{"id":1785,"date":"2026-04-28T18:06:07","date_gmt":"2026-04-28T18:06:07","guid":{"rendered":"https:\/\/www.heartatrest.net\/?p=1785"},"modified":"2026-04-28T18:14:12","modified_gmt":"2026-04-28T18:14:12","slug":"die-geknakte-riet","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/die-geknakte-riet\/","title":{"rendered":"DIE GEKNAKTE RIET"},"content":{"rendered":"<body>\t\t<div data-elementor-type=\"wp-post\" data-elementor-id=\"1785\" class=\"elementor elementor-1785\" data-elementor-post-type=\"post\">\n\t\t\t\t\t\t<section class=\"elementor-section elementor-top-section elementor-element elementor-element-0327658 elementor-section-boxed elementor-section-height-default elementor-section-height-default\" data-id=\"0327658\" data-element_type=\"section\" data-e-type=\"section\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-container elementor-column-gap-default\">\n\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-column elementor-col-100 elementor-top-column elementor-element elementor-element-6cccefb\" data-id=\"6cccefb\" data-element_type=\"column\" data-e-type=\"column\">\n\t\t\t<div class=\"elementor-widget-wrap elementor-element-populated\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-element elementor-element-0586b2c elementor-widget elementor-widget-heading\" data-id=\"0586b2c\" data-element_type=\"widget\" data-e-type=\"widget\" data-widget_type=\"heading.default\">\n\t\t\t\t<div class=\"elementor-widget-container\">\n\t\t\t\t\t<h2 class=\"elementor-heading-title elementor-size-default\">DIE GEKNAKTE RIET<\/h2>\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/section>\n\t\t\t\t<section class=\"elementor-section elementor-top-section elementor-element elementor-element-d661b37 elementor-section-boxed elementor-section-height-default elementor-section-height-default\" data-id=\"d661b37\" data-element_type=\"section\" data-e-type=\"section\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-container elementor-column-gap-default\">\n\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-column elementor-col-100 elementor-top-column elementor-element elementor-element-dc25993\" data-id=\"dc25993\" data-element_type=\"column\" data-e-type=\"column\">\n\t\t\t<div class=\"elementor-widget-wrap elementor-element-populated\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-element elementor-element-6137a8e elementor-drop-cap-yes elementor-drop-cap-view-default elementor-widget elementor-widget-text-editor\" data-id=\"6137a8e\" data-element_type=\"widget\" data-e-type=\"widget\" data-settings='{\"drop_cap\":\"yes\"}' data-widget_type=\"text-editor.default\">\n\t\t\t\t<div class=\"elementor-widget-container\">\n\t\t\t\t\t\t\t\t\t<div class=\"x_elementToProof\" data-olk-copy-source=\"MessageBody\">\n<p>Mattheus 12:20<\/p>\n<\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\"><i>\u201c\u2018n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en \u2018n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie.\u201d<\/i><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\"><i>\u00a0<\/i><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Jesus het op \u2018n Sabbatdag in \u2018n sinagoge gekom en daar \u2018n man met \u2018n verdorde hand gesond gemaak. Die Farise\u00ebrs was vir Hom smoorkwaad omdat Hy op \u2018n Sabbat aan iemand goed gedoen het. Volgens hulle was dit nie geoorloof nie! Dink net! Hulle wou vir Jesus doodmaak omdat Hy aan \u2018n man wat deur sy gebrek soos \u2018n geknakte riet was, goed gedoen het. Jesus \u00a0het toe vandaar weggegaan en op \u2018n ander plek al die siekes wat agter Hom aangeloop het, gesond gemaak. Ons lees dat Hy hulle streng beveel het om Hom nie bekend te maak nie sodat die woord wat deur die profeet Jesaja gespreek is vervul kon word. Dan volg hierdie aanhaling dat sy stem nie in twis en harde uitroepe op straat gehoor sal word nie. Hy sal \u2018n riet wat geknak is nie verbreek nie, en \u2018n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie.<\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\"><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Dit is duidelik dat hier van mense gepraat word, \u2018n mens wat soos \u2018n geknakte riet is of soos \u2018n lamppit wat rook. My gedagtes het na Elia toe gegaan. Hy wat so kragtig deur God gebruik was toe Israel van God afvallig geword het, het onverwags opgetree soos \u2018n geknakte riet en soos \u2018n lamppit wat rook.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u00a0Elia het opdrag gekry om \u2018n droogte wat drie en \u2018n halwe jaar sou duur, aan te kondig en daarna moes hy gaan wegkruip dat Agab hom nie kon kry en doodmaak nie. Daar in die eensaamheid van sy skuilplek het kraaie hom versorg met vleis en brood, elke oggend en aand. Toe die water in die spruit opgedroog het, is hy na \u2018n weduwee in Sarfat gestuur en sy sou hom versorg. Toe dit die Here se tyd was vir \u2018n konfrontasie tussen Hom en die Ba\u00e4l profete wat sy volk so mislei het, het Elia weer in die openbaar verskyn en koning Agab gevra om die volk van God en die profete van Ba\u00e4l op die berg, Karmel saam te roep.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u00a0\u201cHoe lank hink julle nog op twee gedagtes. As die Here God is, volg Hom na; en as Ba\u00e4l dit is, volg hom na.\u201d<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Voor die o\u00eb van die afvallige volk het dit baie duidelik uitgestaan dat Ba\u00e4l net \u2018n\u00a0 dooie afgod was met ore wat nie kon hoor nie en hande wat nie kon beweeg om sy aanbidders te help nie. Die God van Israel leef, want Hy het sy dienaar, Elia, se gebed dadelik verhoor en vuur gestuur om die offer te verteer. Die hele volk het op hulle aangesigte voor die lewende God neergeval en uitgeroep dat Hy God is. Daardie konfrontasie met die profete van Ba\u00e4l, die re\u00ebn wat die jarelange droogte gebreek het en nog die krag om voor die koets van Agab vir meer as dertig kilometers uit te hardloop, het Elia se kragte getap. Na al die verstommende gebeure, vind ons die profeet, Elia, \u2018n dag of twee later in die woestyn onder \u2018n besembos.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u2018n Geknakte riet.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Moeg, uitgeput en sonder hoop vir sy lewe.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u2018n Lamppit wat rook.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Nie dat hy teen sy God gedraai het nie, nee, net tot die dood toe moeg en stukkend, want na alles wat hy gedoen het vir God se volk kry\u00a0hy stank vir dank. Na daardie ingrypende wonderwerk van God waar Hy Homself weereens as die God van Israel openbaar het, hoor ons nie dat een van die volk hulle openlik by Elia geskaar het nie. Nie een van hulle het vir hom huisvesting, kos of beskerming aangebied nie. Agab wat \u2018n ooggetuie was van alles wat daar op Karmel gebeur het, moes tog ook neergeval en saam met die volk uitgeroep het dat God waarlik die God van Israel is. Met watter soort gesindheid het hy dan vir \u00a0Is\u00e9bel gaan vertel alles wat Elia gedoen het? Niks van wat God gedoen het nie \u2013 Elia kon tog nie die vuur vanuit die hemel laat val het om die offer te verteer nie. Om te hoor van die slagting van vierhonderd en vyftig van h\u00e1\u00e1r Ba\u00e4l profete het haar<ins datetime=\"2026-04-25T08:33\"><\/ins>met woede en wraak gevul. Sy het onmiddellik \u2018n boodskapper na Elia gestuur om hom in te lig dat sy lewe aan \u2018n draadjie hang. Wat hy aan die profete van Ba\u00e4l gedoen het, sou aan hom gedoen word.<ins datetime=\"2026-04-25T08:38\"><\/ins><br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Elia het gevlug! Eers ver genoeg om in \u2018n gebied te kom te kom waar die wrede Is\u00e9bel geen gesag gehad het nie. Dit was egter vir hom nog nie ver genoeg van die gevaar nie. Hy was volgens hom die enigste profeet wat uit haar kloue ontsnap het. Die volk het weggedraai van hulle God, en sy altare l\u00ea\u00a0 omgegooi. Niks wat hy kon doen, het die volk teruggebring na God nie en nou wil hulle hom ook doodmaak. \u00a0<\/div><div class=\"x_elementToProof\"><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u00a0\u201cDit is genoeg, neem nou my siel weg, Here.\u201d<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Het die Here hierdie geknakte riet gebreek en sy lewe weggevat? Hierdie lamppit waar die vlammetjie nie meer sigbaar was nie, net die rook van moedeloosheid \u2013 het die Here dit doodgedruk en uitgedoof?<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Nee! God in die hemel het anders gedink as sy profeet. Miskien het Elia gedink en gehoop dat die Here sy gebed sou verhoor voordat hy uitgeput daar onder die besembos aan die slaap geraak het. Die Here het egter \u2018n engel na die geknakte riet gestuur om vir hom kos te maak!<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u201cStaan op, eet!\u201d<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Die engel se aanraking en stem het Elia wakker gemaak. Dit lyk nie asof hy die engel gesien het nie, maar wel die broodkoek en die kruik water. Hy het ge\u00ebet en gedrink en dadelik weer aan die slaap geraak. Vir \u2018n tweede keer het die engel hom aangeraak en ges\u00ea: \u201cStaan op, eet; anders is die pad vir jou te veel.\u201d<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Dis duidelik dat die Here geweet het dat Elia beplan het om so ver weg te vlug dat Isebel hom nooit in die hande kon kry nie. Hy het Elia nie gekeer nie, maar vir hom kos gestuur om hom te versterk vir die lang pad \u2013 moontlik ses tot sewe honderd kilometer deur die woestyn! Elia se kop het in die rigting van Horeb gestaan, Horeb die berg van God. Hy het mos vir drie en \u2018n halwe jaar weggekruip, nou kon hy weer gaan wegkruip, ver weg waar niemand hom sou vind nie. Daar waar God wonderbare dinge vir sy volk gedoen het, d\u00e1\u00e1r kon hy dalk heenkome vind.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Die geknakte riet het vir veertig dae en veertig nagte deur die woestyn gestap. Die vlam wat so hoog gebrand het in sy binneste daar op Karmel, was nou so klein dat die pit maar net gerook het, hy was \u2018n vlugteling.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Wat het in Elia se gedagtes omgegaan toe hy vir meer as \u2018n maand lank elke dag net gestap het deur die sand van die woestyn? Het hy die geskiedenis van die volk van God onthou? Gedink aan Moses wat daar by die voet van berg Horeb die lewende God ontmoet het? Daar waar Hy \u00a0vanuit \u2018n brandende bos met Moses gepraat het en vir hom opdrag gegee het om die volk uit Egipte te bring. Moses wat vir veertig dae en veertig nagte daar op die berg in God se teenwoordigheid deurgebring het? Het hy onthou hoe die volk daar in die woestyn tientalle kere gemurmereer het en wat hulle alles oorgekom het? Of was sy gedagtes \u00a0besig met alles wat hyself deurgegaan het vandat hy as \u2018n profeet van die Allerhoogste opgetree het?<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Horeb \u00a0was \u2018n heel ander soort berg as Karmel. D\u00e1\u00e1r op Karmel was Elia die profeet wat aan die kant van God gestaan het en hy kon die koning en die hele volk uitdaag. Die Here kon daar groot wonderwerke doen, maar op Horeb het hy aangekom as \u2018n vlugteling, \u2018n profeet wat kom wegkruip om sy lewe te red. Die Here het vir hom gevra:<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u00a0\u201cWat maak jy hier, Elia?\u201d<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Het Elia in die vraag gehoor dat die Here hom berispe? Waarom het hy die volk wat hom nodig het, verlaat? Waarom het hy sy roeping as profeet vergeet? Die geknakte riet verdedig homself en regverdig sy optrede. Die smart van sy hart oor die toestand van die volk, die seer en die \u00a0bedruktheid van sy gemoed het hy in \u2018n paar sinne verwoord:<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u201cEk het baie geywer vir die Here, die God van die le\u00ebrskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem.\u201d<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Wat wou die Here God vir Elia leer toe Hy hom beveel het om uit die spelonk te kom om daardie sterk wind wat rotse kon breek, die aardbewing en toe die vuur te aanskou? Dit het Elia nie so diep beweeg soos die sagte, koel ruising wat gevolg het nie. \u00a0Daarin het hy die teenwoordigheid van God herken en sy gesig bedek.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u2018n Tweede keer het die Here vir Elia gevra:<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u201cWat maak jy hier, Elia?\u201d<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Na alles wat Elia beleef het daar op die berg, was sy antwoord presies dieselfde. Hy was waarlik \u2018n diep geknakte riet! En wat het God gemaak met die profeet wat daar voor hom so sonder vlam was, bedek in rook van sy selfregverdiging en ellende? God het hom die hele pad teruggestuur na dieselfde volk toe, maar met \u2018n opdrag wat hom gevul het met nuwe moed. Die drie mense wat hy moes gaan salf, hulle sou afreken met die afvallige volk en die afvallige koningshuis.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Kan dit wees dat jy ook na \u2018n goeie en vrugbare lewe, jouself daar bevind dat jy maar liewers wil doodgaan. Jou hart s\u00ea ook vir jou: \u201cDit is nou genoeg. Genoeg van sukkel en stry. Genoeg aan misverstande en harde woorde. Genoeg van al die mislukkings en foute. Genoeg van die w\u00eareld met al sy onmin, haat, nyd en donkerte. Genoeg!\u201d<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u00a0Het jy handdoek ingegooi? Jou hande gevou en laat alles by jou verbygaan asof jy niks sien en niks hoor nie? Jou geloof in God die Almagtige wat oor alles heers, het geword soos \u2018n lamppit wat rook \u2013 daar is amper niks meer oor nie. Jy kan nie meer in die wind beweeg soos \u2018n riet nie \u2013 die wind van die lewe het die riet geknak. Jy voel geknak, jy dink soos \u2018n geknakte en jy reageer vanuit \u2018n geknakte toestand. Dit is makliker om liewers die tyd om te slaap of om te wens.<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">\u201cStaan op! Eet.\u201d<br><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Die Woord van God is die Brood wat jy nodig het. Maak jou hart wyd oop en kom as die geknakte riet na die Een wat jou nie verder sal breek nie. Kom as die rokende lamppit na die Een wat jou nie sal uitdoof nie, maar eerder die lamppit sal skoonmaak dat die vlam van die lewe weer hoog in jou kan brand.<\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\"><br><\/div>\n<div class=\"x_elementToProof\">Daar is vir jou \u2018n opdrag: \u201cEet, anders gaan die pad vir jou te lank word. Jy moet nog baie vir my Naam ly. Jy moet nog die opkomende geslagte vertel van die groot dade van God. Jy moet hulle verseker dat Hy, ons barmhartige en genadige God, ons God sal wees tot die dood toe.\u201d<\/div>\t\t\t\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/section>\n\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/body>","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>Jesus het op \u2018n Sabbatdag in \u2018n sinagoge gekom en daar \u2018n man met \u2018n verdorde hand gesond gemaak. Die Farise\u00ebrs was vir Hom smoorkwaad omdat Hy op \u2018n Sabbat aan iemand goed gedoen het. Volgens hulle was dit nie geoorloof nie! Dink net! Hulle wou vir Jesus doodmaak omdat Hy aan \u2018n man wat deur sy gebrek soos \u2018n geknakte riet was, goed gedoen het. Jesus  het toe vandaar weggegaan en op \u2018n ander plek al die siekes wat agter Hom aangeloop het, gesond gemaak. Ons lees dat Hy hulle streng beveel het om Hom nie bekend te maak nie sodat die woord wat deur die profeet Jesaja gespreek is vervul kon word. Dan volg hierdie aanhaling dat sy stem nie in twis en harde uitroepe op straat gehoor sal word nie.<\/p>","protected":false},"author":6,"featured_media":0,"comment_status":"closed","ping_status":"open","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"h5ap_radio_sources":[],"footnotes":""},"categories":[106],"tags":[],"class_list":["post-1785","post","type-post","status-publish","format-standard","hentry","category-waar-die-hart-van-vol-is"],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/1785","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/users\/6"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=1785"}],"version-history":[{"count":5,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/1785\/revisions"}],"predecessor-version":[{"id":1801,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/1785\/revisions\/1801"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=1785"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/categories?post=1785"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/tags?post=1785"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}