TOTSIENS FRANKRYK!

Die tyd vir ons finale eksamen by die Taalskool het aangebreek en daarna was die plan om na Switserland te gaan vir ‘n drie maande kursus in kinderevangelisasie. Ek het egter al hoe sterker begin voel dat ek na die kinders in Suid-Afrika moes terugkeer. Maar hoe? Ons het die vorige jaar net eenrigting vlugkaartjies gekoop en daar was net mooi niks om vir my terugvlug te betaal nie. Eers het ek tjoepstil gebly, maar later was die geklop in my hart: “Jy moet huistoe gaan. Jy moet huistoe gaan”, darem so intens dat ek een oggend tog my mond oopgemaak het:

“Asseblief, my man, kan jy saam met my bid, ek dink die verlange na die kinders maak my bietjie snaaks in die kop! Ek voel baie sterk dat ek moet teruggaan huistoe en nie saam met jou na Switserland toe nie.”

Hy het net vir my gekyk, sy oë gesluit en gebid dat die Here ons sal lei om Sy wil te doen. Die kinders se skoolvakansie sou ook aanbreek en aangesien my broer aangebied het om hulle te gaan haal vir ‘n vakansie in die Laeveld, moes ek hom laat weet of ons sy aanbod aanneem. Dit was waarom ek my toe een middag afgesonder het om alleen voor die Here te wees. Daar op my knieë het ek my hart uitgestort. Toe ek opstaan, was ek heeltemal bereid om saam te gaan na Switserland en dankbaar dat die kinders by my broer kon gaan kuier as die Here dit so wou hê. Wat die Here beplan het, was vir my baie belangriker as my eie planne en verlangens. Al het ek nie geweet wat Sy plan was nie, was daar rus en vrede in my hart.

Ek het skaars van my knieë af opgestaan, toe iemand aan ons woonsteldeur klop. Dit was ons vriendin, Rachel. Sy het ingekom en ons vertel dat sy ‘n probleem het waaroor sy dringend met ons moes praat. Omdat die saak vir haar so moeilik was, het sy gevra of sy eers die verpligte Frans-praat ‘n bietjie kon los. Dit was makliker om in Engels te verduidelik.

“Vanoggend om vyfuur het ek ‘n oproep van my pa gekry. Ek was so verleë toe ek hoor wat hy my gevra het om te doen, want ek het gewonder of ons nie vir julle aanstoot gaan gee as ons sommer so in julle lewe inbars nie. Maar my pa het my laat belowe dat ek die boodskap aan julle sal oordra. So hier is ek.”

Sy het stilgebly en net vir ons gesit en kyk. Een van ons het gevra: “Watter boodskap, Rachel?”

“My pa sê dat hy ‘n diep oortuiging het dat die Here van hom vra om vir jou, Esther, ‘n kaartjie te koop dat jy kan terugvlieg na julle kinders in Suid-Afrika.”

In stomme verbasing het ek na haar gesit en luister. Toe sy my trane sien, het sy ook begin huil. “Ek het vir my pa gesê dat ek so benoud is dat julle ontsteld gaan wees en ek was reg. Kyk, jy huil!”

My verwondering het verdiep toe my man antwoord: “Nee, Rachel, jy ontstel ons nie, jy bring vir ons ‘n antwoord op gebed. Net verlede week het Esther vir my gesê dat sy voel sy moet liewers na ons kinders toe teruggaan. Ek het reeds vir haar ‘n vlug bespreek vir die dag nadat die Taalskool gesluit het. Die lugredery het ingestem om die plek vir haar oop te hou totdat ek die nodige fondse kon kry om te betaal. “

Ons drie het eers saam gebid om die Here te dank vir sy wonderbare voorsiening, toe is Rachel weg met die adres van die reisagentskap in haar hand. Haar pa sou sommer die geld direk vanuit Amerika na hulle stuur.

Dit was asof my voete vlerke gekry het! Niemand behalwe my man het geweet van my verlange om huistoe te gaan nie, maar die Here het geweet en het een van Sy kinders in Amerika gevra om my te help. Dat die Here my raakgesien het in my diepste verlange was ‘n kosbare kleinnood wat ek in my hart weggebêre het.

Daar was nog meer as ‘n week vir die geld om die kantoor in Genève te bereik. Rachel het bevestig dat haar pa dit sommer dadelik gestuur het. Ons het eksamen geskryf, ek het gepak, maar wanneer my man geskakel het, was die antwoord altyd dieselfde – die geld was nog nie oorbetaal nie. Daar was egter so ‘n vrede in my dat ander studente my daarna uitgevra het:

“Wat gaan jy nou doen as jy nie kan vlieg nie?”
“Dan gaan ek saam met my man na Switserland.”
“Maar hoe kan jy so kalm daaroor wees? Dit lyk asof dit jou nie eers pla nie!”
“Die Here weet wat Hy beplan, waarom moet ek bekommerd wees?”

Die dag van die sluiting het aangebreek. Voordat die seremonie, waar ons ons sertifikate sou ontvang, begin het, het die sekretaresse vir my man kom sê dat daar ‘n oproep van die reisagentskap was. Hulle pos solank die vlugkaartjie sodat dit by ons kon wees wanneer ek die volgende dag moes vlieg. Hulle vra egter dat ons dit nie moes gebruik as die geld nie inbetaal was nie! Wat ‘n buitengewone vertroue! Ons was baie dankbaar en het rustig gewag dat die Here Sy plan sou uitvoer. Almal wat van ons storie geweet het, het ons meer as gewoonlik dopgehou en wou elke nou en dan weet of ek gaan vlieg of nie. My man het so vyf minute voor vier die middag weer geskakel, net voordat hulle kantoor sou sluit. Ek het sy gesig dopgehou. Hy het breed geglimlag, want die dame het gesê: “Meneer, jou vrou kan more vlieg, die geld is hier.”

Ek het nie besef hoe die ander asem opgehou het nie, maar baie het hulle vreugde en verligting met ons kom deel. Een van my man se vriende het hom vertel dat ons, deur ons rustige vertroue in die Here en Sy tydsberekening, vir hulle gepreek het. Die vriend was nog ongetroud en min of meer dieselfde ouderdom as ons. Hy het ons aangemoedig om by die beginsels wat hy in ons lewe opgemerk het, te bly en voort te gaan om ons kinders daarin op te voed. Ons was eintlik geraak oor al die dinge wat hy opgemerk en waardeer het – selfs die manier hoe ek aangetrek het!

My man het my toe die volgende oggend betyds by die lughawe gaan aflaai. Hy moes alleen agterbly, maar het tog met vreugde totsiens gesê, bly vir my onthalwe dat ek weer by die kinders kon aansluit.

afAfrikaans