TERUG!
Terug in Suid-Afrika! Terug by ons kinders! Terug op die sending! Ek was maar net nie ‘n mens wat maklik kon weggaan nie! Daardie warm, heerlike gevoel en wete dat ek weer by my eie mense was, het my elke nuwe more ingewag wanneer ek wakker word. Dan was daar ook die gebruik om soggens vroeg by elke rondawel koffie te bedien. ‘n Sagte klop aan die deur, ‘n meisie wat inkom, vriendelik groet en nadat sy die koffie neergesit het nog eers bid voordat sy weer uitgaan. Dit was heerlik om tuis te wees!
Ek kon my so verwonder oor die mensliewendheid van die Christene op die sending. Hulle het my hartlik terug verwelkom en ‘n blyplek gegee waar ek en die kinders weer bymekaar kon wees. Die lewe het aangegaan asof ek nooit weg was nie.
Natuurlik het ek die kinders fyn dopgehou om te sien hoe dit regtig met hulle gegaan het gedurende die tien maande van ons afwesigheid. Hulle drie kon mos nie weet van my sielewroeging voor die Here oor die feit dat ek so ontspoor het toe hulle ‘n paar jaar jonger was en ek ‘n slegte voorbeeld was nie. Hulle kon ook nie weet hoe ek dikwels in gebed gepleit het dat die Here in sy genade alle invloed van my kant af wat hulle siele kon beskadig, sou uitvee en volkome uitkanselleer nie. Ek was egter intens daarvan bewus en daarom het ek dikwels net na hulle gesit en kyk en luister om te sien of daar enige letsel agtergebly het.
“Hoekom sit Mamma so na ons en kyk sonder om iets te sê?”
“Ag, Chris, dis sommer net lekker om weer by julle te wees.” Ons seun was altyd die opmerksame een. Hy het langer geword, maar het nie verander in sy lojaliteit en omgang met ons nie.

Toe Chris in graad een was het hy een middag met ‘n boomblaar van die skool af teruggekom. Hy het dit in my hand gesit en gesê: “Ek het pouse so na Mamma verlang en toe onder die boom hierdie blaar vir Mamma opgetel. My juffrou is nie so sag soos Mamma nie.”
Daardie blaar het ‘n baie spesiale plekkie in my laai gekry en oral saamgetrek totdat dit deur die jare tot stof verkrummel het en ek die stof maar uit die houertjie moes skud.
Hy was ‘n spesiale klein knaap. Omdat ek totaal sonder enige gevoel vir rigting was en in ‘n oogwink kon verdwaal, was dit vir my altyd ‘n uitdaging wanneer ek êrens heen moes ry. Hy was nog maar net so vyf jaar oud toe hy al vir my die rigting kon aanwys. As ons ‘n pad net eenkeer vantevore gery het, het hy aangevoel wanneer ons moes draai. Hy kon nog nie padtekens lees nie, maar hy was my padkaart!
“Mamma, ons moet hier voor links draai.”
Vir hom was dit doodnatuurlik, sy ma het nie geweet nie waar oos of wes was nie, maar hy het geweet en hy kon help.
Ons het dikwels heen en weer getrek. In graad twee was hy weer in ‘n ander skool in die Wes-Kaap. Sy juffrou was al ‘n ouerige dame en sy het almal in haar klas genoem op die eerste naam wat op die geboorte sertifikaat verskyn het. Hy is gedoop, Johan Christiaan, dus het sy hom Johan genoem.
Hy was sielsongelukkig en skielik in die middel van ‘n identiteitskrisis:
“Mamma, ek is nie Johan nie, my naam is Chris!”
Hy wou soggens nie aantrek en skool toe gaan nie. As hy onder dwang aangetrek het, het hy nie gesig gewas of hare gekam nie. Sy sokkies wou hy nie eers optrek nie. Hy het ook geweier om enige huiswerk te doen.
Ek het die juffrou gaan sien, maar sy wou nie ‘n duim toegee of weg beweeg van haar beginsel af nie. Christiaan het Johan gebly. Van my kant af wou ek nie gedurig met my kind stoei nie, dus het ek een oggend die skoolhoof geskakel.
“Meneer, ek is opreg jammer, maar ons seun gaan laat opdaag by die skool. Sy hare is nie gekam nie en hy lyk sleg. Kan u ons asseblief help?” Ek het verduidelik en hy het belowe om met die juffrou te praat. Hy het ons seun ingewag en vir hom gesê: “Chris, ek dink jy is net die man wat ek nodig het. Kom ek gaan wys jou waar ons ‘n klomp nuwe boompies aangeplant het.”
Hulle twee het saam gestap en elke boompie gaan inspekteer.
“Ek sal dankbaar wees as jy elke oggend voordat die klok lui net kan kom kyk of die boompies nie dalk te droog is nie. As dit water nodig het, kom sê vir my, dan kan ek ons tuinman herinner.”
Na skool het Chris van die werk kom vertel wat die skoolhoof hom gegee het. Die swarigheid om op te staan en aan te trek vir skool het verdwyn, maar Chris het nog maar Johan gebly. Hy wou nie huiswerk doen nie en hy was ‘n diep ongelukkige seuntjie. My man kom toe met die idee dat ons dan sy geboortesertifikaat verander na net een enkele naam: Christiaan. Hy het ‘n klomp geld betaal en toe die nuwe geboortesertifikaat gebring en gevra dat ek dit na die skoolhoof neem.
Ek het toe vir die skoolhoof ‘n bietjie meer van Chris se agtergrond verduidelik. Met geboorte was daar ‘n suurstof tekort en dit het ernstige probleme veroorsaak totdat hy so vier jaar oud was. Die spesialis het ons gemaan dat die deel wat sy emosies beheer skade gekry het. Hy kon moontlik ‘n gespanne kind bly en ons sou hom in rustigheid moes leer hoe om krisisse in sy lewe te hanteer, maar ook die hoop gegee dat hy dit heeltemaal sal ontgroei. Dit het ek vir sy juffrou vertel, maar sy kon glad nie ons punt insien nie. Waarom het ons dan die kind met twee name gedoop as ons hom by die laaste naam wou noem! Dus het ons toe ‘n geboortesertifikaat met net een naam bekom, sodat dit kon inpas met juffrou se onbuigbare beleid.
Die skoolhoof het ‘n hele ruk stil gesit en met sy pen gespeel.
“Mevrou, ekself het drie meisie name op my geboortesertifikaat. So moes ek deur die skool en universiteit gaan. My ouers het my vernoem na ‘n ouma wat nog nie vernoem was nie. Jammer dat julle tot sulke stappe moes oorgaan.”
Van die dag af was Chris ook Christiaan in die klaskamer. Ons seun het weer begin leef en uitgeblink in sy werk. Ook in sport. Die tien maande wat verbygegaan het, het hy saam met ander seuns in ‘n groot kamer geslaap. Hy kon sy man staan onder seunskinders se geterg en gestoei. Selfs geestelik het hy gegroei, en wanneer ek en hy soms alleen was het hy so stilweg vir my dinge meegedeel wat hy geleer het.

Hanna het ook nie verander nie, sy was nog altyd die een wat maklik na die agtergrond geskuif het. Stil, nie gou om haar opinie te lug of te wys wat sy voel nie. So was sy van kleins af, tog kon ‘n mens in haar oë sien wanneer sy gelukkig was of iets baie geniet het. Sy was die een wat duidelik meer volwasse geword het gedurende die maande wat ons weg was.
Toe sy nog klein was, het sy ‘n hasie present gekry en op een of ander manier het die bure se hond die hasie beetgekry. Ons het die hasie vir die nag in ‘n kassie in die kombuis laat slaap om te kyk of hy gaan oorleef. Vroeg die volgende oggend het ek gaan kyk, maar die diertjie was dood. Ek het gestaan en dink wat ek moes doen, toe Hanna stil ingekom en by die kassie gekniel het. Sy het die hasie se kop gevryf en saggies met hom gepraat. Na ‘n rukkie het ek gehoor hoedat sy soebat: “Praat met my, toe praat met my.” Ek moes my gou uit die voete maak dat sy nie my trane sien nie. Dis ook sy wat ‘n klein voëltjie huistoe gebring het. Dit het seker uit die nes geval. Die dingetjie het dit nie gemaak nie en sy en Chris het toe besluit om die dooie voëltjie te gaan begrawe. Na ‘n paar uur het hulle weer die graffie gaan oopgrawe en tot haar verbasing was die voëltjie nog daar. Ek het hulle van die stoep af dopgehou en gehoor hoedat sy uitroep: “Chris, Jesus het nog nie die voëltjie kom haal nie! Kom ons begrawe hom maar weer.” Dit het ‘n gulde geleentheid geskep om te gesels oor die dood en wat daarna gebeur.
Sy kon die interessantste dinge as kindjie kwytraak. Eendag terwyl sy gesit en eet het, het ek ‘n opmerking gemaak:
“Jy is vanaand darem so honger dat jy eintlik vir twee mense eet!”
“Ja, Mamma, ek eet ook vir Jesus. Hoe het Jesus binne in my maag gekom? Het ek Hom ingesluk?
Voordat ek haar teologie kon regstel, het sy ondeund na my gekyk en gesê: “Ek eet ook ‘n bietjie vir die duiwel. Hy sit hier op my skouer.”
“Liewe land, kind, ek is bly hy is net op jou skouer en nie in jou hart nie! Vir hom moet jy nie eers ‘n droë korsie gee nie, hy is sommer net ‘n dief.”
Die ogies wat lag en haar koppie wat op en af knik, was al antwoord wat ek gekry het.
Erika, die jongste, het werklik niks verander nie! Sy was nog net so vol vrymoedigheid soos altyd. As daar iets gevra moes word, het Chris en Hanna haar voorgestoot, sy moes die praatwerk doen. Vir haar was dit hoegenaamd nie ‘n probleem nie. Sy het soveel selfvertroue gehad dat sy na enige mens toe kon gaan en vertel wat sy gedink het nodig was. Toe hulle by ons in Frankryk gekuier het, was ons kinders eendag saam met hulle pa in die klas. Die Amerikaanse studente het erg gesukkel met sekere klanke in Frans. Die lektor het vir Erika vorentoe geroep om die woorde te kom uitspreek waarmee die grootmense so gesukkel het. Die elfjarige kind van ons het vrolik opgespring en die sin herhaal sonder enige probleme met die uitspraak.
“Le beau manteau jaune.” (Die mooi geel jas)

Ja, Erika was springlewendig en gesond, net soos ons haar agtergelaat het. Dit was ook die Here se genade, want toe sy so een en ‘n half jaar oud was het ons haar byna verloor. ‘n Ruk nadat ons van Malawi af teruggekom het, het Erika siek geword. Ons huisdokter kon nie agterkom wat verkeerd was nie. Sy het al hoe maerder en bleker geword, maar die toetse en ondersoeke het niks opgelewer nie. Ek was so besorg en het vir my man gesê dat die kind besig was om in ons hande dood te gaan. So het ek toe een oggend gekniel om die Here om hulp te smeek, of Hy ons nie kon wys wat ons miskyk nie. Een enkele woord het duidelik in my gedagtes weerklink: “Malaria!”
Ek het dadelik ons huisdokter gaan skakel en gevra: “Kan dit moontlik wees dat Erika dalk malaria het?”
“Maar natuurlik!” het hy uitgeroep. “Hoe kon ek nie daaraan gedink het nie!”
Ons het ook nooit daaraan gedink nie, want die tipiese simptome van malaria wat ons leer ken het, was nie sigbaar nie. Dit was ‘n onderdrukte malaria wat stadig maar seker die lewe van ons kind kon uitblus. Tot die dokter se ontsteltenis was daar in die hele Kaapse Skiereiland geen medisyne in ‘n stroopvorm beskikbaar vir ons klein Erika nie. In Johannesburg het hy iets opgespoor wat dadelik met die eerste vlug gestuur was. Die anti-malaria medisyne het sommer dadelik begin werk en sy het merkbaar beter geword. Die arme mensie was so maer en bleek dat haar vel amper deurskynend gelyk het. Ek moes my ma op die lughawe gaan haal en het Erika saam met my geneem want daar was niemand by wie sy kon bly nie. ‘n Vreemde vrou wat ons teëgekom het terwyl ons vir my ma gewag het, het geskok na Erika gekyk en toe vir my gefluister: “Hoekom lyk jou kind so?”
“Sy is besig om te herstel na ‘n malaria aanval.”
“Mevrou, u kan bly wees sy leef.” Sy het skoon vergeet om te fluister! In my antwoord en op my gesig kon sy duidelik hoor en sien hoe bly ons regtig was!
Ek was dankbaar, diep dankbaar vir die sendingmense wat ons kinders onder hulle vlerk geneem en hulle versorg het. My hart het eintlik verknog geraak aan die Christene daar wat so natuurlik, wys en opreg gelewe het en ek het sommer verlang om vir altyd by hulle te woon. Ek het hulle ook dopgehou en gesien hoe baie in my eie lewe as Christen nog kortkom. Die harmonie en vrede tussen swart en wit wat saamgewerk , saamgeëet en saamgespeel het, het so ‘n rustige en ontspanne atmosfeer geskep. Elke aand was daar ‘n diens vir almal op die sending om die dag mee af te sluit. Vir my was dit een van die hoogtepunte van elke dag! Dit was ‘n voorreg wat ek nooit tevore in my lewe geken het nie, behalwe vir die kere wat ons op die sending gekuier het
. Ek kon my ook so sit en verkyk aan die gesigte van die koorlede, die vrede in hulle oë het my altyd aangetrek. Hulle lewens het my diep in my wese oortuig van die liefde van God vir ‘n mens soos ek.