Joshua

Die son sit al hoog, maar vandag maak die sonstrale hom nie warm nie. Joshua sien dat sy ma haar tjalie stywer om haar trek en besef dat sy ook die koue voel. Hy rek doelbewus sy treë om in te val by haar pas, want hy durf haar nie tussen die skare uit die oog verloor nie. Toe iemand hom ongeduldig uit die pad stamp, gryp hy instinktief na sy ma se hand en kyk verskrik op in haar gesig. Sy kyk af en glimlag gerustellend. Hy ontspan. Sy ma is sy toevlug tussen al hierdie vreemdelinge. Sy weet dat hy nie die voetstappe en stemme van almal om hulle kan hoor nie, en sy weet ook dat dit hom bang en onseker maak. Hy hou niks daarvan om tussen hierdie groot klomp mense te wees nie en hy begryp ook nie waarom sy ma hom op so ‘n lang reis saamneem nie. Hulle stap al van sonop vanoggend en hy sien hoe die skare net groter en groter word.
Sy ma stoot hom sag na die kant van die skare en toe eers merk hy dat hulle besig is om teen ‘n heuwel op te stap. Sommige mense het selfs al daar heel bo gaan sit. Toe hulle ook die top bereik, vat sy ma sy hand in ‘n stewige greep vas en baan vir hulle ‘n pad tussen die sittendes deur. Hy volg haar en probeer versigtig om op niemand se klere te trap of oor iemand se bene te val nie.
Uiteindelik is sy ma tevrede, gaan sit en trek hom langs haar neer. Hy sit styf teen haar en kyk belangstellend na die mans wat op groterige rotse reg voor hulle plaasgeneem het. Een van die mans is besig om te praat. Nie dat Joshua hom kan hoor nie, maar van al die mans daar, is dit net sy lippe wat beweeg. Joshua se oë bly vasgenael op die man se gesig, op die vriendelikheid wat van hom uitstraal, op die manier hoe hy sy hande beweeg terwyl hy praat. Hy is anders as al die ander.
Toe kyk die man skielik reguit in Joshua se oë. Joshua, die seun wat doof gebore was en vir elf jaar lank net deur sy oë kan waarneem wat aangaan. Hulle twee se oë ontmoet en die man wink vir Joshua om na hom toe te kom. Sonder om eers aan sy ma te dink, spring Joshua dadelik op en stap vorentoe met die grootste vrymoedigheid. Hy vertrou hierdie man en iets in hom trek die seun aan.
Vir ‘n kort oomblik plaas die man sy hande om Joshua se ore en kyk diep in die kind se oë. Toe hy sy hande wegneem, word Joshua bewus van geluide om hom. Nog nooit in sy lewe het hy so iets beleef nie! Oorbluf staan hy doodstil reg voor die man en beleef die wonder van klank wat deur hom stroom.
“Joshua!”
Dit was die man wie se aanraking sy ore oopgemaak het en wat met ‘n glimlag nog steeds na hom kyk, dit is hy wat die geluid gemaak het. Die woord klink so mooi maar vir die seun het dit geen betekenis nie, tog gaan dit reguit na sy hart!
Dit is asof ‘n vreugdebom binne-in hom ontplof en dit word onmoontlik om langer stil te staan. Hy spring weg en hardloop om die skare en teen die heuwel af. Vir die eerste keer in sy lewe ervaar hy die geluid van sy hardlopende voete. Hy gee ‘n harde uitroep van pure vreugde en stop dadelik in verwondering. Dis was mos sy eie stem! Hy kan hoor! Nou is hy nie meer toegedraai in daardie dik, geluidlose stilte nie.
Hy spring in die lug op en val op die gras neer. In sy borrelende vreugde begin hy teen die heuwel afrol terwyl hy uitbundig lag en die geluid so geniet. Skielik bevind hy hom tussen ‘n trop skape wat verskrik in alle rigtings spat om van die raserige indringer af weg te kom. Die klein lammetjies blêr benoud en storm op hulle ma’s af vir skuiling. Joshua staan op en kyk na die vlugtende skape. Hy sien dikwels skape, maar het nooit geweet dat hulle sulke geluide kan maak nie. Hy is skoon opgewonde.
Die herder van die skape kom dreigend op Joshua afgestap en raas met hom en wys die hele tyd na sy skape. Die seun voel aan dat hy iets verkeerds gedoen het, iets wat die herder kwaad gemaak het. Gewoonlik het hy net gesien dat mense kwaad word en reageer, maar nou hoor hy hoe dit klink. Hy voel baie sleg en bang.
Wat ‘n verligting toe hy ‘n sagte stem agter hulle hoor en met die omkyk sien dat sy ma hom gevolg het.
“Asseblief, vergewe tog die kind. Die goeie Meester het hom sopas van sy doofheid genees en hy weet nie hoe om sy vreugde te hanteer nie.
Die geblêr van u skape en die geklank van die tientalle pote is geluide wat hy vir die eerste keer in sy lewe hoor. Dit is elf jaar dat hy doof was en nou kan hy hoor! Elke geluid en klank is vir hom nuut.”
Dit is ook die eerste keer dat Joshua sy ma se stem hoor. Hy hou van die klank, dit klink so sag en vriendelik. Hy sien dat die herder se gesig oopbreek in ‘n glimlag, terwyl hy instemmend knik. Hy kan glad nie verstaan wat hulle sê nie, maar die vrees vloei weg, want ook die herder se stem het verander. Joshua gaan staan styf teen die herder en druk sy kop teen sy arm. Dit was die manier wat hy vir homself as doofstomme aangeleer het om dankie of jammer te sê. Die herder sit sy arm om Joshua se skouers en die seun voel verlig – alles tussen hulle is weer reg.
Met sonsondergang is hulle nog steeds op pad terug huistoe. Die aandlug is koud teen hulle gesigte. Joshua is moeg, maar wil nog gretig elke woord leer wat hy kan. Hy en sy ma geniet die tyd alleen op die pad. Sy het begin om hom sy eie naam te leer: “Joshua”, en toe “Mamma.”
Hy leer vinnig en begryp sonder moeite. Grond, bome, voëls, geluide… sy ma wys daarna, sê die woord en dan herhaal hy dit. Sy tong was eers so lomp, maar dit gaan gou beter. Soos hulle nader aan die huis kom, leer Joshua woorde om sy pa te groet en hom te verras. Dit is egter sy sussie wat hulle eeste opmerk en hulle vrolik tegemoet hardloop: “Mamma! Mamma!”
Joshua merk dat sy pa ook van die huis af aangestap kom en hy hardloop vorentoe: “Pappa, dit is ek, Joshua!”
“Seun! Die Meester het jou aangeraak!”
O die dankbaarheid en vreugde in hulle huis daardie aand!
Hulle is vol hoop dat Joshua sommer vinnig gaan leer om normaal te praat.
So gebeur dit ook, gou-gou vergeet hulle dat Joshua ooit doofstom was.
Na ‘n paar maande verloop het, merk sy ouers op dat hy dikwels verdwyn om alleen te wees. Hy is ook stil en besig met sy eie gedagtes. Op ‘n dag loop sy pa doelbewus om hom te gaan soek en vind hom op die strand, nie ver van die huis af nie. Hy sit en tuur uit oor die see met ‘n stuk dryfhout in sy hande.
Sy pa gaan langs hom sit en kyk vir ‘n ruk hoe die golwe op die strand uitspoel, toe breek hy die stilte tussen hulle:
“Seun , dit lyk asof jou gedagtes besig is met ‘n ernstige saak. Is daar enige iets waarmee ek kan help?”
Joshua sit die stuk dryfhout in sy pa se hand. Dit lyk kompleet soos ‘n voël wat vlieg. Die kind moes ure lank gesit en skuur het om die hout so glad en skoon te kry.
“Pappa, toe die Meester my aangeraak het, het hy my vrygemaak. Ek kan nou vlieg soos ‘n voël, want ek is nie meer opgesluit tussen die dik, soliede mure van stilte nie. Ek was magteloos om daardie vangnet van doodse stilte te ontvlug, maar Hy het my vrygemaak van ‘n lewe waar ek geen kennis gehad het van die wonder wat klank nou vir my geopen het nie.”
Vir ‘n oomblik lyk dit asof Joshua jammer is dat hy gepraat het, so asof hy weer al sy woorde bymekaar kan maak en dit in sy hart wegsteek.
“Pappa, Hy het dit vir my gedoen, en ek het nooit eers vir Hom dankie gesê nie. In my vreugde het ek net weggehardloop. Ek het Hom nie weer gesien nie en ek het Hom nooit bedank nie. Wanneer ek die gedruis van die see hoor en die golwe wat so met ‘n knal neerslaan, kan ek myself nie help nie, ek dink aan Hom. Hy het my ore geopen en ek het nooit dankie gesê nie. As ek die seemeeue hoor, dan onthou ek dat ek nooit dankie gesê het vir hierdie groot wonderwerk nie.”
Sy pa sien die trane en hoor die hartseer in sy stem.
“Pappa, Jesus het selfs my naam geken en sy stem was die heel eerste wat ek my naam hoor sê het. Ek het nie geweet dat Hy my by my naam aangespreek het nie en ook nie dat sy naam Jesus is nie. Maar wat ek weet, ek het Hom nooit gewys hoe dankbaar ek is vir wat Hy my geskenk het nie.
Wil jy graag na Hom toe gaan om dankie te sê, Seun?
Joshua kyk verras op in sy pa se gesig: “Kan ek?”
“Ja, en ek sal saam met jou gaan.”
Hy het nog nie die ou gewoonte afgeleer nie, hy druk sy kop teen sy pa se arm. Sy pa reageer op die bekende manier, hy slaan sy arm om sy seun se skouer en saam stap die twee huis toe – pa en seun in ‘n gemoedelike saamwees.
Hierdie keer is dit nie vir Joshua nodig om eers die dryfhout-voël onder ‘n bos weg te steek nie, hy vat dit saam huistoe. Dit is mos vir Jesus wat sy ore oopgemaak sodat hy uit die gevangenis van doodse stilte kon ontsnap.
Sy ma is nog besig om padkos voor te berei tot laat die aand omdat hulle gehoor het dat Jesus moontlik na Jerusalem opgegaan het vir die Paasfees. Joshua hoor sy ouers se gesprek. Hulle is onder die indruk dat hy al slaap, maar hy is te opgewonde oor more, die slaap wil nie kom nie.
“Gersom, sal jy dit maak? Die hele pad na Jerusalem en weer terug? Agt dae op die pad met daardie seer been van jou! Dit is dan juis die rede waarom ons hierdie keer nie na die fees in Jerusalem gegaan het nie.
“Ons seun kwyn weg van hartseer omdat hy nooit vir Jesus dankie gesê het nie. Dit kan nie anders nie, ons moet gaan.”
“Kan ek nie liewers saam met hom gaan nie?”
“Nie met soveel reisigers op die pad nie, honderde sal terugkeer van Jerusalem. Dit sal nie vir julle veilig wees as dit net julle twee is nie, nie in hierdie tyd waarin ons leef nie. Los nou jou besorgdheid, vrou, ek sal vasbyt vir ons kind se onthalwe.
Joshua draai op sy maag en druk sy kop in sy arm, sy ouers moet tog nie hoor dat hy huil nie. Hy wil nie dat sy pa moet ly en swaarkry nie, maar watter ander oplossing is daar? Hy wil tog ook so graag vir Jesus sien. Uiteindelik oorval ‘n rustelose slaap hom en hy skrik eers weer wakker toe sy pa so liggies aan hom raak:
“Tyd om te gaan, Seun, dis amper dagbreek.”
Na die lang stap van die oggendure merk Joshua op dat sy pa mank loop en ook meer dikwels eers ‘n rukkie stop en dan maak asof hy die uitsig van die pad af geniet. Die sweet op sy voorkop en bolip verklik die intensiteit van die pyn. Joshua besef dat hy sy verlange om Jesus te sien, moet prysgee. Sy pa kan nie so ly nie, hulle moet liewer omdraai huistoe. Toe sy pa weer vir ‘n oomblik rus, skraap hy moed bymekaar om vir sy pa van sy besluit te vertel, maar voordat hy iets kan sê, wys sy pa na ‘n man wat aangestap kom, nie ver agter hulle nie. Die man het ‘n haastige pas en loop soos iemand wat duidelik ‘n doel voor oë het. Hy haal hulle in en groet vriendelik:
“Ek is Dibri van Gadara en op pad na Jerusalem.”
“Die Paasfees is tog al verby. Wat dring jou dan om vandag eers so haastig na Jerusalem op pad te wees?” vra Joshua se pa met ‘n glimlag.
“Ek soek Jesus van Nasaret. Nadat Hy my genees het, het Hy my beveel om na my mense toe te gaan en hulle te vertel watter groot dinge God vir my gedoen het. Ek was gehoorsaam, maar nou kan ek hierdie diep, kloppende verlange om Hom weer te sien nie langer onderdruk nie. Daardie dag van my genesing wou Hy my nie toelaat om saam met Hom in die boot te klim nie, maar nou moet ek net eenvoudig gaan en Hom vind. Ek het deur die hele streek van Galilia geloop op soek na Hom, want ek het gehoor dat Hy nie na Jerusalem toe sou gaan nie. Nêrens was Hy te vinde nie. Miskien is Hy tog in Jerusalem, en daar sal ek Hom dan kan sien.”
Met verrassing en vreugde kyk Joshua meer opmerksaam na die vreemdeling. Hier is nog iemand wat genesing ontvang het en ook ‘n verlange het om Jesus weer te sien! Hulle het soveel om met mekaar te deel terwyl hulle saam verder stap. Wat Jesus van Nasaret vir hulle gedoen het en en hulle sterk verlange om Hom weer te sien, maak dat hulle nie meer vreemdelinge vir mekaar is nie, maar vriende.
Dibri merk sommer dadelik op dat Joshua se pa nie kan byhou wanneer hulle hul pas versnel nie, daarom loop hy doelbewus stadiger. Toe die son net begin sak, stel hy voor dat hulle ‘n rusplekkie langs die pad soek om die nag daar te vertoef. Hy vind ‘n skuilplek tussen die rotse naby die pad en begin ook sommer hout bymekaar om ‘n vuurtjie aan te pak. Joshua kom help hom terwyl sy pa met sy rug teen ‘n rots gestut gaan sit en sy bene voor hom uitstrek.
“Jou pa kry swaar. Wanneer het hy sy been beseer?”
“’n Paar weke gelede.”
“Joshua, jou pa sal nie so kan voortgaan nie, ons sal moet omdraai huis toe. Miskien sal hy jou toelaat om saam met my te reis, dan kan ons twee saam gaan na Jerusalem.”
Joshua sug diep. Hy is skaam dat hy nie gouer gepraat het toe hy gesien het dat dit vir sy pa te moeilik was nie. Hy was so ingenome en opgewonde oor wat Dibri alles vertel het, dat hy sy pa se marteling uitgerek het.
Hulle sien ‘n klein groepie reisigers in die pad toe hulle terugkeer met die hout. Twee van die mans ry op donkies. Die groepie stop en sluit aan by die drie om ook vir die nag daar oor te bly.
“Ons is op pad terug van Jerusalem. Ons was daar vir die Paasfees.”
“Het julle gesien of Jesus van Nasaret ook daar was?” vra Dibri terwyl hy die houtjies so pak om die vuur aan te steek.
“Ja, Hy was daar,” antwoord die ouer man. “Dit was ‘n baie moeilike tyd.”
“Hoekom?”
“Hy is gekruisig.”
Sy woorde val soos groot rotse daar tussen hulle en veroorsaak ‘n diep skok. Dibri los waarmee hy besig was en gaan staan by die nuwe aankomelinge. Hy sit sy hand op die ouer man se skouer en kyk reg in sy gesig.
“Ek dink daar is ‘n misverstand. Ek praat van Jesus van Nasaret. Hy is nie ‘n misdadiger nie, Hy is die Een wat blindes en dowes, kreupeles en verlamdes en selfs melaatses reinig en gesond maak. Hy dryf demone uit en maak mense vry. Hy is die Een wat deur God gestuur is.”
Trane vul die ouer man se oë: “Nee, vriende, dit is nie ‘n misverstand nie. Die Romeine het Hom gekruisig omdat ons eie leiers Hom aan hulle oorgegee het om gekruisig te word.”
Joshua gaan sit styf teen sy pa, so styf dat hy sy kop teen sy pa se arm kan leun. Sy pa vou sy arm om die seun want die kind se liggaam ruk van die hewige snikke wat uit hom losskeur.
In ‘n stem met emosie belaai vra Dibri: “Hoe kon iets so verskrikliks gebeur het?”
Niemand praat verder nie. Die hele saak is te groot en te hartseer om in woorde uit te druk. Na ‘n lang ruk breek Joshua se pa die stilte.
“Wanneer het julle Jerusalem verlaat?”
“Baie vroeg die oggend na die Sabbat, die dag het net begin breek en die poort was reeds oop. Dit is nou ons derde dag op die pad.”
“Wanneer het hulle Hom gekruisig?”
“Die dag voor die Sabbat.”
“Was julle daar?”
“Nee, ek kon nie toekyk hoe Hy moes ly en sy kruis dra tot buitekant die stad nie. Hy het my van melaatsheid genees en my herstel om weer normaal te leef. Hy was net goed vir my, ek kon nie aansluit by die verwoede skare nie.”
“Was enige een van julle daar waar Hy gekruisig was?”
Joshua het opgehou huil maar leun nog altyd teen sy pa. Sy pa vra hierdie vrae eintlik ter wille van hom en Dibri. Dibri sit bewegingloos op ‘n stomp, sy kop is afgebuig en warm trane drup op sy hande.
Die ander drie reisigers in die ouer man se groep skud hulle koppe.
Een van hulle antwoord: “Ek was lam en Hy het my laat loop.”
Toe ‘n ander: “My ma was sterwende en Hy het haar van haar siekte genees.”
Die laaste van die drie voeg by: “Ek was deur demone gedryf en Hy het my verlos.”
Dibri staan stadig op en loop ‘n entjie van hulle af weg. Toe skree hy dit uit: “Hy het ons genees, Hy het ons geleer, Hy het ons gevoed, waarom was daar dan niemand om Hom van so ‘n aaklige dood te red nie!”
Hy begin hartverskeurend te huil. Joshua spring op en gooi sy arms om sy nuwe vriend wat so gebroke is. Sy pa sukkel om op te staan en gaan steek die vuur aan. Dit is reeds donker.
Skielik hoor hulle perde wat op ‘n galop met die pad aankom. Twee ruiters verskyn, Romeinse soldate. Hulle trek hulle perde in toe hulle die groepie om die vuur opmerk. Niemand roer nie.
Een van die soldate groet vriendelik en vra: “Het een van julle miskien die Galiliër wat mense genees het, geken? Die Een wat gedurende die Paasfees in Jerusalem gekruisig was?”
Joshua antwoord in ‘n sterk, helder stem:
“Ja, ek het!”
“Ek wil julle net inlig, Hy het uit die dood uit opgestaan. Die graf kon Hom nie vashou en die dood het geen mag oor Hom gehad nie. Hy het opgestaan!” Toe galop die twee soldate weer weg die nag in sonder enige verdere verduideliking.
Die sewe om die vuur sit en kyk vir mekaar terwyl hulle gedagtes heen en weer vlieg.
“Ons moet versigtig wees. Onthou hulle is Romeinse soldate. Miskien spot hulle sommer net vir ons sodat ons smart nog dieper word.”
“Tog was daar ook Romeinse soldate wat na Jesus toe gekom het vir hulp.”
“As dit waar is dat Jesus dood was en weer leef, dan sal ons Hom mos weer sien!”
Nadat elkeen gesê het wat hy dink, word dit weer stil. Na ‘n ruk sê Dibri met ‘n vasberadenheid wat deurslaan: “Voordat die son more oggend opkom, wil ek al op pad wees na Jerusalem om te gaan uitvind wat regtig daar gebeur het.”
Een na die ander sê die drie mans wat saam met die ouer man by hulle aangesluit het: “Ek gaan saam met jou, ek moet ook hoor wat werklik daar plaasgevind het.”
Joshua kyk na sy pa. Natuurlik wil hy ook saam met Dibri na Jerusalem toe gaan, maar sy pa moet by die huis kom. Hy het nou-net gehoor hoedat ‘n kreun van pyn sy pa ontsnap toe hy wou opstaan. Sy pa ly met die pyn wat so aan hom vreet.
“Pappa, ek kies om saam met Pappa terug te gaan huis toe, ons hoef dan glad nie verder na Jerusalem te stap nie.”
Die ouer reisiger verduidelik dat hy ook moet terugkeer na Galilia en kan nie saam met hulle na Jerusalem toe reis nie. Dibri sien dadelik ‘n oplossing raak en stel versigtig voor dat Joshua se pa dan moontlik op die ander donkie terug huistoe kan ry en Joshua gaan dan saam met hulle vier verder na Jerusalem.
“Ek sal vir hom sorg en veilig na jou toe terugbring,” belowe Dibri ernstig.
“Dit sal vir my ‘n baie groot verligting wees om terug huistoe te kan ry. Om te loop het amper onmoontlik geword, maar ek wou so graag volhard oor my seun se intense verlange om Jesus weer te sien.”
Joshua sluk en sluk weer, hy doen sy bes om sy trane in te hou. Hy druk sy kop teen die bekende arm en soos daardie arm om sy skouers vou, hoor hy die lag in sy pa se stem:
“Joshua, ek sal jou ma vertel dat jy nou vier pa’s het om na jou om te sien op jou reis na Jerusalem, dus het sy geen rede om bekommerd te wees nie!”
“Pappa!” Dis is ook nie nodig om meer te sê nie, almal kan sy vreugde en dankbaarheid hoor.
Nie een van die sewe slaag daarin om in te sluimer gedurende die nag nie en lank voor dagbreek is hulle al op pad. Joshua bedank nog eers die ouer man vir sy goedheid dat hy sy pa toelaat om terug te ry. Hy help sy pa om met die pynlike been op die donkie se rug te kom. Met nog so ‘n laaste druk op sy skouer as afskeidsgroet van sy pa, draai Joshua haastig om en val in by die vier mans wat op ‘n stywe pas die dag se reis begin.
Sommer kort nadat die son opgekom het, begin hulle om meer en meer groepe reisigers te ontmoet, reisigers op pad terug van Jerusalem. Van die eerste groepe vertel van die tragiese gebeure met die kruisiging van Jesus Christus. Sommige was selfs bly dat die bedrieër, die een wat voorgegee het dat hy soos God was, sy einde gekry het. Een harde man het luid gespog dat hy gesien het hoedat die soldate daardie moeilikheidmaker aan die kruis vasgespyker het. Hy kon selfs met groot genot ‘n paar spotwoorde inkry toe hy so hulpeloos tussen hemel en aarde gehang het.
Dibri kan nie verder na die man luister nie en stap sommer aan voordat hy sy storie klaar vertel. Ander mense wat hulle ontmoet, wil nie eers praat oor wat hulle beleef het nie, skud net hulle koppe in smart en verwarring. Later die dag begin hulle mense ontmoet wat sê dat Jesus opgestaan het:
“Hoe weet julle? Het julle Hom gesien?”
“Van die vrouens het na die graf toe gegaan en hulle het gevind dat die steen weggerol was. Hulle het Hom gesien en Hy het met hulle gepraat. Petrus het self na die graf toe gegaan en gesien dat dit leeg was.”
Hoop, wonderbare hoop begin stadig groei in die vyf op pad na Jerusalem soos hulle van meer en meer mense hoor dat Jesus nie in die graf gebly het nie, maar dat Hy leef. Honderde reisigers stap by hulle verby deur die loop van die dag en elkeen het ‘n storie om te vertel. Daar is werklik ook die wat heeltemal onbewus is van alles wat in die stad gebeur het tydens die Paasfees!
Net soos die son begin ondergaan, ontmoet hulle ‘n groot groep mense wat loop en sing. Dit is asof daar ‘n verwagting in die lug is wat hulle voetstappe lig maak en ‘n vreugde in hulle harte wat oorspoel na die vyf toe hulle gegroet word.
“Shalom! Hy het opgestaan! Vriende, Jesus het opgestaan uit die dood en Hy leef! Ons is op pad na Galilea om Hom daar te ontmoet.”
Tot hulle verbasing vind hulle uit dat dit die dissipels van Jesus is wat hulle met sulke woorde van vertroosting groet en dat dit Petrus is wat gepraat het. Hulle hoor dat Jesus die dag van sy opstanding aan verskeie mense verskyn het, selfs aan die disisipels waar hulle agter geslote deure saam was. Waarlik, Hy leef!
Hulle is op pad na Galilia want Jesus het hulle die nag voordat Hy gevange geneem was, gesê: “Nadat ek uit die dood opgestaan het, sal Ek voor julle uitgaan na Galilea. Die engel wat by die graf met die vrouens gepraat het, het ook vir hulle gesê om dadelik vir die dissipels te gaan vertel dat Hy opgestaan het en voor hulle uitgaan na Galilea. Daar sal hulle Hom sien. Toe hulle teruggehardloop het om die dissipels te gaan vertel, het Jesus self hulle ontmoet en gesê: “Gaan en vertel my broeders dat hulle na Galilea moet gaan; daar sal hulle My sien.”
Sonder enige twyfel los Dibri, Joshua en die ander drie hulle plan om na Jerusalem te reis en sluit by die dissipels aan. Ook hulle harte het nou daardie selfde vreugdevolle verwagting dat hulle Jesus in Galilea gaan sien. So bring hulle dan ook die nagure rustig saam met die groep deur en val saam met hulle weer vroeg in die pad terug na Galilea. Die lang ure wat hulle gemoedelik saam verkeer, hoor hulle van al die gebeure voordat Jesus gevange geneem was, besonderhede van sy sogenaamde verhoor en die grusaamhede van die kruisiging. Daar word egter baie meer gepraat oor die wonder van sy opstanding. Oor en oor word die verstommende gebeurtenis van die leë graf, die woorde van die engele en daar waar Jesus self verskyn het, uit verskillende monde vertel. Niemand word moeg om dit weer en weer te hoor nie. Die groep word ook net al groter hoe verder hulle loop en almal juig omdat Jesus leef.
Joshua voel so vertroos dat hy die blye afwagting om Jesus weer te sien skaars kan onderdruk. So nou en dan kry hulle tussen die heuwels deur ‘n kykie op die see van Galilea, maar die mense is traag om van die dissipels af weg te gaan. Hulle is nou ‘n groep van vyfhonderd en niemand wil eintlik die ander groet en wegdraai na hulle eie huise in die area nie. Hulle almal het ‘n liefde vir Jesus in hulle harte en wil so lank moontlik saam met sy dissipels bly. Petrus lei die groep na ‘n grasheuwel waar hulle almal kan rus na die lang ure se stap. Hulle weet die tyd om te groet het aangebreek en hy deel met hulle nog so ‘n bietjie van alles wat Jesus hulle geleer het, net om hulle te bemoedig.
“Vrede vir julle!”
Jesus het gekom! Hy was daar!
Terwyl Hy met hulle praat, kyk Hy na elkeen afsonderlik soos hulle na Hom sit en luister. Toe ontmoet sy oë die van Joshua. ‘n Heerlike warmte vloei deur Joshua en hy weet dat Jesus die groot dankie in sy hart raakgesien het. Jesus het sy dankbaarheid om te kan hoor en te kan praat aangeneem!
“Laat julle harte nie ontsteld word wanneer moeilike tye kom nie. Ek gaan om vir julle plek voor te berei in my Vader se huis. Dan kom Ek terug om julle te kom haal en saam met My te neem.”
Skielik is Hy weer weg, maar die vrede en die warmte bly agter tussen hulle. Hy leef! Hulle het Hom almal gesien en elkeen het die vertroosting en versekering persoonlik beleef. Een vir een begin mense tog later groet sodat hulle nog voor sononder by hulle huise kan wees. Dibri merk op dat Joshua iets uit sy sak haal en na Petrus toe stap. Mense is besig om te groet en met Petrus te gesels, maar Joshua loop tot styf teen die dissipel en druk sy kop teen sy arm.
Petrus kyk af en sien die jong seun met iets in sy hand. Hy sit sy arm om Joshua se skouers en vra sag: “Wil jy vir my iets sê?”
Die seun sit die stuk dryfhout in Petrus se hand en sê: “Ek het dit op die strand opgetel en dit glad geskaaf. Ek wou dit vir Jesus gee om dankie te sê. Ek was doof, ingesluit agter dik mure van doodse stilte, maar Hy het my ore geopen. Nou is ek vry soos hierdie voël, daar is geen tronk meer waar ek in klanklose stilte ingekerker is nie. Mag ek dit vir u gee, want u is naby aan Jesus en het Hom net so lief soos ek.”
Petrus vee met die agterkant van sy hand oor sy oë, kyk in die helder oë van die seun: “Dankie, ek neem dit graag. Dit is waar, ek het Hom net so lief soos jy.”
Dibri en Joshua groet en stap teen die heuwel af in die rigting van Joshua-hulle se huis, nog so ‘n uur of twee om te stap.
“Dibri, het jy ook daardie warmte in jou binneste ervaar toe Jesus na jou gekyk het vandag?”
“Ek het, en geweet dat alles tussen Hom en my reg is. Daardie dag wanneer Jesus gaan kom om ons te kom haal, sal ons vir altyd bymekaar wees en nooit weer hoef weg te gaan nie! Kom ons bly getrou terwyl ons vir Hom wag.”
Joshua knik instemmend en stap nader aan Dibri om vir hom dankie te sê dat hy met soveel deernis sy pa se plek ingeneem het. Hy druk sy kop teen Dibri se arm. Dibri reageer dadelik deur sy arm om Joshua se skouer te sit. Hy glimlag breed en sê:
“Alles reg, Joshua, seun van Gersom.”