GEE JY DIE LAASTE...

My ouma het ons vertel toe sy en haar ma terug is na die afgebrande plaas, het hulle gebruik wat hulle kon. Die vryheid na die jare in die konsentrasiekamp was heerlik om te beleef. Die oorlog was verby en hulle het gehoop dat haar pa en broers tussen die oorlewende krysgevangenes sou wees wat volgens hoorsê  op pad terug was. Nuus was skaars en sy en haar ma het vertrou dat hulle mense hulle daar op die plaas sou kom soek.

My ouma was toe so ‘n sestienjarige dogter. Sy en haar ma het hard gewerk om ‘n leefbare slaapplek en kookplek vir hulle in te rig. Die vuur het verslind wat dit kon, maar hier en daar het iets agtergebly wat nog bruikbaar was. Die fonteintjie was nog daar en die stewige geboude wasplek buite. So was hulle een middag besig om wasgoed te was toe sy opmerk dat daar in die pad mense aangestap kom: “Ma, kyk, ons kry besoekers. Daar is nog net genoeg koffie vir eenmaal se maak en genoeg brood vir ‘n paar snye. As dit op is, het ons niks meer om te eet en te drink nie.”

“My kind, gee jy die laaste en God sal weer die eerste gee,” het haar ma blymoedig geantwoord.

Sy het gegee wat hulle gehad het en toe die besoekers weer wegstap, het sy en haar ma aangegaan met die wasgoed. Teen die laat middag, die son was besig om te sak, het my ouma oor die braaklande na die horison gekyk en opgemerk dat drie mense oor die land aangestap kom. Haar hart het vinniger begin klop, die een man se manier van loop het gelyk net soos haar pa se stap. Sy het stip gestaan en kyk en oortuig geraak dat dit haar pa moes wees, daar was net een wat soos hy gestap het – en miskien haar twee broers. Jan was maar nog net elf toe hy gevange geneem is en hy het seker gegroei in die langer as twee jaar wat hulle mekaar laas gesien het.

Sy het opgewonde haar ma se hande vasgegryp: “Ma, kyk daar ver oor die rooiland kom mense aangestap. Ek dink dis pa!”

Haar ma het gekyk en bevestig: “Ja, Nonnie, dis hulle! Jou pa en jou broers! Hulle het gekom!”

Sy en haar ma het hulle tegemoet gehardloop. Dit was ‘n wonderbare weersiens. Na al die ontberinge van die oorlog en die krysgevangeneskap op Bermuda eiland was hulle almal weer verenig. By die murasie van hulle huis het die gesels vir ‘n rukkie opgedroog. Haar broer Jan het die bagasie wat hulle gebring het, begin oopmaak om vir sy ma die stukkie houtsneewerk wat hy spesiaal vir haar gemaak het, uit te haal. Met die uitpak was daar ook ‘n sakkie koffie, brood, suiker, meel en nog meer.

“Sien, my kind, jy gee die laaste en God gee weer die eerste.”

Ek het al dikwels gelees van die weduwee wat haar heel laaste muntstukkies in die tempel se skatkis ingegooi het. Jesus Christus het die dag daar gesit en gekyk na die mense wat bydraes gebring het. Toe die weduwee verbykom en twee muntstukkies ingooi, het Hy vir sy dissipels gesê: “Hierdie weduwee het meer as al die ander gegee. Hulle het uit hulle oorvloed in die skatkis gegooi, maar sy het alles gegee wat sy het om van te lewe.”  Die arm weduwee het haar laaste vir God gegee. Ons lees nie wat daarna met haar gebeur het nie, maar God in die hemel sou vir haar weer die eerste gegee het – Hy is tot vandag toe nog die Versorger van die weduwee.

Dit was ook so met die weduwee van Sarfat. God het sy profeet Elia na haar toe gestuur. Sy het net nog ‘n bietjie meel en ‘n bietjie olie in die kruik gehad, net genoeg vir nog eenmaal se eet, en daarna die barre vooruitsig dat sy en haar seuntjie van verhongering sou omkom. Toe vra die profeet vir haar om vir hom water te bring en ook ‘n stukkie brood om te eet. Was sy geskok toe hy hy haar hele lewensonderhoud vir homself gevra het?  Hy moes eers versorg word, daarna haar seuntjie en syself. Elia het egter die lewende God geken en geweet wat Hy sê, dit doen Hy. God in die hemel het hom na die weduwee van Sarfat gestuur: “Ek het ‘n weduwee daar die opdrag gegee om jou te versorg.” Dus kon die profeet hierdie weduwee verseker: “Gee maar jou laaste, die Here sal weer die eerste gee.” Sy het haar laaste gegee en die bietjie meel het nie minder geword nie en die bietjie olie in die kruik het ook nie opgeraak nie. Daar was kos vir haar en haar kind, ook vir die profeet solank as wat hy daar onder haar dak vertoef het.

Tot my skaamte onthou ek ‘n keer waar ek darem erg vasgeklou het aan my laaste en nie dadelik bereid was om dit met ‘n blye hart weg te gee nie.

Een Saterdagaand laat het ‘n jong student van die kollege aan my deur geklop:

“Tannie, jammer dat ek so laat hier aankom. Ons was vandag in die stad en het nog gou aandete by Macdonalds gaan eet. Ek het so aan Tannie gedink. Hier is ‘n middernag happie vir tannie.”

Ek het in die sakkie geloer – ‘n heerlike hamburger! Omdat ek al half aan die slaap was, het ek dit gebêre met die voorneme dat ek die volgende oggend ‘n lui-lekker Sondagoggend ontbyt in die bed sou hê. Dit het egter nie so uitgewerk nie. Een van die dogters se ouers was al vroegoggend by die deur met ‘n versoek en so het die dag op ‘n galop begin. Tyd vir ontbyt was daar nie. Tog het die hamburger my gewink en ek het planne gemaak. Wanneer die dogters bymekaar kom om saam kerk toe te stap, kon die prefekte seker maak dat almal daar was, dan kon ek gou eers gaan eet. Gewoonlik sou ek op so ‘n oggend vinnig ‘n toebroodjie of ‘n stukkie beskuit eet. Dié dag was daar egter geen brood in die houer nie en selfs die beskuitblik was dolleeg, maar toemaar, die hamburger was daar. Ek het net my kans afgewag om dit met groot genot te gaan verorber.

Toe ek egter van kamer tot kamer gaan om te sien of almal al op is en besig om reg te maak, vind ek ‘n molshopie op een bed, diep weggesteek onder haar komberse met haar kop ook styf toegetrek.  Daar was geen reaksie toe ek haar naam noem nie. Die kamermaats vertel my dat sy ook nie met hulle wou praat nie.

“Miskien voel sy siek.  Het julle vir haar ontbyt gebring?”

“Nee, Mevrou, sy het nie vir ons gevra nie.”

Ek het my hand op die bondeltjie gesit en gevra: “Voel jy siek? Kan ek vir jou iets bring?”

Sy het haar kop oopgetrek en vir my geantwoord: “Ja, asseblief.”

“Wat het jy nodig? Pynpille of ontbyt?”

“Altwee.”

Die koshuiskombuis was toe al lankal gesluit. In my eie  kombuisie was geen brood of pap of eiers nie, net my geskenk-hamburger. Soos ek die trappe afstap na my woonstel, het ek baklei met die idee dat ek dan my hamburger vir die dogter moes gee. Sy is miskien maar net nie lus om diens toe te gaan nie, nou maak sy asof sy siek is. Miskien moet ek vir haar die helfte gee dan eet ons darem altwee iets. Gelukkig was die stryd darem klaar gestry toe ek my kombuis bereik het. Ek het vir haar ‘n skinkbord reggekry terwyl die ketel gekook het, tee gemaak, die hamburger op ‘n bord gesit en met die gedekte skinkbord en pynpille weer die lang gang en die trap op gegaan. Ek weet nie of sy dankbaar was nie, maar my hart was vol vreugde, want die Here se liefde het die selfsug oorwin en ek kon my laaste gee.

Nie dat ek dit ooit kan vergelyk met die arm weduwees van die Bybel nie, want gemeet aan hulle omstandighede, leef ek in oorvloed. Tog is dit so dat ‘n mens veratwoordelikheid moet neem vir jou keuses.  Ek kon die dogter gelos het sonder kos, my hamburger alleen opgeëet en kerk toe gegaan het. Sy het mos nie by die reëls van die koshuis gebly nie. Sy moes mos vroeg die oggend al laat weet het dat sy siek was, nou moet sy maar voel as sy dan nie wil leer nie. Maar wat van my gewete, hoe sou ek dié stilmaak? Ek is ‘n Christen, maar wat van haar? Sy moes nog die Here ontmoet en leer ken. Miskien kon die Here haar hart bereik deur ‘n hamburger vir ontbyt, terwyl sy goed geweet het dat sy sommer net nie lus was om die dag in die oë te kyk nie. Sy het nie die vaagste benul gehad dat dit my iets gekos het nie en dit was ook nie nodig dat sy dit moes weet nie. Dit is mos heeltemaal genoeg dat die Here in die hemel weet wanneer jy jou laaste gee -dit is tog Hy wat weer die eerste gee.

en_ZAEnglish (South Africa)