UIT MY EIE LEWE - DIE DUIWEL HET SY HOU INGEKRY

Na ‘n diens in die kerk wat my geraak het, het ek gebid en die Here gevra waar ek inpas in sy koninkryk, wat dit was wat Hy bedoel het vir my lewe hier op aarde. Na die gebed het ek toe een nag ‘n droom gehad, so helder en duidelik. In die droom het ek in ‘n kamer ingestap en oral het stukkende kruike rondgelê. Met ‘n diep deernis en besorgdheid het ek van die stukke opgetel en in my hande het die stukke bymekaar gekom en weer ‘n heelgemaakte kruik geword – sonder ‘n enkele kraak of barsie.
Tot my spyt het ek die droom aan iemand vertel wat ons kom opsoek het omdat sy ook eens op ‘n tyd in Malawi besoek by die sendingstasie afgelê het en ‘n hart vir die sending gehad het. Haar uitleg van die droom het my verbeelding aangegryp. As ek daardie tyd maar kon weet watter wolfding my verbeelding in my lewe was, sou ek sekerlik kon ontsnap het. Die vrou was oortuig dat die Here vir my die bediening van innerlike genesing gegee het. Ek het nooit voorheen van innerlike genesing as ‘n bediening gehoor nie en dit het my belangstelling geprikkel. Op haar aanbeveling het ek vir ‘n predikantsvrou in ‘n ander provinsie geskryf en vir haar van die droom vertel. Sy het ook dieselfde uitleg gehad, dit was volgens haar ‘n duidelike roepstem van die Here na die bediening van innerlike genesing. Syself was daarmee besig en het wonderlike dinge beleef. Sy het ook twee boeke, wat geskryf was deur Amerikaanse vroue, voorgestel en my aangemoedig om dit te lees. Met ‘n onderdrukte opgewondenheid het ek die twee boeke dadelik in die hande gekry.
Met die lees daarvan het ‘n nuwe wêreld vir my oopgegaan, die wêreld van die verwonde mens en hoe so ‘n arme siel gehelp kon word. Soos ‘n wafferse dwaas het ek nie na die predikant van ons gemeente gegaan om raad te vra en eers die saak oop te stel vir ondersoek nie. Met die droom en uitleg daarvan en die treffende beskrywings van die wat reeds in so ‘n bediening was, het ek het sommer pens en pootjies ingeklim. My gedagtes was in hoogste rat en in my verbeelding was ek al bekend as die vrou wat ander kon help. Ek het oral begin vertel van hierdie wonderlike boodskap dat die mens van sy wonde genees kan word. Mense het innerlike wonde en letsels opgedoen deur die liefdelose optrede van ander rondom hulle en Jesus maak daardie wonde heel. Deur Sy wonde het daar mos ook genesing vir ons wonde gekom. Die Bybel sê so. Dit het so goed en reg geklink. Christus het gekom om ons van ons sonde te verlos en dat innerlike genesing kom saam met die vergifnis van daardie sonde wat ons bely, het êrens in my gedagtes weggeraak. Die mens met sy wonde was toe op die voorgrond.
Die fokuspunt vir my eie lewe het ook verskuif. Dit was nie meer ‘n soeke na ‘n dieper lewe en ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus nie, maar ‘n soeke om sogenaamde verwondes te help. In my entoesiasme het ek aanhalings uit die Woord van God en uit Sy beloftes ingeweef in my gepratery. Dit het selfs my man meegesleur. Hy het ook wonde gehad en vir my daarvan begin vertel. Uit meegevoel vir hom het ek gehuil en so gewens dat ek die seer van hom kon wegslinger. In die ontboeseming het hy goed oopgemaak wat ek as sy vrou nooit moes gehoor het nie, want juis dit wat ek uit sy eie mond gehoor het, het ‘n bietjie later ernstige probleme vir my veroorsaak. Ek was egter so ingenome met myself en my sogenaamde bediening dat al die gevaartekens onopgemerk by my verbygegaan het.
Met die verskuiwing van my fokuspunt, het ek in my onbesonnenheid nie rekening gehou met die duiwel nie. Die duiwel wat rondloop op soek na ‘n mens wat hy kan verslind, het my gevind. Toe ek nog ‘n kind was, het hy reeds ‘n werkswinkel in my verbeelding opgerig, maar met die innerlike genesing storie het hy toe sommer sy intrek in die werkswinkel geneem. In my gedagtes het ek begin bewus word van ‘n stem wat vir my dinge influister. Vrouens wat ontslae wou raak van hulle geestelike verwonding en letsels het my kom opsoek en die stem het my gelei in wat ek moes sê en watter gedeeltes ek uit die Bybel moes lees. In ons sessies van “innerlike genesing” het ek dikwels vrae gevra en voorbeelde gebruik wat presies in hulle ondervindinge ingepas het.
Die stem het vir my ‘n taal gegee waarin ek kon bid. Daar was een spesifieke meisie wat soveel trauma en opstand in haar lewe gehad het dat sy soms op ‘n punt gekom het waar sy botweg geweier het om verder te praat. Dan het ek hardop in die taal gebid en elke keer het sy begin huil en verder haar innerlike belewenisse oopgemaak. Al hierdie ondervindinge het gemaak dat ek geglo het dat dit die Here was wat met my gepraat en my gelei het. Ek was op ‘n galop en dit was so heerlik om uitgenooi te word om my kennis te kom deel.
Soos altyd het ek die huiswerk gedoen en gesorg dat alles verloop soos gewoonlik, maar my gedagtes was by my “bediening.” Die stem was teen die tyd al ‘n ou bekende en ek moes myself gedurig oortuig dat dit tog die stem van die Here was, want twyfel en onrus was maar altyd daar in die agtergrond. Die stem het my begin terugneem na die ontboeseming van my man en vir my vrae begin vra: “Hoe kan jy so rustig saam met hom leef as hy sulke dinge kon doen? Onthou jy wat gebeur het daardie tyd toe jy dit nodig gevind het om ver ente te gaan stap? Onthou jy die pyn en verwarring in jou binneste? Dit was intense vrae wat my laat terugdink het en twee en twee bymekaar gesit het. Stadig maar seker het verwyte en bitterheid in my hart begin groei. My man het in my verbeelding en gedagtes vir my soos ‘n vyand begin word, iemand wat my diep verwond het deur wat hy gedoen het. Ons het nooit ‘n woordewisseling gehad nie, of hardop voor die kinders met mekaar verskil nie, maar daar het ‘n verwydering tussen ons begin groei en ‘n stilte. Ons het niks meer gehad om met mekaar te deel nie en ek het begin verkies om liewers by die huis te bly as om saam met hom en die kinders uit te gaan.
Toe het ‘n vriend van my man skielik soggens by ons huis begin opdaag wanneer my man by die werk was. Eers het ek gemaak of ek nie gehoor het dat hy geklop het nie, want dit was iets vreemds en ek was ongemaklik. Die stem het my vertel dat ek niks het om te vrees nie, die Here het hom gestuur. Tog het ek met my man daaroor gepraat en gevra of hy nie sy vriend kon reghelp nie. Hy het nie gedink dat dit nodig was nie en ek het die deur oopgemaak. Sy gereelde besoeke het aanneemlik begin word en die ongemak in my het verdwyn. My ongemak en twyfel oor die stem wat met my praat het ook verdwyn. Toe het die stem my begin inlig dat ek met die verkeerde man getrou het, hierdie een was eintlik vir my bedoel. Ek het met ander oë na die vriend van my man begin kyk. Die man het geglo dat hy die bediening het om duiwels uit te dryf en ek die bediening van innerlike genesing! Dus het ons saam begin werk, ek steeds onder die indruk dat ek deur die Here gelei word. Ek het selfs begin help om sy besigheid vir hom op te bou. Die misleiding het net van erg na erger gegaan. Met die geld wat ek daardeur verdien het, het ek vir my boetiekklere begin koop. Ook duur egte leerskoene en stewels. Vir die eerste keer in my lewe het ek my hare laat krul en ook vir my ‘n langbroek gekoop. Mense het my uitgenooi vir praatjies oor innerlike genesing. My “bediening” het gegroei terwyl ek al hoe meer weggedryf het in ‘n lewe van donkerte en grusame misleiding.
Soggens het ek baie vroeg wakker geword en gaan bid want daar was soveel onrus en rusteloosheid in my. Ook vrees, want ek het dinge gesien en gehoor wat nog nooit voorheen in my ondervindingveld voorgekom het nie; van demone en hoe hulle in mense manifesteer.
Een oggend baie vroeg toe ek die studeerkamerlig aanskakel, het ‘n groot brulpadda reg in die middel van die vloer gesit. Stories wat ek gehoor het, het deur my geflits en ek het gedink dat dit ‘n demoon was wat homself in die gedaante van ‘n padda vermom het. Ek het my vinger op die padda gerig en gesê: “In die Naam van Jesus Christus, gaan weg!” Die padda het nie geroer nie! Ek moes later maar ‘n besem gaan haal en dit by die voordeur uitvee! So het ‘n vreemde kat ook een vroeg-oggend teen my vasgehardloop in sy haas om weer by die oop venster uit te glip waardeur dit ingekom het. Ek het besef dat dit ‘n kat was, maar het in vrees uitgeroep: “Wie is jy!”
Daardie tyd het ek dit nie geweet nie, maar ek was op die randjie van ineenstorting en dit was vir my ‘n baie groot verligting toe my man my eendag inlig dat hy ‘n onderwyspos in ‘n ander provinsie aanvaar het. Hy het my voor ‘n keuse gestel. Ek kon saamgaan of bly. Nie vir een enkele oomblik het ek daaraan gedink om te bly nie, want daar was ‘n opregte dankbaarheid in my hart dat ek sou kon ontsnap uit die situasie waarin ek myself bevind het. Ek kon die tyd van my ontsporing agterlaat en weer nuut begin.

afAfrikaans