NIMMERDIK

Met een van die honde op die plaas kon my ma net nie regkom nie. Suurlewiet was sy naam. Sy onversadigbare vreetlus het my ma dwars in die krop gesteek. Vir haar was dit amper soos ‘n lyding in haar binneste wanneer mens of dier moes swaarkry omdat hulle honger of dors was. Sy het selfs in die middel van die nag opgestaan as sy hoor dat ‘n kalf in die beeskraal aanhou bulk. Vir haar was dit duidelik dat die kalf dors moes wees. Die kraalhek is oopgemaak dat die kalf by die krip kon uitkom om sy dors te les. Met die kalf weer veilig in die kraal het sy na haar onderbroke slaap teruggekeer.

Een oggend na ontbyt was ons in die kombuis besig om op te ruim. Suurlewiet het in die oop agterdeur kom staan en my ma pleitend aangekyk: “Liewe land, jy kan nie nog honger wees nie! Jy het dan nou net ‘n groot bak pap opgevreet!” het sy die hond berispe.  Hy het daar op die een plek so ‘n paar keer verleë rondgetrap, maar aanhou kyk vir haar met sy pleitende foksterriër oë. Met ‘n stuk brood in haar hand het my ma na die agterdeur gestap: “Dé, vat, jou ou nimmerdik!” en die onderdeur behendig toegewerwel dat die hond met die pleitende honger oë dit nie weer kon oopstoot nie. 

In my gedagtes het Suurlewiet ‘n nuwe naam gekry – Nimmerdik. Die woord het in my geheue vasgesteek. In ons Afrikaanse kultuur is dit kru taal wanneer woorde wat vir diere bedoel is, vir ‘n mens gebruik word. ‘n Dier het ‘n bek, ‘n dier suip en ‘n dier vreet hom dik, maar ‘n mens het ‘n mond, ‘n mens drink en ‘n mens eet tot hy versadig is. My kinders het uit pure ondeundheid eendag vir ons Amerikaanse vriendin geleer wat om te sê wanneer ek by die ete haar sou vra of sy nog wil hê: “Nee dankie, ek is dik.” Die woorde het met ‘n swaar aksent uitgekom, maar goed verstaanbaar. Onder groot gelag het hulle my reaksie geniet en vir haar verduidelik dat dit eintlik nie beleef is om dit so uit te druk nie. Maar ek moet sê wanneer ek iemand sien wat die hele tyd besig is met die selfoon, of dit nou in geselskap is, of aan eettafel, of waar hy kom of gaan, die hele tyd besig op sy selfoon: met sokker, motor wedrenne, video grepe, grappige goed wat hy met almal om hom wil deel of wêreldnuus, dan voel ek sommer lus om hom onbeleefd ‘n naam te gee –  meneer Nimmerdik.
 

Ek het al gewonder of die selfoon gekom het om bekend te maak wie van ons Christene aan ‘n onversadigbare eetlus ly. Nie kos nie, maar aan alles wat die wêreld bied. Nuuskierigheid kry die oorhand en mense sit met die selfoon in die hand en rol op en af om te vind wat hulle interesseer. Die Bybel lê vergete in ‘n laai of miskien tog nog op die bedkassie maar die Bron van lewende Brood wat voed en versadig, word nie meer oopgemaak nie. Om die gewete te sus word ‘n teksvers en kort oordenking op die selfoon gelees, maar selfs dit word onderbreek deur die getinkel van ‘n advertensie of aankondiging wat dadelik aandag moet kry. In dié tragiese toestand, het elke broer of suster in Christus wat nie aan die neus rondgelei word deur die selfoon nie, net nog meer kosbaar geword.

Paulus het aan Timoteus geskryf oor  ‘n ander soort nimmerdik mens:

 “Daar is vroue wat leer, maar nooit tot die waarheid kom nie….” 

Vandag nog vind ‘n mens sulke vroue. Hulle soek die hele tyd geestelike kos, maar word nooit versadig nie –  net soos Nimmerdik. Hulle gaan van die een konferensie en praatjie na die ander, waai saam met ‘n nuwe wind wat deur die kerke waai en word weer deur die volgende wind rondgewarrel, maar kom nooit tot die waarheid nie –  kom nooit tot rus in Christus was alles volbring het nie. Paulus noem hulle arme vrouens, want hulle is dié wat slagoffers word van geestelike skurke wat insluip en hulle mislei.

Toe ek jonger was, was daar sulke nuwe winde wat deur die gemeentes gewaai het. Die Evangelie boodskap van sonde oortuiging, sonde belydenis en vergifnis en reiniging deur die bloed van Christus, die dood van die self-lewe en algehele oorgawe was nie deel van die wind nie – inteendeel dit was afgemaak as verkramp of nie meer van toepassing op ons leeftyd nie. Die opwinding was daardie tyd om te leer hoe om ‘n mens se selfbeeld op te bou. Seminare is bygewoon waar elke vrou aangemoedig was om uit te leef wat in haar is – om te sien waar sy inpas op die voorgelegde kleurkaart, watter kleur pas by haar spesifieke persoonlikheid; om toe te laat dat die gees haar lei in volkome vryheid waar sy net haarself kan wees soos die Here dit bedoel het. Waar sy in die vryheid die Here kan loof en lofprysinge toesing. Een van ons buurvrouens het ook so ‘n uitnodiging gekry na ‘n seminaar in die kerk om haar selfbeeld op te bou. Sy het my daarvan vertel en met verontwaardiging gesê: “Nee dankie! Ek sukkel genoeg om die self na die kruis te sleep, ek het geen begeerte om hom op te bou nie.” 

Die arme vrouens wat geleer het van die selfbeeld wat opgebou moes word, die inhoud van hulle klerekaste met groot onkoste verander het omdat net sekere kleure by hulle pas, wat probeer het om in vryheid van gewete die Here te loof en te prys met die regte kleur klere aan, het hulle toe tot die waarheid gekom? Het die meeste van hulle nie maar net weer verder gaan soek na iets nuuts toe die selfbeeld-storie suur geword het nie?

“Daar is vroue wat leer, maar nooit tot die waarheid kom nie.” Mag ek en  jy tog nie gaan sit in die kring van hierdie nimmerdik vroue nie! 

Maar wat van die mans? Vandag is daar stryd in die kerk of praktiserende homoseksueles en mense met alternatiewe lewenstyle op die preekstoel kan staan om te sê: “So sê die Here…” Of twee mense van dieselfde geslag deur ‘n gesalfde amptenaar van die kerk in ‘n huwelik bevestig mag word. Of aborsie en genadedood die Here se seën wegdra. Of die Woord van God in ons tyd nog dieselfde boodskap het as vir die vroeë kerk? Dit lyk asof daar in ons tyd ook mans is wat leer maar nooit tot die waarheid kom nie.   
 Jesus Christus het Homself voorgestel as die Brood van die Lewe. Brood wat van die Vader uit die hemel vir ons gestuur is. In Hom alleen is daar versadiging vir siel en gees. “Neem eet, dit is my liggaam vir jou gebreek.”
 
Sy liggaam is gebreek sodat daar vir ons volkome verlossing kan wees – ook verlossing van wat die wêreld bied. Wanneer die gees van die  wêreld nog in ‘n lewe hiet en gebied, het die mens ‘n onversadigbare eetlus, hy wil net meer en nog meer hê – raak nooit versadig nie, ‘n nimmerdik.
 
Die waarheid is dat Jesus Christus vry maak – volkome vry en Hy as die Brood van die Lewe bring daagliks wonderbare versadiging na die een wat Hom opsoek en kos vir sy siel ontvang. Daardie geseënde persoon is ‘n immer versadigde! Buite Jesus Christus is niks waarna hy soek of smag nie. Hy is, as ek weer die onbeleefde terme mag gebruik, ‘n immerdik!
afAfrikaans