DIT WAS WEER KERSFEES!
Hierdie Kersfees kon ek dit nie verhelp nie, my gedagtes het
gedurig in Israel gaan kuier. Daar in Betlehem waar ons Messias in ‘n
stal gebore is. Maria, sowel as Josef aan haar sy, was Jode. Hulle was
afstammelinge van Abraham, die vriend van God. Abraham wat uitgelei is na
die land wat God vir hom en sy nageslag belowe het. Abraham wat ook die vader
geword het van almal dwarsoor die wêreld wat in Christus glo. Wie hier op
aarde kan die feit uitkanselleer dat die Messias gekom het deur die volk van
God? Al die nasies en volke word in Hom geseën soos God aan Abraham
beloof het.
Daar waar Christus, die Seun van God, mens geword het, daar
waar die herders ‘n boodskap van groot vreugde ontvang het van ‘n engel uit die
hemel en die groot skare engele gesien het wat met jubelende vreugde sy
boodskap bevestig het, dáár word die volk van God nou met uitwissing gedreig.
Dit klink vir my asof haat teen die Joodse volk besig is om oor die hele wêreld
uit te kring. As ek reg hoor en lees is daar nasies en groepe wat planne maak
om Israel te verwoes en hulle kyk met afkeer na iemand wat dit waag om ‘n goeie
woordjie vir die Israel te doen.
Tog het ons die Bybel ontvang vanuit die volk Israel! Hoe
anders sou ons geleer het van God as Moses nie neergeskryf het wat God aan hom
openbaar het nie? Moses was ‘n Israeliet, ‘n Jood. Dit is hy wat behoue gebly
het toe al die baba seuntjies van die volk van God doodgemaak moes word op
bevel van die koning. Moses, ‘n merkwaardige Jood met wie die lewende God – die
Skepper van hemel en aarde – van aangesig tot aangesig gepraat het soos met ‘n
vriend.
Deur sy geskrifte leer ons hoe God die hemel en die aarde
geskape het – en vir Adam en Eva. Ons kom te wete van God se vyand wat hom
daarop toegespits het om die werk van God te beskadig en Hom teë te staan. Ons
lees van Henog wat met God gewandel het, van Noag wat die ark moes bou waarin
sy gesin en diere van verdrinking en uitwissing gespaar is. Ons ontmoet Abraham
en lees van God se verstommende goedheid en genade, en die hoop en liefde wat
Hy oor Abraham uitgegiet het. Ook van sy beloftes aan Abraham en sy seun Isak
en dié se seun, Jakob. Ons lees van Jakob se seun, Josef, wat gesorg het dat al
die afstammelinge van Jakob na Egipte gekom het om die droogte te oorleef. Hoe
hulle slawe geword het. Moses het alles opgeteken van die uittog uit Egipte en
God se sterke hand teen Farao. Die volk se ontmoeting met die lewende God by
die berg, Sinai en die hele geskiedenis van God se handelinge met sy volk
totdat hulle die beloofde land ingetrek het.
Dan volg die geskiedenis van hulle nuwe leier, Josua, van
die rigters van Israel, die konings, die profete en die baie verskillende
beloftes oor die Messias wat gebore sou word in Betlehem, die stad van Dawid.
Jesus Christus en sy dissipels was Joodse manne. Johannes
die Doper was Joods. Mattheus, Markus, Lukas en Johannes wat vir ons die lewe
van Christus beskryf, was almal uit die Joodse volk. Paulus was Joods. Van die
begin tot die einde van die Bybel het die Heilige Gees manne uit die Joodse
volk geïnspireer om die verskillende Bybelboeke te skryf.
Ons het die Messias wat gekom het om ons sonde weg te neem
en ons met God die Vader te versoen vanuit die Joodse volk ontvang. Ons het die
Woord van God, die Bybel, vanuit die Joodse volk ontvang. Daarom was my hart
hierdie Kersfees vol dankbaarheid en jammerte oor die volk van God, wat soveel
haat en hoon moet deurgaan in my leeftyd.
Al die beloftes van die Messias wat sou kom, is vervul. Mag
Hy wat beloof het om na sy eie volk om te sien en hulle te seën, ook al die
beloftes in verband met die volk Israel in vervulling laat gaan.
Ek het ook so gedink aan Corrie te Boom. Sy vertel hoedat
haar bejaarde pa die Dawid ster teen sy baadjie vasgesteek het om hom openlik
te skaar by die Jode wat so vervolg was gedurende die Tweede Wêreld oorlog. Oor
sy liefde en lojaliteit vir die volk van God is hy in ‘n tronk gestop en daar
het hy gesterf. So ook haar suster Betsie, maar Corrie het bly leef om die
storie te vertel. In ons leeftyd vind die Hemelse Vader sekerlik ook sulke
mense, mense wat vasstaan agter sy volk en diep meegevoel met hulle het.
Dit is waar dat Christus, die Seun van God, vervolg was deur
sy eie mense. Hulle het Hom uitgelewer aan die Romeine om gekruisig te word.
Tog is daar vandag ‘n groot menigte van die volk van God wat in Hom glo – in
die Messias wat daar in Israel op Golgota gekruisig was. Die profeet Sagaria
het geskryf wat God in die verre toekoms vir sy volk bedoel: “Maar oor die huis
van Dawid en die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en
smekinge: en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal
oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom
ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind.”
Kersfees het gekom en gegaan en ‘n nuwe jaar lê voor ons.
Wat dit vir ons inhou, weet net die God wat ons geskape het. Hy het die hele
wêreld in sy hand en Hy het vir elkeen van ons ‘n lewe in Christus belowe as
ons glo in Hom wat van God gestuur is. Christus het mens geword en in die
liggaam van ‘n Jood sy lewe vrywillig oorgegee om as die Lam van God geoffer te
word sodat die hele wêreld ingesluit kon word in die verlossing wat die offer
bied. Die verlossing van sonde en die ewige dood het vanuit die Joodse volk na
ons almal gekom. Kom ons dank God vir die realiteit van hierdie wonderbare
verlossing in die agterstevoor tyd waarin ons leef.