STRUIKELBLOKKE
STRUIKELBLOKKE
Ek kan nie meer onthou waar ek vir die eerste keer van die tragiese gebeure gehoor het, of dit by my ouma of dalk by my ma was nie. Voor my ma se dood het ek haar egter eendag oor die storie uitgevra en sy het my verseker dat dit werklik gebeur het. Sy het ook sommige feite reggestel waar ek die prentjie in my gedagtes ‘n bietjie skeef ingekleur het.
Op ‘n sekere plaas was daar ‘n seun gebore – blind en verstandelik gestrem. Twee seuns van buurplase het graag die blinde seun geterg, op ‘n lelike manier geterg om vir hulle pret te verskaf. Soms het hulle hom na die rivier toe saamgeneem en daar sy skoene weggevat. Omdat daar baie doringbome gegroei het en hy nie kon sien nie, het hy dan met sy kaal voete bo-op die pendorings getrap. Sy uitroepe van pyn en hoe hy probeer het om versigtiger te loop, was vir hulle so snaaks dat hulle onbedaarlik gelag en hom nageaap het. Hulle ouers het hulle betig en sekerlik ook gestraf, maar daar waar ouer oë nie kon sien nie, daar het hulle maar net voortgegaan met die verkeerde ding.
Hulle het groot geword en die lewe het aangegaan. Eers is die een getroud en sy eerste kind was ‘n seuntjie – blind gebore. Die ander een het ook later getrou. Sy eerste kind was ook ‘n seuntjie – ook blind gebore.
Saam met die skokkende storie wat aan ons vertel is, was daar ‘n baie ernstige waarskuwing. Jy moet God vrees en nooit met ‘n dowe of ‘n blinde die spot dryf nie. As volwassene het ek eendag daardie vermaning in die Bybel raak gelees in Levitikus 19:14
“Jy mag ‘n dowe nie vloek nie, en voor die blinde geen struikelblok lê nie; maar jy moet jou God vrees. Ek is die Here.”
Ek het weer teruggedink aan die storie, toe ek nou onlangs die woorde van Jesus Christus gelees het waar Hy oor die voleinding van die wêreld praat. “…die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat ongeregtigheid doen.”
Hierdie struikelblokke waarvan Jesus praat, is mense! Soos die twee plaasseuns van ouds, het hulle nie net struikelblokke vir die blinde seun in die pad gelê nie, hulle was self struikelblokke. Soos Petrus vir Jesus was toe hy wou verhoed dat die Here Jesus doen waarvoor Hy gekom het. Petrus is egter streng bestraf: “Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”
Engele sal die struikelblokke en die wat ongeregtigheid doen saam vergader en in die vuuroond gooi. Om ‘n struikelblok vir ‘n ander te wees is dan wanneer jy iemand verhinder om nie aan die dinge van God te dink nie, want jy hou hom die dinge van die mens voor oë. In die hemel word jy dan ingereken saam met die wat verkeerde dinge doen. Tog is dit nou so algemeen dat mense nie meer die dinge van God bedink nie maar die dinge van die mens. Dis asof ons hedendaagse samelewing deur so ‘n lewensstyl ingesluk word. Vir die dinge van God is daar nie meer liefde of tyd nie.
‘n Mens dink aan die reuse struikelblokke wat nou in die pad van ons skoolgaande kinders gelê word. Die waardes wat by hul ouerhuise vasgelê is, het geen plek meer nie – van kleins af moet ‘n skoolkind nou leer van dinge wat net vir getroude mense bedoel is! Net so erg en dwaas, op skoolvlak word hulle geleer dat daar ander soort lewenstyle is wat heeltemal aanvaarbaar is. As jy nie ‘n meisie wil wees nie, maar liewers ‘n seun, is dit ook reg. Jy kan met hulp verander word! Tragies dat in skole die dinge van God nie meer bedink en geleer word nie maar eerder die bandeloosheid van die mens met sy sogenaamde hoë intelligensie en insig. God in die hemel is hoegenaamd nie daarby betrokke om ‘n sedelose en immorele lewe vir kinders aanvaarbaar te maak nie, maar wel intens betrokke om kinders te red en te verlos van al die struikelblokke wat hulle keer om die dinge van God te bedink en daarom hulle lewe vermink.
Dat dit vir God ‘n gruwel is as ons iemand wat in Hom glo, laat struikel, is duidelik. Uit die mond van sy Seun kom daar ‘n baie ernstige waarskuwing:
“En elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.” Dis dan beter vir die samelewing dat so ‘n mens uit hulle midde verdwyn! Hoeveel kindermolesteerders is daar egter nie in elke samelewing wat kindertjies laat struikel en dit vir hulle moeilik maak om in God te glo nie?
Ons huise en familielewe behoort ‘n veilige hawe vir elke kind te wees – ‘n plek waar die dinge van God gesoek en gedoen word, rustig en vry van die wêreld se invloed en gewoel. Maar kinders val oor struikelblokke reg binne in hul huise en families. “Wee jou, as jy iemand wat in God glo, tot struikeling is”, sê die Woord van God vir elkeen van ons. Kinders wat besig wil wees met die dinge van God, kom dikwels hulp soek.
“My pa kom saans dronk huis toe, dan word hy vir die kleinste dingetjie kwaad en slaan my ma. Ek is nog te klein om my ma teen hom te beskerm, maar wag tot ek groot is, dan sal ek hom op sy plek sit.”
“My ma kerm en kla die hele tyd. Sy is nooit tevrede nie en sê my pa sleg dat hy nie meer geld huis toe bring nie. Dan stry hulle tot laat in die nag. Dis niks lekker in ons huis nie, daarom gaan soek ek liewers vriende op.”
“My pa kies video’s en dan moet ons saam met hom daarna kyk. Ek voel baie keer lus om stilletjies weg te sluip, want die goed wat ek sien, maak my gedagtes vuil, maar ek is te bang my pa gaan my klap.”
Het jy al ooit vir jouself afgevra wat jou geïrriteerde en ongeduldige manier van praat aan jou kinders doen? Of jou geskinder oor ander waar jy hulle afbreek en bespot voor jou kinders? Die kinders het onderskeiding om te weet dat dit nie dinge van God is nie. Of jou liefde vir geld en wat die wêreld kan bied? Doen dit hulle goed om te weet dat jy omgekoop kan word as die vergoeding groot genoeg is? Wat is daar in jou lewe waar die dinge van mense baie swaarder weeg as die dinge van God?
Dit sal darem alte verskriklik wees as die engele van die Here die laaste dag moet kom en ‘n mens as een van die struikelblokke vergader saam met die sondaars wat in die vuur gegooi gaan word, omdat hulle nooit tyd gehad het vir die dinge van God nie. Mag ons ag gee op hierdie ernstige waarskuwing en ons gedagtes en aandag … eintlik met alles wat in ons is, die dinge van God bedink en nie behep raak met die dinge van die mens nie.
Die vraag bly maar hier in my hart.
Waar is die mense wat nog weet wat die dinge van God is?