MIDDERNAGFEES

Waarom ‘n middernagfees so ‘n bekoring ingehou het gedurende ons koshuisjare kon ek nog nooit regtig in woorde vaspen nie. Dit klink eintlik  ‘n bietjie mallerig. Wekkers het ons nie gehad nie, want die koshuisklok het ons soggens baie luid vertel dat dit opstaan tyd was, en armhorlosies was baie skaars. Iemand moes wakker bly en die slae van die kerkhorlosie tel. Daardie twee ure na ligte uit in die koshuis het stadig omgegaan. Die kerkhorlosie het elke halfuur geslaan. So, half elf het redelik gou gekom. Die slaap het geklop, maar die elf slae wat helder deur die nagstilte weerklink het, het hoop gebring. Daar was nog ‘n uur oor om te wag. Gewoonlik het ‘n maat saam wakkergebly.

Die straatlig was ver weg en baie dof. Oral was dit donker – mense was daardie dae nie gepla met buiteligte nie. Baie het nie eers deure gesluit nie, want daar het toe nog nie eintlik diewe snags rondgeloop nie. Die kerkklok het dawerend deur die nagstilte aangekondig dat daar nog dertig minute oor was voor middernag sou aanbreek. Toe die eerste slag van die twaalf weerklink, het die twee wat  wakkergebly het, opgespring en die ander agt genooides sag gaan wakker maak. So stil soos muise was ons by die balkon bymekaar kort nadat die twaalfde slag geslaan het! Elkeen het ‘n eetdingetjie saamgebring. 

Om eetgoed in die kamer in te smokkel was nie so ‘n eenvoudige takie nie. Kos in die kamers was streng verbode en straf was uitgedeel as iemand durf waag om die reël te oortree. Die middernagfees was haarfyn beplan voor die naweek. Dit was eintlik ‘n groot geheim, want nie almal kon uitgenooi word nie – die risiko om dan betrap te word, was te groot. Die Maandagaand was die aangewese tyd, want dan was die kanse dat die lekkernye vir die fees ontdek sou word, redelik skraal. Die kamermaat wat verjaar het, het een van daardie heerlike sjokoladekoeke waarvoor haar ma so bekend was, saamgebring na die naweek. Ewe wetsgehoorsaam is dit weggepak in die klein kamertjie wat spesiaal vir ons eetgoed bedoel was. Soos elkeen van ons teruggekeer het na die naweek, het ons die vrugte, die beskuit en alles wat ons ma’s ingepak het, daar in die koskamer gaan pak. Ons het goed geweet hoe om die eetgoed te laat verdwyn wanneer die kamertjie na studie oopgesluit is, en dit stilletjies in ons kamers in te smokkel. Daarom kon elkeen van ons met iets in die hand kom om te deel in die middernagtelike fees.
 
Natuurlik moes  ons in sagte gedempte stemme gesels en in fluisterstemme die verjaardagmaat toesing. Die sjokoladekoek was al vooraf in tien stukke gesny en dit sou die fees inwy. Die een wat die koekblik oopgemaak het, het per ongeluk die deksel op die sementvloer laat val. Dit het so ‘n lawaai gemaak dat ons almal gevries en asems opgehou het. Met inspanning het ons probeer waarneem of daar voetstappe in die gang was, maar na ‘n rukkie het ons ontspan en elke genooide gas het ‘n groot stuk sjokoladekoek gekry om te verslind. Daar was koekies, vrugte en lekkers wat alles vinnig verdwyn het. Heerlike, soet, klewerige uitgeloopte  heuning was heel laaste op die spyskaart. Die eienaar van die heuningpot het gevra: “Het julle tandeborsels saamgebring?” Ons het!  Al voor ligte uit het elkeen seker gemaak dat dit in die japon se sak was, want ons het haar en haar heuningpot goed geken. Op een of ander manier het sy dit altyd reggekry om die groot heuningpot in haar kas weg te steek en soms het sy na ligte uit vir ons genooi om ons tandeborsels te bring as ons heuning wil hê.  Een vir een het sy dan ‘n  tandeborsel geneem en die steel daarvan in die heuning gedruk en dit so ‘n draai gegee. Dan kry jy jou tandeborsel terug in jou hand met so ‘n dik laag heerlike heuning om die steel. Nie een van ons het ‘n lepel besit nie, die tandeborselsteel het uitstekend gewerk! Die middernagfees is so afgesluit en ons is weer versigtig terug bed toe met die genoegdoening dat ons nie uitgevang was nie.
 

Die middernagfees waarvan Jesus Christus gepraat het, is egter nie so ‘n geheime affêre nie. Dit is nie ‘n fees wat skelmpies gehou sal word nie, nie iets wat stil en ongemerk sal plaasvind nie. Ook nie ‘n middernagfees waar daar net ‘n stuk sjokoladekoek en sandsuiker heuning  op die steel van ‘n tandeborsel sal wees nie. ‘n  Middernagfees gedurende ons koshuis jare was net vir ‘n paar uitgesoekte maats,  en heeltemal net vir ons plesier. Die middernagfees waarvan Christus praat, is egter ‘n ernstige  ewigheidstorie en geeneen van ons kan waag om dit mis te loop nie.

Ons almal is uitgenooi na die fees, maar net die wat gereed sal wees, sal ingelaat word. Ek en jy moet waak, want ons weet nie wanneer die geroep sal weerklink nie.  Dit sal sommer net skielik opklink, daar sal nie ‘n kerkklok wees wat die tyd helder sal aankondig nie, net ‘n stem wat roep: “Die Bruidegom is hier! Hy het gekom!” Almal wat gereed is, sal saam met Hom ingaan na die fees en Hyself sal die deur agter Hom toesluit. Laatkommers sal nie meer ingelaat word nie. Die deur word eenkeer toegemaak en nooit weer oopgemaak nie.

Toe  Jesus Christus  van daardie middernagfees gepraat het, het Hy vertel van dwase meisies wat nie gesorg het dat hulle lampe genoeg olie gehad het vir die lang wag nie. Toe was hulle nie gereed nie! Hulle het agterna aan die deur kom klop en gevra om ingelaat te word. Tot hulle ontsteltenis moes hulle ‘n stem hoor sê: “Ek ken julle nie, gaan weg!”

“Maar hoe kan U ons dan nie ken nie? Ons het dan saam met U geëet en om U saamgedrom terwyl U daar op straat geleer het?  Ons het dan in u Naam duiwels uitgedryf en kragtige dade gedoen?”

“Gaan weg van My af, al julle werkers van ongeregtigheid. Ek ken julle nie!”
 

As ‘n mens dwaas is soos daardie meisies in die gelykenis, gaan jy jou ook in ‘n geslote deur vasloop. Jy sal staan en klop totdat die skroeiende vlamme jou daar opspoor, maar as jy te laat na die fees gegaan het, sal jy nooit by daardie deur kan ingaan nie. Nooit nie! Dit is ‘n skrikwekkende gedagte en Christus het dikwels oor daardie finale dag gewaarsku. “Waak en bid,” het Hy gemaan, “want julle weet nie wanneer die uur kom nie.”

Wat sal dan maak dat ‘n mens wakker en waaksaam sal wees om onmiddellik te reageer wanneer die blye boodskap uitgeroep word: “Die Bruidegom is hier! Hy het gekom!” ‘n Mens moet die Bruidegom persoonlik ken, ‘n lewende verhouding met Hom hê, ononderbroke kontak en ‘n volle maat van sy Gees. Dan sal daardie gedurige afwagting daar wees, ‘n innerlike gereedheid om dadelik te reageer wanneer die uitroep weerklink.

Op die  laaste bladsye van die Bybel in die boek van Openbaring lees ons:
 
 “Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom!…”
 
Leef jy ook soos ‘n genooide met die lamp mooi skoongemaak en propvol olie? Dit kan dalk vannag wees wanneer die oproep gaan weerklink, onverwags, maar heerlik bevrydend as ek en jy gereed is en saam met die Bruidegom ingaan by die deur. Wanneer Hy omdraai om dit te sluit, is ons veilig in Sy ewige teenwoordigheid.
afAfrikaans