MAAR  JULLE, GELIEFDES!

Die brief wat Judas aan die gelowiges geskryf het is nie lank nie, eintlik ongewoon kort, net vyf-en-twintig verse. Dit is verstommend hoe hy sy woorde kon inperk terwyl sy hart brandend was om met die gemeentes te gesels oor hul wonderbare gesamentlike geloof in Jesus Christus. Na sy opregte groet aan almal wat geroep was, in God die Vader geheilig was en vir Christus bewaar is, weerklink sy seënwense wat hy oor hulle uitgespreek het tot vandag toe ook vir ons wat geroep is, vir ons wat in God die Vader geheilig en ook tussen die is wat vir Christus bewaar word:

“Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word.”
 
‘n Mens kan mos nie anders as om so ‘n gebed te omarm en teen die hart vas te druk met die versugting dat dit so sal wees nie. Om die vermenigvuldiging van God se barmhartigheid, God se vrede en Sy liefde in ‘n mens se innerlike te beleef, is tog om versadig te wees met die goeie. Wat meer het ‘n mens dan nog nodig?  
 
Ek kan my voorstel hoe Judas gebid het vir die gelowiges vir wie hy so pas gegroet het. Sy hart was vol liefde, vol van die Heilige Gees en met groot ywer het hy beplan om met hulle te gesels oor hulle kosbare, gesamentlike geloof in Christus. Hy kon egter nie voortgaan met die boodskap wat so duidelik op sy hart gelê het nie, want die gevaar wat gedreig het, het sy denkrigting verander. Daar het ‘n gevaar gedreig  dat die allerheiligste geloof in Christus verlore kon gaan.  Hy moes hulle waarsku en aanmoedig om kragtig te stry vir die geloof wat aan hulle oorgelewer is.
 
Judas het daarin geslaag om met ‘n paar penstrepe ‘n lewende prentjie vir hulle te skilder hoe die gevaar lyk en uit watter oord dit gekom het. Daar was mense wat ongemerk in die gemeente ingedring het en vir hom was dit intens belangrik dat die gelowiges wakker moes wees om hierdie insluipers uit te ken. Dat hulle na die vrug van dielewens om hulle moes kyk. Die wat nie die Gees van God gehad het nie, was dié wat oor alles gekla het en met alles ontevrede was. Wat hulle gedink en gevoel het, wat hulle wou doen, was die heel belangrikste. Hulle was ook nie terughoudend om te spog oor hulleself nie, en het maklik gepraat oor dinge waarvan hulle niks geweet het nie. Dit is duidelik uit Judas se waarskuwing dat hierdie mense reeds invloed onder die gelowiges gehad het, want hy beskryf hoe hulle die mense se begrip van God se genade begin besoedel het. Subtiel het hulle geleer: “Doen wat jy wil, wanneer jy wil en hoe jy wil, want God is mos genadig. Hy vergewe mos.”
 
Paulus, Johannes en Petrus het die gemeentes ook teen sulke insluipers gewaarsku – valse broers en susters tussen die gelowiges. Die wat ‘n voorkoms en gedaante het van ‘n vrome Christen, maar die krag van die Evangelie het heeltemal in hulle lewens ontbreek. In sy diepe erns dat die gelowiges moes sien dat die Heilige Gees nie dié mense gelei het nie, het Judas die een voorbeeld na die ander gebruik om die gelowiges se oë oop te maak oor die werklikheid van die gevaar.
 
Leef ons nie ook in so ‘n gevaar nie? Dat die Evangelie soos die Skrif dit verkondig deur sogenaamde Christene se lewens afgewater word en krag verloor? Selfs sommige predikers wil nie meer openlik preek oor sonde wat skeiding maak tussen God en die mens nie, want dit maak die kerkgangers uiters ongemaklik. Dit maak ook die prediker wat oor belydenis van sonde preek onpopulêr want om aan sonde te dink, laat val sommige in depressie en veroorsaak ook ernstige paniek aanvalle. Dus word die waarheid dat Christus gekom het om die sonde van die mens weg te neem, die sondaar te vergewe en rein te was in Sy bloed, liewers vermy om luisteraars van ongemak te bewaar.
 
In een van Andrew Murray se boeke haal hy aan uit ‘n verslag van ‘n sekere sendingorganisasie: “It has come to pass that our representatives on the field, just because they are what we have made them, have far too often hidden the Christ whom they are giving their lives to reveal. It is only in proportion that the missionary can manifest the character of Christ in and through his own life, that he can gain a hearing for the Gospel. Only as far as he can live Christ before their eyes can he help them to understand the message.”
 
Dit was Judas se pleidooi, dat die geloof in Christus lewend moes bly in die gelowiges en kragtig uitgeleef word. Ongeag van omstandighede, ongeag van die wat ongemerk ingesluip het en die ware Evangelie afgewater en vol kompromieë gemaak het:
 
“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julle self in die liefde van God bewaar.”
“Maar julle, geliefdes…” Die woorde is ook vir my en jou bedoel, vir ons wat waarlik in Christus glo. Ons moet vashou aan die ware Evangelie van Christus. Laat die wat soos Kain en Bileam en Korag optree, geen invloed op ons hê nie, al staan hulle soms op die preekstoel. Laat hulle maar praat en ronddryf soos wolke wat geen reën bring nie, soos reuse golwe wat net hulle eie skandes oor die strand oopsprei. Laat hulle maar rondlê soos ontwortelde vrugtebome wat geen vrug gedra het nie, soos iets wat van tyd tot tyd lyk na ‘n ster wat skitter, maar in die niet verdwyn. Kom ons hou ons oë op ons Verlosser wat magtig is om ons van struikeling te bewaar. Wat belowe het om ons vlekkeloos en sonder gebrek voor God te bring. Kom ons leef ons allerheiligste geloof uit in Christus wat gekom het om ons van sonde te verlos – wat juis daarom gekruisig is. Kom ons verkondig met vrymoedigheid  hierdie allerheiligste geloof deur ons lewens en laat nie toe dat enige spotter, enige losbandige wat volgens sy eie begeertes leef en maak asof hy so nederig en godvresend is, ons blinddoek nie. Laat ander dan in ongebondenheid leef en God se genade goedkoop maak en Christus se offer verkleineer, maar julle, geliefdes, bou julleself op in die allerheiligste geloof. Kom ons gaan voort om te glo wat ons glo  – die waarheid dat sonde skeiding bring tussen God en die mens. Dat ‘n sondaar deur die kruisdood van Christus verlos kan word van die mag van die sonde en van die skuld van die sonde wat persoonlik teen God gepleeg is. Die geloof dat Christus wat gesterf het in die plek van ons as sondaars, weer opgestaan het uit die dood en leef tot in alle ewigheid. Dat Hy alles nuut maak en dat ons in Hom nuwe skepsels geword het – nuuutgemaakte mense met  rein harte en skoongewaste gewetes. Kom ons stry kragtig om ‘n lewe uit te leef wat getuig van hierdie allerheiligste geloof in Christus Jesus – ‘n innige en ongeveinsde persoonlike verhouding met Hom, die Begin en Voleinder van ons geloof.
 
 
en_ZAEnglish (South Africa)