HERINNERINGE

Elke mens het herinneringe, want normaalweg het ons mos darem almal ‘n geheue wat gebeure en gesprekke wegstoor. My ma was sewe en neëntig jaar oud toe sy gesterf het en by haar het ek nooit ‘n bitter herinnering opgetel nie. Toe ek haar eendag daarna uitvra het sy vir my met ‘n glimlag gesê: “Ag kind, ek onthou net die mooi uit die lewe.”

My ma moes die gesindheid by haar ma geleer het want my ouma was ook so. Sy was ‘n dogter van dertien jaar oud toe hulle plaashuis in die Boere oorlog afgebrand is en hulle na ‘n konsentrasiekamp weggevoer is, maar nooit was daar bitterheid in die stories wat sy vir ons vertel het nie. Genoeg hartseer dinge het met my ouma en my ma gebeur, hulle kon bitter geword het, maar dit was nie daar nie.

Toe ek nou onlangs weer van Korag lees, het ek gewonder oor die man wat so galbitter was in sy jaloesie dat hy ‘n bende opstandiges kon lei om teen die gesalfdes van die Here op te staan. Wat het in sy innerlike omgegaan dat hy nie meer tevrede was met die spesiale rol wat die Here hom gegee het nie? Wat doen hy nou daar waar hy in die buitenste duisternis sit nadat die aarde oopgegaan en hom ingesluk het? Herinneringe van al die verstommende werke van God waarvan hy ‘n ooggetuie was, moet nou nog aan hom knaag na al die duisende jare. Daar in die buitenste duisternis is geen slaappil of medisyne teen depressie om hierdie smartlike herinneringe te verdoof nie. Weens sy uitdagende opstand en eiesinnigheid, sit hy nou daar in die hool van satan vir ewig geskei van God en sy heilige teenwoordigheid. Vir ewig verban na die buitenste duisternis waar daar gekners van tande is en berou wat nie meer tot bekering kan lei nie – vir ewig te laat.

Ek het Korag se voetspore deur die Bybel gevolg, want ek wou bietjie uitvind waar die man vandaan kom. ‘n Mens ontmoet Korag daar waar Aaron en Moses se geslagsregister uiteengesit word. Hulle was neefs. Kehat, een van die seuns van Levi, was hulle oupa. Moses en Aaron se pa was Amram en Korag se pa was Jishar. Korag, Aaron en Moses was naby familie – dieselfde oupa en oupagrootjie van vaderskant.

Korag het met sy eie oë gesien wat God deur Moses as leier gedoen het teenoor Farao met hulle uittog uit Egipte en daar in die woestyn. Hy het alles self beleef by die berg Sinai toe Moses vir veertig dae en nagte alleen by God op die berg was. Hy was daar toe die volk handuit geruk het en vir sy neef Aaron omgepraat het om ‘n afgod te maak wat hulle kon aanbid. Hy het Moses se reaksie gesien toe hy van die berg af kom en die volk besig gevind het om ‘n goue kalf te aanbid. Hy was daar toe Moses in die poort van die laer gaan staan en uitgeroep het:

“Wie vir die Here is, kom na my toe!”

Mans van Moses se familie, die stam van Levi, het by Moses vergader en op Moses se bevel hulle swaarde getrek teen hulle eie mense. Hulle was baie! In ‘n volkstelling later in die woestyn is 22 000 getel onder die manlike lede van die stam, van een maand en ouer. En tussen die ouderdomme van twintig tot vyftig jaar van die mans wat diens kon doen in die tabernakel, was hulle 8,580.

Hulle was aan die Here se kant en het tussen die volk uitgegaan en rondom Moses vergader. Moses het vir hulle gesê: “So spreek die Here, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak. En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op die dag omtrent drieduisend man geval.”

‘n Soort van burgeroorlog moes daardie dag geheers het. Verbete gevegte, want watter man sou maar net doodstil gesit het dat ‘n ander hom doodmaak? Drie duisend manne het gesneuwel daar om die tente. Die vrouens en kinders het seker weggekruip in die tente of uit die kamp gevlug. ‘n Mens kan dink dat dit die voorbokke was wat doodgemaak is. Die wat ander aangehits het om vir Aaron te vra om ‘n afgod vir hulle te maak. Die wat deur die duiwel geïnspireer was om die volk op te sweep teen Moses wat so lank weg was. En die man Korag was daar met sy swaard. Hy het daardie dag nie omgegee of dit ‘n familielid, ‘n vriend of ‘n buurman was nie, as die persoon skuldig was as ‘n opstoker, het Korag en die ander van sy stam hierdie mense doodgemaak soos die Here beveel het.

Die Here het dit wat die Leviete vir sy Naam gedoen het, gesien en dit ter harte geneem. God in die hemel het Levi se stam onder die volk uitgekies om na aan Hom te kom. Hy het die versorging van die tabernakel aan hulle toevertrou nog voordat die tabernakel gemaak was. Die opdragte was nog net aan Moses bekend. Daardie dag het die Here die spesifieke verantwoordelikheid aan die Leviete gegee. Hulle gehoorsaamheid aan sy bevel, en die feit dat hulle nie teruggedeins het om teen bekendes op te tree nie, het hulle afgesonder vir God se gebruik. En Korag en sy seuns was onder die Leviete daardie dag van die burgeroorlog. Hy was aan die kant van God en Moses.

So het die Leviete dan die verantwoordelikheid gekry om die tabernakel te versorg en op te pas. Hulle was opgedeel in groepe onder die name van die drie seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari.

“En die Here het met Moses gespreek en gesê: Laat die stam van Levi naderkom, en stel hulle voor Aaron, dat hulle hom kan dien. En hulle moet sy diens waarneem en die diens van die hele vergadering voor die tent van samekoms , om die dienswerk van die tabernakel te verrig. En hulle moet sorg vir al die gereedskap van die tent van samekoms en vir die diens van die kinders van Israel, om die dienswerk van die tabernakel te verrig. En jy moet die Leviete aan Aaron en sy seuns gee, hulle is heeltemal aan hom gegee uit die kinders van Israel.”

Hulle het hul tente om die tabernakel opgeslaan soos die Here beveel het. Die Kehatiete aan die suidekant van die tabernakel op bevel van die Here. Die Kehatiete moes die hoogheilige dinge dra wanneer kamp opbreek en die Israeliete op trek was. Daar was egter baie spesifieke opdragte hoe hierdie hoogheilige dinge gehanteer moes word. Korag en sy kinders was hier betrokke, hulle was van die Kehatiete.

Die man, Korag, maak ‘n mens se hart seer en sy einde is ook ‘n baie ernstige waarskuwing. Dink net! Korag het net soos die ander in slawerny grootgeword. Hy was ‘n slaaf in Egipte en die geskiedenis van Abraham, Isak en Jakob was vir hom seker intens bekend. Hy het tog die magtige werke van die Here God met sy eie oë gesien – die plae in Egipteland en met watter sterk hand hulle uitgelei is uit die land van slawerny. Hy het tog gesien dat die Here sy teenwoordigheid aan hulle bekend gemaak het deur die wolk wat bokant hulle was terwyl hulle in die woestyn getrek het en hulle teen die son beskut het. Hy was tog snags bewus van die Here se teenwoordigheid in die wolk bokant hulle wat ‘n lig was. Toe die Egiptiese leër opgemerk is en hulle besef het dat hulle agtervolg word deur hul vorige slawedrywers, het hy tog met sy eie oë gesien hoedat die Here vir hulle geveg het. Met sy eie oë het hy gesien hoedat die wolk voor hulle weggaan en agter hulle gaan staan het tussen hulle en die Egiptiese soldate. Die Bybel vertel ons dat ook die Engel van die Here wat voor die volk uitgetrek het agter hulle gaan staan het. Die stryd was God se stryd en dit het voor Korag se oë afgespeel. Die see is oopgekloof en hulle kon droogvoets deurtrek, maar die weermag van Farao het in die see hulle dood tegemoet gegaan toe die waters weer terugstroom. Net die Almagtige kan so stryd voer, die natuur en die wette van die natuur is volkome onder sy gesag. Hy is die Skepper.

God het vir hulle gesorg in die woestyn, water, vleis en manna is voorsien uit sy hand deur groot en magtige wonderwerke wat net God kan verrig. Korag was tog daar toe hulle by die berg Sinai aangekom het en die Here God in die wolk kragtiglik neergedaal het op die berg. Hy het tog self gehoor hoedat die Here God met die volk vanuit die hemel praat en vir hulle sy gebooie neergelê het. Was hy nie ook onder die wat van vrees so gebewe het dat hulle vir Moses gesmeek het om liewer in hulle plek na die Here te luister nie? Te bang dat hy sou sterf as die Here nog een woord verder met hulle praat?

 

Wat het dan verkeerd gegaan in sy binneste? Waar en wanneer het hy dan begin fout vind met die gesalfdes van die Here? Hy was dan onder die wat uitgekies was om die tabernakel te versorg en die hoogheilige dinge van die Here te dra. Hy het dan geweet dat onbevoegde persone nie naby die hoogheilige dinge van God durf kom nie.

Sy eie niggie, Miriam se voorbeeld was tog ook daar vir hom. Hoe sy melaats geword het toe sy en Aaron teen Moses opgestaan het en die Here vir hulle gesê het: “Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die Here. Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Moses, te spreek nie?”

Hoe kon Korag dan sy vrees vir die Here verloor terwyl hy ooggetuie was van alles wat met hulle gebeur het onder die magtige hand van God? Juis hy wat dan ook uitgekies was om naby aan God te kom. Sy tent was opgerig naby die ark van die Here se teenwoordigheid. Die wolk wat snags alles verlig het, was naby sy tent, reg bokant en binnekant die tabernakel waarvoor hy ook met die versorging moes help. Korag en sy kinders het aan God behoort en Hy het hulle onder die gesag van Aaron en sy seuns gestel. Êrens het daar egter iets aan Korag begin skaaf. Aaron kon in die heiligdom wees, maar nie hy nie. Aaron en sy seuns moes eers al die hoogheilige dinge wat die Kehatiete moes dra, toedraai in doeke en robvelle en dit op draagbare sit. Korag en sy kinders mag nie aan enige hoogheilige ding geraak het nie en selfs nie in die heiligdom ingekyk het nie, dan sou hulle sterf.

Aaron en sy seuns het ‘n baie groot verantwoordelikheid gedra en Korag en sy kinders kon deel aan daardie besondere taak. Tog het iets aan die man gekrap. Miskien het hy in sy tent gesit en gewonder wat nou eintlik vir Aaron so anders as hy gemaak het en waarom moes hy onder Aaron werk? Hoekom kon hy nie ook in die heiligdom ingaan nie, buitendien sou hy dit beter as Aaron kon doen. Hy het nie die volk bandeloos laat word en die goue kalf gemaak nie. In Psalm 106 lees ons dat hulle afgunstig was op Moses en Aaron wat aan die Here toegewy was. ‘n Mens kan net dink wat die jaloesie so hoog in Korag aangeblaas het – hy was mos darem ‘n bloedneef van die twee leiers.

Waar kom die vriendskap vandaan met Datan en Abiram? Dit is insiggewend om te sien dat Korag altyd sy tent aan die suidekant van die tabernakel opgeslaan het – elke tent het sy presiese posisie gehad. Datan en Abiram was Rubeniete en hulle tente se posisie was ook aan die suidekant van die tabernakel. Daaruit kan ‘n mens aflei dat die manne nie ver van mekaar gewoon het nie. Miskien was Korag al oor die vyftig en het nie meer aktiewe diens gedoen nie, maar dit lyk asof hy en sy “bende” soos die Bybel dit noem, tyd gehad het om teenoor mekaar hulle griewe te lug. Hoe kon hy so ‘n groot invloed uitoefen dat twee honderd en vyftig volksleiers saam met hom kon gaan na Moses en Aaron? Hy moes sekerlik geleenthede geskep het waar hy hulle onder die bitterheid van sy jaloesie gebring het en hulle beïnvloed het om foute in Aaron en in sy dienswerk as hoëpriester raak te sien. Hy moes agteraf gekonkel het onder die volk wat in elk geval so maklik kon murmureer en fout vind.

Kan ‘n mens so geregverdig voel in jou griewe, terwyl die teenwoordigheid van die Here sigbaar was in die wolk reg bokant die tabernakel!

Korag het met sy ontevredenheid ‘n hele bende opgebou wat dieselfde gees as hy gehad het. Hulle het hulleself gelyk gestel met Moses en Aaron! “Die Here praat ook met ons, nie net met julle twee nie.” Die afgesonderde leierskap van Moses en ook Aaron as hoëpriester was heilig in God se oë. Hoogheilig, want Hy het die twee mans in hulle posisies aangestel en hulle Sy Gees gegee om die taak wat Hy op hulle gelê het te volbring. Hulle was God se gesalfdes. Deur die gesalfdes van God aan te raak met sy opstandige woorde, het Korag en die ander aan die hoogheilige dinge van God geraak.

Wat ‘n verskrikking moes dit nie gewees het om vir Korag, sy tent en alles wat aan hom behoort het, daar reg langs die tabernakel, skielik te sien verdwyn – ingesluk deur die aarde wat oopgegaan het. So ook Datan en Abiram, hulle tente en almal wat by hulle kom staan het. Hulle bravade is weggesluk deur die aarde wat oopgegaan het en weer oor hulle toegegaan het. Alles was weer soos gewoonlik, maar die plekke waar Korag, Datan en Abiram se tente gestaan het, was leeg. Hulle was daar nie meer nie! Hulle het lewend afgedaal na die hel. Hulle het nie geskroom om voor die hele vergadering die hoogheilige dinge van God aan te raak nie en die hel het hulle ingesluk. Die twee honderd en vyftig manne van naam, raadslede wat toegelaat het dat hulle lewens deur ‘n jaloerse Leviet beïnvloed was tot soveel dwaasheid, is deur vuur verteer en het by die drie ingesluktes gaan aansluit.

Om te dink dat Korag en sy bende nog vandag daar in die hel sit wat hulle soveel duisende jare gelede ingepalm het. Al wat hulle oorgehou het van die hele uittog vanuit Egipte is herinneringe en herinneringe wat brand soos vuur. Die dade van God, die woorde van God en die waarskuwings van God, ook deur sy kneg, Moses, is sekerlik herinneringe wat brand en brand, maar geen berou kan hulle weer uit daardie pyniging verlos nie. Tot in alle ewigheid sal hulle daar in die buitenste duisternis ly en berou hê omdat hulle nie gehoorsaam was nie.

Dis darem ‘n groot verligting om te besef dat ek en jy nog tyd het om berou te hê oor ons ongehoorsame optrede, ons het nog tyd dat die berou ons tot bekering kan lei, dat ons veilig herstel word in die kudde van die goeie Herder, Jesus Christus. Daar is nog vandag tyd voordat dit vir ewig te laat is en ons afdaal om Korag en sy bende te ontmoet waar hulle in die verdoemenis weeklaag oor herinneringe wat die ewigheid so anders vir hulle kon gemaak het.

afAfrikaans