MAAK TYD VIR GOD

Henog is ‘n karakter in die Bybel wat tyd vir God gemaak het. Die Bybel sê, na die geboorte van sy oudste seun het hy nog driehonderd jaar met God gewandel – toe het God hom kom haal. Hy het nie ‘n begrafnis hier op aarde gehad nie, hy was eendag sommer net nie meer te vinde nie. In Hebreërs lees ons dat hy as geloofsheld die dood nie gesien het nie omdat God hom weggeneem het.

‘n Sondagskool juffrou het eendag vir haar kleintjies gevra wie van hulle kon onthou waaroor hulle die vorige Sondag gepraat het. ‘n Dogtertjie het opgespring en gesê:

“Juffrou het ons van Henog vertel.”

“En wat onthou jy van hom?”

“Henog en God het gaan stap. Hulle het so lekker saamgestap en gesels – toe Henog later omkyk, was hy so ver weg van sy huis dat hy maar saam met God na Sy huis toe gegaan het.” Dit was hoe sy dit verstaan het.

“En Henog het met God gewandel.”

Henog het nie verskillende vertalings van die Woord van God op sy rak gehad nie, hy het mondelings gehoor wat die mens van daardie tyd van God geweet het. Adam het mos negehonderd-en-dertig jaar oud geword, dus het hy nog geleef toe Henog gebore was. Verstommend om daaraan te dink! Adam het eens op ‘n tyd vir God geken, hy het in die teenwoordigheid van God geleef voordat hy en sy vrou gesondig het. Hy kon eerstehands vir Henog vertel hoe God hom uit stof geskape en lewe in hom geblaas het en hoe Eva in sy lewe gekom het. Sekerlik ook wat dan gebeur het dat hulle verban was uit die tuin van Eden. Tussen al die afstammelinge van Adam se seun Set, word daar net oor twee geskryf wat God geken en met Hom gewandel het; Henog en sy agterkleinkind, Noag.

Judas openbaar ‘n bietjie meer van Henog in sy brief, dat Henog geprofeteer het: “Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.” ‘n Mens kan dus aflei dat hy nie stilgebly het oor die bandeloosheid en verdorwenheid in sy gemeenskap nie. Hy het gepraat, gewaarsku, geprofeteer. Die pyniging van sy siel om in so ‘n vervalle en sondige geslag te moes leef, was seker so intens dat God hom liewer weggeraap het van die aarde af na Hom toe. Die Bybel maak bekend hoe God oor die mens gevoel het in die dae van Noag, drie geslagte na Henog. “Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.” Hoe kosbaar moes ‘n man soos Henog vir God gewees het tussen mense wie se gedagtes net sleg was. So kosbaar dat Hy hom liewer weggeneem het, want Henog het met God gewandel.

Terwyl ek besig was om hierdie gedeelte oor Henog te skryf, het ek na ‘n oordenking geluister. Dirk het gepraat oor ons stiltetyd en gewonder of ons harte so stil is voor God dat ons hoor wat Hy vir ons wil sê. Hy het verduidelik wat werklike stilte is. Die nagstilte wanneer al die geluide van voertuie stilgeword het, alle bedrywighede van mense en mense stemme stilgeword het, wanneer selfs die honde en die diere slaap, dan kan ‘n mens na die stilte luister en bewus word van sagte geluide wat andersins die oor sou ontsnap het. So ‘n stilte moet in die gees neerdaal om te hoor wat God vir jou sê.

Ek het teruggedink aan my kinderjare en wat ‘n vreugde dit vir my was om in die berge te wees waar ‘n mens geen mensgemaakte geluid gehoor het nie. Waar jy op ‘n rots kon sit en die stilte om jou inadem en opslurp met jou ore. ‘n Heerlike, wonderbare stilte, verkwikkend vir siel en gees. Hoeveel mense is daar vandag wat met God wandel, mense wie se harte voor God kan stil wees. In ons gejaagde lewe met al die druk en afsnytye by die werk, die brullede, blêrende media wat met uithang-tong wag om jou lewe op te lek, maak min mense nog tyd om alleen met God te wees. Daar is te veel interessante dinge, te veel hartseer dinge, te veel sappige skinderbrokkies en te veel gruwelstories waaraan aandag gegee moet word. Kontak met God en sy Woord is net so ‘n vlugtige gewete-stillende gedagte of gebed in die haas van die oomblik. Daardie doelbewuste opsoek van stilte om diep uit die Woord van God te drink, om Hom te leer ken, is ‘n gewoonte wat nie baie mense meer beoefen nie.

Op ons plaas het ek grootgeword met die indruk dat dit die beste is om vroeg in die oggend tyd vir God te maak. Vroeg genoeg, voordat ‘n mens met ander kontak het. My oupa en ouma het so geleef en ook my ma. Toe ek as graad een dogtertjie koshuis toe is, het ek daar agtergekom dat ander mense ook soos my oupa en ouma gedink het. Ons almal het opgestaan wanneer die klok ons beveel het. Nadat ons gewas, aangetrek, bed opgemaak en kamer netjies gekry het, het die klok aangekondig dat dit stiltetyd is. Almal het doodstil by hulle beddens of lessenaars gaan sit. Dit was tyd om Bybel te lees en te bid. Niemand het rondgeloop, gekuier of gespeel nie. Ek kan nie onthou of iemand vir ons graad eentjies uit die Bybel gelees het nie. Om tien minute tjoepdoodstil te moes sit, sou seker ‘n uitdaging gewees het. Die paar sinnetjies in gebed sou sekerlik net enkele sekondes geduur het, tog, die gewoonte is in my lewe ingemessel – maak tyd vir God. Dit dra goeie vrug.

Uit Afrika is daar ook iets kosbaar wat ek gehoor het.Tydens die herlewing in Oos-Afrika het daar ‘n spreekwoord onder die gelowiges ontstaan. Soos die Evangelie baie harte aangeraak en hulle tot bekering gekom het, het die behoefte ontstaan om alleen met die Here te wees. Elke gelowige het vir hom of haar ‘n plekkie in die woud gevind waar hy alleen kon wees. Die dikwelse stap na die stiltetyd-plekkie het ‘n voetpaadjie in die gras oopgetrap. Wanneer ‘n Christen dan sy ywer verloor en begin leef het sonder daardie alleen-tye met God, het ‘n ander gelowige hom genader: “Broer, ek sien daar groei weer gras in jou voetpaadjie.” Dit was gewoonlik genoeg om die afgedwaalde weer te laat terugkeer.

Henog het seker ook stil plekke opgesoek om alleen met God te wees. Soos Jesus Christus. Hy is die Seun van God en nogtans het Hy tydens sy aardse bestaan vroeg soggens, terwyl ander nog geslaap het, tyd gevind om alleen met sy Vader in die hemel deur te bring.

Ek onthou hoe ek vroeg een oggend na die jongman gesoek het wat net na sonop in die tuin kom help het. Ek kon hom nêrens sien nie en het die koppie warm koffie op die tafeltjie neergesit. Toe ek dieper die tuin instap, het ek dadelik weer teruggetree – hy was daar voor die Wendyhuisie op sy knieë besig om ernstig te bid.  Dat hy vir God tyd gemaak het, het so ‘n  warmte en ook hoop in my hart gebring. Hoop, want hy het net onlangs uit ‘n lewe van dwelmverslawing vir hulp na ons gekom.

Na ‘n rukkie het hy, koffiebeker in die hand, by my kom staan:

“Die Here het my nog ‘n kans gegee, nou moet ek Hom alles gee.

So lank het ek sonder Hom geleef, gedoen wat ek wou, maar nou is dit die Bybel en gebed wat my sal besig hou. Ek kies dit so, ek moet vorentoe.”

Ons het vriende geword. Sy ywer en vaardigheid het gou-gou die voorkoms van ons tuin verander. Met elke nuwe plantjie wat hy geplant het, het hy vir my gesê: “Ek wil dit sien groei. Ek wil die blomme sien.”

Met vreugde het ek opgemerk dat daar ook hoop in sy hart ontvlam het, hoop dat hy nie weer sal terugval in die ou lewe van dwelms en steel en baklei nie. Elke oggend het hy eers sy wegsteekplekkie gaan opsoek voordat hy begin werk het. Toe kom vertel hy my dat hy permanente werk gekry het, maar dat hy nog gereeld in sy aftye ons tuin sal kom versorg. Hy hou sy woord. ‘n Mens verlang dat hy soos Henog sal wees wat met God gewandel het.

En wat van my en jou? Sal Jesus Christus wanneer Hy weer op die wolke kom ook vir ons opraap om vir ewig by Hom te wees omdat ons soos Henog met God wandel en die dood nie sal smaak nie?O

afAfrikaans