VER WEG IN DIE VREEMDE

Ons het ingetrek in ‘n woonstelletjie by Centre Missionnaire nie te ver van die grens van Switserland nie.  ‘n Franse vriend en sy vrou het ons gaan haal op die  lughawe van Geneve en daar afgelaai. Hulle kon Engels praat en so ook die Amerikaanse studente wat in die gebou gebly het. Verder was alles net Frans en my mond was vol tande, ek kon nie eers in die taal groet nie. Ons was waarlik in die vreemde!

Eers het ons maande lank gepraat oor my man wat Frankryk toe sou gaan om Frans te leer, want hy wou terug in Afrika om sendingwerk te gaan doen, spesifiek na die Franssprekende lande. Ek sou by die kinders bly. Hy het aansoek gedoen by die taalskool en toe hy aanvaar is, sy nodige visum gekry. Alles was gereël en die verkoopprys van ons huis kon voorsien vir sy reis, die nodige aankope vir warm klere en sy klasgelde daar. Toe skielik, minder as ‘n maand voor sy vertrek, het hy my kom sê dat ek moes saamgaan. Die kinders sou agterbly.

Ek was verslae, want dit het nooit eers by my opgekom om saam met hom te gaan nie.  Nie dat ek bang was om die kinders op die sending te los nie, inteendeel dit was ‘n groot voorreg dat hulle ingewillig het om ons kinders onder hulle sorg te neem. Hulle almal was sulke normale, opregte, onselfsugtige mense, mense wat hulself gegee het dat ander gehelp kon word. Eenkeer wou my man een van sy kollegas tegemoet kom sodat sy vir ses weke op ‘n oorsese reis kon gaan, en het aangebied dat haar kindertjies by ons kon bly. Haar man was ‘n alkoholis wat die lewe vir hulle baie moeilik en onaangenaam gemaak het. Die dogtertjie was nog nie vyf jaar oud nie en die seuntjie so nege maande. Terwyl hulle by ons gebly het, het my ma kom kuier en ons wou haar ‘n bietjie rondwys. So het ons vir drie nagte ook op die sending gaan oorslaap. Met verwondering het ek opgemerk dat die klein dogtertjie haar vrees heeltemal verloor het die oomblik toe ons daar uit die motor geklim het. Sy wou altyd aan my vasklou, maar daar het sy vry rondgehardloop. Wanneer sy die eteklok hoor lui  het sy alleen vooruit gehardloop om vir ons by ‘n tafel plek te kies. Haar pa het kom groet toe ons weer terug was en ek het gehoor hoe sy vir hom vertel: “Daddy, we were at a place where Jesus’ people live.”  Dit was ook ons gevoel en het daarom geweet dat ons kinders daar veilig en in goeie sorg was.

My vliegtuigkaartjie is gekoop, ek is ook aanvaar as ‘n student in die taalskool en daar was nog genoeg geld vir my klasgelde en verblyf. Ek het al my aandag toegespits op die regkry en merk van die kinders se klere, want dit was nodig vir hulle verblyf op die sending. Die innerlike stryd was hewig en saans het ek dikwels eers na middernag gaan bad. Daar alleen in die badkamer het ek dan die handdoek voor my gesig gedruk om my snikke te demp. Ek wou nie voor die kinders huil nie.

Wat die rede was dat ek net een tas kon saamneem, weet ek nie meer nie. Boeke moes ook agterbly, want dit het die bagasie te swaar gemaak. Ek onthou hoedat ek my Bybel geneem en diep vanuit my hart gebid het: “Here Jesus, dit is die enigste boek wat ek inpak. U Woord is my vriend. Ek sit die Bybel nou hier bo-op my klere en smeek U, wanneer ek daar in die vreemde oorval word deur smartlike verlange dat U dan asseblief deur u Woord met my sal praat en my vertroos.”

Die kinders was maar voortdurend in ‘n mens se gedagtes. Die gemis en verlange het die pad opdraend en steil gemaak. Soggens het ek baie vroeg opgestaan om krag vir die dag alleen met die Here te soek. Dikwels het ek dan ook na die koor geluister en na ‘n preek van die leier van die sending waar ons kinders gebly het. Ons stort was piepklein, maar daar het ek dan so onder die water saggies die lied van die koor herhaal: “One step more, my Saviour, one step more. Give me faith for one step more.”

Dit het nie baie weke geneem voordat ek daardie vertroosting baie diep benodig het nie. Ek was in die klas saam met almal wat nog niks van Frans geweet het nie. Elke nuwe tema was aangebied in ‘n strokiesprent met dialoog tussen die verskillende karakters wat in die prente uitgebeeld was. Ons moes afleidings maak van wat gepraat word tussen die karakters. Niks was in Engels verduidelik nie. Ons lektrise het net Frans gepraat! Dan het ons geskuif na die taallaboratorium waar elke student in sy eie hokkie plaasgeneem het. Die lektrise het voor in die klas gesit agter haar kontrole bank. Sy  kon inluister na enige student en ons ook individueel korrigeer. Wat ons dan in die klas met die strokiesprent gesien en gehoor het, was toe herhaal in ons ore. Ons kon die dialoog stop en terugspeel om weer te luister, want ons moes die woorde probeer uitspreek. Eers daarna het ons die geskrewe teks gesien. Die spesifieke dag was die strokiesprente oor ‘n dogtertjie op haar verjaardag. Deur my oorfone het die dogtertjie se stem voortdurend my hart gebombardeer met haar: “Mamma! Mamma!”

Ek was daar net Esther of Madame Bornman, nie Mamma nie, en hoe het ek die kosbare woord nie gemis nie! Dit het vir my te erg geword! Ek het gehoor dat my stem begin bewe wanneer ek die woorde moes herhaal, later kon ek my trane nie meer keer nie. Ek het opgestaan en na ons lektrise gestap waar sy gesit het met haar oorfone om na ons pogings te luister.
“Asseblief, mag ek verskoon word.”
Sy het net instemmend geknik, my toestand was duidelik sigbaar.

In ons woonstel het ek gaan kniel en bitterlik gehuil. Toe het ek het my Bybel oopgemaak: “Here Jesus, soos ek gevra het, kom ek nou na U vir hulp, want die smart is te groot, dit verwurg my. Asseblief help my.”

Die storie van Hanna wat haar seun Samuel aan die Here afgestaan het, ook haar lofsang, het my aangegryp en ek het ervaar hoedat die vertroosting van die Here my hart stilgemaak het. Saam met Hanna kon ek ook sê: “…en daar is geen Rots soos onse God nie.”  Heeltemal vertroos kon ek my gesig gaan was en weer by die ander in die klas aansluit.

afAfrikaans