VLUG VIR JOU LEWE!
Toe ek in standerd vier was, het ons ‘n leesstuk in ons Afrikaanse taalboek gehad wat ek tot vandag toe nog onthou. Die gebeure het êrens in die Ooste afgespeel. Dit het vertel van ‘n man wat een oggend baie vroeg uitgegaan het om in die rysvelde te werk. Hy het afgekyk op die dorpie ver onder op seevlak waar mense stadig besig was om wakker te word. Toe hy uitkyk oor die see het hy verstyf van skrik. Dit het gelyk asof ‘n reuse, donker berg van ‘n golf baie ver in die see oprys. ‘n Tsunami! Daar was nie tyd dat hy na die dorpie kon hardloop om mense te waarsku nie. Blitsvinnig het hy die rysvelde aan die brand gesteek. Onmiddellik was daar die gewenste reaksie. Iemand wat die rook gesien het, het alarm gemaak. Oud en jonk het hulle gehaas na die hoogtes om brand te slaan. Dit was hulle stapelvoedsel wat onder gevaar was. Hongersnood sou hulle voorland wees as hulle rysoes verwoes sou word.
Toe hulle bo by die velde kom en die man vind wat die brand gestig het, het hulle woedend op hom afgestorm. Net toe slaan die reuse golwe egter met ‘n dreunende slag op die strand neer. Soos een man het almal omgedraai, betyds om te sien hoedat die seewater die hele dorpie in ‘n oomblik verswelg het. Die brandende rysvelde het hulle lewens gered!
Lot was ook in so ‘n gevaarlike situasie. In die hemel het daar soveel klagtes oor die gruwelike en wilde lewe van die mense van Sodom en Gomorra gekom, dat God besluit het om hulle van die aarde af te verdelg. Twee engele, besoekers vanuit die hemel, het by Lot oornag. Ter wille van Abraham het God verlang om sy broerskind, Lot te red voordat die doodsvonnis oor die dorpe voltrek is. Lot was traag om te vlug, hy het so getalm dat die engel hom aan die hand gegryp het. Toe hy, sy vrou en twee dogters aan die hand van die twee engele uiteindelik buitekant Sodom was, het een van hulle vir Lot gesê: “Vlug vir jou lewe! En moenie omkyk nie!”
“Vlug vir jou lewe!”
Josef het gevlug van die grypende hande van ‘n wellustige vrou, want hy wou nie teen God sondig nie. Hy het liewer jare lank in die tronk gesit as om sy God te bedroef en skande op sy Naam te bring.
Dikwels voel ‘n mens lus om op ‘n dak te klim en uit te roep oor die gemeenskappe van Suid-Afrika:
“Vlug vir jou lewe! Vlug weg van die selfoon en die internet wat soos ‘n vloedgolf kom en derduisende verswelg! Maak oop jou oë en vlug vir jou lewe!
Daar is nie baie mense wat wil luister na so ‘n waarskuwing nie, want die meeste mense het vertroue in hulleself. Hulle sal kan onderskei tussen alles wat aangebied word. Hulle is traag om te vlug en talm om op te tree. Intussen word kinders, en sommer nog jong kinders, ingesluk deur die verslawende krag van pornografie. Net vanoggend het ‘n jong man wat terug is van ‘n uitreik na skole met groot erns vir my vertel dat hy dink pornografie veroorsaak selfs ‘n groter verslawing onder die skoolkinders as dwelms.
“Vlug vir jou lewe!”
In 1968 het ‘n jong man van die Peace Corps uit Amerika by die personeel van Robert Blake Hoërskool op Kongwe aangesluit. Sodoende kon hy militêre diensplig in sy land vryspring. Hy het in ‘n buitekamer by ons gebly en vir etenstye kom aansit. Ons eerste kind was net besig om te leer kruip en hy het eendag na haar gesit en kyk. Toe het hy met emosie in sy stem vir my en Daniël gesê: “Julle Suid-Afrikaners moet by God pleit dat televisie nooit julle land sal bereik nie. In Amerika prop die ma’s soggens hulle kinders in voor die televisie – kindertjies so groot soos hierdie klein mensie. Dit word hulle vermaak vir ure lank. Dan is daar verbasing dat ‘n paar vierjarige kinders van een buurt ‘n bendetjie gevorm het. Hulle het na bure se huise gegaan, vensters gebreek, ingeklim en verwoesting gesaai. In een huis het hulle die gestoffeerde gemakstoele en banke met ‘n mes oopgesny. Wat kan ‘n mens anders verwag as die televisie hulle onderwyser is.”
Televisie is met groot vreugde wel in 1976 in Suid-Afrika ontvang. Selfone het begin inkruip in ons land so van 1994 en baie gou versprei – ook persoonlike rekenaars. Omdat daar ‘n afplatting was aan die sensuur wat op ongewenste materiaal toegepas was, het meer en meer ongure goed te voorskyn gekom. Vandag is enige kanaal van enige land oop om ontgin te word en ons kinders en jongmense word dinge ingeprent wat geen regdenkende ouer ooit sy kind uit eie keuse sou aan blootgestel het nie.
Voorwaar ‘n tsunami, en wie neem stappe om dit te ontvlug? Wie sien kans om ‘n domfoon te gebruik, een van daardie fone waarop jy net hello en totsiens kan sê? Waar vind ‘n mens nog wyse ouers wat omgee vir hulle kinders se geestestoestand en bepalings in hulle huis neerlê dat geen selfoon of rekenaar snags in die kamers van hulle kinders mag oornag nie?
Een van my kleinkinders het my aandag gevestig op iets wat sy raakgeloop het in Meg Faure se Parent Sense:
“Children who watch a lot of TV are frequently viewing material that is of a violent nature…There is evidence that the more TV children watch , the more violent behaviour is exhibited.”
Nie net geweldadigheid nie, maar immoraliteit neem skrikwekkend toe, selfs onder klein kindertjies wat al reeds weet watter knoppies om te druk op hulle ma se selfoon en rekenaar. Kosbare en behoudende waardes in families en gemeenskappe het in die stof gebyt, die spot word nou daarmee gedryf – dis outyds en behoort in museums, nie in die hedendaagse lewe nie.
Ek is diep in my wese oortuig as ons families, ons gemeenskappe en ons kerke terugkeer na die gesonde hoogtes van Bybelstandaarde sal die vloedgolf van pornografie en media-besoedeling by duisende verbygaan. Die veilige hoogtes van suiwer waardes sal mense beskerm om nie meegesleur te word deur die tsunami nie. Daar is ‘n wegkruipplek vir ouer en kind, vir jongmense en bejaardes, ‘n veilige hoogte waar media-besoedeling geen verwelkoming sal kry nie – en die plek is in Jesus Christus, Hy wat gekom het om ons te verlos van die gees van die wêreld en van ons sonde.
Die Bybel sê: “Die Naam van die Here is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” (Spreuke 18:10)