‘n Paar jaar nadat ons terug was vanuit die sendingveld, was my pa daar in die hospitaal van ons dorp besig om te herstel nadat sy been afgesit was. Sy dokter het my in die nag gebel: “Kom tog dadelik hospitaal toe, jou pa is al in die teater, ons moet dringend opereer, daar is gangreen in die ingewande.”
Vir my het dit soos ure gevoel voordat die dokter by die operasiesaal uitgekom het en vir my gesê het: “Bly vannag by hom.”
My pa is uitgestoot in ‘n enkelkamertjie en daar het ek by hom gesit. Skielik het ek gehoor dat sy asemhaling verander en ek het besef dat Pappa besig was om te sterf. Ek het nie eers vir ‘n oomblik daaraan gedink om die klokkie vir die verpleegster nie te lui nie, maar het by sy bed gestaan en vanuit die diepte van my wese die Here aangeroep: “Here, my pa is nie gereed om te sterf nie! Sy siel sal verlore gaan. Asseblief gee hom nog ‘n kans. Asseblief red hom.”
Hoe lank ek so gestaan en smeek het, weet ek nie. My pa het skielik vir my gesê: “Esther, sit aan die lig dat ek jou kan sien.” Toe die helder kamerlig aangaan, het hy na my gekyk en gesê: “Ek het ‘n droom gehad. In die maanlig het ek met my hond en muil verby die kraal gestap. Die maanlig was so helder dat ek kon sien hoe rustig die koeie gelê en herkou het. Ek het verder teen die bult op na die begraafplaas gestap. Daar het ek voor die ysterhek gestaan en geweet dat ek moes ingaan, maar dit was pikdonker daarbinne. Ek het uitgeroep: “O, Here maak vir my lig!” Toe het ‘n stem vir my gesê: “Ben, gaan terug dan maak jy jou lewe reg.”
Van daardie oomblik was dit asof my pa heeltemal van my vergeet het, en ook van die dagpersoneel wat later ingekom het om hom te was. Hy het hardop al die bitterheid wat hy weggebêre het begin uitpraat. Die middag toe ek teruggaan, het hy nog altyd gepraat. Ek het ‘n predikant geskakel om vir hom te kom bid. Die aand met besoektyd, het hy nog steeds gepraat. Sy stem was al so hees en so moeg dat ‘n mens nie een woord meer helder kon uitmaak nie. Die verpleegsters het vertel dat hulle glad nie sy aandag kon aftrek nie, hy het net gepraat. Ek het op die hoë hospitaal bed langs hom gaan sit, my arm styf om sy skouers gevou en gesê: “Pappa, miskien het Pappa nie mooi verstaan nie. Die Bybel sê ‘n mens moet jou eie sonde bely, nie die sonde van ander mense nie.”
Maar dit was eintlik ek wat nie mooi verstaan het nie! Eers ‘n paar jaar later toe ek vir die eerste keer hier, in die herlewing op die sending, my eie lewe in die lig van die Here gesien het, het ek verstaan wat met my pa gebeur het. Die wal van daardie lank opgedamde bitterheid het gebreek en al die bitter herinneringe het uitgeloop. Hy was besig om sy hart voor die Here skoon te maak van al die jare se wrokke en seer en bitterheid wat hy opgestoor het.
My pa het in so ‘n mate herstel dat hy weer plaas toe kon gaan. Mamma het later vertel dat dit heel anders saam met hom was. Hy het sag geword en ook vir haar om vergifnis gevra.
Dit het gebeur dat ek weer maande later in die hospitaal by my pa se bed gesit het. Die keer was hy in ‘n koma, werklik sterwende. Sy asemhaling was al roggelend. Tog het hy nog op my stem gereageer, toe ek hom groet en sê: “Pappa, ek is hier.” Hy het met sy een hand na my hand gesoek en dit toe styf in syne vasgehou. So het ek vir ‘n paar uur doodstil daar langs hom gesit. My hand in syne toegevou. Ek was bewus dat ‘n vrede by ons in die hospitaalkamer geheers het.
Daar by my pa se bed, het ek weer aan al die gebeure gesit en dink oor die dag wat my pa op die plaaswerf inmekaar gesak het en my jongste broer hom man alleen terug huis toe gedra het. Verstommend, want my pa was groot en swaar.
Die spesialis het bevind dat daar gangrene was in die been wat altyd ‘n oop wond gehad het. Dit moes afgesit word. Hy is oorgeplaas na die groot hospitaal op die dorp waar ons gewoon het. My pa wou nie teken dat hulle die operasie kon uitvoer nie. Die pyn het egter so erg geword dat hy toe tog ingestem het. En dit was die aand voor die operasie dat ek toestemming gevra het om by hom te bly. Hy het in ‘n groot saal geslaap waar daar ook ander pasiënte was. Ek het die gordyne om die bed toegetrek en bo-op my pa se bed gaan sit met my Bybel in die hand.
Om ‘n been te verloor was vir hom die einde van sy onafhanklike lewe. Hy was al naby tagtig, maar het nog elke dag die plaas platgeloop. Hy, die alleenloper, sou toe versorg moes word en ander sou vir hom die loopwerk moes doen. My hart het na hom uitgegaan.
Hy was nog steeds ‘n groot man, maar die ouderdom was daar. Hy het nie geskeer nie en die grys baardstoppels was oral oor sy gesig. Van sy bos swart hare het ook maar min oorgebly. Agter sy bril kon ek sy oë sien. Hy het jare lank met vretende pyn geleef, maar daardie nag het die lyding in sy oë gewys.
Ek wou so graag help, maar ek het nie eers geweet hoe om ‘n gesprek aan te knoop nie. Met my pa het ek nooit oor hartsake gesels nie, maar hy het bemoediging en vertroosting nodig gehad.
“Is Pappa bang vir die operasie more?”
Hy het nie geantwoord nie. Ek het gewonder of ek nou ‘n dom vraag gevra het. Ek het vrees geken, kon dit selfs soms in my mond proe, maar hierdie sterk pappa van my was tog seker sonder vrees.
Ek het onthou toe ek so drie jaar oud was het daar iets gebeur. My oudste suster het dit nog onthou toe ek haar so ‘n paar jaar gelede daarna uitgevra het. Sy het gesê:
“Ja, ou Esthertjie, jy kon vreeslik aan die skree gegaan het in die middel van die nag. Jy het almal in die huis wakker geskree en ma-hulle kon jou nie weer stil kry nie.”
My pa se gesag om te tem het daar na vore gekom. Hy het my een nag opgetel van die bed af, ‘n flits gevat en uitgestap die donker nag in. Hy het ons waenhuis se deur oopgemaak en met my ingestap. Langs die perdekar het ‘n hoop bokvelle gelê en daar het hy my neergesit.
“Wanneer jy stil is, kom ek jou weer haal.”
Pappa het hy uitgestap en die deur agter hom toegemaak. Dit was piknagdonker. Toe ons ingekom het, was daar geel oë waar die lig van die flits die donkerte deurpriem het. Ek het ophou skree, my lyf het nog geruk van die snikke. Daar was oë naby my, oë wat ek nie meer kon sien nie, maar dit was daar. Ek het probeer om op te hou met snik, miskien kon ek hoor as die oë naderkom om my kwaad te doen. Dit was ons katte wat in die skuur geslaap het, maar vir my was dit net oë. Daardie nag het ‘n vrees van my besit geneem wat stadig maar seker my lewe deur die jare oorgeneem het. ‘n Matelose vrees vir die donker met oë wat vir my kyk.
Foeitog, my pa wou net help. Ek dink dat ek dit moes aangevoel het in my kinderhart, want ek was altyd lief vir hom. Iets in hom het my aangetrek, ‘n seer wat hy binne-in hom gehad het. Toe ek al getroud was het ‘n familielid vir my vertel dat my pa verloof was toe hy net so oor die twintig was. Daardie jaar met sy verlowing het sy ouers geskei. In die 1920’s was dit nog ‘n verskriklike skande en die verloofde, ‘n jong onderwyseres, het sy ring vir hom teruggegee:
“Ek kan nie trou in ‘n familie wat so skande maak nie.”
My pa het uit ‘n gesiene familie gekom. Sy oupa was nog ‘n produk van die herlewing wat in 1859 in hulle dorp begin het. Hy het vertel hoedat hy as ‘n klein seuntjie saam met sy oupa in die koets gery het wanneer hy dienste op die plase gaan hou het. Daar het my pa egter gelê, ‘n ou man wat nooit gewys het dat hy die Here geken het, die Here oor wie sy oupa gepreek het nie. Hy sou ‘n been verloor en was tot stilstand gedwing. Ek het op sy bed gesit en gewonder hoe kon ek met hom oor die Here Jesus praat, sodat hy op sy oudag vrede vir sy siel kon ontvang.
“Lees vir my iets oor die liefde,” dit was my pa se stem wat my gedagtes in die rede geval het.
“Graag, Pappa,” het ek bly geantwoord en die Bybel oopgemaak.
“Nee, nie uit die Bybel nie!”
Ek het geskrik en gevra: “Pappa, waaruit wil Pappa dan hê moet ek lees?”
Hy het die bedkassie se laai oopgetrek en gesê: “Kyk, daarin is ‘n boekie wat my ma nog vir my gegee het. Lees daaruit.”
Ek het die boekie uitgehaal en gekyk. Dit was ‘n boekie wat hy by sy ma gekry het nadat hy as lidmaat van die kerk aangeneem was. Toe ek dit oopmaak, staan daar die presiese woorde wat ek uit die Bybel vir hom wou voorlees!
Nadat sy been afgesit is, het ek besoektyd gaan kuier. Hy het met toe oë gelê en nie na my gekyk of gegroet nie. Ek het sy skoon nagklere weggepak, vrugte en ander eetgoed vir hom op die bedkassie gesit. Van my kant af het ek probeer gesels, maar daar was geen reaksie nie. Ek het geweet my pa was skaam. Skaam dat hy skielik ‘n afhanklike was. Skaam dat hy nou net een been gehad het. Toe die klokkie aankondig dat besoektyd verby was, het ek hom op sy wang gesoen en geloop.
Die volgende middag was dit dieselfde. Hy het gelê en koerant lees en nie eers vir ‘n oomblik getoon dat hy weet dat ek daar was nie. Na so ‘n paar besoektye, het hy eendag toe ek groet, dadelik die koerant opgevou en met my begin gesels. Die ys was gebreek! Die volgende middag het hy al vir my gewag en gesê: “Jy kom vandag laat.”
Een aand het ek by hom gekom en hy het half angstig vir my gevra:
“Gaan roep die suster, hier is groot fout.”
Ek het haar gaan roep, maar sy was ‘n bietjie ongeduldig met my en het gedink dat my pa kon wag tot na die besoektyd. Dit was nie aangenaam om sy onrus te sien nie. Daar was duidelik iets verkeerd. Hy wou ook nie dat ek weggaan nie, maar met daardie suster aan diens was daar ook vir my nie genade nie!
Dit was toe daardie nag wat die dokter my geskakel het dat ek dadelik moes kom. My pa was al in die teater. Daardie nag toe ek so ernstig gebid het dat die Here my pa nog ‘n kans moes gee, het ek die Here belowe dat ek vir hom ‘n Bybel sou gee en met hom oor sy onsterfkike siel sou praat. Ek het my belofte nagekom en ook die voorreg gehad om te sien dat my pa uit die Bybel gelees het, ook net wanneer hy gedink het dat hy alleen in die kamer was. Sodra hy voetstappe gehoor het, het hy die Bybel toegemaak en weggesit.
My gedagtes het ver paaie geloop terwyl my pa al hoe moeiliker asemgehaal het, maar nog steeds my hand styf vasgehou het. Hy was nou op pad na sy ewige tuiste! Sy lewe op die aarde het tot ‘n einde gekom. Die verpleegster het weer ingekom om my pa gemaklik te maak. Sy was net uit toe my pa skielik sy ander hand so na die kant toe uitgesteek het, hy het iets ontvang en dit na sy mond gebring, dit gekou en ingesluk. Toe het hy weer sy hand uitgesteek, iets geneem en gedrink. Met verwondering het ek gesit en kyk en gedink: “My pa is besig om die Nagmaal te gebruik en dit is dalk die Here Jesus self wat hom bedien!” Daarna het Pappa my hand gelos, beide sy hande op sy bors gesit en opgehou asemhaal.
Die verpleegster het ingekom en gesien dat Pappa gesterf het. Sy het gedoen wat nodig was terwyl ek by die venster gestaan en uitkyk het op Sors se kop. Die pad na ons plaas loop daar verby en my pa sou nooit weer daar ry nie. Ek het ook onthou dat ek daardie dae toe ek katkisasie klasse bygewoon het ter voorbereiding om as lidmaat van die kerk aangeneem te word, vir ons dominee gevra het:
“Kan ‘n mens op sy sterfbed nog tot bekering kom?” Die predikant het ons familie geken en miskien geweet waarom ek dit gevra het.
Hy het geantwoord: “Ja, natuurlik! By God is alle dinge moontlik. Maar ‘n mens moenie tot dan wag nie.”
‘n Sterfbed bekering! Het die stilte en vrede in my hart beteken dat ek daardie dag ‘n sterfbed bekering aanskou het? Het Pappa beleef dat die liggaam van Jesus Christus ook vir hom gebreek was en dat Sy bloed ook gestort was om Pappa se sonde weg te neem. Hoe sou ‘n mens ooit weet wat in die laaste oomblikke tussen ‘n mens en God gebeur. Ek onthou net dat ek ‘n dankbaarheid beleef het dat my pa, voordat hy gesterf het, afgereken het met al die jare se bitterheid wat so aan sy siel geknaag het.