Dibri

“Foeitog, het jy uit die nes geval?” Dibri tel die voëltjie op en voel hoe die hartjie teen sy vingers klop. Hy laat dit in sy bak hand sit en bekyk dit van alle kante. Die voëltjie het ‘n gesonde veredos en lyk asof dit gereed is om te leer vlieg. Dibri kyk op in die boom, maar kan glad nie ‘n nes sien nie. Hy loop na die klein stroompie wat dig teen die boom verby vloei, druk sy vingers in die water en drup dit op die voëltjie se bekkie.
“Is jy uit jou nes geskop? Hou jou ma nie van jou nie? Toemaar wat, dit maak dan twee van ons. Ek is ook nie welkom in my ouma se huis nie, sy hou niks van my nie. Sy sê ek lyk nes my pa. Miskien lyk jy ook nes jou pa. Ouma hou ook nie van my pa nie.”
Hy druk die voëltjie teen sy wang en vryf dan saggies met sy voorvinger oor die koppie. “Ek ken nie my pa nie. Ook nie my ma nie, sy is dood. Daar is net Ouma en sy raas altyd met my. Ek probeer so hard, maar ek doen niks reg nie. Ek sal vir jou sorg, dan kan jy leer vlieg en dan gaan stap ons daar ver agter my pa se witklip, waar niemand met ons sal raas nie. Ek was nog altyd te bang om op te klim na die witklip, my ouma sê daar bly spoke. Maar as jy saam met my gaan, dan gaan klim ons daar rond. Kyk, hier praat ek nou so baie en jy is seker honger? Kom ek vat jou saam dan gaan haal ek koring uit die kruik daar in die kombuis.”
Dibri lag skielik vrolik en hou die voëltjie reg voor sy gesig: “Ek is nie so dom nie! Ek weet mos jy kan nog nie ‘n heel koringkorrel insluk nie, ek sal dit fyn kou en dan sal jy dit kan inkry.”
Dibri druk die oorhang takke weg en stap uit die koelte van die boom in die middagson in. Ouma sit buite in die skaduwee van die huis met haar rug na hom toe. Die buurvrou is daar by haar. Hulle sien hom nie en hy glip stilletjies by die deur in. Toe hoor hy dat hulle van hom praat. Dikwels merk hy op dat mense ophou praat wanneer hulle hom sien, maar nou weet Ouma nie dat hy hier agter haar rug staan en luister nie.
“Ja, en nou sit ek met hom opgeskeep! Asof ek nie genoeg probleme het nie. Alku het nie vir my ‘n sent agtergelaat vir die kind se versorging nie. Maar nou ja, hy kon ook nie, hulle het hom dadelik kom wegvat. Hy was so ‘n wilde donkie en ek het Sherah gewaarsku om nie met hom te trou nie, maar sy het haar eie kop gevolg. Ek was daar die aand toe hy haar aan die keel gegryp het, hy was so verskriklik woedend dat ons almal weggehardloop het. Ek het nie geweet dat hy haar sou wurg tot sy dood is nie anders sou ek my dogter probeer help het. Dink net! Met sy kaal hande het hy sy eie vrou doodgemaak en die kind was maar net agt maande oud. Ek het toe maar hier kom bly om hom groot te maak, maar ek vrees al my moeite gaan uitloop op teleurstelling. Hy lyk nes sy pa, hy loop nes sy pa en hy dink nes sy pa. Hy sal maar word nes sy pa, want die bloed van ‘n moordenaar loop in sy are. Wat kry ek dan vir my goedheid? Ja, my dogter het geleef soos sy wil en nou het sy vir my ‘n swaar las agtergelaat.”
Dibri is spierwit in sy gesig en sy liggaam bewe. Hy is nou al amper tien jaar oud en weet sy ouma hou nie van hom nie, maar dit is die eerste keer dat hy hoor waarom sy hom nie naby haar kan verdra nie. Hy vergeet van die honger voëltjie in sy hand en van die koring. Hy hardloop by die deur uit terug na die boom. Die buurvrou sien hom en wys met haar kop en oë na hom. Ouma kyk om en skree met haar kwaai stem:
“Wat het jy daar in jou hande! Weer neute gevat sonder om te vra. Loop trek onkruid uit in die groentetuin en moenie so vir kwaadgeld rondloop nie!”
Dibri stop nie. Hy kyk nie om nie. Hy raak weg tussen die laaghangende takke van die treurwilger en sak op sy knieë agter die boomstam neer. Hier voel hy veilig en weggesteek van Ouma se harde oë. Hy weet net dat dit baie seer is hier in sy bors, so seer dat trane wil kom, maar hy mag nie huil nie dan klap Ouma hom. Hy voel ‘n beweging in sy hand en kyk na die voëltjie wat hy te styf vasgedruk het. Die hulpelose dingetjie kan nie vir homself sorg nie. Toe breek iets in hom. Hy gryp die voëltjie hardhandig vas en draai sy nek om met sy twee hande. Hy slinger die dooie voëltjie van hom af weg..
“Jou ma wil jou nie hê nie en ek wil jou ook nie hê nie!” Vir ‘n oomblik wonder hy hoekom hy nou so sleg voel oor wat hy gedoen het aan ‘n hulpelose voëltjie wat hom niks kwaad aangedoen het nie. Maar hy het ook niks kwaad aan Ouma gedoen nie!
Tog, dit is nie lekker om ‘n moordenaar te wees nie. En Ouma sê dit is wat hy eendag gaan wees, ‘n moordenaar net soos sy pa. Het sy pa ook hier binnekant so seer en sleg gevoel toe hy sy ma verwurg het? Dibri weet nie hoe lank hy daar onder die boom gesit het nie. Binne in hom het iets doodgegaan en hy kan homself nie kry om op te staan en na Ouma toe terug te gaan nie. Nou weet hy hoekom Ouma nie van hom hou nie en dit maak sy gemoed so dik en swaar. Dit sou beter gewees het as hy nie geweet het nie. Baie beter, dan kon hy nog snags, wanneer die slaap nie wou kom nie, droom van hoe goed hy in die skool gaan doen, hoe goed hy in sport gaan wees dat Ouma trots op hom sal wees en van hom sal hou. Dan kon die hoop bly leef het in sy hart, maar nou kan sy drome nooit waar word nie, want die bloed van ‘n moordenaar is in sy are. Dit is dan waarom die bure se seuns nie met hom wil speel nie. Hy is ‘n moordenaar se kind en ‘n moordenaar se kind mag nie viende hê nie. Sy Ouma mag nie sag met hom wees en hom lief hê nie oor die soort bloed in sy are.
Miskien moet hy môre na sy pa gaan soek, dan bly hy by die een wie se bloed hy het. Miskien hou hulle twee dan van mekaar. Miskien…
Hy hoor Ouma roep, maar hy klim gou in die boom dat sy hom nie vind nie. Dit is nou pikdonker, maar hy is vanaand glad nie bang vir die donker nie, daar is iets anders in hom. Iets wat hy nog nie voorheen beleef het nie. Iets wat maak dat hy lus voel om Ouma te gaan skop en slaan omdat sy nie van hom hou nie, dat sy kan voel hoe dit voel.
Die hele nag sit hy in ‘n mik van die boom, hy kry nie reg om in te sluimer nie, want die vreeslike seer in sy binneste klop soos iets wat sweer. Voordat iemand in die buurt roer, is Dibri al op pad na die groot tronk buitekant die dorp. Moordenaars word mos in tronke opgesluit so hy sal daar begin om sy pa te soek. Hy ken darem sy pa se naam. Sy ouma spoeg altyd die naam so uit wanneer sy sê: “En dit is die kind van Alku wat ek moet groot maak.” Nie haar dogter Serah se kind nie, maar Alku s’n. Alku, die wilde donkie wat sy huis by die groot witklip gebou het, dit is sy pa.
Die tronk was baie ver weg van hulle dorp en Dibri was al so honger en dors, maar hy het net aangehou om te loop en te loop. Op die nou stofpaadjie het hy nog niemand teëgekom nie. Die tronk is sommer so half in die berg ingebou, ‘n plek waarheen nie baie mense stap nie. Uitgeput gaan sit hy in die skaduwee van ‘n bos om eers ‘n bietjie te rus. Na ‘n rukkie dwing hy homself om op te staan. Hy gaan mos na sy pa toe! Sy pa sal verstaan van die seer wat vanoggend so wurg in sy keel dat hy gedurig moet sluk anders kom die trane.
Moeg en dors bereik Dibri uiteindelik die tronk en voel hoe die moedeloosheid oor hom spoel toe hy vasloop in ‘n groot, swaar ysterhek wat sy pad versper. Hy probeer sy kop tussen die ysterstawe deur druk, maar die opening is net te nou anders sou hy kon deurglip. Hy bekyk die binneplaas wat so leeg en kaal lyk, maar toe sien hy tog iemand in die skaduwee van ‘n pilaar sit.
“Kan ek water kry om te drink?” Die wag sien die klein seuntjie buitekant die hek en in plaas van kwaad word, soos sy gewoonte is wanneer iemand hom iets vra, voel hy jammer vir die kind. Hy loop na ‘n kruik en gooi water in ‘n beker.
“Dè, drink!”
Dibri gryp na die beker wat deur die hek kom en drink gulsig. Hy is nog dors, maar is skrikkerig om weer te vra. Stadig kyk hy op, binne-in die gesig van die wag wat vir hom staan en kyk. Sy oë is nie so hard soos sy ouma s’n nie.
“Het jy alleen gekom?”
“Ja.”
”Hoekom dan?”
“Ek het my pa kom soek. My ouma sê my pa se moordenaarsbloed loop ook in my are. Nou wil ek maar by hom kom bly. My ouma wil my nie hê.”
Die wag sluit die hek oop.
“Kom in dan vertel jy my wie jou pa is.”
Dibri het nog altyd die beker in sy hand en vra versigtig: “Mag ek nog water drink?”
“Skep vir jou,” en hy wys na die kruik wat Dibri al gesien het.
Die wag gaan sit weer in die skaduwee van die pilaar en sy gedagtes is besig met die kind. Dit is sleg as ‘n mens so klein is en jy word al vir ‘n moordenaar uitgeskel.
“Wie is jou pa?” vra hy toe Dibri naby hom kom sit.
“Alku.”
Die wag werk al twaalf jaar by die tronk van Gadara. Daar het al meer as een Alku gekom en gegaan. Die laaste Alku is weggeneem, seker meer as vier jaar gelede omdat hy so sterk was, die owerhede het slawe nodig gehad vir harde klipwerke.
“Seun, gaan maar weer terug na jou ouma, jou pa is al lankal nie meer hier nie.
Ek weet nie waarheen hulle hom geneem het nie.”
“Kan ek nie maar hier bly nie? Ek sal soet wees. Ek kan in julle groentetuin werk of skoonvee buite die tronk. Asseblief? My ouma hou nie van my nie, wanneer sy my sien word sy sommer dadelik kwaad. Ek kan nooit iets reg doen nie.”
“Hoe oud is jy?”
“Amper tien, Oom.”
Die wag sit vir ‘n lang ruk stil en kyk so sydelings na Dibri. Die seun is so klein en tengerig. Na sy mening is hy niks ouer as sewe jaar nie. Praat hy die waarheid, maak hy homself nie maar net ouer as wat hy regtig is nie? Of is dit sy swaarkry wat maak dat hy nie groei nie. Hy sug diep.
“Die tronk is nie die plek vir ‘n kind nie. Hier word net gedoen wat verkeerd is, lelike dinge en dit sal nie mooi wees as jy dit leer nie.”
“Maar Oom is goed. Kan ek nie by Oom bly nie, ek belowe ek sal stil wees.”
Die wag kyk af na Dibri en sien die smekende oë van die kind. Diep in sy harde hart roer daar weer ‘n jammerte. As die kind maar weet! Hy is nie goed nie. Hy is ook ‘n uitgeworpene. Sonder vrou en sonder kinders juis omdat hy nie goed is nie. Ag nee, die kind maak hom nou-nou ‘n ou tjankbalie!
Hy staan op, sluit die hek oop en wys met sy kop vir Dibri om te loop.
Die kind loop toe maar. Hy hoor die hek agter hom sluit, maar kyk nie weer om nie. Hy is te sleg, selfs die tronkmense wil nie eers saam met hom woon nie en waar sal hy ooit in die wye wêreld sy pa kan vind. Miskien sal sy pa hom ook nie wil hê nie.
Hy stap maar terug op die pad na die dorp, want dit is die enigste pad wat daar is. Sy hart hang swaar in hom. Om te oorleef sal hy maar moet terugkeer na sy ouma, daar is darem ‘n dak oor sy kop en kos om te eet. Sy kan maar skree en hom klap en skop, maar sy sal nie weer sien dat hy een enkele traan stort nie. Hy sal nie weer huil en by haar kerm nie. Hy sal nie weer vir haar sê dat hy jammer is nie. Hy het nie vir haar nodig nie, net die huis wat sy pa gebou het en waar sy ouma kom nesskrop het asof dit aan haar behoort. Sy sê vir almal dat sy pa vir haar nie ‘n sent agtergelaat het om sy kind groot te maak nie, maar sy woon darem in die huis wat sy pa vir hulle gebou het en sy plant op sy pa se lande. Sy gebruik die water wat sy pa aangelê het. So hy sal in sy pa se huis gaan bly. Die huis wat sy pa by die groot witklip gebou het. Hy gaan nie terug na die ouma met die harde oë nie, hy gaan terug na sy pa se huis al woon sy daar.
Die son begin sak toe Dibri uitgeput langs die pad gaan sit om eers ‘n bietjie te rus. Hy sien ‘n akkedis op ‘n klip naby hom en vang dit behendig. ‘n Diep begeerte om die lewende dingetjie seer te maak soos wat hy seergemaak is, gryp hom vas. Hy tel ‘n klip op en kap die akkedis se kop pap. Toe kan hy nie ophou nie, hy kap en kap totdat die akkedis net een papperige gemors is. Toe slinger hy die klip weg en loop verder.
Dis al donker toe hy die agterdeur oopmaak en inloop. In die kombuis brand ‘n lampie en sy ouma sit vooroor en slaap, haar kop op die tafel. Hy stamp die deur hard toe en sy skrik wakker.
Sy kyk na hom. Haar oë en stem is yskoud en kil.
“O, jy het besluit om terug te kom?”
‘n Vreemde woede kom oor hom en hy skree in haar gesig:
“Dit is my pa se huis! Ek sal hier bly!”
Hy het nie rekening gehou met die harde klap teen sy kop wat hom wegslinger van haar af tot teen die kombuismuur nie.
“Moenie jou staan en astrant hou met my nie.”
Sy vat die lampie en loop na haar kamer.
Lank staan hy nog so teen die muur in die donkerte. Hy is nou nog net te klein en te swak, maar wag maar dat hy groot en sterk word, dan sal hy haar bykom.
Hy het nie lig nodig om sy slaapplek te vind nie. Uitgeput en opgefrommel in sy innerlike raak hy tog aan die slaap.
“Toe roer jou, luiaard. Die son sit al wie weet waar en jy moet skool toe.”
Dibri skrik wakker van die skop teen sy voete en die harde stem. Hy staan sommer dadelik op van sy slaapplek op die vloer.
“Hier is jou waswater, kyk dat jy skoon kom. Jou kos is op die tafel.”
Hy hoor dat sy ouma uitgaan by die voordeur. Hoekom moet hy gaan was en hoekom moet hy skool toe gaan? Niemand gee tog om nie. Op die tafel is brood en melk vir hom. Hy eet want hy is rasend honger. Toe steek hy sommer nog brood in sy sak en glip by die agterdeur uit. Vandag is die dag dat hy op ‘n ontdekkingstog gaan na sy pa se witklip. Wie is nou bang vir spoke!
Met ‘n heerlike gevoel van oorwinning staan Dibri bo op die groot rots wat almal die witklip noem. Hy kan ver oor die dorp uitkyk en hier reg onder hom lê hulle huis. Sy ouma dink hy is in die skool, maar hy kan haar sien waar sy buite met die buurvrou staan en gesels. Sy is ‘n groot, sterk vrou en die buurvrou lyk sommer klein en pieperig langs haar. Daardie vreemde woede teen sy ouma wel weer in hom op en hy wonder hoe hy haar kan terugkry vir al die klappe en skoppe wat hy moet verduur?
Sy moet nou net nie opkyk en hom hier sien staan nie. Die rots voel warm onder sy maag toe hy liewers plat gaan lê en die twee vrouens dophou. Sy ouma loop na die hoenderhok en staan ‘n rukkie daar.
“Ja, nou gesels sy seker met haar hoenders, want sy is mos so lief vir hulle en sy is so trots op hulle. Die hele buurt praat oor Ouma se mooi hoenders en hoe goed sy hulle versorg. Hulle kom koop eiers by haar wanneer daar ‘n broeishen is, sodat hulle ook sulke mooi hoenders kan hê. Maar haar kleinkind wil sy nie hê nie want hy het moordenaarsbloed in sy are, daarom kan sy hom nie liefhê soos haar hoenders nie.”
Dibri se gedagtes is donker en hatig. Ouma het nou sy vyand geword. Hy het nog nooit gesien dat sy een van die hoenders skop of op hulle skree nie. Sy kiep-kiep altyd vrolik wanneer sy hulle nader roep vir kos. Sy het net verlede week so oor die een groot hoenderhaan gekloek toe hy ‘n bietjie kroeserig en siek was. Vir hom wat Dibri is, hy wat ‘n mens is en haar dogter se kind, vir hom het sy nooit ‘n sagte woord of aanraking nie en raas altyd omdat hy kos en klere nodig het.
Net vir ‘n kort oomblik laat hy sy kop op sy arms sak en gee so ampertjies toe aan warm trane wat in sy oë opdam en wil uitloop. Toe ruk hy sy kop op, verseker homself weer en sê dit sommer hardop dat sy oë en ore kan hoor. “Ek sal nie weer huil nie! Nooit weer nie!”
Dibri sien sy ouma pad toe stap met ‘n mandjie in elke hand. Toe onthou hy. Dit is Vrydag! Dit is die dag wanneer sy winkels en mark toe gaan. Sy sal lank weg wees. As hy nou afklim en die hek van die hoenderhok oopmaak, sal die hoenders mos uitkom en tyd hê om ure lank in haar groentetuin te skrop. Hulle kan dan lekker al die nuwe plantjies verniel. Dan moet sy ouma ‘n slaggie vir hulle kwaad wees, want sy is ook baie lief vir haar groentetuin.
Toe sy ouma al ver in die straat afgestap het en hy doodseker was dat sy regtig oppad dorp toe is, staan hy op van die rots en klim haastig teen die koppie af huis toe. Op hulle werf kyk hy versigtig rond of die buurvrou nie buite is. Niemand moet hom sien nie. Hy sukkel om die knip oop te kry want dit is amper te hoog vir hom, maar toe swaai die hoenderhokhek oop. Hy druk ‘n groterige klip onder die hek in sodat dit nie weer toewaai nie. Dan verdwyn Dibri net so stil soos hy gekom het. Hy klim weer op na sy pa se witklip hoog bokant die huis.
Daar gaan lê hy op sy uitkykpos en skrik toe hy die bure se hond naby Ouma se hoenderhok opmerk. Wat gaan nou gebeur as hy sien dat die hek oop is? Die groot hond is nog jonk en hou daarvan om te speel met enige ding wat beweeg. Van die hoenders het al agtergekom dat die hek oop is en hulle geniet hulle vryheid om op die werf rond te loop. Gaan die hond nou die hoenders op die werf rondjaag? Die bure se hond laat nie vir Dibri lank wonder nie, want hy spring uitgelate deur die oop hek en begin opgewonde blaf. Die hoenders begin verskrik rondhardloop en hulle geraas en gefladder maak iets in die hond wakker. Soos ‘n wafferse jagterhond begin hy vang en byt, vang en byt. Hoe meer die hoenders raas en probeer wegkom, hoe maller word hy in sy jagtog. Dit lyk asof hy homself geniet en nie weet hoe om weer op te hou nie.
Dibri sien hoe die buurvrou met haar besem in die hand aangehardloop kom en die hond begin slaan en slaan. Ander bure kom ook help. Toe die hond uiteindelik uit is, maak hulle die hek weer toe en die hoenders kom tot bedaring.
Dibri voel eintlik naar van die skrik. Dit was darem nie sy bedoeling nie. Wat gaan sy ouma sê! Hy wonder hoeveel van die hoenders doodgebyt is. Hy moet seker gaan kyk. Nee, hy is veronderstel om in die skool te wees. Hy moet wag tot die skool uitkom, anders is dit baie duidelik dat hy die hek oopgemaak het. So bly hy maar net daar op die rots in die son lê. Hy sien van die hoenders wat lustig in die sagte grond van ouma se groentetuin skrop en dink: “Ek het haar lekker teruggekry.” Tog maak die gedagte nie sy hart warm nie, dit vee ook nie die wurgseer weg nie, dit maak hom ook nie bly nie. Hy voel donker en moeg, niks lus om te lewe nie.
Hy moes ingesluimer het, want toe hy sien, stap die skoolkinders al terug na hulle huise toe. Dadelik spring hy op, hy moet by die huis kom dat dit vir sy ouma lyk of hy by die skool was.
Tot sy verligting is sy ouma nog nie terug nie. Hy gaan was gou en trek skoon klere aan. Gooi die waswater uit en sit sy klere by die ander wasgoed. Toe soek hy iets om te drink en te eet. Hy is net buite by die hoenderhok toe sy ouma terugkom met swaar mandjies wat sy dra.
“Kan jy nie kom help nie,” raas sy toe sy hom sien.
Die buurvrou kom dadelik aangewaggel en praat sommer van ver af.
“Hier was so ‘n storie met Trifie se hond vanoggend! Ek weet nie hoeveel van jou hoenders lê dood nie.”
“My hoenders?” hyg Ouma.
“Ja, die hond was binne-in die hok want die hek het wawyd oopgestaan..”
“De, vat die goed in die huis in, ek wil gaan kyk wat aangaan.” Ouma los haar mandjies net so voor die deur en haas haar na die hok. Dibri dra-sleep dit in die huis in en toe gaan staan hy ook eenkant en kyk. Sy hart klop vinnig.
Sy ouma en die buurvrou is binne-in die hok wat weer agter hulle toegemaak is. Hy kan vir hulle sien deur die skrefies van die pale wat opmekaar gespyker is. Sy ouma buk en tel een van haar mooi groot henne op. Morsdood. Nog een en nog een. Ook haar beste haan. Sy sit die dooie hoenders op ‘n hoop neer en loop eers na al die neste en gee dan aandag aan die hoenders wat om haar voete bymekaar kom. Sommige se stertvere is nie meer daar nie. Die buurvrou lewer ‘n lopende kommentaar van die oggend se gebeure, soveel so dat sy ouma nie ‘n woord inkry nie.
“Nie al die hoenders is hier nie. Het hulle uitgekom?”
Dibri maak hom vinnig uit die voete en gaan sit onder die boom waar die takke hom wegsteek. Hy hoor die donderweer in daardie enkele sin wat sy ouma ingekry het en hy is bang. Vandaar kan hy ook die groentetuin sien. Die hoenders is nog altyd daar!
Sy ouma kom om die hoek van die huis. Toe sy die hoenders gewaar waar sy pas wortels gesaai het, gee sy so ‘n lang gil van woede. Toe bedwing sy haarself en roep: “Kiep – kiep- kiep.”
Die hoenders reageer dadelik en kom na haar aangehardloop. Sy stap met hulle na die hoenderhok en lei hulle tot binne. Nadat sy mielies gegooi het vir al die hoenders, en die hek weer toegemaak het, stap sy terug huis toe.
Dit voel vir Dibri of sy binnegoed bewe. Sy ouma is te stil. Gewoonlik skree en raas sy dat die hele buurt haar hoor. Hy is skielik so bang dat hy besluit om liewer by die witklip te gaan wegkruip, maar voordat hy kan beweeg, gryp ‘n sterk hand hom agter sy nek en ruk hom onder die takke uit. Dit is sy ouma, sy het hom bekruip en hy het dit nie verwag nie.
Asof hy net ‘n stukkie hout is, dra sy ouma hom na die kombuis en gooi hom op die vloer neer. Haar voet op sy borskas pen hom vas en hy voel asof al sy asem uitgepers word. Sy buk en bind sy twee hande agter sy rug vas. Hy begin skop na haar en probeer wegrol. Sy voete word ook vasgebind en toe val die houe. Op sy kop, op sy skouers, op sy lyf en bene. Daar lê hy magteloos vasgebind terwyl sy ouma haar woede op hom uithaal.
“Ouma weet dat dit ek was wat die hek by die hoenders oopgemaak het en sy gaan my pap slaan soos wat ek met die akkedis gemaak het,” dink Dibri. “Sy sal nie ‘n geluid uit my mond hoor nie. Ek sal doodstil wees net soos die akkedis. Laat haar maar slaan.” Na nog ‘n harde hou teen sy kop verloor hy sy bewussyn.
Dibri kom by met ‘n een gedagte. Water! Sy lippe is droog en hy is dors. Hy probeer opstaan maar vind dat hy nie kan nie. Alles aan hom is seer. Stadig dring dit tot hom deur dat hy nie in hulle huis is nie. Hy is buite, vasgemaak aan die paal langs die groentetuin. Rondom hom is dit pikdonker, geen maanskyn nie, net die sterre wat vonkel. As hy tog net water kan kry om te drink. Hy is so dors en seer.
Hy beweeg sy voete. Dankie tog sy bene is nie vasgebind nie. Net sy hande agter sy rug aan die paal. Hoe gaan hy los kom? Hy trek sy bene op, maar dit is so seer dat hy byna hardop kerm. Tog probeer hy kyk of hy kan opstaan, of die tou wat hom vasbind nie hoër kan skuif nie. Moeisaam druk hy homself op teen die paal totdat hy op sy voete kan staan. Dit voel of sy kop gaan bars van pyn en of sy arms uitskeur. Maar nou weet hy dat die tou kan skuif, sy ouma het dit nie te styf vasgemaak nie. As hy nou net die knoop onder sy vingers kan kry, dan kan hy dit dalk loskry.
Hy gly weer af teen die paal om liewers te sit. Sy bene bewe so. Alles pyn en hy is dors, so vreeslik dors. Hy raak bewus dat daar iemand aangestap kom in die donker. Dit is sy ouma.
“Wil jy water hê?”
Hy antwoord nie en maak ook geen beweging nie.
“Hier is water.”
Hy roer nie, haal skaars asem.
“Wel, more is nog ‘n dag. Miskien is jy dan dors.”
Sy skiet die water in die beker oor hom hom uit en loop weg. Hy hoor hoedat sy die agterdeur hard agter haar toeslaan.
Die vreeslike dors dryf hom om te kyk of hy die knoop kan bykom. Uiteindelik het hy die tou so gedraai gekry dat hy die knoop onder sy vingers voel. Dibri is bang dat die son gaan opkom en dan vind sy ouma hom hier waar sy hom vasgemaak het. Hy moet wegkom! Hy wil haar nooit weer in sy lewe sien of haar stem hoor nie. Tog kry hy dit net nie reg nie, want hy word duiselig en raak heeltemal weg, maar as hy weer bykom, vroetel hy angstig aan die knoop. Uiteindelik slaag hy daarin om een punt van die tou deur te trek en dan gaan dit makliker. Die knoop gaan los en die tou wat hom aan die paal vasgebind het, val af.
Moeisaam staan hy op. Elke spier in sy liggaam pyn. Die dors dryf hom na die bergstroompie wat agter die groentetuin verbyloop. Hy gaan lê op sy maag en druk sy gesig in die water en drink totdat hy tevrede is. Vir ‘n lang ruk lê hy nog daar langs die stroompie voordat hy opsukkel en in die donker wegstap van sy ouma se huis af. Hy weet nou dat hy van mense moet wegvlug en nie toelaat dat iemand weer naby hom kom nie, want hulle sal hom na sy ouma toe terugneem.
Dibri het verdwyn. Hy is maar net nie meer daar nie. Sy ouma soek ook nie na hom nie. Eintlik is sy verlig. Dis baie makliker as hy nie altyd onder haar voete is nie. Hy moet maar sien en kom klaar. Net soms flits daar so ‘n ongemaklike gedagte deur haar of hy nie dood lê daar bo agter ‘n rots nie. Het sy hom nie dalk so geslaan dat hy dit nie oorleef het nie? Dan skud sy die gedagtes af en vergeet weer van hom. Die buurvrou word om die bos gelei toe sy een oggend vra wat dan van die kind geword het, want sy sien hom nie meer nie. Dus het sy ook nie meer vrae nie. Een van die onderwysers met so ‘n sagte plekkie vir die stil, eensame kind, doen tog navraag. Ouma se vriendelike verduideliking stel hom gerus. Dibri is weg na ‘n verlangse familielid wat kinders van sy ouderdom het.
Verbygangers van veraf streke in Dekapolis begin vertel van ‘n jong seun wat soos ‘n dier tussen die rotse woon en groentetuine en huise besteel vir kos. Dibri se ouma voel weer daardie ongemak in haar, kan dit dalk die kind wees? Soms oorval ‘n aaklige vrees haar in die nag en sy wonder of die kind nie sal kom en wraak neem nie. Selfs bedags wanneer sy in die groentetuin werk, begin die vrees en ongemak aan haar vreet en sy kyk gedurig om haar rond. Toe besluit sy om maar eerder alles te los en by haar ander kinders te gaan bly. Dit is waarom Dibri een dag toe hy na meer as vyf jaar terugkeer na sy pa se witklip, geen lewe bespeur in die huis nie. Daar is geen hoenders meer in die hoenderhok nie en geen groente meer in die tuin nie.
Haat vir sy ouma het soos ‘n lewende dier in hom geword en hy het deur die jare gewoond geraak aan die stem van die lewende ding in hom. Hy was van plan om haar met sy kaal hande aan te val en wraak te neem, maar nou is sy nie meer daar nie. Dibri is lank nie meer ‘n klein, pieperige ou seuntjie nie, hy het ontwikkel in ‘n gespierde jong man wat bomenslike krag openbaar wanneer mense hom probeer vaskeer en vasketting.
Oral in die dorpe en streke het mans al saamgestaan om hom gevange te neem, want hy het nie net gesteel en geroof nie, hy het ook ‘n gevaar geword vir die kinders en vrouens. Hulle maak op hom jag soos op ‘n roofdier en probeer om hom met die jaghonde in ‘n lokval te lei. Elke keer breek Dibri los en vlug die berge in. Tussen mense pas hy nie meer in nie, sy vriende is die stemme in sy kop. In hulle geselskap voel hy tuis. Hulle vertel hom soms sulke snaakse stories van die mense daar onder in die dorp, dat hy sit en lag. Ander kere vertel hulle vir hom bangmaak stories en as hy in ‘n grot gaan wegkruip dan lag hulle hom uit en spot hom sonder ophou. Soms stook hulle die haat in hom so erg op totdat hy iets gaan verskeur en verniel.
Soos hy ouer word, kom daar net meer stemme in sy kop. Dit is asof daar ‘n horde lewende goed in hom bly wat die hele tyd met mekaar stry en baklei. Die donkerte in sy gemoed lê die heeltyd daar soos ‘n groot, swaar rots en dit knel soos ‘n stywe band om sy gedagtes. Hy dink nie meer helder nie. Daar is ook nie meer die vriendskap van die begin, toe hy nog dinge gedoen het vir sy stemme-vriende se plesier nie. Hy word die hele tyd rondgejaag deur teenstrydige opdragte. As hy gaan sit, dan moet hy staan, as hy staan dan moet hy hardloop. Wanneer hy hardloop dan moet hy skielik neerval en rol. So hou dit aan dag en nag. Hy kan maar sy kop teen die rotse stamp so hard soos hy wil en bondels hare uitpluk, hy kan maar skree en skree en skree, hy kan homself maar met skerp klippe kap en oopsny dat die bloed loop, daar is egter niks wat hy kan doen om weg te kom van die stemme in hom nie, van die geraas en die bakleiery wat binne-in hom aangaan nie. Hy word gemartel en rondgejaag soos ‘n verstandlose wat nie meer vir homself dink nie en hy kry nooit rus nie. Sinneloos en sonder heenkome woon hy tussen die grafte.
Soos die stormwind sterker waai een nag, word Dibri al hoe meer onrustig. Die donkerte in hom is donkerder as die nag daar buite en die stemme binne-in hom praat vreeslike dinge in sy gedagtes in. Dit voel vir hom asof hy sy kop kan afruk en dit van hom wegslinger net om vry te wees van die gekoggel, die gespot en die donkerte wat alles in hom doodwurg. Dik wolke het in die lug saamgepak en versper die lig van die maan en die sterre. En die wind! Dit is so sterk dat hy byna van die krans afgewaai word. Hy veg teen die wilde wind en skree teen die loeiende geluid in. Wind vererger altyd die nimmereindigende storm in sy binneste. Sy gedagtes is soos die krag van die stormwind wat teen hom waai en hy kan nie daarvan ontsnap nie. Hy kan nog teen die slag van die wind gaan skuil agter ‘n rots, maar hy kry nêrens ‘n skuilplek teen die donkerte wat hom met so ‘n sterk greep vashou nie. Nêrens is daar skuiling teen die meedoënlose stemme in sy kop nie. Dit is binne-in hom en hy weet nie hoe om van homself weg te kom nie.
Die stormwind het die golwe so hoog opgejaag dat dit met ‘n donderende geluid teen die rotse vasslaan en die wildheid, en ongetemdheid van die reuse golwe trek hom aan. Miskien moet hy homself vannag oor die kranse in die see gooi, dat die malende, rasende golwe hom liewers insluk en maal dat daar niks van hom oorbly nie. Hy is ook so wreed en wild en ongetem, tog is hy ‘n mens en nie ‘n golf in die see wat willoos deur die wind rondgeslinger word nie. Hy word ook honger en dors, hy reën nat en kry koud. Sy gees, sy siel en sy liggaam het ‘n woonplek vir duiwels geword, sy gedagtes is ‘n nes vir die bewoners van die duisternis. Hy leef nog, haal nog asem, maar magte van die duisternis beheer hom. Die donker magte ken geen deernis of jammerte nie en al wat hy kan doen is om te skree en te skree en te skree. Heeltemal mal en heeltemal alleen gaan die lewe by hom verby sonder iemand wat omgee.
In die vroeë oggendure hou die sterk stormwind plotseling op om te waai en die branders word onmiddellik doodstil. Die skielike stilte in die natuur, maak dat al die stemme in Dibri se kop ook doodstil word. Iets vreemds het in die natuur gebeur, so ongewoon dat self ‘n besetene soos Dibri dit bespeur. Hy gaan sit op ‘n rots en kyk na die see daar ver onder hom. Dit is so rustig dat daar amper geen deining of branders meer uitspoel op die strand nie en net ‘n oomblik gelede het die stormwind nog gewoed. Vir ‘n lang ruk sit hy daar en roer nie, seker ook omdat daar geen stem is wat met hom praat nie. Toe val sy oë op ‘n boot wat naby die strand anker gooi en mense wat uitklim om die boot op die sand te trek.
Dibri staan op en begin teen die berg afdaal. Hy moet so gou soos moontlik by daardie boot uitkom. Al die stemme in sy kop begin weer tegelyktydig vir hom skree om terug te gaan na die grafte toe, maar daar is ‘n krag wat baie sterker is as al die stemme, ‘n krag wat hom aantrek na die Man by die boot. Hy begin hardloop, al vinniger en vinniger en uitasem val hy voor die Man neer wat daar vir hom staan en wag.
“Onreine gees, gaan uit die man uit!” Die stem is gevul met gesag en Dibri se hele liggaam krimp inmekaar, hy ervaar geweldige woelinge binne in hom.
Dan hoor hy een van die bekende stemme in sy kop hardop deur sy mond skreeu:
“Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God Moet my nie pyning nie!”.
“Wat is jou naam?”
Die onrein gees antwoord weer deur Dibri se mond:
“Legio is my naam, want ons is baie. Stuur my nie weg uit die land nie.”
Hy hoor hoedat die stem wat hom altyd gespot het nou baie smekend praat en skielik probeer al die stemme in sy kop om gelyktydig deur sy mond te praat.
“Stuur ons tog in die varke sodat ons in hulle kan vaar.”
Hulle het skaars toestemming gekry of die hele trop varke begin skree en storm oor die kranse die see in. Die hele groep mans staan en kyk na die spektakel wat die bose geeste aanvang met die varke. Die geeste het sekerlik nie verwag dat die varke so vreemd sou optree nie, want nou is hulle nuwe blyplekke morsdood.
Dibri hoor en sien wat gebeur, maar hy is so diep verwonderd oor die stilte wat in hom neergedaal het. ‘n Lewende stilte. Hy weet skielik wie hy is, en waar hy vandaan kom. Die krag in die Man hier voor hom, het hom bevry van die baie duiwels wat nou in die varke ingevaar het. Die varke het net so mal geword soos hy was. Maar hy kan nou dink! Die donkerte is weg uit hom uit en hy voel so lig en vry!
Hy kan sy oë nie van die Man se gesig wegdraai nie. Net een bevel uit die mond van hierdie Man en die magte wat in hom geheers het, moes uit. Hy kon hulle nooit ontvlug nie, maar hierdie Man het hom uit hulle mag gered! Hulle kon hom nie weghou van die Een wat sterker as hulle is nie. Hulle en hulle donkerte kon hom nie langer vaskeer daar tussen die graftes by die dooies nie!
“Petrus, neem hom dat hy in die meer gaan was en gee vir hom ‘n onderkleed om aan te trek.”
“Ek maak so, Meester.”
‘n Paar mans stap saam met hom na daar waar die boot lê. Die water kom tot by sy knieë. Hy buig vooroor en was sy gesig met sy hande. Dan val hy sommer vooroor in die water dat dit hom heeltemal bedek. Een van die mans gee vir hom ‘n doek en seep, wat hy uit die boot gehaal het. ‘n Ander een begin sy rug en skouers was. Die een wat Petrus genoem word, sê vir hom: “Kom ek help jou met jou hare.” Hy smeer sy hande vol seep en vryf dan met sy twee groot hande diep in die hare wat so wild gegroei het en vol knope en grassade is.
Uiteindelik is die mans tevrede en hulle help om hom af te droog. Hande help hom om ‘n onderkleed aan te trek. Hy is skoon en sy naaktheid is bedek, hy is by sy verstand en binne-in hom is net ‘n wonderbare stilte en iets wat hy laas as ‘n klein seuntjie geken het; dankbaarheid..
“Wie is julle? En wie is die Man wat my bevry het van die donkerte binne-in my en my weer my verstand teruggegee het?
Hy is verbaas om te hoor dat hy met ‘n normale stem kan praat, net soos die ander om hom.
“Ons is dissipels van Jesus van Nasaret. Hy is gestuur om die volk van God te red.”
“Ja, en vandag het Hy my gered!”
Hulle sluit weer aan by Jesus en die ander en Dibri gaan val dadelik voor Jesus se voete neer. Hy kyk op in sy gesig en ervaar hoedat die verskrikking van sy verlede en al die skuld van wat hy verkeerd gedoen het wegvloei uit sy gemoed en ‘n diep vreugde deur hom stroom. Die Meester kyk met deernis na hom:
“Alles het vir jou nuut geword, seun. Die lewe lê nou voor jou. Moenie weer sondig nie.”
Jesus was nog besig om met hom te praat toe ‘n groot klomp mense aankom en vir Jesus smeek om tog dadelik weer in sy skuit te klim en van hulle weg te vaar.
Hulle was bang. Vreemde dinge het gebeur. Hulle varke het beserk geword en oor die kranse gehardloop en in die see geval en verdrink, omtrent twee duisend varke het hulle so verloor. Dis ‘n groot verlies en ‘n klomp geld. Wie gaan dit vir hulle weer gee? En kyk net, hier sit die besetene van Gadara met klere aan en by sy volle verstand. Hoe kon ‘n hele legioen duiwels uit hom uitgaan en in hulle varke invaar? Wie bewerk sulke dinge?
Jesus kon duidelik sien en hoor dat Hy nie welkom was nie, Hy het omgedraai en weer in die skuit gaan klim. Dibri stap saam en kyk Hom smekend aan.
“Kan ek asseblief by U bly, en saamgaan na waar U gaan? Ek wil nie dat U van my af moet weggaan nie. Ek wil nie weer van U geskei word nie.”
“Jy kan nie saam met ons in die boot wegvaar nie, seun. Gaan na jou huis, na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.”
Dibri aanvaar dadelik wat Jesus vir Hom sê en stap weer terug na die strand. Lank staan hy daar en kyk die skuit agterna. Hy is so verwonderd, want die stilte en die lig in hom verdwyn nie saam met die boot nie, ook nie die vreugde nie. Daardie diep donkerte bekruip nie weer sy gemoed en gedagtes nie. Hy is nog steeds by sy volle verstand, en helder van gedagte al het sy Verlosser weggevaar!
Soos hy wegstap om Jesus se opdrag uit te voer, sien hy mense wat besig is met die dooie varke wat uitgespoel het. Die verwondering oor die groot ding wat die Here vir hom gedoen het, vul sy hele wese en hy voel vir hulle so jammer dat hulle die Verlosser gesmeek het om van hulle weg te gaan. Hy het dan vir hulle almal gewys dat Hy gesag het oor die duiwels wat in mense nes maak. En hoe wonderlik sal dit wees om vir altyd by Hom te bly!
Sy gedagtes gaan heel eerste na sy ouma. Hy sal haar gaan soek, haar vertel wat met hom gebeur het en haar vra om hom te vergewe vir wat hy aan haar gedoen het toe hy die hoenderhok hek met opset oopgelaat het. Sy lewe het nuut geword! Na al die mense wat hy soveel skade aangedoen het, kan hy nou gaan en vra dat hulle hom vergewe. Hy wil vertel dat hy verlos is van die inwoning van die duiwels omdat Jesus van Nasaret hulle uit hom weggedryf het. Hulle sal dit kan sien en ervaar en net soos hy verwonderd wees oor die groot barmhartigheid en genade wat die Here aan hom bewys het.