SLEGTE MANIERE

Ons het van kleins af geleer dat ‘n mens nie jou kos met oopmond kou en jou koffie nie met ‘n slurpgeluid drink nie, dis slegte maniere. Om oor die eettafel te strek om kos by te kom, is slegte maniere. Vra dat dit vir jou aangegee word.  Om in jou neus te krap en iemand in die rede te val wanneer hy praat, is slegte maniere. Om ander nie te groet nie, om luid te staan en gesels waar ander teenwoordig is, is slegte maniere. Om ander mense te bespreek agter hulle rug en te spot en te lag, is slegte maniere: “‘n Mens maak nie so nie.” 

Slegte maniere is selde gestraf met ‘n pak slae. My ma se voorbeeld, berisping en onderrig het daar gelei en gerig. Behalwe wanneer my ma se ore opgetel het dat een van ons op ‘n astrante en onbeleefde manier met een van die werksmense op die plaas gepraat het, dan was daar ‘n goeie pak slae in die badkamer. “Ek hoor dit nie weer nie. Dit is slegte maniere en maak ander seer.”

Ons was bekend as kinders met goeie maniere, ook in die skool het ons geweet hoe om ons onderwysers te respekteer. Die meeste kinders in die skool was grootgemaak soos ons. Respek was nie aangeplak nie, daardie respek het vanuit die hart gekom. Dit is selfs vandag nog so, wanneer respek in ‘n kind of jongmens gesien word, merk mense op dat daardie kind goed grootgemaak is.

Om asseblief en dankie te sê, leer ‘n mens al van voordat jy kan praat. Dit is die basis van goeie maniere. Om iets te vat sonder om te vra, is slegte maniere.

Om terug te praat met ons ouers of ouer mense was uiters slegte maniere en was glad nie geduld nie. Ook die manier hoe ons gepraat het. As een van ons by my ma sou kom en sê: “Mamma, Pappa sê hy moet na die onderste land toe gaan en kan ons vir hom die middag koffie daarheen bring?”

“Wie is jou hy en hom? Praat jy van die hond?”

“Jammer Mamma, Pappa sê Pappa moet na die onderste land toe gaan en kan ons vir Pappa die middag koffie daarheen bring?” Van ons is respek verlang en goeie maniere. Dit was nie moeilik nie.

‘n Mens merk op dat bejaardes in ons samelewing dikwels swaarkry onder slegte maniere van diè wat nie geduld het nie. By bejaardes en oues van dae het alles stadiger geword, maar in die tyd waarin hulle leef, het alles gouer en vinniger geword. Alles moet in ‘n kits gebeur. Ook op die pad is daar nie baie geduld met ‘n bejaarde agter die stuur wat twyfel in watter straat hy moet afdraai nie, of wat ‘n bietjie te stadig ry daar waar ‘n mens die spoed op 120 kan handhaaf.   

Wie egter die ergste ly onder ons slegte maniere, is ons Hemelse Vader.

Ons gaan klop nie maklik aan sy deur om more te sê nie, al leef ons in dieselfde huis as Hy. Ons is tog sy kinders in die Vaderhuis. Ons sê nie dankie vir ‘n rustige nag sonder onheil nie, al weet ons dat ons so beskerm was omdat Hy nie geslaap het nie. Ons dank Hom nie vir die nuwe dag wat Hy gemaak het nie, maar vat sommer al die tyd wat Hy gee sonder om Hom te vra hoe Hy verlang dat ons dit gebruik. Die hele dag lank moet Hy beleef hoe ons Hom ignoreer en optree asof Hy nie oë het wat sien en ore wat hoor nie. Ons dink selde aan die behoeftes van Sy Vaderhart, dat Hy vir ons wag om vir Hom te kom kuier en te vertel wat ons die dag ondervind het.

Ons het sulke slegte maniere, maar nie Jesus Christus nie. Toe Hy hier op aarde was, het Hy net gedoen wat sy Vader gevra het en net gesê wat Hy van Sy Vader gehoor het. Nou sit Hy daar in die hemel langs Sy Vader op die troon en Hy dink die hele tyd aan ons hier op aarde. Terwyl ons besig is met werk hier op aarde, en baie dikwels nie werk wat ons as opdrag van die hemel gekry het nie, sommer net ons eie planne en dinge, noem Christus ons name daar voor die genadetroon van ons Vader.  Hy bid vir ons, dat ons nie ons geloof in Hom sal verloor nie, dat ons van die duiwel en die gees van die wêreld bewaar en beskerm sal word.

Wie weet, miskien spreek ons Vader ‘n versugting teenoor Sy Seun uit, soos teenoor Moses toe die volk bevrees was om langer na God se stem te luister:

“Ag, as hulle maar so ‘n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.” (Deut 5:29)

 

afAfrikaans