VERSLUIER ONDER DIGTE MIS

Vroeg een oggend het iets gebeur wat ek al dikwels voorheen gesien het, maar die dag het dit ‘n reuse effek op my gehad. Soos gewoonlik het die son opgekom en die landskap wat ek deur my venster kon sien, helder verlig. Ek het deur my kamervenster na al die bekende boorde en werksaamhede op die plaas gesit en kyk en toe het ek my weer in die brief van Petrus verdiep waar ek gelees het oor die hoop op ‘n onverganklike, onverwelklike en onbesmette erfenis wat daar in Christus vir ons is en deur God vir ons bewaar word. Wat n verstommende hoop en verwagting! Watter pa op hierdie aarde kan vir sy kinders ‘n erfenis agterlaat wat nie onderworpe sal wees aan verganklikheid en besmetting nie! So iets kry ‘n mens net in die hemel en ook net in Christus.

Ek het gesit en wonder oor hoop – ‘n inherente bestanddeel van ‘n mens se geloofslewe. Hoop word saam met liefde en geloof genoem in Paulus se bekende woorde oor die uitnemendheid van die liefde van God. Ek het besef dat ek baie Skrifgedeeltes en teksverse oor geloof en liefde geken het, maar oor hoop was daar baie min waaraan ek my kon herinner, dit was eintlik onbekend.

Toe ek weer opkyk en my oë gaan na die bekendheid van die landskap daarbuite, kon ek niks sien nie. Alles was onder ‘n digte mis versluier. Die son het nog steeds helder geskyn, want daar was geen wolke hoog in die lug nie, maar van die laer terrasse onder my venster tot waar die horison strek, was daar net ‘n kleed van  digte mis. My gedagtes was besig met die vraag – waarom het die kennis van die hoop in Christus dan nooit regtig deel van my geword het nie? Dit is tog deel  van die fondament van ons Christelike geloof, hoe het dit dan gebeur dat dit was asof ‘n mis, soos die wat ek buite my venster sien, my kennis en begrip daaroor al die jare versluier het?

Skielik het woorde wat in my standerd nege geskiedenisboek geskryf was, by my opgekom:

“Die hoop beskaam nie, dit stel net teleur.”

 Dit was so dwarsoor die binneblad in groot letters geskryf deur iemand wat die boek voor my gebruik het. Ek het dit herken as woorde wat uit ons geskiedenisonderwyser se mond gekom het.  Hy het sulke dinge gepraat en dit ook geniet as sommige van ons met skok gereageer het.  Hierdie geskrewe woorde het egter nie weggewaai soos ander gesegdes wat die onderwyser gedurende ons lesse kwytgeraak het nie. Die hele jaar wat ek die boek gebruik het, het dit daar gestaan, want ek het nie die blad uitgeskeur of die woorde toegeplak nie. Daar was nog nie van die moderne dinge wat woorde in ink geskryf, kon uitwis nie. Ek het die gesegde willens en wetend dikwels gelees en selfs in gesprekke met ander herhaal. Hierdie onwaar, giftige woorde het so stil-stil in my innerlike wese weggesink, want ek het dit nie teëgestaan en my daarvan gedistansieer nie. Toe ek ‘n  gelowige word, was die woorde stewig ingeburger om ‘n onsigbare versperring op te rig.

Soos hierdie digte mis, het daardie leuen die wonderbare landskap van die hoop in Christus vir my versluier en bedek!  Mis het egter geen mag om ‘n landskap te verander nie!! Toe die mis buite my venster na so ‘n halfuur weer voor die son weggetrek en heeltemal verdwyn het, het niks verander nie. Elke boom het nog op presies dieselfde plek gestaan en alles was nog net soos altyd. Dit was net mis wat vir ‘n kort rukkie alles wat vir my oë bekend was, bedek het. Dit het my nie ontstel nie, want ek het mos geweet hoe die plaas lyk en waar die paaie loop. Ek het tog ook geweet dat die mis weer sal verdamp.

Die woorde wat my onderwyser so gruwelik verdraai het, is eintlik ‘n teksvers uit die Bybel: “…en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” ( Romeine 5:5)  Wat ‘n digte mis het sy verdraaide woorde nie in my innerlike veroorsaak nie. Tog kon sy woorde nie die ewige, onveranderbare landskap van die Woord van God verander nie.

Die roekelose onderwyser het toe op sy oudag tot bekering gekom. Ek het dit eers van ander gehoor en toe het ek hom in die ouderling bank sien sit eendag toe ek  daar gekuier en saam kerk toe gegaan het. Na al die jare het hy my nog herken, maar sekerlik nie meer onthou van al die ligsinnige dinge wat hy geuiter het nie. Ek het dit ook vergeet totdat ek wou weet waarom ek dan so geslote was teenoor die wonderbare beloftes van hoop wat oral in die Bybel voorkom.

 Die Woord van God het die ware landskap en bakens van hoop aan my uitgewys nadat sy lig die wortel siekte oopgevlek het en ek om vergifnis gevra het dat ek so ‘n siniese siening oor hoop ingelaat het. Hoop was nog altyd daar, onveranderbaar, onverganklik en onverwelklik.  Die mis wat my begrip verdonker het, het geen mag gehad om die geestelike landskap daarvan  te verander nie!

“Die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.”

Salomo het in sy spreuke van wysheid gesê: “…by die dood van ‘n goddelose gaan sy hoop tot niet.”
Dante, die Italiaanse digter van die 12de eeu, het dit ook besef en beweer dat daar op die deur van die hel geskrywe staan:  “Julle wat hier inkom, laat vaar alle hoop.”

Die hel is die enigste plek waar daar nie meer hoop op ‘n uitkoms is nie. Tot dan is die hoop in Christus altyd daar, want die hoop beskaam nie en dit stel nie teleur nie, dit word nie verydel nie, omdat God se beloftes bly staan tot in alle ewigheid en vervul word in die lewe van die een wat in Hom glo.

afAfrikaans