JOB SE VROU

Dit is nou al weke lank dat my gedagtes so elke nou en dan  terugkeer na  Job se vrou. Oor haar man is daar ‘n hele boek geskryf, maar oor haar, net ‘n paar woorde.  Toe Job daar bo in  die hemel onder bespreking was,  is sy nooit eers genoem nie. Nie soos Sara wat saam met Abraham genoem was nie of soos Elisabet wat saam met Sagaria genoem word nie. Job se vrou is sonder naam! Dit was vir haar man dat die duiwel sy mes ingehad het. ‘n Mens hoor in die gesprek met God hoedat die duiwel se frustrasie dat hy Job nie kon bykom nie sommer so uitpeul. Die duiwel moes erken dat hy hom vasgeloop het teen die heining wat God rondom sy dienskneg opgerig het. Deur Job se godvresende en opregte lewe was sy vrou en kindes ook ingesluit in die beskerming van die Allerhoogste. Hulle het al die voorregte saam geniet.

Job was ryk, baie ryk aan aardse besittings, maar hy het nooit sy hand toegemaak teenoor ‘n behoeftige nie. Sy hele lewe was ‘n lewe van gee. Weduwees, wese, en mense in nood het by hom hulp gekry.  Sy wysheid, insig en goedheid was ver en wyd bekend. ‘n Gerespekteerde en geëerde man was Job en sy vrou het dit alles meegemaak en gedeel in die eer. Sy het die vroomheid en opregtheid van haar man eerstehands geken. Sy het geweet dat hy nie toegelaat het dat sy oë agter ander vrouens aanloop nie en dat sy lewe voor mense en in die privaatheid van hulle huis onbesripelik was. Sy was die vrou van ‘n merkwaardige man. God in die hemel het verklaar dat hy enig van sy soort was. Voorwaar ‘n bevoorregte vrou!   

Job se vrou en Lot se vrou het iets in gemeen. Altwee van hulle word net genoem met ‘n sin of twee, maar daardie paar woorde gee vir die leser ‘n diep kyk in die gemoed en gedagtes en karakter van die twee vroue – dit openbaar ook dat hulle ontvanklik vir die werking van die duiwel was. Van Noag se vrou lees ‘n mens  dat sy saam met hom in die ark ingegaan het, sy haar seuns en skoondogters. Sy was ten minste saam met haar man in een van die grootste krisisse in die geskiedenis van die mensdom. Job se vrou het haar egter gedistansieer van haar man toe ‘n onverstaanbare krisis hulle getref het, toe God in die hemel Job uitgesonder het as ‘n lewende voorbeeld  van ‘n enkeling op aarde wat  die duiwel se aanslae kon weerstaan omdat hy God bo alles liefgehad het. Sy het hom toegesnou met woorde wat duidelik vanuit ‘n hart kom waarin daar groot storms gewoed het:

“Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God en sterf!”

“Het jy nou nog nie genoeg gehad van hierdie God van jou nie! Kyk wat het Hy ons aangedoen! Op een enkele dag het Hy alles wat ons besit het, alles wat asemgehaal het, van ons af weggevat – ons tien kinders, ons slawe, ons beeste, ons esels en kleinvee en kamele. En jy, kyk hoe lyk jy! Geen mens wil eers naby jou kom nie. Jy, ‘n ryk geëerde man sit hier buite op ‘n ashoop soos ‘n stinkende weggooi-ding en dan hou jy nog vas aan die God wat sulke dinge aan jou doen. Waarom vloek jy Hom nie in sy gesig nie, dan kan Hy ook jou asem wegvat. Dan het Hy mos gekry wat Hy soek!”

Job se vrou het nie al hierdie woorde gesê nie, dit is my eie interpretasie van daardie woorde wat sy uitgespoeg het. Die smart en ontsetting het ook vir haar  getref. Sy het daardie tien kinders in die wêreld gebring. Haar man het vasgehou aan God in die hemel met Wie hy ‘n innige vertrouensverhouding gehad het, maar sy het verbitterd geword en fout met God en haar man gevind.  Nie Job of sy vrou het geweet van die gesprekke wat daar tussen God en die satan was nie. Dat dit die duiwel was wat Job daartoe wou bring om te doen wat sy vrou hom ook aangemoedig het om te doen, het vir hulle verswyg gebly. Ons weet van die gesprek omdat dit in die Woord van God opgeteken staan. Ook hoedat die duiwel van God af weggegaan en dadelik sy vernietingskrag oor Job en wat aan hom behoort, uitgegiet het. Hy wou met genoeë toekyk hoedat Job se vertroue in God verkrummel en hoe hy teen God draai en Hom vloek. Die duiwel se plan het misluk!

Job het sy vrou berispe: “Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie?”

Omdat Job die slegte aangeneem en voortgegaan het om in die goedheid van God te glo, kon ook sy vrou die herstelling van haar man se gesondheid en rykdom en eer beleef. Sy het weer tien kinders in die wêreld gebring. Die duiwel het haar teen haar man gebruik in die groot krisis van hulle lewens, maar die genade van God wat oor alles geheers het, het haar steeds ingesluit in die oorvloedige seën wat Hy oor sy vrome dienskneg in dubbele maat uitstort nadat die duiwel in die stof gebyt het.

Dit is nie net in die Bybel se tyd dat daar mense soos Job en sy vrou was nie. Deur die eeue heen was daar sulke mense en selfs nou word hulle tussen ons gevind. Mense soos Job is baie dun gesaai, maar mense soos sy vrou word onder elke bossie uitgeskop. Die duiwel is natuurlik ook altyd daar met die taktieke wat hy ontwerp het om die mens teen God te draai. Dink net! Vir meer as ses duisend jaar al bestudeer die duiwel die mens met sy onsterflike siel en bekyk almal van kop tot tone om te sien wie hy kan gebruik vir sy onderduimse werk.

Net ‘n paar weke gelede was ons bymekaar om die Here te dank vir ‘n man wat leef soos ‘n Job van ouds. ‘n Man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. ‘n Man wat sy lewe gee om ander te dien en goed te doen. Vir sewentig jaar lank al preek hy die Evangelie, onafgewater en sonder vrees vir die mens wat die Woord van God verwerp. Deur die sewentig jaar het die Here groot en magtige dinge deur hierdie getroue dienskneg van Hom gedoen. Baie mense, dwarsoor die wêreld, het die ewige lewe in Christus gevind deur sy prediking en lewe. Sy vrou was ook een uit ‘n duisend, hart en siel saam met haar man in die werk van die Here. Na haar dood leef haar kosbare getuienis nog voort. Die kinders en kleinkinders is innig aan die getroue dienskneg van God verbonde en verbly hulle oor sy wyse en ryke invloed op hule lewens. Menigtes soek hom op vir raad en gebed.  Niemand kan ontken dat die seën van die Here op hom rus en dat alles wat hy aanpak voorspoedig is nie

Sy opregte en vrugbare lewe in die krag van die Here het natuurlik die haat van die duiwel teen hom opgewek. Net soos met Job, loop die duiwel hom egter vas teen die heining wat God rondom sy dienskneg opgerig het. As hy ooit sou wou vertel van al die planne wat die duiwel gesmee het om hom tot ‘n val te bring, sou dit sekerlik ‘n dik boek volmaak. Deur die Here se genade het die duiwel se planne misluk! Hy kon nooit daarin slaag om die liefde vir Christus te laat afkoel in die hart van hierdie man nie. Hy kon nooit twyfel of wanhoop vasbind in hierdie man se gedagtes nie. Reeds van die begin van sy bediening het die duiwel mense teen hom opgemaak en aangehits. Vir sewentig jaar lank al is tonge en penne besig om sy karakter swart te smeer en ongerymdhede voor sy deur te lê, dinge wat nooit eers in sy gedagtes opgekom het om te doen nie. Tog het hy nooit verslap in goed doen en in sy ywer en liefde vir sy God nie.

Daarom is daar spesiaal een dag opsygesit waar ons as gemeente en vriende die Here kon dank vir ‘n leier en hoof wat Hom al getrou vir sewentig jaar lank dien sonder om geestelik moeg te word en uit te sak onder die venyninge aanvalle van die bose. Dit was soos mooi musiek om die dag te hoor hoeveel mense van al die vlakke van die samelewing ons leier gedank het vir sy lewe en kragtige invloed. Ons almal wat al vir soveel jare ingesluit is in die seën wat die Here oorvloediglik uitstort op die lewe van hierdie getroue en geliefde dienskneg van Hom, kon saamkom en ons dankbaarheid voor die Here uitgiet. Die Here is goed en regverdig! Deur die getrouheid van hierdie dienskneg van Hom kon Hy ‘n plek vestig waar duisende onder die vleuels van die Allerhoogste kan kom skuil en hulp vind. Om so ‘n man soos Job te kan ken in die huidige tyd waarin ons leef, is ‘n onbeskryflike voorreg.

Hoe jammer tog dat daar mense soos Job se vrou is. Mense wat saam met ons leier gewerk en gesweet het, wat saam gedeel het in die ryke seën van die Here, wat saam die verstommende wonderwerke van die Here beleef het, wat saam die Evangelie verkondig het en ervaar het hoedat die Heilige Gees mense oortuig van sonde en hoe die gawe van berou en bekering lewens verander het, en tog het die mense geestelik uitgesak. Hulle het ingegee aan die getorring van die duiwel en teen die man van God gedraai om instrumente in die hand van die bose te word? Net soos Job se vrou.

Soos Salomo gesê het, daar is waarlik niks nuuts onder die son nie. Dit wat in die Bybelse tyd gebeur het, gebeur vandag weer. Miskien is dit een van die redes waarom ek die afgelope weke so dikwels aan Job se vrou gedink het. Sy wat so rustig en gemaklik kon leef omdat haar man die Here gevrees het, het huidiglik volgelinge wat met haar verenig in haar gesindheid. Soos sy, dig onder die vleuels van haar man se lewe geskuil het en dit nie vir haar saak gemaak het dat sy nie ‘n persoonlike verhouding met God gehad het nie, so is dit vandag nog. Mense probeer saamry op ‘n ander se geloof en ‘n ander se wandel met die Here en dan ploeg hulle met hul neuse in die modder. So tragies dat hulle dan vanuit die modder die regverdige blameer vir hulle val.

en_ZAEnglish (South Africa)