MY PA

My pa was seker al  so ses-en-veertig  toe ek, die vierde kind, gebore was, maar ek onthou hom as ‘n lang, groot en sterk pappa. Hy het altyd ‘n kakiebroek en kakiehemp gedra, ‘n hemp met lang moue vir beskerming teen die son. Toe ek groter was en gehelp het om my pa en oom se klere uit te sorteer en weg te pak, het ek die verskil geken aan die reuk. My oom het ook kakieklere gedra, maar sy klere het na sigaretrook geruik. Ek het dikwels my pa se hemp teen my gesig gedruk en daardie skoon vars reuk van die veld geniet. Hy het nooit gerook nie.

My pa was ‘n alleenloper en het dikwels hardop met homself gepraat, tog het ek sy teenwoordigheid opgesoek want in my binneste was daar ‘n onverstaanbare liefde vir die pa van my, so ‘n hartseer jammerte vir hom. Nie dat hy ooit baie aandag aan my gegee het nie, hy het gewoonlik vergeet dat ek langs hom gestap het, maar dit was vir my so lekker om by hom te wees.

Wanneer hy sy perdekar uitgetrek het om  berge toe te gaan, na ons veeplaas daar, het ek gewoonlik opgewonde gaan vra of ek mag saamgaan;
“Gaan vra jou ma.”
As my ma ingestem het, is ek met vreugde terug na die waenhuis en het gestaan en kyk hoe my pa kosvoorraad uithaal en aftik op die lys vir die veewagter se vrou. Ek moes dan ‘n klein meelsak vashou en so oophou sodat hy meel uit die groot sak kon daarin kon afmeet. Hy het so met dubbelhande geskep en ingegooi terwyl hy getel het.. Met verwondering het ek dan altyd gekyk hoe my pa dit  aan ‘n klein trekskaaltjie opgehang het om seker te maak dat dit die verlangde gewig was. Ek het gesien dat hy soms moes byvoeg, maar nie dat hy weer uitgehaal het nie. My pa het liewer meer afgeweeg as te min. Wanneer die voorraad opgelaai was en styf tot onder die bankie ingedruk was, het hy stal toe gestap om vir Moksie en Sieraad te gaan haal. Dit was inspantyd. Die twee bruin vosperde was sy staatmakers. My ma het die kosmandjie met die klap deksel gebring en dit reg voor die bankie op die perdekar die ereplek gegee. Ek het geweet wat daarin was! Groot snye varsgebakte bruin brood, ‘n paar skywe skaapvleis wat gebraai gaan word en natuurlik ‘n bottel koffie. Ons sou die hele dag weg wees, want veertig kilometer met ‘n perdekar neem nogal tyd en dit was opdraende na die veeplaas toe. Die terugkom was altyd baie vinniger, afdraend en die perde het stal en voer geruik!

My pa was stil en het selde met my gepraat. Soms het ek gevra: “Hoekom is Pappa so stil?”
“Ek dink.”
“Wat dink Pappa?
“Ek dink sommer.”
Wanneer die perdekar swaar gelaai was, het dit maar stadig gegaan teen Ouberg-pas uit. Gewoonlik het ek afgespring en voor die perde uitgehardloop omdat die stilsit te lank geword het. Soms het my pa lus gehad om te gesels. Dan het hy vir my vertel van die plante langs die pad en die verskillende voëlsoorte. Daar was ‘n klein soort voëltjie wat hy die kapokvoëltjie genoem het. Eendag het my pa die perde ingetrek en stilgehou om vir my die nessie in ‘n taaibostak te wys. Dit was ‘n pragtige nessie! In my jong gedagtes het dit gelyk asof dit uit skaapwol gebou was, dit was so wit en mooi. Maar waar op die aarde sou die voëltjie nou genoeg skaapwolletjies gekry het om dit in ‘n nessie in te weef? Dit was een van die kleinste voëltjies wat ek ooit gesien het.
Dan was daar ‘n ander voël wat regop in die lug ingevlieg het en so op die een plek bly hang het met vreeslike vlerkgeklap. Dit was die kelkiewyn. Hy het duidelik sy naam gekry deur die manier wat hy roep: “Kelkie wyn.” As ek reg onthou was die voël  ‘n grondbewoner.

My pa het my geleer van die harpuisbosse met hulle geel blomme, die bokke was lief om dit te vreet. Die ghwarrie, kareebos, spekbos, plakkies, vygies en proteas. Daar was so baie verskillende soorte proteas in ons berge. Vir my was die heel mooiste die bergrosies. Die bosse het so plat gegroei en oor die kranse gehang en dan het die blom kop onderstebo in die bos gehang.  Ek kon my so verkyk aan die mooi. As ek vir my ma daarvan gepluk het, het ek altyd gesoek vir ‘n knop wat net begin oopgaan, dit was te mooi vir woorde – die buitenste pienk blaartjies wat so effentjies oopmaak en dan kon ‘n mens die styfgepakte goudgeel stuifmeeldrade daar binne-in sien.

Ons het altyd ‘n baie hartlike welkom van die vrou by die veewagtershuis ontvang.  Sy het so baie vrae gehad en vir my was dit altyd ‘n verwondering dat my pa haar vrae beantwoord het! Nuus van al die mense waaroor sy uitgevra het. Sy het dan die kosmandjie gevat en die vleis uitgehaal om te braai. My pa het gestap om die vee te gaan bekyk en met haar man te gesels en ek het heerlik  tussen die bosse en klippe gespeel. Daardie vars berglug teen ‘n mens se gesig en die wydsheid van die natuur, dit bly my by.

Ja , ek het regtig graag saam met my pa gegaan.  Ook na die bokkraal wanneer dit lamtyd was. Om na die kraal agter die rant te stap was nooit ‘n probleem nie, maar die terugstap was vir my ‘n groot uitdaging. Wanneer my pa tevrede was dat elke bokooi haar lam gevind het en die lam sy ma, dan het die terugstap begin. Dit was gewoonlik al pikdonker want in die wintermaande sak die son mos vroeg en ek was baie bang vir die donkerte. Vreemd dat ek nie liewers by die huis gebly het nie.

Ek dink nie dat my pa  bewus was van my vrees vir die donker nie en hy het maklik vergeet dat ek langs hom gedraf het om by te hou. As die bang darem te erg geword het en my rug gekriewel het van benoudheid, het ek my hand in my pa se toegevoude hand ingedruk. Hy het amper verbaas afgekyk en seker onthou dat ek mos saam met hom was. Sy hand was altyd so warm en veilig.

Ek kan nie onthou dat my ma ooit met my gepraat het oor my vrees vir die donker nie, maar sy het geweet! Wanneer ek donkeraand nog buite was, het sy ‘n kers opgesteek en dit in haar werkkamer venster gesit. Ek kon die liggie van ver af sien en dit het my altyd getroos dat as ek by die huis kom, sou ek weer veilig teen die donker wees.

My pa was lief vir sy perde en muile, vir  sy beeste en bokke, maar met mense het hy nie so goed oor die weg gekom nie. Ek was nog klein, seker so vier jaar oud toe ek iets beleef het waar my pa darem sterk en slim was!

Perderuiters het die bondel muile wat wild op die bergplaas rondgeloop het, afgebring na ons woonplaas toe. Die muile was almal in die groot kraal met die kleimure ingejaag en die hek weer stewig agter hulle toegemaak. Ek het gaan stelling inneem op ‘n veilige plek waar ek in die kraal kon sien.

Die krag in die liggame van hierdie wilde, ongetemde diere het my bang gemaak. Seker meer as vyftien van hulle het in die groot kraal rondgemaal met neusgate wyd oopgesper en onrustige oë. Daar op die bergplaas kon hulle vry rondbeweeg met net ‘n grensdraad wat hulle beweging ingeperk het. In die kraal was hulle vasgekeer tussen mure wat hulle nie geken het nie.

My pa het ‘n nuwe, jong muil nodig gehad as ‘n trekdier en een van hierdie wilde goed moes gevang en getem word. Hy het met ‘n lang vangriem in sy hand die hek oopgemaak en ingekom. Saam met hom was een helper. My pa was ‘n groot, lang man, sterk op sy bene en heeltemaal in beheer van die situasie. Sy kennersoog het die een uitgesoek wat sou inpas by die span trekdiere. Soos die muil verby gedraf het dig teen die ander, het my pa die lus van die vangriem uitgegooi na sy kop. My pa was ‘n goeie skut en hy kon goed mik, maar die vangriem het ‘n paar keer op die grond geval. Toe het dit geluk, die lus van die vangriem het oor die kop van die dier geval en styf om sy nek vasgeruk.

“Maak oop die hek!”

Die ander muile het uitgestorm teen ‘n wilde spoed en net my pa, sy helper en die muil het agtergebly. Die hek was weer dig toegemaak.

Die groot stryd het begin. Die muil en my pa het kragte gemeet om te sien wie was baas. Pappa se helper het in harmonie met hom beweeg, sy gewig aan die riem het gehelp want die verwoede dier was sterk. Eers het die muil op die kleimuur afgestorm en met sy pote pote probeer uitklim. Toe het hy met ontblote tande en ore wat teruggetrek was op my pa afgestorm. My pa en die helper het hom behendig gesystap en die muil het verbygestorm. Die riem het hom teruggeruk. Toe het hy venynig na hulle geskop, dan het hy gerol. Hy kon nie wegkom van die vangtou en die gewig van my pa en sy helper nie. Tog het hy die twee mans rondgesleep met die wilde krag van sy liggaam. Die hele tyd het my pa kalm met hom gepraat: “Hokaai, nou. Hokaai. So nou, so nou.”
Die strop om sy nek het net stywer en stywer getrek. Skuimbolle sweet het op hom uitgeslaan en sy asem het hortend deur sy toegetrekte keel geblaas. Toe skielik het hy doodstil gaan staan. Sy ore het ontspan, dit was nie meer platgetrek nie. Die baklei het hom verlaat. Hy het my pa se baasskap erken en daaronder gebuig. Die wilde dier was getem en sou homself nooit weer soos ‘n wilde, ongetemde dier gedra nie. Hy was in daardie een enkele stryd verander van ‘n wilde dier wat onbruikbaar was, tot ‘n sterk trekdier wat my pa se gesag aanvaar het.

Pappa het nader gekom en oor die dier se kop en nek gevryf.  Al paaiende het my pa ‘n halter oor sy kop laat gly en toe die muil by die hek uitgelei na die sementdam. Daar by die krip kon hy sy dors les. Die stryd was verby.

As grootmens het ek in Psalm 32 gelees dat daar in die Bybel se tyd ook sulke dinge moes gebeur het. Dawid het ‘n onderwysing neergeskryf:

“Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee, my oog sal op jou wees. Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kon hy nie naby jou nie.”

Die onderrig is nie vir die muilesel nie, maar vir my en jou!

en_ZAEnglish (South Africa)