As iets darem nie eers goed genoeg is om op die ashoop gegooi te word nie, nie eers daarvoor deug nie, dan is dit regtig erg! Dit is die voorland vir sout wat laf geword het. Die smaak kan nooit weer teruggesit word nie. Nou kan jy miskien dink, maar wat het dit nou eintlik met my te doen of sout goed of laf is – ‘n mens kry tog altyd sout op ‘n winkelrak wat jy sonder enige probleme kan gebruik. Die saak staan egter so; dit wat Christus gesê het oor sout het baie definitief op my en jou betrekking, veral op die van ons wat nie van ons besittings afstand kan doen nie.
“So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie. Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word? Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg.” (Lukas 14: 33 -35)
“Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur mense vertrap te word nie.” (Mattheus 5: 12 -14)
Jy bely dat jy ‘n dissipel van Christus is, maar ervaar jy dalk dat mense jou vertrap? Jy het nie meer gesag nie, mense rondom jou loop oor jou behoeftes, dis asof hulle jou nie eers raaksien of stop om te luister wat jy sê nie. Jou versoeke word geïgnoreer en jy voel alleen en verstote. Kan dit wees dat die sout in jou lewe laf geword het, smaak verloor het? Is jou woorde dalk nie meer met sout besprinkel nie? Jou gesprekke nie meer aangenaam en opbouend nie, maar skerp, krities en afbrekend? Jou teenwoordigheid hou nie eers meer geestelike bederf in ander se doen en late teë nie, niemand skrik meer wanneer jy inkom terwyl hulle iets verkeerds doen nie. Wat van mense wat innerlik verwond was en nie wil vergewe nie, nou is daardie wond septies en bitter gal loop uit, maar die mens kan by jou nie hulp vind nie want daar is geen gesonde sout meer in jou nie. Het die sout in jou wat ‘n volgeling van Christus is, dan laf geword? Waar is die krag in jou lewe om smaak te gee, om verderf teë te werk en te ontsmet? Is ‘n mens wat so is dan nog bruikbaar in die koninkryk van God?
Wat ‘n tragiese toestand en hoe maklik om daarin te beland! Klou net verbete vas aan jou besittings, dan beland jy daar. Dan sê die mense van jou: “Ja, hy is ‘n Christin, maar jy moet net nie aan sy goed raak nie, dan staan die duiwel in hom op.”
Selfsugtige besitreg kan ‘n mens maak soos sout wat laf geword het – onbruikbaar. Dink net hoe ‘n persoon heeltemal van koers af kan raak wanneer iemand anders sy geliefkoosde pen van die lessenaar vat sonder om te vra en dit nie weer op die regte plek terugsit nie. Net ‘n pen, maar dit klink asof die wêreld besig is om te vergaan soos die eienaar van die pen tekere gaan. Afsien van besittings? Al jou besittings? Wat van daardie spesiale ysterpan op die rak wat net jyself gebruik om vleis in te braai – jyself vee dit skoon want water sal dit laat roes. Dan vind jy die pan vol water in die opwasbak, een van die huismense het jou werklik roereiers vir ontbyt daarin gemaak. Dit bederf jou hele dag en al jou vriendelikheid verdamp op die plek. Of jy vind ‘n erfstukkie uit jou oumagrootjie se huis buite op die tuintafeltjie. Die spesiale bordjie wat jy so koester en diep weggesit het, het ‘n water- opvang-bordjie onder ‘n potplant geword. Moenie eers praat van jou motor of jou grassnyer of die naaimasjien nie. Eintlik net ‘n skoen is genoeg om jou te laat vergeet dat jy ‘n dissipel van Christus is. Die netjiese duur skoen het jyself onder die bed ingeskop en die klein hondjie wat die nuutste toevoeging is van jou kind se baie troeteldiere was so ongemanierd om dit daar onder die bed uit te trek en daarvan ‘n lekker kouding te maak. Hoe kan jou gebrul dan die huis skok!
“Wie het alweer die deur oopgelos! Ek het gesê ek wil die brak nie in my kamer sien nie! Geld groei nie op my rug nie!” en vir ‘n lang ruk kan jy raas en skrobbeer en brom totdat jy almal om jou op hol gejaag het.
Ek dink aan daardie storie van die mense van Jerigo wat uitgekom het na die profeet wat sopas oorgeneem het van die een wat met ‘n vurige perdewa hemel toe gegaan het. “Ons water in die stad is sleg en dit veroorsaak dat die grond onvrugbaar is. Asseblief help ons.”
Elisa het gevra dat hulle vir hom ‘n nuwe skottel vol sout moet bring. Die sout het hy by die bron van die slegte water gaan ingooi. Die Bybel sê dat die water gesond geword het en geen verdere dood of onvrugbaarheid veroorsaak het nie. Die hart van die mens kan so ‘n bron van slegte water wees – dit leer ons uit Christus se verduideliking: “Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ‘n mens onrein.” (Markus 7:21 -23)
‘n Hele skottel vol hemelse sout is nodig om so ‘n hart te reinig van sy slegtigheid! Van sy onvrugbaarheid . Hoe sleg kan ‘n hart wees in die oë van die Een wat van die hemel af ons almal dophou? Daarom het Hy sy Seun gestuur om alles nuut te maak. Christus se dood aan die kruis was die enigste oplossing om ons van ons sonde te bevry. Die kruisdood is soos die skottel sout wat Elisa in die waterbron van Jerigo gegooi het. Net Christus se lewe in ons kan van ons die sout van die aarde maak.
Ek kan onthou hoedat ek as ‘n klein dogtertjie dikwels op die sementblad voor ons agterdeur gestaan en kyk het hoe ‘n skaap afgeslag word. Ek kan in detail vertel van elke beweging van die slagter se hande totdat die skaap aan die haak gehang het en al die binnegoed en organe in die regte houers beland het. Maar die vel wat agtergebly het op die sementblad het spesiale behandeling ontvang. Die houer met die growwe sout is gevra en dan is ‘n handvol oopgegooi op die nat, oopgesperde vel. Die sout is dan sistematies ingevryf tot in elke deeltjie van die vel, daar waar die nek van die skaap was, waar die pote was. Wanneer die slagter tevrede was dat die vel goed ingesout was, was sy werk klaar. Die vel is op die droë pak velle oopgesprei om ook droog te word. Dan is dit verkoop aan ‘n leerlooier of self op die plaas gebrei vir riempies.
Wanneer die karkas opgekap was in die verskillende dele, reg vir die pot, is alles na die kombuis gebring. Daar het my ma die skaapboude, die blaaie, die ribbe en die rugstring goed ingevryf met growwe sout. Iemand het dit dan by die soldertrap opgedra – die sifkas het heel agter in die solder gestaan. Dit was ‘n groterige houtkas op pote met fyn gaas dig vasgespyker teen die sykante. Elke stuk vleis is dan aan ‘n haak in die sif opgehang. Daar het altyd ‘n luggie deurgetrek van die twee gewel vensters wat regoor mekaar was. Die kleinste goggatjie kon nie by daardie digte gaas inkom nie. Die sout het die vleis goed gehou totdat alles opgeëet was.
Growwe sout was ook ‘n inherente deel van wond behandeling in ons huis. As een van ons ‘n toon stukkend gestamp het teen ‘n groot klip of jou hand met ‘n skerp mes raakgesny het, is die wond eers geweek in warm soutwater. Wanneer een van ons gekla het van ‘n seer keel of wanneer ‘n tand getrek was, moes die slagoffer gereeld met soutwater gorrel. Niemand op die plaas het die ontsmettingswerk van sout verkleineer nie, ons almal het goed geweet waar en wanneer om sout te gebruik.
Maar mense wil Christene wees sonder dat die sout van die kruis van Christus diep ingevryf word. Sonde moet bely en laat staan word, daar is nie een enkele ekskuus vir ‘n sonde nie. Ekskuse word nie vergewe nie, net dit wat opreg bely word! Dit is die sout wat ingevryf word, dit brand, maar dit ontsmet ‘n mens se hart tot in die diepste plekke. Net die bloed van Christus kan ‘n gewete sout en reinig van die skuld van dooie werke.
Soos in die Bybelse tyd waar Christus sout kon gebruik het as ‘n voorbeeld, so is dit ook in ons tyd. Ons kan dit ook verstaan, maar dit voel miskien nie so gemaklik om jouself met sout te vergelyk nie. Tog, Christus sê uitdruklik aan die wat Hom volg: “Julle is die sout van die aarde.”
In Egipte is daar aan die buitewyke van Kaïro ‘n gedeelte van ‘n voorstad waar omtrent so 60 000 mense woon in ‘n informele nedersetting waar water en elektrisiteit nie aangelê is nie. In die volksmond en media het die voorstad die naam gekry van “Carbage City”. Die mense maak ‘n bestaan uit die vullishope en rommel van die stad wat hulle herbenut en verkoop. Die strate is vol vullis, voor hulle deure lê hope vuilgoed, selfs op die platdakke van die geboue, oral is net vullis en rommel. Hulle leer hoe om te oorleef van alles wat op vullishope gevind kan word. Hulle leef in ‘n ashoop en leef van die ashoop, maar sout wat sy smaak verloor het, is selfs vir die ashoop bewoners van geen nut nie.
Hoe lyk ‘n mens in wie die sout laf geword het? ‘n Mens in wie se lewe die Evangelie suur geword het en nie meer ‘n vars smaak en ‘n welriekende geur aan ander uitdra wat naby kom nie? ‘n Mens skrik amper om dit te sê, maar so ‘n persoon is soos iets wat nie eers op ‘n ashoop tot enige nut kan wees nie. Weggegooi deur die hemel, nie eers ‘n stuk rommel wat weer deur iemand anders gebruik kan word nie, maar totaal nutteloos en vertrappingswaardig. En dit nie omdat jy nie glo dat Christus gekom het om vir sondaars te sterf nie, maar omdat jou besittings meer werd is vir jou as Christus.
Daardie wyse man van die Bybel, Salomo het gesê: “Die goed van ‘n ryke is sy sterk stad en soos ‘n steil muur in sy verbeelding.” (Spreuke 18:11)
Miskien is dit wat die ryk jongman gepla het toe Christus vir hom gesê het om al sy besittings te gaan verkoop en die geld vir die armes te gee en dan kon hy kom en Jesus volg. Moes hy die sterk stad van sy verbeelding en die veiligheidsmuur wat hy deur sy besittings in sy gedagtes gebou het, prysgee? Die prys was vir hom te hoog – hy het liewer van Jesus af weggegaan.
En jy, is die reg wat jy het op wat jy besit vir jou meer waardevol as Christus, meer waardevol as om die sout van die aarde te wees?