WORTEL VOOR DIE NEUS
Soos ek groot geword het, was die skilpaaie maar altyd daar in ‘n toegespande kampie agter ons huis. Daar was ‘n groot wyfie skilpad wat selde ‘n gat gereed gemaak het om eiers te lê – reg daar in die harde grond van die skilpad kampie. Dit was vir my en my broertjie ‘n baie interessante gebeurtenis. Ons was kort-kort daar in die kampie om te kyk hoe diep die gat al is, want ons wou gaan tel hoeveel eiers sy daar in die grond sou wegbêre. Baie metodies het die skilpad wyfie te werk gegaan. Eers het sy die area natgemaak, dan met die een agterpoot grond begin wegskraap, dan die ander poot. Vir ure het sy daar gesit en grou in die grond. Die gat het al dieper en dieper geword, bietjie vir bietjie het sy die grond uitgelig, eers met die een poot, dan met die ander poot. Sy het nooit opgehou om eers om te draai, haar nek lank uitgerek om haar kop in die gat in te steek en te inspekteer hoe dit lyk nie. Sy het ook nie eenkeer eers opgehou om te gaan vreet of om water te drink nie. Uur na uur het sy geduldig daar op die een plek bly sit terwyl haar agterbene en pote die werk gedoen het. Uiteindelik het sy die diepte bereik tot waar haar pote kon bykom. Wanneer die gat mooi uitgehol en rond was, was sy tevrede. Sy het dan haar pote ingetrek en vir ‘n rukkie roerloos gesit. Ek en my broertjie was so opgewonde wanneer ons opmerk dat sy opgehou het om te grawe, want dan sou die proses van eiers lê begin. Ons het stil agter haar plat op ons mae gaan lê. Die eier het nie uitgekom en in die gat afgestort nie, nee, verstommend! Elke, spierwit, koeëlronde eier het te voorskyn gekom in ‘n slym omhulsel wat dan lank uitgerek het om die eier sag op die bodem van die gat te laat land. Nadat die wyfie ‘n klompie eiers gelê het, het sy eers weer haar agterbeen ver uitgerek en met haar poot die eiers egalig onder in die gat versprei. Hoe sy kon voel met ‘n poot wat so ‘n harde plooierige vel gehad het, en met daardie harde toonnaels, kon ek nooit verstaan nie.
Ek kan onthou hoedat ons eenkeer dertien eiers getel het voordat die wyfie skilpad weer die gat begin toemaak het. Dit het sy net so sistematies gedoen soos die grawe van die gat. Eers het die een agterpoot ‘n hopie grond in die gat gestoot, dan weer die ander poot totdat sy tevrede was dat die eiers goed bedek was en styf toe onder die grond. Ons het natuurlik opgewonde vir ons ma gaan vertel hoeveel eiers in daardie gat ingegaan het. My ma het ons vertel dat dit baie lank sou wees voordat die kleintjies sou uitbroei – omtrent so lank as wat dit van een Kersfees tot die volgende Kersfees sou wees. Vir ons was dit baie lank en het gou daarvan vergeet totdat my pa eendag so terloops vir ons vra: “Het julle al die klein skilpadjies gesien? “
‘n Klein bergskilpadjie is die mooiste dingetjie! My pa het ‘n ou yster velling van die perdekar se wiel in die kampie neergesit met al die klein skilpadjies binne in die ring. So kon hulle nie die wêreld vol loop en wegraak nie.
Die skilpad wyfie was die grootste van die bergskilpaaie in die kampie. Sy was ook ons ryperd. Soms wanneer ons die afval skille en verlepte groente as kos vir die skilpaaie moes neem, het ons eers ‘n rondte op haar rug gery. Ons was darem nog piepklein en lig. Dan het ons beurte gemaak. Die wyfie het hard geblaas en haar kop en pote onder haar dop ingetrek wanneer een van ons op haar rug gaan sit het. Dit was egter maklik om ons ryperd aan die loop te kry. ‘n Waatlemoen skil of ‘n ou wortel voor haar neus het gemaak dat sy gou haar kop weer uitgesteek het. ‘n Mens het dan gesorg dat die stuk skilpad lekkerte net altyd te ver voor haar neus gehang het om dit by te kom. So het sy dan heel ywerig agter die eetgoed aangestap met haar uitgerekte, skurwe nek en ons het heerlik gery. My ma se oë was altyd daar. Wanneer elkeen ‘n beurt gehad het om in die kampie reg rondom te ry, het sy teen die voorhuis se venster geklop om ons aandag te trek:
“Dit is genoeg, kinders.” Soos ons ouer geword het, het sy ons gestop:
“Julle is nou te swaar, julle sal die skilpad seermaak.”
Soos ek ouer geword het, het ek besef dat daardie wortel voor die neus ook een van die duiwel se taktieke is. Maar met hom is dit nie ‘n skilpad nie, maar mense! Lees gerus hoe hy Bíleam aan sy neus rondgelei het omdat die kamma-kastige profeet baie lief was vir rykdom en geld en roem. Daardie groot beloning wat die koning aangebied het, was ‘n wortel voor sy neus. Hy moes mense gaan vervloek wat deur die Here geseën was. Selfs toe sy donkie met hom in ‘n mens se stem gepraat het en hy die engel voor hom met die ontblote swaard gesien het, was hy nog nie van sy dwaling genees nie.
Hy het so skande gemaak om mense te verlei, dat hy dikwels in die Bybel genoem word as ‘n voorbeeld wat nie nagevolg moet word nie. Daar waar Moses die volk geleer het wie nie in die vergadering van die Here mag kom nie het hy ook Bíleam se dade aangehaal. Die nasies wat nie die Israeliete tegemoet wou kom op hulle uittog uit Egipte, was nie toegelaat nie en ook dié wat vir Bíleam gehuur het om die volk van God te vervloek. “Maar die Here jou God wou nie na Biieam luister nie; maar die Here jou God het die vloek in ‘n seën verander, omdat die Here jou God jou liefgehad het.”
In Josua word daar van hom melding gemaak waar in ‘n oorlog met omliggende volke die Israeliete ook vir Bileam, die waarsêer met die swaard gedood het. Dis interessant dat Moses se opvolger, Josua in sy heel laaste toespraak weer melding gemaak het van Bileam en dat God sy volk uit die hand van die man gered het.
Waar Petrus die gelowiges waarsku oor valse profete noem hy Bileam se waansinnigheid en dat die valse profete van hulle tyd die regte pad verlaat en verdwaal het, en die weg van Bileam, die seun van Beor, gevolg het; hy wat bereid was om die verkeerde te doen vir die beloning wat hy sou kry.
Judas draai ook geen doekies om nie waar hy gelowiges waarsku oor mense wat tussen hulle ingesluip het met slegte bedoelings: “Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bileam gestort en in die verset van Korag gekom.”
Die woorde van Jesus Christus wat Johannes daar op Patmos moes neerskryf vir die gemeente van Pergamus, gee vir ons die volledige prentjie.
“Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bileam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.”
Bileam het vir die vyand van Israel, Balak, in die oor gefluister, as hy die meisies en vrouens van sy volk leer om die Israelitiese mans te verlei om saam met hulle te slaap en by hulle feeste van die vleis te eet wat aan hulle afgode geoffer was, dan sal die mans hulle God se bevele oortree. Dan verloor hulle die seën van hul God in die hemel. Balak het die raad gevolg en dit het gewerk. Die wortel voor die neus het Bileam op paaie gelei wat hom geopenbaar het as ‘n tweegesig en ‘n valse profeet – ‘n waarsêer wat struikelblokke voor ander gelê het.
Ons ou ryperd, die bergskilpad, het na die ent se stap agter ‘n sappige waatlemoenskil reg voor haar neus dit tog gekry om dit met groot genot op te vreet. Die wortel wat die duiwel so voor ‘n mens se neus kom hou – wat bring dit vir ‘n mens in die sak? Ons het goed geweet waarvan die skilpaaie baie hou, net so sal die verlange na geld, roem en rykdom nooit die duiwel se aandag ontsnap nie. Wat hy dan voor die mens kom uitstal, lyk so aanneemlik, so verhaalbaar en uitvoerbaar, so ‘n uitkoms, maar dit eindig in skande, mislukking en die dood – net soos in die geval van Bileam.
‘n Mens moet jouself liewer verskuil in die opdrag van Jesus Christus:
“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak hier op die aarde, waar mot of roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is daar sal julle hart ook wees.”
En as ‘n mens se hart veilig is by die hemelse skat, sien jy nie eers wanneer die duiwel probeer om ‘n wortel hier reg voor jou neus te kom hou nie! Jou hart is dood vir die dinge van die wêreld wat jou kan wegtrek van jou hemelse skat.
(Verwysings uit die Bybel: Numeri hoofstukke 22 en 23; Deuteronomium 23:5; Josua 13: 22; Josua 24: 9-10; 2 Petrus 2: 15; Judas vers 11; Openbaring 2:14; Mattheus 6: 19 -21.)