WERP JOU BROOD OP DIE WATER

“Kan ek gou Tannie se sak huis toe neem?”

Hy was sekerlik op pad werk toe, maar hy het sy motorfiets langs my gestop en die swaar sak uit my hand gevat. Vir hom was dit geen moeite om gou om te draai en vinnig na my huis toe te ry nie. Ek het die vriendelike man agterna gekyk en onthou hoedat hy as ‘n klein seuntjie aan my deur kom klop het.

“Kan Tannie vir my nog verder vertel van Bennie en Japie, asseblief.”

Dit was twee karakters wat ek geskep het vir ons weeklikse Afrikaanse vervolgverhaal elke Vrydag. Hulle klompie van graad een tot graad sewe het dan hulle stoele in ‘n kring kom sit en weggeraak in die volgende episode.  Min het hy geweet dat ek nog nie die volgende episode uitgedink het nie, die storie het maar met elke aflewering sommer so spontaan ontplooi.
 
“Hoe dink jy lyk die Bennie van ons storie?”

“Tannie, ek hou baie van hom. Ek dink sy gesig was vol sproete en sy kuifie het so regop gestaan. Ek wens ek kan hom op ‘n video sien en sommer die storie tot by die einde op een slag klaar kyk!”
 
Tussen al my foto’s is daar een van hom en sy suster hoe hulle kleintyd gelyk het. Nou is hy al ‘n pa van groot kinders, beklee ‘n verantwoordelike pos en werk vir die Here.
 
Eendag wou ek my voet op die trappie sit, maar dit was nogal hoog, toe voel ek ‘n ondersteunende hand onder my elmboog. Toe ek opkyk is dit in die vriendelike gesig van een wat ook in my klas was. Sy het al ‘n merk gemaak in die lewe met haar besondere getrouheid en ywer in haar werk, bekend vir haar meelewendheid en teenwoordigheid daar waar ‘n behoefte is. Haar kinders is ook opgevoed om om te gee vir ander soos hulle ma en pa. Dit was so ‘n heerlike verrassing toe sy een aand na die gebruiklike oordenking by ons huis opdaag met al haar kinders en ook ander wat vanuit hulle huis skool gegaan het hier. Dit was my verjaardag en daar was genoeg koek en eetgoed om met hulle te deel. Toe hulle weer weg is, het daardie heerlike warmte wat hulle agtergelaat het, my hart bereik – daardie warmte van mense wat omgee.
 
Net gister het ek saam met iemand anders gery vir wie ek ook klas gegee het. Sy het  haar ma na die stad vergesel. Hulle het geweet dat ek na dieselfde plek moes gaan en het my saamgenooi. ‘n Heerlike rit met haar agter die stuur – so kalm en bedaard. Haar mensliewendheid en rustigheid het die hele dag geduur, dit het nie skielik opgeraak nie. Ook teenoor haar ma was sy so bedagsaam en behulpsaam. Ons twee het bietjie geskiedenis gesels daar waar ek voor langs haar gesit het. Dit het my teruggeneem na die dae toe sy en haar suster in die skool was, aangename herinneringe. Ek moet haar tog vra of daardie reus van ‘n seun in haar klas was of die jaar voor haar. Hy en sy maat het ‘n lied gemaak oor die groot voorspoed in Amerika en die koorsagtige koop gier en toe die diepe ellende wat die  mense getref het na die skielike ineenstorting van Wall Street, die geldmark. Dit was die gedeelte van die wêreld geskiedenis waarmee ons toe besig was. Hulle  twee het die lied vir ons in die klas kom sing en aangebied om dit vir ons ook te leer!

Nie so lank gelede het ek eendag uit die winkel gestap toe ek hoor dat iemand my roep. Ek het gestop en omgekyk. Sy het met ‘n groot glimlag nader gekom met haar kleindogter by haar. Hulle het net ‘n bietjie kom kuier. Sy was gevestig in haar beroep as verpleegsuster en het my geroep om iets in my hand te druk. Net om dankie te sê.
 
By die Kersmark verlede jaar het twee groot Zoeloe mans met breë glimlagte my voorgekeer: “Onthou mevrou ons nog?” Gelukkig het ek die een se van en die ander een se naam onthou. Een van hulle sal ek seker nooit vergeet nie. Hy was in graad nege toe ek vir hulle Afrikaans gegee  het. Omdat hulle Afrikaans moes verbeter, veral woordeskat en vaste uitdrukkings, die woordorde na ‘n voegwoord en baie meer, het ek begin met ‘n plan waar hulle hard moes werk deur die week en dan was daar sommer so ‘n kort klas toetsie elke Vrydag. Die een wat dan 80% of meer gekry het,  het ‘n  sjokolade gekry. Hulle het elkeen ‘n persoonlike plek gehad vir hul boeke en lêers. Nadat ek dan gedurende die naweek die toetse gemerk het, het ek die sjokolade onder die betrokke leerling se boeke ingeskuif. Aan die einde van die jaar het ek in die klas gevra: “Is daar enige een van julle wat weet van ‘n belofte wat ek gemaak het en dit nie nagekom het nie.” Sy hand het onmiddellik opgeskiet.

“Wat was dit?”
 
“Mevrou, ek het ook eenkeer 80% vir my toets gekry, maar Mevrou het nie vir my ‘n sjokolade gegee nie.”
 
“Ek is so dankbaar dat jy vir my sê. Dit is byna pouse. Kom, stap saam met my na die winkel en dan soek jy vir jou ‘n sjokolade uit. Dan kan ek my belofte nakom.”
 
Ek het gewonder of iemand anders dalk sy sjokolade gevat het, want dit het een aand gebeur toe ek ‘n vars vleistoebroodjie vir iemand net so voor studietyd onder sy boeke ingeskuif het. Hy het net teruggekom van sy ma se begrafnis en my hart het so na hom uitgegaan. Hy het nooit die toebroodjie gekry nie, iemand anders het hom voorgespring.

Ek en die een wat te nagekom was, het by die winkel opgedaag. Hy het met vrymoedigheid die grootste sjokolade op die rak gekies en ek het dit met vreugde betaal. Hy was eerlik en dit het vir my gehelp en ook vir homself dat daar nie ‘n seer herinnering in sy hart agtergebly het nie.

Hulle twee wat my daar by die Kersmark kom groet het, was matriekleerlinge in die geskiedenis klas ‘n jaar of twee nadat die land se politieke situasie van apartheid geskuif het na die nuut verkose bewind onder Nelson Mandela. Die leerplan daardie jaar het onder andere die ontwikkeling en groei van apartheid in Suid- Afrika ingesluit. Ek het dit as ‘n groot uitdaging beleef, want ek is ‘n Afrikaner en al my matriek leerlinge in die geskiedenis klas daardie jaar was Zoeloes. Net so voor hul eindeksamen het ek  ‘n ernstige gesprek met almal in die klas gehad: “Kinders, ek is baie bewus daarvan dat ek eendag voor die regterstoel van God sal moet staan om verantwoording te doen, ook oor hoe ek hierdie onderwerpe in ons leerplan hanteer het.  Nou wil ek vra of ek enige een van julle seergemaak of aanstoot gegee het in die manier waarop ek dinge aan julle oorgedra en gedeel het of oor leiers en gebeure gepraat het? Vertel vir my, dan kan ons dit uitsorteer voordat julle weggaan.”
 
Die seun wat eerste opgestaan het, was die een wat in graad nege nie sy sjokolade gekry het nie. “Mevrou, ons het dikwels onder mekaar gepraat en gewonder hoe u dit regkry om nie kant te kies nie. Ons het vir mekaar gevra hoe hierdie onderwerp van apartheid in ‘n Afrikaanssprekende skool behandel sou word, met ‘n Afrikaner as onderwyser of in ‘n Zoeloesprekende skool met ‘n Zoeloe onderwyser.”

Ek het geweet hoedat so iets moontlik was!  ‘n Paar keer daardie jaar wanneer ek in die namiddag nog in die klas was, het oom Erlo in die pad verbygestap. Ek het  die kans gegryp en uitgegaan om hom vir gebed vir my en die leerlinge te vra. Ek kan onthou van twee keer waar oom Erlo in die klaskamer ingekom, gaan sit en vir my aan die Here opgedra het. Net ‘n kort gebed: “Here, skenk u kind die wysheid van Salomo om die vak aan te bied tot U eer.”  Dit waaroor die leerlinge verwonderd was, was ‘n antwoord op daardie gebed.
 
‘n Ander oud-skolier het eendag geskakel toe ek haastig besig was om ‘n stuk naaldwerk betyds klaar te kry. “Mevrou, sal nie weet wie nou praat nie?” ‘n Naam het in my gedagtes gekom en ek het dit genoem. Hy het begin lag en gevra: “Kan Mevrou na al die jare nog my stem herken! Ek en so en so het nou besluit om vir u te bel. Ons werk op dieselfde plek en ons  kantore is reg langs mekaar. Ons onthou wat ons alles daar beleef het as skoolkinders, ook hoe Mevrou ons gehelp het.”

Al twee van hulle het reeds hul eie gesinne gehad. Ons het lank gesels en die heel tyd het ek ervaar dat daar iets was wat hy vir my wou vra. Ek het toe gevra: “Is daar iets waarvoor jy wou hê dat ons saam moet bid?” Sy antwoord was onmiddellik daar. Ja, ’n saak wat baie swaar op sy skouers gedruk het. Ons het saam oor die foon gebid en toe gegroet. Dit het my hart verbly dat hulle twee my nog onthou het –  selfs van die dinge wat in die lesure gebeur het.
 
‘n Baie klein stukkie brood het ek jare gelede op die water gewerp en dit kom nou op my oudag in oorvloedige maat na my toe terug met die wonderbare vermoë om die hart te verwarm!
afAfrikaans