IS JOU OOG DAN VERKEERD?

Hy het op ‘n heuwel gaan sit – so kwaad dat hy kon sterf. Dit was die hele rede hoekom hy weggehardloop het, hy wou nie daar wees nie. Tevergeefs het hy probeer om van God af weg te vlug deur op ‘n skip te gaan wegkruip. Hy was ‘n profeet en moes geweet het dat ‘n mens dit nie kan doen nie. Die Here sien en weet alles, en wat meer is, Hy heers ook oor alles. Dus het ‘n verwoede storm op die see hom in sy wegkruipplek ingehaal en hom as die skuldige uitgewys. Ewe vroom het hy gevra dat die matrose hom maar oor boord moet gooi, liewers verdrink as om by God te pleit vir vergifnis. God is egter ook nie ‘n profeet se speelmaat nie. Hy het nie in die stormagtige see verdrink nie, want God in die hemel het een van sy groot visse gestuur om hom in te sluk. God was nog nie klaar met die profeet van Hom nie. Die storm het onmiddellik bedaar – dit was nie meer nodig nie.

As gevangene van God was Jona vir drie dae opgesluit binne in die vis se maag! Daar in die tronk sonder venster, sonder beweegruimte het hy gebid: “Toe my siel in my versmag het, het ek aan die Here gedink; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel.” Op bevel van God het die vis hom op die strand gaan uitspoeg. ‘n Mens sou dink dat hy daar in die vreemde tronk in sy hulpeloosheid ‘n verandering van hart sou ondergaan het, maar dit lyk nie so nie. Hy het toe tog na Ninevé gegaan om te doen wat God van hom verwag het, maar hier tref ons hom aan op die heuwel buitekant die stad, smoorkwaad vir God. Vir hom het dit gelyk asof God nie die vonnis wat hy as profeet oor die mense moes gaan uitspreek het, sou voltrek nie. Volgens hom was God heeltemal te genadig en barmhartig, Sy hart word te gou sag en dan vergewe Hy, dan gee Hy mense nog ‘n kans. Jona het net ‘n dagreis ver die stad ingeloop en die woorde wat God hom beveel het om te sê, uitgeroep: “Oor veertig dae word die stad Ninevé verwoes.” Tot sy groot ontsteltenis het die mense van die stad dadelik die woorde ter harte geneem, selfs die koning. ‘n Vasdag is uitgeroep en ook die diere moes niks vreet of drink nie. Man en muis het na God uitgeroep vir genade in die hoop dat Hy van plan sou  verander. Hulle het begryp dat die woorde nie van ‘n mens af gekom het nie, maar van God! In die hemel het die Here God hulle aangehoor en hulle lewens gespaar. Dit is waarom die profeet so ontsteld en kwaad was. So vol selfbejammering dat hy net aan homself kon dink. Hy was nou ‘n valse profeet, wat hy geprofeteer het, het nie gebeur nie en dit was God se skuld – Hy is mos altyd so goedhartig en genadig, selfs teenoor die vyande van sy eie volk, Israel. Jona was so jammer vir homself dat hy sommer daar op die plek kon doodgaan. Daar van die heuwel af het hy gesit en kyk of daar nie tog vuur van die hemel sou neerval of ‘n pes deur die stad sou trek en mense soos vlieë sou dood val nie.

Die hitte van die son was ondraaglik en hy het ontvlugting van die sonstrale probeer soek in ‘n skermpie wat hy sommer self aanmekaar geflans het. Toe skiet daar skielik langs hom ‘n boom op wat teen ‘n verbasende spoed gegroei het om hom met ‘n digte skaduwee te voorsien. Hy het daar onder die boom oornag, sekerlik in ‘n mate vertroos dat die Here tog gaan optree, want waarom anders die wonderboom? Wat hy nie in ag geneem het nie, was God se genade met hom as die boodskapper aan die stad. Hy moes nog ‘n les leer. Die storm op die see, dat hy opgepik en van verdrinking gered was deur ‘n vis het nog nie sy oë oopgemaak nie, miskien sou die wonderboom dit doen. Daarom het die Here ‘n wurm deur die nag gestuur om die boom so te vreet dat dit net so skielik verdroog het as wat dit opgeskiet het.  Met sonop het die Here toe ‘n warm oostewind laat waai wat saam met die hitte van die son vir Jona net te erg geword het. Hy het so kwaad geword dat sy wonderboom van die vorige dag verdor en hom so blootgestel het aan die elemente dat hy van pure jammerte vir homself die wens uitgespreek dat hy maar liewers kon sterf.

‘n Profeet – maar onbruikbaar vir die Allerhoogste. ‘n Mens wonder hoe lank hy daar gesit het? Hoe lank het die mense in Ninevé gesmeek en gevas? Meer as ‘n maand lank? Die profeet wat vir hulle kon gaan verseker het dat God hulle gehoor en gesien het, dat Hy bewus was dat hulle opgehou het met hul verkeerde dade en besluit het om nie meer die vloek oor hulle te voltrek nie, het homself tussen hulle uit verwyder omdat hy nie een met sy genadige God was nie. Selfbejammering het sy hele menswees ingesluk en hy kon net vir homself in die prentjie sien – hy die arme, verontregte profeet.

Van die hemel af het die prentjie heel anders gelyk – ‘n onwillige profeet met ‘n lang lip en ‘n harde, ongenaakbare hart wat geen genade geken het nie. Die Here het met Jona gepraat:

“Het jy enige rede om so kwaad te wees oor die wonderboom?”

“Ja, ek het rede om vertoorn te wees – tot die dood toe.”

 “Jy wil die wonderboom spaar waar jy geen tyd aan bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in een nag vergaan het. Maar Ek mag Ninevé, die groot stad waarin meer as honderd-en-twintig duisend mense is, nie spaar nie?”

Op dié noot eindig die Bybel se vertelling van Jona. Ek weet nie wat jy dink nie,  maar dit sal verskriklik wees as ‘n mens se lewensverhaal hier op aarde afgesluit moet word met so ‘n bestraffing van die Allerhoogste. ‘n Mens wil darem nie oor dieselfde kam as Jona geskeer word nie! Daardie nare gesindheid teenoor God se goedheid – tog is dit opgeskryf sodat die Woord van die Here ons kan deursoek om te kyk of ons nie dalk net soos Jona dink en optree wanneer die Here aan ander genade bewys  nie – ander wat volgens ons die genade van God nie verdien nie.  Mag ons ons van harte daarvan bekeer. Ek hoop dat Jona self hierdie storie geskryf het, want dan het al die gebeurtenisse hom tog tot inkeer gebring.

Jona se gesindheid laat my dink aan daardie die ouer broer in Jesus se storie. Hy het by die huis gebly toe die jonger een sy erfporsie voor die tyd gevra het en dit op ‘n wilde lewe gaan uitmors het. Hy was daar in die huis en het waargeneem hoedat sy pa en ma sy broer gemis het, sy plek by die etenstafel  was leeg, sy slaapplek was leeg. Hy was daar om te sien hoe sy ouers die pyn probeer vergeet het in die daaglikse bedrywighede. Hy het opgemerk hoedat sy pa elke sononder op die platdak van die huis die koelte gaan opsoek het, maar ook om ongesteurd die pad na die huis dop te hou om te kyk of die bekende figuur van sy broer nie dalk aankom nie. Soos die maande verbygegaan het en daar geen nuus van die jonger broer was nie, het hy tog sekerlik gehoor hoedat sy pa hier en daar ‘n woord van diep kommer laat val het teenoor ‘n betroubare dienskneg, miskien selfs teen hom as die ouer broer – die een wat by die huis gebly het en sy pa se belange behartig het – dat die jonger broer dalk sy lewe verloor het, dat hy dood is en nooit weer sou terugkeer nie.

Die dag toe die jonger broer wel teruggekeer het, gebroke, honger, vuil en stukkend, was hy nog in die veld. Hy het nie gesien hoedat sy pa sy broer tegemoet gehardloop het en hom met vreugde omhels en terug verwelkom het nie. Hy het nie die hartverskeurende belydenis van die broer gehoor nie, hy het nie die smeking om vergifnis gehoor nie. Vrolike musiek en stemme het vanuit die huis hom tegemoet gekom toe hy terugkeer van die veld. “Wat gebeur hier?” het hy op die werf vir ‘n bediende gevra.

“U broer het teruggekom en u vader het die vetgemaakte kalf laat slag omdat hy hom gesond teruggekry het.”

Hy was onmiddellik kwaad en het botweg geweier om in die huis in te kom. Verontwaardig, met ‘n gevoel van verontregting en selfbejammering het hy buite onder die afdak gaan sit. Toe sy pa begin wonder waar die ouer broer dan so lank bly, het die bediende hom eenkant vertel dat hy nie wil inkom nie. Die pa het uitgegaan en hom gesmeek om in te kom, maar die omgekrapte seun het die dankbare pa met ‘n string woorde van verwyt bestorm. Hy kon nie een wees met sy pa in die vreugde dat die stout broer teruggekom het nie. Hy was kwaad, het verontreg gevoel en so vol selfbejammering dat hy nooit so behandel was nie. Hy wat getrou met die werk aangegaan het, hy het nooit so ‘n fees gehad vir hom en sy vriende nie! Nie eers ‘n bokkie nie wat nog te sê van ‘n vetgemaakte kalf! Kwaad omdat sy pa genade aan die broer bewys het, vies omdat die broer nie gestraf was nie en dat almal so bly was om die roekelose, ondankbare kind weer terug te ontvang.

Die pa het maar weer probeer om sy oudste seun se hart te bereik: “Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.”

Die ouer broer was kwaad omdat daar goedheid bewys is aan iemand wat volgens hom dit nie verdien het nie. Dieselfde gesindheid ontmoet ons nog ‘n keer in ‘n ander storie wat Jesus vertel het. Daardie werkers wat net na dagbreek gehuur was om in die wingerd te gaan werk. Die loon wat hulle teen sononder sou kry, was afgespreek en met hulle instemming beklink. Deur die dag het hulle gesien dat nog en nog mense aansluit om te werk, selfs tot die laaste uur voor sononder het daar werklik nog nuwe werkers gekom. Die wat laaste gekom het, was eerste betaal – presies dieselfde bedrag wat die wat die harde werk van sonop verrig het, verwag het. Was hulle bly! Afwagtend het hulle al nader beweeg na die betaalpunt. Daar kry hulle toe presies dieselfde bedrag as die wat net een enkele uur gewerk het. Hoe onregverdig, het hulle dadelik gebrom, want hulle het gedink dat hulle meer sou kry. Hulle het mos die harde werk verrig – die hele dag lank. Nou kry dié wat net ‘n kort rukkie, toe die skaduwees al lank geword het, gewerk het presies net soveel soos hulle. Verontregting en selfbejammering het hulle gedagtes so gevul dat hulle openlik teenoor die eienaar van die wingerd gemurmureer het. Hy het vir die een naaste aan hom gesê: “Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir ‘n penning nie? Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. Staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?”

Wanneer ‘n mens na al die voorbeelde kyk hoe ‘n mens so verontreg kan voel wanneer daar aan ‘n ander goedheid bewys word – aan iemand wat jy dink dit darem glad nie verdien nie, dan is daar ‘n vraag? Is jou oog dalk ook verkeerd omdat jy dink dat jý die goedheid en genade van die Here verdien – nie die ander een wat darem soveel slegter as jy is nie?

afAfrikaans