UIT MY EIE LEWE - WONDERBARE HERSTELLING
Terug by ons huis het ek dadelik my man om vergifnis gevra vir al die seer en skande wat ek oor hom gebring het. Dit was vir my absoluut noodsaaklik om alles waarvan die Here my oortuig het vir hom te vertel. Hy het my diepe berou gesien en beleef en saam met my gehuil. Hy kon my vergewe!
Een vir een het ek ons drie kinders eenkant geneem en vir hulle om vergifnis gevra vir elke spesifieke ding waarvan die Here my oortuig het, waar ek voor hulle verkeerd opgetree het. Ook daarna, wanneer ek bewus geword het dat ek seergemaak het met woorde of ‘n verkeerde reaksie, het ek dit dadelik reggemaak.
Dit was ‘n groot verligting om tuis te wees sonder die geweldige las wat my so agtervolg het. Toe ek die volgende oggend my klerekas oopmaak om iets uit te haal, het ek skielik tot stilstand geruk. Hierdie klere het ek mos gekoop met die geld wat ek gekry het toe ek in so ‘n duisternis en opstand teenoor my man geleef het. Dit behoort aan my ou lewe en ek wil dit nooit weer aantrek nie! Nooit weer nie! Met groot ywer het ek alles wat ek aangeskaf het met daardie geld uit my kas gehaal en dit op die vloer gegooi. Ek het baie duidelik geweet dat ek dit ook nie kan weggee nie. My man het later die dag na my geluister, opgestaan en my kas oopgemaak. Wat daar gehang het, was ‘n pragtige swart romp en ‘n baie mooi trui wat hy vir my as ‘n verjaardaggeskenk gekoop het, ‘n donkerblou romp en ‘n wit bloes met rooi kolle. Dit was die somtotaal van alles wat agtergebly het, behalwe dit wat ek aangehad het en klere wat ook nog in die wasgoedmandjie was, my huisdra klere. Sy oë het afgedaal na die vloer van die kas, van al die skoene en stewels het net ‘n paar plat lapskoene oorgebly. Hy het nogal lank so voor die leë kas bly staan voordat hy weer die deur toegemaak het.
“Daar is regtig geen geld wat ek vir jou kan gee om weer klere te koop nie. Die opknapwerk aan die huis was meer as wat ek verwag het.”
“Ek het klere om te dra, my man. Dis geen probleem nie.”
“En wat het jy gedink om te doen met die klere en skoene wat jy uitgehaal het?”
“Dit moet verbrand word asseblief. Kan jy my daarmee help? Ek het dit alles hier in die groot laai onder ons bed ingedruk en daar kan dit bly totdat ons dit in ‘n vuur kan gooi.”
“Vrou, ek het nog nooit in my lewe van so iets gehoor nie!”
“Ek ook nie, my man. Ek weet net ek sal dit nie weer dra nie en ek kan ook nie my sonde aangee vir iemand anders nie! In die huis kan dit tog ook nie net bly lê nie en om dit in die vuilgoeddrom te gooi, sal ook nie werk nie. So, asseblief, kom ons verbrand dit.”
‘n Hele paar weke het verbygegaan voordat die vuur gemaak was. My ma het ook by ons gekuier daardie tyd en ek het heeltemal reggekom met my min klere. Ek dink nie dat iemand dit eintlik agtergekom het nie.
Een aand toe ons kinders al vas aan die slaap was, het my man met ‘n pik en graaf buite in ons tuin, so bietjie weggesteek uit die oog van die bure, ‘n gat gaan grawe. Daarna het hy genoeg hout aangedra en ‘n vuur binne-in die oop gat aangepak. Met groot dankbaarheid het ek die klere en skoene uitgedra en gehelp om dit in die vuur te gooi. Ek het gestaan en kyk hoe die nare tekens en herinneringe van my ontsporing tot as verbrand word en die Here gedank vir sy genade en nuutmakende krag. Later het ek gehelp om weer die gat toe te gooi. Ons het gaan slaap en niemand kon sien dat ons iets in ons tuin verbrand het nie. Dit was maklik meer as ‘n jaar later dat ek gehoor het dat daar ‘n vuurdiens gehou word op die sending waar ek hulp ontvang het. Hoe groot was my vreugde en verwondering dat ander Christene ook die verlange gehad het om goed te verbrand wat aan die ou lewe van sonde behoort het.
Toe het my man nog iets groots vir my gedoen. Hy het saam met my teruggery na die plek waar ek so baie mense se lewens deur daardie kamma-kastige bediening van innerlike genesing aangeraak het. Geduldig is hy saam met my na elke persoon vir wie ek om vergifnis wou gaan vra. Met dit agter die rug, het ek vasbeslote om die Here te dien met alles wat in my was, aangegaan met my lewe.
Ons was beide lidmate van die NG Kerk. Omdat ons reg langs die kerk gewoon en gehoor het dat daar nie ‘n koster was nie, het ons aangebied om Saterdae die kerkgebou skoon te maak. Dit was ‘n reuse werk en die kinders het ook gehelp. Eendag het ek net al die koperknoppe van die deure skoongemaak toe vriende vir ons kom kuier het. Hulle het ons by die kerkgebou gesien en sommer kom help. Die vrou het die skoonmaakgoed en ‘n lap gevat en na my geroep: “Ek sien die koper deurknoppe moet nog skoongemaak word. Ek doen dit gou vir jou.” Gelukkig het ek niks gesê nie, want toe sy klaar was, het dit geblink soos ek dit nog nie voorheen gesien het nie. Daar het ek besef dat skoon en blink trappe van vergelyking het! Wat vir my skoon was, was vir haar nog ver van die regte soort blink wat uit die koper moes skyn.
In die middel van die week was daar ‘n biduur vir die lidmate en daar is so ‘n aand wat ek nog baie goed kan onthou. Kinders was nie ingesluit in die bidure nie dus het ons kinders tuis gebly. Dit was ‘n somersaand en ons huis se vensters het oopgestaan en so ook die kerkvensters. Ons huis se kombuisvenster was aan die kerkkant. Terwyl ons dominee besig was om te praat, het geluide vanuit ons kombuis by die kerkvenster ingesypel. Ons kinders was duidelik besig om al singende iets in die kombuis te doen, want die klanke van Old MacDonald had a farm het ons ore bereik. Die oink-oink van die varke, die geblêr van die skape en die gerunnik van die perd op ou Macdonald se plaas het ons biduur prosedures begelei. My man het opgespring en maar liewers die vensters gaan toemaak. Dit het darem die klank vanuit ons kombuis gedemp.
Sondagoggende het spesiaal geword. Die kinders het by my man op die dubbelbed gaan lê en met groot genoegdoening geluister na sy voorlesing uit ‘n boek van sy keuse. Almal in ons huis was kranige lesers, maar dit was ‘n hoogtepunt. Terwyl hulle verdiep was in die storie, het ek ontbyt gemaak wat ek dan op die trollie kamer toe gestoot het. Daar het ons almal eers gesellig saam geëet voordat ons gaan regmaak het vir die diens.
Soms het dit gebeur dat die kinders gevra het of ons almal in dieselfde vertrek kon slaap. Dan het hulle matrasse in die sitkamer ingedra en vlytig die beddegoed oorgegooi. Wanneer die lig afgeskakel was, was daar ‘n sekere prosedure wat gevolg moes word. Elkeen moes ‘n storie vertel, maar Mamma moes tot heel laaste wag vir haar beurt. Die kleinste het begin, ‘n kort storietjie in ‘n hoë stemmetjie. “Fluit-fluit my storie is uit.” Dan die broer en daarna die ousus. Nie een van hulle het lank gepraat nie. Hulle pa het saamgespeel en ook nie sy storie te veel uitgerek nie. Toe het almal reggeskuif vir ‘n lang storie. Ek was nie toegelaat om ‘n kort storietjie te vertel nie, dit moes sommer lank en vol wees. Nie dat ek omgegee het nie! Ek en my man het geweet dat die matrasse op die vloer juis was vir die lekkerte van stories in ‘n mens se ore totdat jy aan die slaap val. Ek dink dit is waar die baie vervolgverhale ontstaan het wat ek later in die skool vir my klasse vertel het. Daar was die storie van Pete wat by sy oupa grootgeword het in Malawi; die storie van Bennie wat gebore was sonder een voet, en hoe sy ma vir hom vertel het dat dit so gebeur het omdat hy spesiaal deur die Here uitgesoek was. Die storie van Ousus met al die wedervaringe van haar familie in ‘n ander land in Afrika. Gertjie, ook ‘n knaap met ‘n groot probleem. Hy het iets wat hy gedoen het vir sy ouers weggesteek en in nog groter probleme beland.
Miskien vind ek nog tyd om al hierdie stories neer te skryf. Dit leef waarlik nog in my geheue.