HOE LYK JOU KAS?
‘n Paar aande gelede het my kleindogter een van my kas se deure oopgemaak. Sy wou vir haar man wys hoe diep die pakplek is en hoe prakties. Ek het opgemerk dat sy darem eers gekyk het of sy dit maar kon oopmaak! Dit het my gedagtes teruggeneem na die jonkmanskas in ons kamer daar op die plaas – ‘n pragtige kas van geelhout en stinkhout. Dit was ‘n ou familieplaas waar ons reeds die vyfde geslag was. Oral in die huis was daar meubels uit my oupagrootjie se tyd. Pragtige groot kaste in die slaapkamers met houtsneewerk op die deure en reuse ovaalvormige spieëls in die middel. In die gang het die enorme, dik Hooghollandse Bybel gelê en bokant die reuse berkehout eetkamertafel het die pragtige lampe gehang. Alles was oud, mooi en nog in gebruik. In die een hoek van die sitkamer het die traporreltjie gestaan waarop ons nog gespeel het. Dikwels het besoekers met groot belangstelling gevra of hulle nog meer kon sien. My pa het ‘n paar keer onaangekondig ons slaapkamer betree en die jonkmanskas daar vir die mense gewys. So al pratende het hy dan die kasdeure oopgemaak om te wys hoe prakties dit was met net die breë rakke as pakplek.
O, die skande wanneer ons van die koshuis af teruggekom het en net alles daar ingebondel het om later weer reg te pak! My ma het ons dan berispe en verontwaardig gesê dat dit soos Saggat se smouskar lyk. Haar woorde was bedoel om ons tot aksie te laat oorgaan, want Saggat se smouskar was nie ‘n mooi prentjie nie.
In haar kinderjare, die 1920’s, was Saggat ‘n winkelier wat so elke paar maande sy perdewaentjie vol goed gepak het. Hy het dan ‘n wye rondte gery om verafgeleë plase te bedien met sy winkelware wat te koop was.
Met die wegtrek was die wa netjies gepak en alles het ‘n plekkie gehad.
Soos hy egter van een plaas na die ander gegaan het, het die ware op die waentjie al hoe meer deurmekaar geraak. Die rolle materiaal, kombuisware, hardeware en klere was dan later sommer net so in ‘n warboel en die kopers moes maar grawe en soek. My ma – hulle se plaas was seker net voor die terugdraaipunt en sy het hierdie prentjie van warboel en wanorde onthou. Dit het ‘n spreekwoord in ons huis geword.
Jou kas lyk soos Saggat se smouskar.
So het God in die hemel eendag onverwags die kasdeure van Kain se hart oopgemaak en vir hom gewys wat Hy daar sien. Dit was die dag toe Kain opgemerk het dat die Here vir sy jonger broer Abel geseën het, maar nie vir hom nie. Hy was dadelik kwaad. In sy gedagtes en hart het sy enigste broer wat hom geen leed aangedoen het nie sommer sy vyand geword. Hy was so kwaad en omgekrap dat selfs die persoonlike waarskuwing van God in die hemel vir hom geen betekenis gehad het nie.
“Kain, hoekom is jy kwaad? As jy goed doen, sal jy nie aanvaar word nie?
As jy nie goed doen nie, die sonde lê en loer vir jou en wil jou in sy mag kry. Jy moet daaroor heers.”
Die Here het die kasdeur oopgemaak dat Kain kon weet dat die Here reg daar in sy hart inkyk. Hy het nie goed gedoen soos Abel nie, maar hy wou behandel word soos Abel. Hy wou ook aanvaar word soos sy broer, want hy het ook ‘n offer gebring. Omdat Kain nie die raad, die waarskuwing ter harte geneem het nie, het die sonde hom in sy mag gekry en hy het sy eie broer vermoor. Toe moes hy die gevolge van sy daad dra! Die gevolge was vir hom te swaar, het hy gekla en hy het die teenwoordigheid van die Here verlaat en weggegaan.
Vriend, hoe lyk jou kas? Wat as die Here skielik die deure van jou hart wyd oopgooi en alles daarin word sigbaar? Sal jy rooi van skaamte onder jou bed gaan wegkruip? Of kwaad word soos Kain en terugpraat soos hy? Of soos Abel met ‘n stille vrede en vreugde op jou pad voortgaan?
Die Bybel sê: “Op elke plek is die oë van die Here, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.” (Spreuke 15:3)
Soos wat die Here Kain en Abel opmerksaam dopgehou het, so het hierdie opmerksame oë vanuit die hemel gesien dat die ondergrondse tonnels van Hamas nie gebou is vir goed doen nie – en Hy het dit ontbloot dat die wêreld kan sien wat Hy in die hemel sien.
Nou wie op aarde het die moed om so ‘n direkte waarskuwing van die Een wat alles sien te ignoreer?
Nie ek nie!