DIE DIEPER DORS
Net so voordat oom Flip Mclachlan uitgetree het as leier van die Stellenboschse Universiteitskoor, het hulle toer ook ‘n draai in Malawi gemaak. Ons moes slaapplek vir so sestig koorlede vir ‘n paar nagte daar in Blantyre reël en was geraak dat oom Flip en sy vrou verkies het om by ons te bly. Ek onthou hoe dankbaar hy was om ontbyt in die bed te kry, want die lang reis van die vorige dag was uitputtend. Vars gebakte bruinbrood en geroomde heuning was vir hom so lekker dat hy dit sommer dadelik vir die volgende ontbyt bestel het. Dit was ‘n aangename tyd met mense uit die Boland wat almal Afrikaans gepraat het. Die konsul van Suid-Afrika het die kans gebruik en al die Suid-Afrikaners in Blantyre uitgenooi om saam met die koor by sy huis te vergader vir ‘n ete. Daar was ‘n pragtige groot tuin rondom die huis en Randall Wicomb en Koba het sommer so spontaan buite in die tuin ‘n duet vir ons gesing. Hulle was toe nog altwee studente. Maar die mooiste vir my was toe die stemme van die hele koor inval met die ou Afrikaanse lied, ‘n beryming van Psalm 42.
“Soos ‘n hert in dorre streke
skreeuend dors na die genot
van die helder waterbeke,
skreeu my siel na U, o God!”
Elke woord het soos ‘n reëndruppel op ‘n dorstige siel geval. Ver van my land en my mense, met heimwee wat net nooit aan ‘n kapstok opgehang kon word nie, het die lied my hart oorrompel. Ek het daardie dors na God geken en die bekende woorde het ‘n emosie verwek waar die mooi so mooi was dat dit eintlik seergemaak het. Tot vandag toe, wanneer ekself die lied hier in my kamer sing of ek hoor dit in ‘n kerk, word ek bewoë. Dit is seker omdat die opregte woorde vanuit die psalmdigter se hart onmiddellike weerklank in my hart vind.
“Ja, my siel dors na die Here,
na die Lewensbron;
wanneer sal ek na swerftog en benouing,
God weer sien in klare aanskouing.”
Ek kon my ook so verluister wanneer oom Erlo Stegen vertel het van die herlewing onder die Zoeloes – van die dringende dors na die Here en na sy teenwoordigheid. Hoe hy eendag vir homself en die klein groepie Christene gekonfonteer het met die vraag: “Vloei daar strome van lewende water uit jou lewe?” Dit was na aanleiding van die gedeelte wat hulle uit die Evangelie van Johannes 7:37-38 gelees het:
“En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê; As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo soos die Skrif sê; strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”
Hulle het een vir een erken dat daar nie strome van lewende water vanuit hulle lewens vloei nie. Ook oom Erlo moes erken dat hy in Christus geglo het, maar daardie beloofde strome van lewende water het by hom ook ontbreek. In sy boek: Herlewing begin by jouself verduidelik hy die toestand van sy lewe daardie tyd voordat die Heilige Gees uitgestort was. “Ek het gebid, maar geen antwoord gekry nie. Ek het gesoek, maar geen uitweg gevind nie. Ek was op die randjie van wanhoop…” Die diepe dors na die Here het hom en die groepie gelowiges voortgedryf om die Skrif onvermoeid te ondersoek. Oom Erlo vertel: “Die Here het verder in ons harte gewerk en aangegaan totdat Hy ons van alles gereinig het wat Sy Gees bedroef en uitgedoof het. Nadat alle sondige en duiwelse dinge uit ons lewens verwyder was en die pad vir die Here oopgemaak is sodat Hy kon werk, het die hemel skielik geskeur op ‘n oomblik toe ons dit nie verwag het nie en het die Heilige Gees op ons neergedaal soos in die tyd van die apostels.” Daarna het strome van lewende water vrylik uit hulle lewens gevloei en duisende mense se lewens bereik – ook myne!
Die berymde vyfde vers van Psalm 42 is ‘n lewende belofte vir enigeen wat dors na God en sy seënryke werk in ons lewens.
“Maar die Heer sal in my lewe
Weer oordag sy guns gebied.
Ook deur donker nag omgewe,
sing ek nog my pelgrimslied.
Ja, ek lofsing in die nag,
Want ek bly die Heer verwag;
My gebed sal opwaarts strewe
Na die bronwel van my lewe.”
As vrug van die herlewing onder die Zoeloes, vind baie verslaafdes hulle pad na die sending en na die enigste Een wat hulle van die verslawing kan verlos – Jesus Christus. Wanneer ‘n mens ‘n verslaafde probeer help, kom jy in aanraking met ‘n dieper dors wat niks te make het met die lewende God nie. Dit is ‘n dors wat die liggaam beetpak en die verslaafde rondjaag om naarstiglik te soek na die volgende heroïen inspuiting, ‘n dagga zoll, woonga of om ‘n paar drankies gulsig af te sluk om die dwingende dors tydelik te les. Net kortstondig, totdat alles uitgewerk is en die liggaam weer na verligting soek. Dis ‘n tragiese soort dors, ‘n wolfding wat menswaardigheid en goeie karakter vernietig.
Dan is daar is egter ook meer beskaafde soorte van dors, ‘n dors wat nie so opsigtelik en maklik waarneembaar is nie, maar wat die dieper dors na die lewende God vermink. Soos die dors na geld en materiële welstand, of die dors na erkenning van mense, die dors na prestasie en eer. Vir my is die mees afstootlikste dors wat ‘n mens kan vasgryp daardie dors wat deesdae so stelselmatig deur ons gemeenskappe sypel om waardesisteme en morele norme te ondermyn of geheel en al uit te skakel – ‘n dors na wat die wêreld bied in die veld van seksuele losbandigheid en perversitieit.
Elke mens wat gebore word op hierdie aarde het ‘n siel van God ontvang – ‘n siel wat vir ewig leef. Omdat God, die Skepper, verlang dat geen siel verlore gaan en die ewigheid sonder Hom moet deurbring nie, het Hy in elke siel ‘n gebod ingeskryf. “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel, met jou hele verstand en al jou kragte.” Geen wonder dan dat die siel so ‘n skreeuende dors na die lewende God kan hê nie. Niks en niemand anders kan daardie dors les nie, net Hy wat belowe het dat die water wat Hy ons gee in ons sal word soos ‘n fontein wat opspring tot in die ewige lewe. (Johannes 4:14) Die water wat Christus gee, verdryf alle ander soorte dors wat ooit kan pla en skenk daarmee saam ook die belofte en die krag dat ‘n mens nie weer na iets anders sal dors nie.
Jong vriende het verlede week vir my iets gestuur wat hulle elfjarige dogter geskryf het. Sy moes ‘n opstel in die klas skryf. Daarin blyk dit dat die dors na die lewende God al in hierdie jong hart ontwaak het. Sy skryf:
“Ek het ‘n vriend wat ek baie lief het. Hy het spierwit hare en sy oë is brandende vlamme. Sy gesig skyn soos die middag son. Hy is die mooiste mens.
Hy dra ‘n lang wit kleed met ‘n goue gordel om sy bors. Hy is baie vriendelik en as ek vir hom iets vra, sal hy my antwoord. Hy is altyd beskikbaar as iemand hom nodig het. Hy is lief om mense te help. Hy is baie lief vir kinders en sal altyd bly wees as hulle na hom toe kom.
Ek praat elke dag met hom en ek wil sy stem meer leer ken. Ons spandeer tyd saam elke aand en elke oggend, maar ek praat ook met hom as ek raad nodig het. Hy het altyd die antwoord vir my vraag. Hy is ‘n vriend wat nader aan ‘n mens kan wees as ‘n broer en sy naam is Jesus.”
“O my siel, waarom onrustig?
En wat buig jy jou in my?…
Hoop op God, in Hom weer rustig!
In sy lof sal ek my verlustig.”
Gesels jy ook so met jou siel, of het jou siel jou dalk al lankal omgepraat om jou dors liewers by die wêreld se drinkbakke te probeer les?