DIE AGTERGEBLEWENES

Toe ek jonk was het daar ‘n nuwe woord na vore gekom tussen sommige politici van ons land. Hulle het die wat minder bevoorreg was, die wat nie al die ontwikkelingsgeleenthede as ander gehad het nie, die agtergeblewenes begin noem. So ‘n versagtende manier van praat om die armoede, die stryd om te oorleef en die gebrek aan vooruitgang darem nie te kaalkop in die publiek aan te spreek nie. Omdat die spesifieke sprekers nie self ingespring en hulle tyd, hulle harte en voorregte uitgestort het om die agtergeblewenes te help uitlig uit hulle haglike situasie nie, het hulle gepratery hoogdrawend en onbetrokke geklink. Hulle woorde het weggewaai en min vrug gebring.

Een van die welsprekendes uit die Kaapse gemeenskap wat so eie aan hulle ‘n woord kan neem en met ‘n kwinkslag mooi netjies in die luisteraar se ore kan lê, het dié woord, agtergeblewenes, gehoor en baie gepas op ‘n ander manier uitgedruk. Miskien was dit ‘n evangelis wat die gemeente wou aanspoor tot ernstige nadenke: “Mense wat aspris dom is, gaan nie hemel toe nie. Dit gaan ‘n tandeknersstorie vir julle wees! Want julle klomp wat so aspris dom is, is die agtergeblewenes.”

 Die skrywer van Hebreërs waarsku in sy brief dat ons tog nie onder die agtergeblewenes moet wees nie. Hy noem ons nie die wat aspris dom is nie, maar wys duidelik uit wie nie die hemel sal bereik nie. Hy praat nie soos ‘n hoogdrawende politikus wie se hart ver van sy woorde verwyder is nie, nee, Paulus is intens betrokke by my en jou vir wie hy hier aanspreek. Hy het sy lewe afgelê om hierdie waarheid aan ons oor te dra. As ons hierdie woorde ter harte neem, het dit die krag om ons vir altyd te verander.

Hy vermaan ons om ons te beywer om nie agter te bly soos die wat nooit in die rus van die Here kon ingaan nie. Paulus neem ons terug na die Israeliete in die woestyn. Hulle optrede het hulle die gramskap van God op die hals gehaal en Hy het gesweer dat dié ongehoorsames nie in sy rus sou ingaan nie.

“Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie. Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie…”

 Paulus vergelyk Moses en Christus in hoofstuk 3. Onder die leierskap van Moses is die volk deur die kragtige ingryping van God uitgelei uit die land van slawerny. God se teenwoordigheid het bedags in ‘n wolk voor hulle uitgetrek en snags in ‘n vuurkolom oor hulle wag gehou. Die see is oopgekloof dat hulle droogvoets kon deurtrek. Die vyand se agtervolging is deur dieselfde see beëindig. Water en kos is voorsien op wonderbaarlike maniere, tog het die meeste van hulle in die woestyn omgekom weens hulle ongeloof. ‘n Mens kan dink dat al hierdie dinge voor hulle oë plaasgevind het, hulle het dit gesien, gehoor en beleef, nogtans was hulle harte en koppe so verhard en koud dat hulle in ongeloof gesterf het.

En ons, ek en jy? Ons kan in die rus van God ingaan deur geloof. Christus, ver verhewe en groter as Moses, het gekom en alles volbring waarvoor sy Vader Hom na die aarde gestuur het. Hy het in ons plek as sondaar gesterf. Ons sonde het Hy gedra. Vir ons sonde het die toorn en straf van God op Hom, aan die kruis, neergestort en uitgewoed. Hy het die wet vervul en die volkome offer geword, eens en vir altyd. Die een wat in Hom glo, word met God in die hemel versoen en word as kind in die hemelse huis aangeneem om vir ewig in God se heilige teenwoordigheid te wees.

Het ware geloof in Christus al jou hart ontwaak en jou hele lewe in besit geneem? Dit is wat Paulus hier bepleit.

“Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.”

Die rus van God, waar die kruisdood van Christus so diep gewerk het in ons harte dat ons rus van al ons eie pogings om God te behaag. Dit is die blye boodskap. Daardie rus wat deur ware geloof en vertroue in Christus in ons harte leef, is waarna Paulus ons verwys. ‘n Mens kan jou aspris dom hou en maak asof jy nie verstaan nie, maar die gevolge is te ernstig en te vreeslik om aan te dink. Dan kan mens verval in die soort ongehoorsaamheid wat maak dat jyself aan die einde van jou lewe die toorn en straf van God moet dra omdat jy geweier het om in die rus in te gaan waar Jesus Christus dit vir jou bewerk het. ‘n Mens kan dink soos iemand wat aspris dom is en besluit dat dit te veel kos om regtig in Christus te glo – dan moet ‘n mens klaarmaak met die sonde wat so ‘n  aangename ontvlugting is! Jy moet jou vyande liefhê en hulle dien! Jy moet voortdurend jouself verloën en jou lewe vir ander uitstort!

Wanneer ‘n mens jou beywer om in die rus van God in te gaan, het die liefde van God jou alreeds bereik en in Christus van jou ‘n nuwe mens gemaak. Dan dink jy al lankal nie meer soos iemand wat hom aspris dom hou nie. En dis vir ons wat Paulus so op die hart dra waar hy ons dringend versoek om tog toe te laat dat die Woord van God ons deursoek en beproef en uitwys waarom ons dan nog nie in die rus van God gevind word nie. Sy beskrywing van die krag van God se Woord kan ons gerus ter harte neem en ons gewillig oorgee dat die Woord ons diepste innerlike betree:

“Die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” (Hebreërs 4:12)

Die Woord kan indring en die rede opspoor, die rede waarom ons nog buite die rus van God leef.  Wat die Woord uitwys kan mee afgereken word in die lig van Christus en in die bloed wat Christus aan die kruis gestort het. Christus het gekom om ons te verlos van ons sonde en ons harte en gewete rein te was van alle besmetting. Daar is geen rede hoekom ek en jy nie vandag al in die rus van God kan ingaan nie, want Christus het dit vir ons bewerk. Behalwe as ons ons aspris dom hou en maak asof ons nie gehoor het nie. Of as ons stringe verskonings het waarom ons nie wil hoor en ons harte in opregtheid onder die gesag van God se Woord wil stel nie.

As ek en jy eendag die naam kry van agtergeblewenes sal dit ons eie skuld wees. Niemand anders s’n nie omdat daar gesê word: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.”
en_ZAEnglish (South Africa)