HEIMWEE
Ek was bewus daarvan dat my huisvasgeit die rede was van die heimwee wat so maklik oor my geloop het. Een van my tannies het net mooi niks gehou van mense met baie geite nie. Gedurende my jare as kind in die koshuis het hierde heimweegeit alreeds vir my probleme veroorsaak. Daar het ek soms in my klerekas weggekruip dat ander nie my trane moes opmerk nie.
Skaars drie weke na ons troue was ons per trein op pad na Salisbury (nou Harare) en ek het by die venster gestaan en uitkyk soos die trein die heuwels bokant die Heksriviervallei uitgestoom het. De Doorns en die pragtige wingerdplase was stadig besig om uit sig te verdwyn toe die heimwee my onverwags oorval. Heimwee het mos so ‘n spesifieke wurggreep wat maak dat trane nie langer in ‘n mens se oë wil bly nie, dit rol sommer vanself oor ‘n mens se wange. Nie dat ek gesnik het nie, maar ek dink my man het tog opgemerk dat ek besig was met ‘n sakdoek en het langs my kom staan. Saam het ons gestaan en kyk hoe die draai van die treinspoor die uitsig oor die Heksriviervallei afgesluit en die droër landskap van die Klein Karoo voor ons oopgevou het. Ek wou hom darem gerusstel. “Die trane is nie omdat ek met jou getroud is nie, dis maar net die weggaan van alles wat bekend is.” Ek was op pad die vreemde in, weg van my ouers en weg van daar waar ek so diep op ons plaas, Rietvlei, gewortel was.
‘n Mens leer mos darem om jou gevoelens te onderdruk en aan te gaan met die lewe, maar die heimwee na my mense en my land het tog baie dikwels kom klop. As ek dit toegelaat het en sy wurggreep om my gesluit het, kon ek in my verbeelding my ma hoor sing en my pa op die werf sien stap. Ek kon duidelik onthou hoedat die melkemmers geklink het wanneer my broer gaan melk het en kon die hele prentjie in my verbeelding sien. Daardie tyd het my ooraktiewe verbeelding net die heimweegeit vererger! Dit was dan die heel beste dat ek liewer alleen gaan stap en tussen die bome weggeraak het wanneer die trane wou kom. Dat my ma vir ses weke kom kuier het, was ‘n buitengewone gebeurtenis en het baie gehelp om die heimwee hok te slaan.
Toe ek hoor dat ek sou saamgaan na Frankryk, het ek die dae in Malawi duidelik onthou en ook daardie heimwee wat nooit regtig gewyk het nie. Dit het so ‘n vae, onrustige roering in my binneste veroorsaak, want die keer sou ek weg wees van my eie kinders! Ek het Kaap toe gevlieg om darem net my ma te gaan groet. Een oggend het ek Sors se kop uitgeklim. Daar het ek lank gesit en afkyk op die plaas waar ek groot geword het. Die ou enorme bloekomboom van my kinderjare was nie meer daar nie, die populierbos waarin ons gespeel het, was nie meer daar nie, oral was boorde en lusernlande. My pa en my oom was ook nie meer daar nie. Baie dinge het verander. Daar bo-op die koppie het ek my benoudheid oor die heimwee en verlange wat my in Frankryk dalk sou oorval, voor die Here gebring. Dit was asof ek so weerloos gestaan het voor hierdie hart van my wat so maklik kon verlang na die wat ek liefgehad het.
Terwyl ek so gesit en dink het oor die veranderinge op die plaas, het ‘n gedagte my deurspoel. Die Here is onveranderlik! Soos Hy was in my oupagrootjie se dae toe hy hier op die plaas gewoon het, so was die Here nog dieselfde God. Onveranderlik! Ek kon maar die vreemde ingaan, Hy, die Onveranderlike sou daar met my wees. My geboorteplaaswortels kon maar uitgetrek word, want my wortels was stewig geplant in die koninkryk van die hemel, daar waar ‘n onveranderlike, onverganklike en onverwelklike erfenis vir my bewaar word. Wat ‘n vertroosting! Ek kon my ma groet met ‘n hart vol moed vir die pad wat vir my voorgelê het.
Ek sal jok as ek sê dat die tyd in Frankryk maklik was, maar die heimwee het nie meer so ‘n mag gehad om my gemoed te oorheers nie. Ek het iets nuuts geleer! Gebed het die intensiteit van die emosie heeltemal laat wegvloei. Ek het ‘n nuwe respek vir die sendelinge van ouds gekry. Hulle moes hulle kinders laat agterbly in ‘n vaderland waar die kinders skoolopleiding kon ontvang. Wat het in daardie ouers se harte omgegaan terwyl hulle teruggeseil het na lande soos China en Indië wetende dat hulle die kinders eers weer na baie jare sou kon sien. ‘n Mens vergeet nie jou kind nie! Soggens wanneer ek wakker geword het, was my gedagtes by hulle en ek kon vir hulle bid. Saans wanneer ek gaan slaap het, was my laaste gedagte om elkeen van hulle afsonderlik aan die Here se beskerming op te dra.
Briewe van hulle was so oor en oor gelees dat ek dit later uit my kop geken het! Daar in Frankryk het ek beleef dat die Here in sy goedheid ‘n ma se hart in sy hande vashou en dat sy Vaderoë alles van naby sien.
In alles wat ek beleef het, oral waar ek gegaan het, was ons kinders maar in my gedagtes.
Ek onthou hoe vriende van Suid-Afrika verbygekom het en ons saamgenooi het vir ‘n uitstappie na Mont Blanc. Met die rit in die kabelkarretjie teen die berg op, het ek bedink wat ek alles aan ons kinders sou vertel van ons belewenisse en waarnemings. Die huise wat daar ver onder so klein soos vuurhoutjiedosies gelyk het, die man met sy sweeftuig halfpad teen die berg op. Die asemrowende uitsig en die sneeu wat daar nooit wegsmelt nie. Ander vriende het ons eenkeer saamgeneem vir ‘n besoek aan ‘n ou middeleeuse kasteel. Die gids het ons aandag gevestig op ‘n klein buitegeboutjie. Met die vertelling waarom daar geen deur was nie, net ‘n smal opening in een van die mure, het ek dadelik gedink dat ek dit vir die kinders wou vertel. Die gids het verduidelik dat die eienaar so moeg geword het vir sy vrou se geneul om sy ore dat hy haar uit die kasteel verban het. Hy het haar toegebou in die klein kamertjie, sy kon nooit weer uitkom nie. Haar kos en water is deur die opening aangegee!
In dieselfde kasteel was daar ‘n plek wat la oubliette (‘n plek waar jy vergeet word) genoem was. Trappe het opgegaan na ‘n sekere plek en skielik was daar net ‘n afgrond! Mense wat ter dood veroordeel was, is daar afgestamp en dan is hulle vergeet. Die gids het verduidelik dat daar skerp penne ingeplant was op die bodem van die donker hool. Die veroordeelde kon dit nie mis val nie. Dit was daar om sy lyding te vererger. Rotte, en seker ander goed , sou hom ook pla terwyl hy van honger en dors stadig omgekom het. Omdat dit my so laat gril het, die wreedheid van een mens teenoor ‘n ander, was ek bly dat die kinders dit nie gesien het nie.
Eendag het die sekretaresse van die Centre vir ons gevra of ons nie saam met haar na Valence toe wou ry nie. Sy wou gaan luister na die sendeling vanuit Suid-Afrika. Natuurlik wou ons! Dit was dan die hoof van die sending waar ons kinders agtergebly het. Ek was werklik nie voorbereid op die intensiteit van die heimwee en verlange na die kinders wat my daar oorval het toe ek al die bekendes kon groet nie. ‘n Groep van die medewerkers het die sendeling op sy reis deur Europa vergesel. Van hulle het ons breedvoerig vertel hoe dit met die kinders gaan, selfs van gesprekke en insidente saam met ons kinders. Nadat die sendeling klaar gepraat het daardie oggend, het ek vorentoe gegaan om hom ook te groet. My gemoed het so volgeskiet dat ek skaars ‘n woord kon uitkry. Eintlik was daar geen woorde nodig nie, want my betraande oë het klaar die storie vertel.
Een sin wat die vriendelike sendeling met meegevoel vir my gesê het, het as ‘n vertroosting en riglyn by my gebly vir die res van ons verblyf in Frankryk, raad wat ek daagliks toegepas het: “Kyk nie na links of kyk nie na regs nie. Kyk op na Jesus Christus, ons Here.”
Toe, een oggend in die byeenkoms van die studente, het iemand in Engels begin praat. Hy het verduidelik dat hy wou hê dat almal moes verstaan. My aandag was by die sneeu wat buite geval het en ek het nie regtig geluister nie. Die kinders het nog nooit so ‘n sneeubedekte wêreld gesien nie, en dit kan ek nie vir hulle aanstuur nie! Die stem het opgehou praat en ek het besef dat ek net die laaste sin gehoor het:
“…because we felt their children should be with them for Christmas.”
Ek het my aandag weggetrek van die sneeu daar buite en gedink dat dit darem gelukkige ouers was wie se kinders by hulle sou kon wees. Maar wie van die studente se kinders was nie by hulle nie? Dit was mos net ons s’n! Almal was doodstil en hulle oë was op ons. Ek het opgekyk na my man en gesien dat sy oë vol trane geskiet het.
“Het jy gehoor dat al die studente en lektore geld bymekaar gemaak het dat ons kinders na ons toe kan vlieg?” Sprakeloos het ek van hom na almal in die vertrek gekyk, te oorweldig om eers te probeer keer dat die trane van dankbaarheid nie so oorloop nie. My man het opgestaan om almal te bedank. Ek kan nie onthou wat hy gesê het nie, maar hy het ook nie baie woorde gehad nie. Nadat hy gepraat het, het almal romdom ons begin gesels. Een student wat laat ingekom het, het vir ‘n mede Afrikaner gevra wat ons reaksie was: “Wonderful! Immediate tears!”
‘n Amerikaanse vriendin het laggend kommentaar gelewer: “Julle Afrikaners is so beheersd! Ek sou oor die banke gespring het en my arms om almal gegooi het en hardop my vreugde uitgeskree het, maar julle sê net so stil dankie. Ek weet nie hoe julle dit regkry nie.” Tog kon almal ons vreugde en dankbaarheid sien. Die geskenk was vir ons so groot en wonderbaar dat dit ‘n rukkie geneem het om werklik in te sink dat ons kinders vir ses heerlike weke by ons sou kom kuier. Dit is ‘n hele storie op sy eie en ek is al reeds hier in my gedagtes besig om dit te skryf!
Noudat ek oud geword het, het ek ook ‘n ander soort heimwee begin ervaar. ‘n Heimwee na die plek waar my onverganklike en onverwelklike erfenis bewaar word. Die kinders van Korag het hierdie soort heimwee eeue gelede in woorde uitgedruk:
“Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn?”