JOU SONDE IS VERGEWE!

Sy was ‘n uitgeworpene, weggegooi deur die gemeenskap as ‘n stuk vuilgoed wat op die ashoop hoort. Net die mans wat in die donkerte graag die ashoop besoek het, het haar gebruik vir hulle eie behoeftes, verder was sy vermy. Wie weet, miskien het sy tog op die buitekringe van die skare iets van Jesus se prediking gehoor. Ons ontmoet haar waar sy, die besoedelde, die sondares, dit gewaag het om die huis van ‘n  Fariseër binne te gaan. Iets totaal ondenkbaar! Fariseërs was heeltemal té godsdienstig, hulle het niks met sondaars te doen gehad nie en dáár het sy ingegaan om by Jesus uit te kom. Het sy vergeet van die klad op haar naam en die skande van haar selfgekose lewenstyl? Dit was juis oor die klad en die skande waarom sy Jesus kom opsoek het. Sy het gehoor dat Hy gekom het om sondaars te red en hoop het in haar opgevlam dat Jesus haar kon vrymaak van ‘n lewe wat haar in die samelewing so afstootlik gemaak het. Die hoop en dankbaarheid in haar wese het haar voete geneem tot by die Here Jesus Christus. Vir haar het dit nie saak gemaak dat Hy in die huis van ‘n godsdiensleier by ‘n maaltyd was nie. Sy was daar om haar dankbaarheid uit te giet teenoor die Een wat gekom het om haar, ‘n sondares, te red.

Daar by Jesus se voete het die smart oor haar sondige lewe haar oorval. So diep was haar smart en berou dat haar trane Jesus se voete gewas het. Daar was niks in haar oor van die wellustige dryfkrag van die verlede nie en Jesus het dit geweet. Hy het diep in haar hart ingekyk en gesien dat die sondares haar Verlosser gevind het. Jesushet nie sy voete weggetrek van haar aanraking of haar beveel om die huis te verlaat nie. Hy het haar toegelaat om haar dankbaarheid teenoor Hom te bewys soos haar hart vir haar voorgeskryf het. Sy, die verstote en uitgeworpe vrou het in haar gebrokenheid van hart vergeet van al die ander mense wat om Jesus vergader het. Hy wat die gesag gehad het om die wind en die golwe van die see te beveel om stil te wees, Hy wat duiwels kon beveel om mense te verlaat, Hy het met deernis en liefde na die vrou gekyk en geen fout gevind in haar dankbetuiging nie. In sy gesag as Verlosser van sondaars het Hy na haar uitgereik en toegelaat dat sy Sy voete  soen en met haar hare die trane afdroog. Jesus het geweet dat haar dankbaarheid geen perke geken het nie. Sy het Hom erken as haar Verlosser, as die Een wat gekom het omdat Hy ‘n hart gehad het vir die wat verlore gaan. Uit haar dankbaarheid het sy die kosbaarste besitting wat sy gehad het op sy voete uitgegiet – ‘n flessie met reukolie en die aangename geur het die hele huis gevul.

Die Fariseër het met afkeur gekyk na die vrou wat Jesus se voete gesoen het en het by Homself gedink: “Die Man is nie ‘n profeet nie, anders sou Hy geweet het watter soort vrou daar by sy voete is en Hom so aanraak.”

Simon was verkeerd, Jesus het geweet! Hy het ook geweet wat Simon, die Fariseër, gedink het.

“Simon, Ek het iets om vir jou te sê.”

Jesus het met die woorde die aandag van die vrou weggetrek en Simon vertel van twee mans vir wie die skuldeiser groot bedrae vrygeskeld het, vir die een aansienlik meer as vir die ander.

“Wie van die twee sou hom die meeste liefhê?”

“Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgesteld het.”

“Jou antwoord is heeltemal reg. Sien jy hierdie vrou?”

Almal aan tafel se oë het weer na haar teruggedraai.

“Ek het in jou huis gekom – en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. ‘n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. My kop het jy nie eers met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. Daarom sê Ek vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

Toe het Jesus vir die dankbare vrou daar by sy voete gesê:

“Jou sondes is vergewe. Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

Met die geur van die reukolie wat aan haar gekleef het, het sy die huis verlaat heel anders as wat sy ingekom het. Die geur van ware verlossing en vrede het haar hele innerlike deurspoel. Sy was nie meer die sondares wat haar lewe in losbandigheid deurgebring het nie. Sy was soos ‘n stuk klei wat op die pottebakker se wiel misluk het, maar toe weer oorgemaak was! ‘n Nuwe mens! Die skuld en skande van haar sonde vir ewig weggewas! Haar geloof dat Jesus haar kon help, het haar tot hierdie reddende genade gebring. Dit was asof haar voete vlerke gekry het in die dankbaarheid wat amper te groot geword het vir haar om te dra. Sy het die huis van die neusoptrekkerige Fariseër verlaat met ‘n vryheid om na haar mense te gaan met die wonderbare getuienis dat haar ontmoeting met Jesus haar lewe herstel en nuut gemaak het. Dat haar gebrokenheid, haar dankbaarheid en vergifnis deur die eeue heen gebruik sou word, selfs ook vir ons vandag, om tot teregwysing en onderrig te wees – daarvan was sy onbewus.

Met die dankbaarheid van hierdie vrou teenoor Jesus Christus, kan ek my vereenselwig. Op driejarige ouderdom het ek ‘n baie nare ondervinding gehad en ‘n gees van vrees het daardeur ‘n houvas op my lewe gekry. Sy greep het deur die jare al hoe sterker geword en vrees het soos ‘n groot wolfding in my lewe geword. Nagte was dikwels omskep in ‘n lang uitgerekte nagmerrie. Vrees het my maag voortdurend op ‘n knop getrek en soms kon ek dit selfs in my mond proe. Dit was intens en indringend en in my was daar geen verweer daarteen nie. Ek was vir alles bang. Bang wanneer ek met iemand iets telefonies moes reël, bang om alleen in ‘n bus of trein te klim, en manies bang wanneer ek in die donker alleen moes wees. Om die vrees te ontsnap, het ek in my verbeeldingswêreld begin leef – daar waar ek oor alles beheer kon hê, waar ek alles kon doen sonder die vrees wat altyd my hakke gebyt het. In my verbeeldingswêreld was ek die wonderlike heldin wat alles net reg kon doen. Daar was geen plek vir God of sy Woord nie, daar was net plek vir myself. Dink jouself in hoe onbeperk groot ek in my eie oë geword het met ‘n hoogmoed wat myself in ‘n afgod gevorm het wat groter was as die goue beeld wat Nebukadnesar van ouds opgerig het. Die ontvlugtings meganisme waarin ek meer en meer bedrewe geword het, het my selfbeeld opgeblaas, maar van die werklike greep van vrees kon dit my nie vrymaak nie. Vir meer as dertig jaar lank het vrees my lewe versuur en my eintlik in ‘n armsalige bestaan van gebondenheid ingehok.

Toe het Jesus Christus, die Verlosser, ook in my lewe ingestap. Hy het my gesoek en my gevind! In sy heilige teenwoordigheid het ek my gruwelike, sondige selflewe gesien en in ware berou voor Hom neergeval en vir genade en vergifnis gepleit. Die vergifnis van my sonde en die lig van sy verlossingskrag het die gees van vrees duidelik uitgewys. In die krag van Sy Naam is hierdie gees van vrees bestraf en moes dit sy blyplek in my en sy mag oor my vir altyd vaarwel toeroep. Ek was vry!

Die werklikheid van hierdie bevryding het my eers ‘n paar dae later oorweldig. Ek moes die nag alleen in ons huis slaap en die volgende more het ek met verwondering wakker geword. Ek het geslaap! Nie met ‘n kloppende vrees van venster tot venster gedwaal om versigtig die gordyn op ‘n klein skrefie oop te trek om te sien of daar nie ‘n beweging in die buitelig of straatlig opgespoor kon word nie. Of daar nie dalk ‘n mens was wat my wou kom kwaad aandoen nie. Ek het nie angsbevange gelê en wonder wat daardie geluidjie gemaak het nie, ek het geslaap, vas geslaap.

“Here Jesus, U het my verlos van vrees! U het my verlos!”

Ek was alleen in die huis en kon sommer hardop huil van dankbaarheid, ek het daardie dag seker tientalle kere met ‘n diepe dankbaarheid en verwondering  hardop uitgeroep:

“Here Jesus Christus, U is my Verlosser! U het my verlos! U het die gees van vrees weggejaag. Ek is vry! Ek kan asemhaal sonder om bang te wees. Hier is my lewe wat U vrygemaak het, vir U wil ek leef tot die einde toe.”

Daardie diep dankbaarheid kan ‘n mens nie in woorde beskryf nie. Dit het gemaak dat ek my kan vereenselwig met hierdie vrou aan wie Christus gesê het: “Jou sondes is vergewe. Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

Beleef jy daardie dankbaarheid en vrede in jou lewe? Indien nie, hoekom kom jy nie ook na Jesus soos daardie vrou nie? Hou net vir Hom in die oog en laat geen mens of vrees jou terughou nie. Hy het waarlik gekom om sondaars te verlos en gebonde mense vry te maak. Hoekom nie ook vir jou nie?

en_ZAEnglish (South Africa)