te kom vul by die tweemanskooltjie op ons hoofsendingstasie. Dus sou sy haar pos bedank en onderwyseres word vir ons sendingkinders van standerd twee tot standerd vyf.
Ek het die brief geneem en eers doodstil buite onder die boom gaan sit, so ‘n bietjie weggekruip agter die plante. Die vreugde was amper te groot om te dra. My suster kom van Suid-Afrika van ‘n skool waar sy geliefd en gerespekteerd was om hier naby my te kom woon? Net sewentig myl weg! En vakansies kon sy by ons kom deurbring. Die uitsien was groot!
Toe kom sy ook vir die eerste vakansie. Die oomblik toe ons alleen in die kamer was, het sy vir my gesê: “Ou Esthertjie, asseblief doen my ‘n groot guns. Asseblief laat my net vir ‘n dag of twee doodstil op die bed lê, ek kan die hoofpyn nie meer dra nie.”
Ek het dadelik die gordyne dig getrek en toegesien dat daar nie geraas en harde geluide in die huis was nie – net sag ingegaan met iets om te drink en te eet. Later die vakansie het ek opgemerk dat haar hand so skud dat sy sukkel om ‘n koppie vas te hou sonder om te mors. Haar voet het gesleep. Sy het tog so ‘n bietjie oopgemaak en vertel met watter hewige hoofpyne sy soms klas moet gee. Dit was so interessant wanneer sy vertel het van alles wat in die skooltjie gebeur het en hoe sy die klomp verskillende grade gelyktydig kon onderrig, maar ek het opgemerk dat haar tong ook soms gesleep het.
Ek het saamgery na die hoofsendingstasie toe ons haar moes terugneem. Daar het ek ons sendingdokter gaan opsoek en my besorgdheid oor Johanna met hom gedeel. Op sy omgee manier het hy haar onder sy sorg geneem en na ‘n spesialis in Harare gestuur. My suster is gediagnoseer met Parkinson-siekte op dertigjarige ouderdom!
Sy was ‘n vegter en het nie sommer gaan lê nie.
“Ou sussie, Parkinson-siekte se voet! Ek geniet my werk.”
Sy het voortgegaan asof dit normaal is om soms te val en op te staan, jou koffie te mors in die piering en hoofpyne te hê wanneer jy alles insit om die kinders te help.
Haar besorgdheid was dat hulle wiskunde metodiek verouder het en dat sy moes teruggaan om eers die nuwe wiskunde aanbieding onder die knie te kry sodat hulle skooltjie nie sou agterbly nie. Sy het met die skoolraad afgespreek dat sy vir ‘n jaar sou weggaan om in ‘n plattelandse skool in Suid-Afrika te gaan onderrig. Daarna sou sy weer terugkom om die sendingkinders die beste aan te bied.
Terug in Suid-Afrika, aan die einde van daardie jaar, het ‘n boer van die kontrei haar gevra om met hom te trou. Sy het ja gesê, as hy bereid sou wees om te wag. Sy het eers ‘n belofte gehad om na te kom. So het sy dan vir ‘n jaar lank weer teruggekeer na Malawi om daar die wiskunde en ander vakke op die regte vlak te bring.
Haar troue was mooi. Ons was toe reeds terug in Suid-Afrika en kon dikwels vir hulle op die plaas gaan kuier. Sy was seker nog nie eers twee jaar getroud nie toe ek een nag wakker gelui word. Besorg het ek die telefoon geantwoord. Dit was Johanna se huisdokter.
“Mevrou, is u Johanna se suster?
“Kan u asseblief vir my haar mediese geskiedenis vertel. Haar man is nog nie so bekend met alles nie.”
Ek het begin vertel van die tyd toe sy nog ‘n student was, en ook van haar dae in Malawi. Die dokter het my probeer troos en gesê dat hulle net ‘n klein probleempie het, my bedank en toe afgelui. ‘n Mens weet mos dat ‘n dokter jou nie in die nag skakel as dit net ‘n klein probleempie is nie.
Haar man het my voor sonop kom oplaai op pad hospitaal toe. Ons huis was op die roete na Kaapstad. Hy was nie ‘n man van baie woorde nie, maar het vertel dat hulle by die bed gekniel het voor slaaptyd. Johanna het nie opgestaan of gereageer nadat hy afgesluit het met die gebed nie. Sy was bewusteloos en hy kon haar nie weer bykry nie. Die dokter het uitgery plaas toe en kort na hom die ambulans. Sy was nog dieselfde nag oorgeplaas na ‘n hospitaal in Kaapstad.
Toe ons twee daar by haar bed staan, het ek gesien dat daar ‘n buis vanuit haar kop vloeistof aflei. Dit was ‘n ernstige saak. So het sy daar vir drie dae lank in ‘n koma gelê. Die dokter het vir my en Dirk opgemerk toe ons uitstap en geroep: “Meneer Uys!”
Sommer daar in die gang het hy vertel wat verkeerd is.
“Jou vrou het ‘n maligne gewas reg tussen die twee breinlobbe, dit is te diep om te opereer. Daar is geen prognose vir haar nie.” Hy het ‘n oomblik na ons gestaan en kyk en toe weggestap. Ek was te geskok om enige vraag te vra en het nie besef dat my swaer onbekend was met die mediese terme nie.
In die telefoonhokkie het ek vir my tannie geskakel en gevra of hulle kon uitry na Mamma op die plaas om vir haar die nuus te gaan oordra dat Johanna ‘n kanker gewas het in haar kop, maar dit is te diep om te opereer. Die dokter het gesê dat sy geen kans het om dit te oorleef nie. Ek het gehoor hoedat my swaer net so ‘n diep kreun gegee het en neergesak het op sy hurke, met sy rug teen die glas van die hokkie. Hy het nie verstaan wat die dokter verduidelik het nie, maar my woorde het deurgedring.
My ma het kom oorslaap en ek sou haar die volgende dag na Kaapstad neem om Johanna te sien. My ma het al gaan slaap, maar ek het ‘n
dringendheid ervaar om die Nuwe Afrikaanse Vertaling oop te maak by Psalm 23. Die woorde was anders as die ou vertaling wat ek so goed geken het. Ek het die nuwe vertaling gememoriseer, wetende dat my suster vir my gaan vra wat haar makeer en ek sou dit nie kon ontvlug nie. Dit was ook so. Sy was nie meer in die koma nie! Sy het ons al gegroet toe ons nog nie eers by haar bed was nie. Nadat Mamma met haar gesels het, het sy my nader geroep:
“Ou Esthertjie, kom staan hier baie naby my. Ek wil binne in jou oë kyk. Jy is die enigste een wat nie vir my sal lieg nie.”
“Wat makeer my?”
Die reaksie in my innerlike was hewig, ek het gebewe, maar het so naby soos ek kon gaan staan.
“Johanna, wat sê die dokter vir jou?”
“Hy sê ek het ‘n abses in my kop, maar ou sussie, ek is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Het ek kanker?”
“Ja, jy het en dit sit te diep om te opereer.”
Sy het haar oë toegemaak en doodstil gelê. Ek ‘n paar keer gesluk om die knop in my keel weg te kry en toe vir haar die nuwe vertaling van Psalm 23 opgesê.
“Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
Sal ek nie bang wees nie,
Want U is by my.
In u hande is ek veilig.”
“O, dit is pragtig. Herhaal dit weer, asseblief.”
Meer woorde het ons nie vir mekaar gehad nie. Toe ons weer moes gaan, het my ma buite die kamer net gevra: “Voel jy sterk genoeg om te bestuur, my kind? Jy het doodsbleek geword toe Johanna jou gevra het wat haar makeer. Jy het reg gedoen. Dit is beter dat sy weet.”
Die volgende dag toe ek by haar kamer instap het sy breed vir my geglimlag.
“Weet jy wat, ek gaan nie nou al dood nie. Ek het ‘n lang tyd met die Here deurgebring verlede nag. Ek gaan leef.”
Sy was reg. Sy het nog dertig jaar langer geleef. Ja, soos ‘n gevangene in ‘n gestremde liggaam, maar met ‘n lewende gees wat nog die Evangelie kon verkondig.
Sy was oorgeplaas na Grootte Schuur vir bestraling. So dikwels soos ek kon het ek oor Du Toitskloofpas gery om by haar te gaan sit. Een oggend het ek by haar kamer gekom toe sy reeds weg was vir bestraling. ‘n Ouer dame met terminale maagkanker het die kamer met my suster gedeel.
“Wag gerus hier, sy sal oor ’n rukkie teruggebring word”, het sy my genooi. “Jou suster is ‘n vrou met moed. Vanoggend het sy vir ons daardie lied gesing met die koortjie:
“And He walks with me, and He talks with me
And He tells me, I am His own…”
“Sy sing baie en sy vertel vir my sulke mooi dinge van die Here Jesus.”
Die dokter het haar toegelaat om vir ‘n naweek saam met my te gaan.
Ek moes alles vir haar doen, ook haar voer, want sy kon nie die vurk by haar mond kry nie, daar was nie koordinasie in haar bewegings nie. Toe ek in die kombuis besig was om haar wasgoed op te vou, het ek haar hoor sing: “And He walks with me, and He talks with me..” maar sy het die wysie verloor! Sy wat so nootvas was, kon ook nie eers meer wysie hou nie.
Iets in my het gebreek. Ek het een van haar warm, droë handdoeke uit die tuimeldroeër gegryp en my gesig daarin gedruk dat niemand die snikke kon hoor nie. My dierbare suster het ‘n tyd van lyding voor haar gehad en wat kon ek doen om dit te verlig?
Die lewe het aangegaan. Sy is terug huistoe. My ma het alleen gery om Johanna te besoek op hulle plaas.
“Kind, jy kan nie net so sit nie.”
“Ma, my mense hier is te bang dat ek sal val as ek probeer opstaan om iets te doen. Alles val buitendien sommer uit my hande.”
“Ek begryp, kind. Hulle wil nie hê dat jy verder moet seerkry nie, maar jy kan kruip, dan beweeg jy tog sonder die gevaar om te val. Kruip op jou knieë buitentoe, dan werk jy bietjie met jou hande in die tuin. Dit sal goed wees vir jou . Trek sommer die onkruid uit. Jy sê dat jy geen pyn het nie, so sit jouself uit en doen iets!”
‘n Paar weke later was my ma terug by Johanna met twee krukke.
“Hier, my dogter, leer loop. Dan kan jy jouself en ander weer help.”
So het my suster buite om die huis begin oefen om te loop met die krukke. Dit het maar val en opstaan gegaan, maar sy het vasberade volhard. Sy het geslaag en later kon sy sonder die krukke beweeg. Slinger-slinger, maar sy was weer vaster op haar voete. Laggend het sy die storie vertel dat Dirk haar een oggend vroeg voor ‘n winkel afgelaai het sodat sy self haar inkopies kon gaan doen. ‘n Klein seuntjie het gestaan en kyk hoe sy stap en toe vir haar gesê: “Haai Tannie! Tannie moet darem nie so vroeg in die more al drink nie.”
So het ons Johanna en Dirk jare lank geken, hy wat altyd sy arm vir haar aangebied het sodat sy makliker kon loop. Hulle het saam ouer geword, Johanna met haar gestremde bewegings, visie en gehoor en Dirk wat nog sterk en vol lewe was, maar tog ook ‘n bietjie hardhorend.
Toe kry ek een dag ‘n oproep dat Dirk kanker het. Hy moes vir bestraling gaan. Vir my was daar net een pad. Ek moes afvra by die skool en na hulle gaan. My man was reeds oorlede en ek het in die sendingskool hier gehelp. So gou soos wat moontlik was, het ek toe by hulle by die see opgedaag. Hulle het nie meer op die plaas gewoon nie, maar in hulle strandhuis.
Johanna was plat in die bed toe ek daar aangekom het. Die skok was vir haar so erg dat sy nie geweet het hoe om dit te hanteer nie, want hierdie keer was dit nie syself nie, maar haar Dirkie! Dirk was skoon wild en kon amper nie verdra om in die huis te wees nie. Hy moes net uit. Elkeen van hulle het die skok op hulle eie manier probeer verwerk.
Johanna het gou opgekikker nadat ek gekom het en ons het weer buite gaan stap tot daar waar ons op die see kon afkyk. Ek het by haar gebly terwyl Dirk vir sy eerste bestraling gegaan het. Hy het my vertel dat die dokter hom gemaan het om sy sake reg te kry, om toe te sien dat Johanna versorg was, want hy het nie meer lank tyd gehad om te leef nie. Johanna moes dit egter nie weet nie.
Dit was ‘n geweldige opoffering vir hom om na die ouetehuis op die dorp te gaan, maar hy het dit ter wille van Johanna gedoen. Hulle was nog in hulle vyftiger jare, met buitengewone toelating, in ‘n dubbelkamer in die tehuis vir bejaardes.
Ek kan nie onthou hoe lank hulle daar saam gebly het voordat Dirk gesterf het nie. Wat ek duidelik onthou is dat ek die aand voor die begrafnis daar by Johanna in hulle kamer in die dubbelbed geslaap het.
Sy was stil, baie stil: “Ek het vas geglo dat die Here hom sou genees.”
Ek het al die pad voor my suster geloop en kon haar uit eie ondervinding geantwoord het, maar ek was nie gestremd nie, ek was nie sonder kinders soos sy nie. Ek was nie geherberg in ‘n tehuis vir bejaardes nie. Ek was nog gesond en het ‘n werk gehad. Een ding kon ek egter vir haar met diep oortuiging sê:
“Johanna, jy sal uitvind dat die Here jou nie alleen los nie. Hy kom en vul die plek van Dirk. Jy kan nou op Hom leun. Dirk se dood verander baie dinge vir jou, maar dit verander nie die Here nie. Al verstaan jy nie nou nie, die Here verstaan en Hy weet hoe om jou te vertroos.”
“Dankie, dat jy hier is. Dit help.”
Ons het nie eintlik geslaap nie, maar ook nie eintlik meer gesels nie. Ons was darem bymekaar. Die seer het maar gewurg.
Etlike maande na Dirk se dood het Johanna by my hier op die sending kom kuier. In die stilte van die nag het ek dikwels in my kussing gehuil oor haar lyding en duidelike agteruitgang. Bedags het ek werkies vir haar gevind wat haar hande nog maklik kon doen. Sy het die skottelgoed afgedroog. Sy was so versigtig en nie een koppie of bord het uit haar hande geval nie. Dit kon maar, dit sou nie saak maak nie.
Die eerste aand in die badkamertjie het sy haar balans verloor en die plastiek wasgoedmandjie plat geval. Gelukkig het dit haar val gestuit sodat sy nie seergekry het nie.
Weke nadat sy gekom het, het sy eendag na my gekyk en ‘n diep seer uitgebring:
“Ek bly tussen ou mense wat baie kuier en gesels. Hulle is lief vir my, maar daar is niks vir my om te doen nie, ek sit net. Die dae is so lank en gaan so stadig verby. Is dit hoe ek maar sal moet aanhou leef?”
“Kom woon hier saam met my, Johanna. Dit sal wonderlik wees.”
Na ‘n lang ruk het sy geantwoord: “Dit sal my skoonmense seermaak as ek dit doen. Hulle sorg goed vir my en sal so ‘n skuif nie verstaan nie.”
Versigtig het ek aanhou pols of sy nie tog maar met haar skoonmense daaroor wou praat nie. Sy het vasgesteek, so iets kon sy net nie oor haar hart kry nie. Dit sou hulle seermaak.
Na ses weke is sy weer terug, met die vooruitsig dat ek die volgende Junie vakansie na haar toe sou gaan. Dan sou ons vir die drie weke in hulle strandhuis gaan bly het. In Dirk se testament het die huis ‘n nuwe eienaar gekry en sy wou alles gaan oppak en uitdeel.
Sy het intens uitgesien na die vakansie en toe gebeur iets wat ek in my wildste drome nie kon voorsien het nie. Ek kon nie gaan nie. Nie dat ek nie wou nie, dit was net ‘n berg voor my wat ek nie kon klim nie. Ek was siek. Die liefde vir my suster kon my nie eers sover kry om net aan te gaan nie. Ek het my belofte nie nagekom nie! My verduideliking dat ek siek was, het nie verhoed dat sy so diep seergemaak was dat sy haar hart teenoor my gesluit het nie.
Vir my was dit ‘n verskrikking. Innerlik het ek myself verwyt en sleggesê. Die gedagte dat sy miskien daardie vakansie vir my wou vertel dat sy besluit het om tog by my te kom bly, het lank by my gespook. Ons verhouding was nie weer dieselfde nie. Sy was beleefd en vriendelik teenoor my, maar die warmte, die maatskap het verdwyn.
Johanna het na daardie seerkry vinniger verswak. Ander het hulle verkwaliking teenoor my uitgespreek: “Jy het Johanna baie seergemaak.”
Dit was waar, ek het.
Dit was ‘n dure les wat ek geleer het. Die waarskuwing van Jakobus in die Bybel het my voor oë kom staan.
“Kom nou julle wat sê: Vandag of more sal ons na die en die stad gaan……..julle wat nie eens weet wat more sal gebeur nie. … In plaas dat julle sê: “As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.”
Dit is seker hoekom my ouma altyd gesê het; “So lank lewe, dan kyk ons more.”
Daar het toe ‘n dag gekom waar ek die wete dat ek na Johanna moes gaan, net nie meer verder kon wegstoot nie. Dit was nog nie tyd vir ‘n skoolvakansie nie en ek sou ‘n gaping los om sommer net weg te gaan. Ek het tog gaan vra en my versoek was toegestaan.
My suster was heeltemal bedleênd. Sy het my nie herken nie! Ek het ure lank by haar gesit. Etenstye haar gevoer, vir haar gesing, Bybel gelees, haar hande en voete met room gesmeer en sommer baie dinge vertel uit my ondervindinge en belewenisse op die sending. Die derde oggend toe ek by haar kom en haar groet, het sy met ‘n blye glimlag my herken: “Esther!”
Iets van ons ou verhouding was weer terug! Die oorblywende dae was kosbaar, daar was ‘n vreugde in haar. Haar skoonsuster het eendag saamgekom en uitgeroep:
“Johanna, jy lyk soveel beter, ons moet Esther sommer hier hou. ”
Sy het saamgestem.
Voordat ek moes vertrek het ek iets vir haar gevra wat ook my hart sou gerusstel. Sy kon nie meer self Bybel lees nie en het ook gesukkel om te hoor wanneer iemand van te ver of te sag gepraat het.
“Johanna, praat die Here nog met jou?”
Sy het dadelik instemmend geknik.
“En bid jy nog?”
Sy het geglimlag, met haar hand na my gewys en gesê:
“Ja, en ek bid ook vir jou.”
Dit was ons heel laaste gesprek. Toe ek weer in die Kaap was en haar gaan besoek het, was sy in ‘n diep koma totdat sy later so gesterf het.
Sy het nie net my lewe dikwels aangeraak met die mooi van haar omgee nie. Daar is een spesifieke leerling van haar wat gereeld vir haar opgesoek het wanneer hy met vakansie in Suid-Afrika was. Hy was ook nie suinig met woorde om te getuig wat sy juffrou Johanna vir hom in sy lewe beteken het nie.
Dikwels kyk ek na haar foto en glimlag oor mooi en kosbare herinneringe van ons lewe saam. Dan kan ek ook opnuut die Here dank vir die familie waarin ek grootgeword het. Ek kan boekdele skryf oor my ousus, my oudste broer, die broer net jonger as ek en dan die ou laatlammetjie in die gesin. Hulle weet nie hoeveel mooi en heerlike herinneringe ek weggebêre het van hulle almal nie!
Die spreekwoord sê mos: Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Ek glo dat hulle ook eendag maar net sal glimlag wanneer hulle dalk lees waarvan my mond oorgeloop het!!