DIT WAS SO MOOI WANNEER MY MA GESING HET

Ek het eers later sommetjies gemaak en besef dat my ma agtien jaar lank alleen in haar plaashuisie gewoon het.  Die ou opstal was so ‘n bietjie verder as klipgooi, maar my broer en sy gesin het hulle lewens gelei en as dit aand geword het, was my ma alleen. Nie dat ‘n mens ooit agtergekom het dat die alleenheid in drukkende eensaamheid oorgegaan het nie. Sy was tevrede en doodgelukkig. Sy het haar skryfwerk gehad waarmee sy besig was, en dan het sy graag gelees en gesing.

Sy het my vertel, een somersaand net so voor Kersfees het sy in die kombuis gestaan en stryk. Al die vensters was oop en ook die agterdeur want daar was siwwe wat die motte uitgehou het. Sy het die een lied na die ander gesing, Kersliedere, Halleluja liedere en sommer alles wat sy deur die jare versamel het.  Toe het sy ‘n geluid onder die kombuisvenster gehoor. Sy het dadelik uitgestap om te gaan kyk, want sy het gedink dit was dalk ‘n dier wat seergekry het. Daar het sy toe een van ons plaaswerkers gevind. Hy het dig teen die muur op ‘n bondeltjie gesit en trane het oor sy wange geloop.

“En jy, Jors, wat makeer dan?”

“Miss Henna het darem so mooi gesing, dat ek eers ‘n bietjie moes vertoef. Ek kon nie sommer net verbystap nie. Die mooi bring mens nader aan die Vader daarbo.”

Ek kan my ma se stem onthou, so ‘n klokhelder, suiwer stem. Elke oggend het sy in die badkamer gesing, en sy was nooit haastig om uit te kom nie.

“Langs die heuweltoppe kom daar blye, skone moregloed.
Vra my siel verbaas, eerbiedig, wat dit tog beteken moet?
Dis die Heiland, dis die Heiland, bring Hom nou jou welkomsgroet!”

Met “Whispering Hope,” kon sy die hoë note so suiwer sing dat ‘n mens dit hier binnekant gevoel het, so ‘n vreemde soort hartseer. Maar my ma het nooit in kore gesing of na vroue vergaderings toe gegaan nie. Sy was altyd by die huis op die plaas en mense het vir haar kom kuier. Baie mense, selfs van oorsee, want sy was ‘n kenner van vetplante en ons plaas het verskeie skaars soorte opgelewer. Met haar wye kennis en kontakte van belangstellendes, het sy soms saam met plantkundiges en professore in die klowe rondgeklouter agter plante aan.  Ons proteas was ‘n ander bron van vreugde. Die bergvelde het verskillende proteasoorte gehad en my ma het almal geken en geweet waar hulle groei. Dus was dit sy wat saam met soveel plantliefhebbers die berge uit was en ure lank weggebly het.

Toe sy jonger was het sy saam met my pa die berge te perd uitgegaan, dan het sy rooi gebrand teruggekom, maar so gelukkig en tevrede. My ma en die veld was groot maats. Toe ek in matriek was, wou sy die tuin by ons voordeur heeltemal na ‘n vetplantetuin verander. Daardie jaar het ons nog skoolbus gery. Soms het ek soggens baie vroeg saam met my ma die klowe ingevaar, opsoek na mooi klippe vir die tuin. Dan het ons dit teruggedra in al wat ‘n sak was. Daarna het ek gou gaan swem, aangetrek en die skoolbus bo by die kraal gaan inwag.

In die wintermaande het my ma die gewoonte gehad om vieruur soggens op te staan en dan by die spenstafel in helder lamplig te werk aan haar skryfwerk of plant studies. So het ek dan ook my leerwerk gaan doen daar by haar. Winteraande het niemand laat opgebly nie. Dit was glad nie vreemd as die hele plaashuis teen agtuur die aand al donker was nie, want dit was bitterlik koud en die houtstoof was die enigste verwarmer.  Daar het ons ons wintertone warm gemaak, dan sokkies oor die warm voete aangetrek en die koue lakens gaan aandruf. Geen wonder dat ons so vroeg uitgeslaap kon wees nie!  Saam met die hoenders gaan slaap en voor hanekraai opgewek.

My jongste broer het vertel dat toe hy so twaalf jaar oud was, het my pa hom een middag kom opsoek  waar hy gesit en jaag het om sy skoolwerk klaar te kry: “Boetman, die klein, swart Jersey koeitjie moes nou al gekalf het. Stap gou dan bring jy haar en die kalf af plaas toe.”

Die gou stap, was een berg uit en ‘n tweede om by die beeste op die bergplaas te kom! Hy het eers ‘n sny varsgebakte brood gaan kry vir padkos, sy hoed en sweep gevat, ons ma gegroet en is toe die berge uit.  Selfs ‘n haastige seun kon dit seker nie onder twee ure maak nie en die son het al begin sak toe hy die swart koeitjie en haar klein kalfie opgespoor het. ‘n Klein kalfie kan nou nie juis aangejaag word nie en die skemer het gekom toe hulle nog nie eers halfpad terug was nie.

Die ergste vir hom was die wete dat daar luiperds was en die klein kalfie was ‘n aanloklike prooi .. en hy ook!.  Hy het ‘n sweep gehad wat hy kon klap met ‘n lekker knal, maar dit was net ‘n sweep. Daardie krieweling in sy rug soos hy gegril het van benoudheid vir die gedagte dat ‘n luiperd hulle kon bekruip terwyl hy niks kon sien nie, het gemaak dat hy begin wonder het of hy nie die kalfie ‘n bietjie moet optel en dra nie dan kon die koeitjie ook vinniger roer agter haar kalfie aan. Selfs die vrees vir ‘n luiperd kon hom darem nie genoeg krag gee om die swaar stuk beesvleis  te dra nie, hy was maar tengerig. Dit was later pikdonker en hy was besorg dat hy die voetpad  byster sou raak.

In sy vertelling kon ‘n mens saam met hom sy verligting ervaar toe hy bo-op die kruin van die berg kom en op ons plaas kon afkyk.  Daar naby die kraal, by die sementdam het ‘n groot vuur gebrand. As hy sy asem opgehou het en die koeitjie ook laat stilstaan het, het hy hom verbeel hy kon my ma hoor sing. My ma het droë kraalbosse aangesleep tot daar waar sy met veiligheid ‘n vuur kon maak. Daar het sy vir haar jongste gesit en wag. Sy het geweet hy sou dalk bang wees en die nag donker en die pad lank, maar dit sou hom in sy eer krenk as sy hom met latern in die hand tegemoet geloop het.

Boetman het met al sy krag geskree so hard soos hy kon om haar te laat weet dat hy  daar was. My ma het die vuur aan die gang gehou en rustig gesit en sing tot my broer by haar opgedaag het. Hulle twee het saam die koei eers laat drink by die krip en toe gaan toemaak in die kraal.

By my ma het ek geleer dat sang in tye van nood ‘n mens se vaste vertroue in die versorgende Vaderhand verwoord, al bewe jou hart en vermenigvuldig jou gedagtes. Sy het dit nie altyd maklik gehad nie, maar sy het gesing en nie gekla of gemurmereer nie. Sy was ‘n dankbare mens met ‘n diepe rus in haar gemoed.

Toe sy sterwend was, het ek eenkeer by haar bed gestaan en begin sing. Toe sê sy vir my:  “Sjuut, my kind, nie nou sing nie.”
“Wat gebeur dan nou, Mamma?”
“Hulle kom my haal, dan kan ek nie hoor nie.”
Toe begin sy ‘n strofe van ‘n lied sing wat ek nog nie voorheen gehoor het nie. Iets oor die lof van die Here in hooghollands. 
“Ons stap nou saam, my kind, en ons sing, maar ons stap so stadig.”

Ek het verstaan waarom sy die stadig so beklemtoon het.  Sy wou so graag vry wees van die liggaam wat haar op die bed vasgekluister het. Sy was selde regtig so siek dat sy in die bed moes bly en om buite te kon wees, was vir haar lewe. Hoe dikwels het sy die laaste weke van haar lewe vir ons gevra:  “Ag, neem my tog saam. Kry my net hier van die bed af, dat ek weer vry kan wees.”

Eendag het ek gesê toe sy weer so mooi vra: “Goed, Mamma, kom ek probeer.”
Ek het my arm agter haar rug ingestoot en probeer om haar op te lig.
“Eina!, Nee, kind, dit is te seer.”
“Sien, Mamma, ek is onmoontlik sterk genoeg om Mamma op te tel en saam met my te neem. Maar Mamma kan altyd vir Jesus vra om dit te doen. Hy is sterk. Hy kan.”
Sy het met haar kop geknik en geglimlag. Toe sê sy vir my: “Hy het so gemaak,” en sy het arms om haarself gevou om vir my te wys.

Eendag was ek saam met my oudste suster by haar bed en ek het begin sing. Toe maak sy haar oë oop en sien dat my ousus sit en huil.
“Nee, kind! Moenie huil nie. Kom ons sing!”
Daar het nie meer ‘n geluid uitgekom nie, maar haar mond het ‘n rukkie saam die woorde gevorm.

Soms kon mens nie help om te lag nie. Sy het ons twee getroos toe ons moes groet:
“Julle moenie huil nie, die Here sal na hierdie outjie kyk,” bedoelende haarself.

En Hy het na haar gekyk en haar kom haal na die plek wat Hy vir haar voorberei het. Daar sing sy nou na hartelus terwyl sy Hom van aangesig tot aangesig sien.

en_ZAEnglish (South Africa)