{"id":923,"date":"2022-08-05T21:39:54","date_gmt":"2022-08-05T21:39:54","guid":{"rendered":"https:\/\/www.heartatrest.net\/?page_id=923"},"modified":"2022-09-04T16:10:40","modified_gmt":"2022-09-04T16:10:40","slug":"dibri","status":"publish","type":"page","link":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/korter-verhale\/dibri\/","title":{"rendered":"Dibri"},"content":{"rendered":"<body>\t\t<div data-elementor-type=\"wp-page\" data-elementor-id=\"923\" class=\"elementor elementor-923\" data-elementor-post-type=\"page\">\n\t\t\t\t\t\t<section class=\"elementor-section elementor-top-section elementor-element elementor-element-5bf1737 elementor-section-boxed elementor-section-height-default elementor-section-height-default\" data-id=\"5bf1737\" data-element_type=\"section\" data-e-type=\"section\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-container elementor-column-gap-default\">\n\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-column elementor-col-100 elementor-top-column elementor-element elementor-element-8dc580d\" data-id=\"8dc580d\" data-element_type=\"column\" data-e-type=\"column\">\n\t\t\t<div class=\"elementor-widget-wrap elementor-element-populated\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-element elementor-element-9b0a589 elementor-widget elementor-widget-heading\" data-id=\"9b0a589\" data-element_type=\"widget\" data-e-type=\"widget\" data-widget_type=\"heading.default\">\n\t\t\t\t<div class=\"elementor-widget-container\">\n\t\t\t\t\t<h1 class=\"elementor-heading-title elementor-size-default\">Dibri<\/h1>\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/section>\n\t\t\t\t<section class=\"elementor-section elementor-top-section elementor-element elementor-element-e6439d2 elementor-section-boxed elementor-section-height-default elementor-section-height-default\" data-id=\"e6439d2\" data-element_type=\"section\" data-e-type=\"section\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-container elementor-column-gap-default\">\n\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-column elementor-col-100 elementor-top-column elementor-element elementor-element-e47da9f\" data-id=\"e47da9f\" data-element_type=\"column\" data-e-type=\"column\">\n\t\t\t<div class=\"elementor-widget-wrap elementor-element-populated\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-element elementor-element-4f992a9 elementor-widget elementor-widget-text-editor\" data-id=\"4f992a9\" data-element_type=\"widget\" data-e-type=\"widget\" data-widget_type=\"text-editor.default\">\n\t\t\t\t<div class=\"elementor-widget-container\">\n\t\t\t\t\t\t\t\t\t<p><span style=\"color: var( --e-global-color-text ); font-family: var( --e-global-typography-text-font-family ), Sans-serif; font-weight: var( --e-global-typography-text-font-weight ); font-size: 1rem;\"><img loading=\"lazy\" decoding=\"async\" class=\"wp-image-897 alignright\" src=\"https:\/\/www.heartatrest.net\/wp-content\/uploads\/2022\/08\/Dibri_BirdInHand-300x201.jpg\" alt=\"\" width=\"593\" height=\"398\" loading=\"lazy\" srcset=\"https:\/\/www.heartatrest.net\/wp-content\/uploads\/2022\/08\/Dibri_BirdInHand-300x201.jpg 300w, https:\/\/www.heartatrest.net\/wp-content\/uploads\/2022\/08\/Dibri_BirdInHand-1024x686.jpg 1024w, https:\/\/www.heartatrest.net\/wp-content\/uploads\/2022\/08\/Dibri_BirdInHand-768x514.jpg 768w, https:\/\/www.heartatrest.net\/wp-content\/uploads\/2022\/08\/Dibri_BirdInHand-1536x1028.jpg 1536w, https:\/\/www.heartatrest.net\/wp-content\/uploads\/2022\/08\/Dibri_BirdInHand-2048x1371.jpg 2048w, https:\/\/www.heartatrest.net\/wp-content\/uploads\/2022\/08\/Dibri_BirdInHand-18x12.jpg 18w\" sizes=\"auto, (max-width: 593px) 100vw, 593px\" \/><\/span><\/p><p>\u201cFoeitog, het jy uit die nes geval?\u201d Dibri tel die vo\u00ebltjie op en voel hoe die hartjie teen sy vingers klop. Hy laat dit in sy bak hand sit en bekyk dit van alle kante. Die vo\u00ebltjie het \u2018n gesonde veredos en lyk asof dit gereed is om te leer vlieg. Dibri kyk op in die boom, maar kan glad nie \u2018n nes sien nie. Hy loop na die klein stroompie wat dig teen die boom verby vloei, druk sy vingers in die water en drup dit op die vo\u00ebltjie se bekkie.<\/p><p>\u201cIs jy uit jou nes geskop? Hou jou ma nie van jou nie? Toemaar wat, dit maak dan twee van ons. Ek is ook nie welkom in my ouma se huis nie, sy hou niks van my nie. Sy s\u00ea ek lyk nes my pa. Miskien lyk jy ook nes jou pa. Ouma hou ook nie van my pa nie.\u201d<\/p><p>Hy druk die vo\u00ebltjie teen sy wang en vryf dan saggies met sy voorvinger oor die koppie. \u201cEk ken nie my pa nie. Ook nie my ma nie, sy is dood. Daar is net Ouma en sy raas altyd met my. Ek probeer so hard, maar ek doen niks reg nie. Ek sal vir jou sorg, dan kan jy leer vlieg en dan gaan stap ons daar ver agter my pa se witklip, waar niemand met ons sal raas nie. Ek was nog altyd te bang om op te klim na die witklip, my ouma s\u00ea daar bly spoke. Maar as jy saam met my gaan, dan gaan klim ons daar rond. Kyk, hier praat ek nou so baie en jy is seker honger? Kom ek vat jou saam dan gaan haal ek koring uit die kruik daar in die kombuis.\u201d<\/p><p>Dibri lag skielik vrolik en hou die vo\u00ebltjie reg voor sy gesig: \u201cEk is nie so dom nie! Ek weet mos jy kan nog nie \u2018n heel koringkorrel insluk nie, ek sal dit fyn kou en dan sal jy dit kan inkry.\u201d<\/p><p>Dibri druk die oorhang takke weg en stap uit die koelte van die boom in die middagson in. Ouma sit buite in die skaduwee van die huis met haar rug na hom toe. Die buurvrou is daar by haar. Hulle sien hom nie en hy glip stilletjies by die deur in. Toe hoor hy dat hulle van hom praat. Dikwels merk hy op dat mense ophou praat wanneer hulle hom sien, maar nou weet Ouma nie dat hy hier agter haar rug staan en luister nie.<\/p><p>\u201cJa, en nou sit ek met hom opgeskeep! Asof ek nie genoeg probleme het nie. Alku het nie vir my \u2018n sent agtergelaat vir die kind se versorging nie. Maar nou ja, hy kon ook nie, hulle het hom dadelik kom wegvat. Hy was so \u2018n wilde donkie en ek het Sherah gewaarsku om nie met hom te trou nie, maar sy het haar eie kop gevolg. Ek was daar die aand toe hy haar aan die keel gegryp het, hy was so verskriklik woedend dat ons almal weggehardloop het. Ek het nie geweet dat hy haar sou wurg tot sy dood is nie anders sou ek my dogter probeer help het. Dink net! Met sy kaal hande het hy sy eie vrou doodgemaak en die kind was maar net agt maande oud. Ek het toe maar hier kom bly om hom groot te maak, maar ek vrees al my moeite gaan uitloop op teleurstelling. Hy lyk nes sy pa, hy loop nes sy pa en hy dink nes sy pa. Hy sal maar word nes sy pa, want die bloed van \u2018n moordenaar loop in sy are. Wat kry ek dan vir my goedheid? Ja, my dogter het geleef soos sy wil en nou het sy vir my \u2018n swaar las agtergelaat.\u201d<\/p><p>Dibri is spierwit in sy gesig en sy liggaam bewe. Hy is nou al amper tien jaar oud en weet sy ouma hou nie van hom nie, maar dit is die eerste keer dat hy hoor waarom sy hom nie naby haar kan verdra nie. Hy vergeet van die honger vo\u00ebltjie in sy hand en van die koring. Hy hardloop by die deur uit terug na die boom. Die buurvrou sien hom en wys met haar kop en o\u00eb na hom. Ouma kyk om en skree met haar kwaai stem:<\/p><p>\u201cWat het jy daar in jou hande! Weer neute gevat sonder om te vra. Loop trek onkruid uit in die groentetuin en moenie so vir kwaadgeld rondloop nie!\u201d<\/p><p>Dibri stop nie. Hy kyk nie om nie. Hy raak weg tussen die laaghangende takke van die treurwilger en sak op sy knie\u00eb agter die boomstam neer. Hier voel hy veilig en weggesteek van Ouma se harde o\u00eb. Hy weet net dat dit baie seer is hier in sy bors, so seer dat trane wil kom, maar hy mag nie huil nie dan klap Ouma hom. Hy voel \u2018n beweging in sy hand en kyk na die vo\u00ebltjie wat hy te styf vasgedruk het. Die hulpelose dingetjie kan nie vir homself sorg nie. Toe breek iets in hom. Hy gryp die vo\u00ebltjie hardhandig vas en draai sy nek om met sy twee hande. Hy slinger die dooie vo\u00ebltjie van hom af weg..<\/p><p>\u201cJou ma wil jou nie h\u00ea nie en ek wil jou ook nie h\u00ea nie!\u201d Vir \u2018n oomblik wonder hy hoekom hy nou so sleg voel oor wat hy gedoen het aan \u2018n hulpelose vo\u00ebltjie wat hom niks kwaad aangedoen het nie. Maar hy het ook niks kwaad aan Ouma gedoen nie!<\/p><p>Tog, dit is nie lekker om \u2018n moordenaar te wees nie. En Ouma s\u00ea dit is wat hy eendag gaan wees, \u2018n moordenaar net soos sy pa. Het sy pa ook hier binnekant so seer en sleg gevoel toe hy sy ma verwurg het? Dibri weet nie hoe lank hy daar onder die boom gesit het nie. Binne in hom het iets doodgegaan en hy kan homself nie kry om op te staan en na Ouma toe terug te gaan nie. Nou weet hy hoekom Ouma nie van hom hou nie en dit maak sy gemoed so dik en swaar. Dit sou beter gewees het as hy nie geweet het nie. Baie beter, dan kon hy nog snags, wanneer die slaap nie wou kom nie, droom van hoe goed hy in die skool gaan doen, hoe goed hy in sport gaan wees dat Ouma trots op hom sal wees en van hom sal hou. Dan kon die hoop bly leef het in sy hart, maar nou kan sy drome nooit waar word nie, want die bloed van \u2018n moordenaar is in sy are. Dit is dan waarom die bure se seuns nie met hom wil speel nie. Hy is \u2018n moordenaar se kind en \u2018n moordenaar se kind mag nie viende h\u00ea nie. Sy Ouma mag nie sag met hom wees en hom lief h\u00ea nie oor die soort bloed in sy are.<\/p><p>Miskien moet hy m\u00f4re na sy pa gaan soek, dan bly hy by die een wie se bloed hy het. Miskien hou hulle twee dan van mekaar. Miskien\u2026<\/p><p>Hy hoor Ouma roep, maar hy klim gou in die boom dat sy hom nie vind nie. Dit is nou pikdonker, maar hy is vanaand glad nie bang vir die donker nie, daar is iets anders in hom. Iets wat hy nog nie voorheen beleef het nie. Iets wat maak dat hy lus voel om Ouma te gaan skop en slaan omdat sy nie van hom hou nie, dat sy kan voel hoe dit voel.<\/p><p>Die hele nag sit hy in \u2018n mik van die boom, hy kry nie reg om in te sluimer nie, want die vreeslike seer in sy binneste klop soos iets wat sweer. Voordat iemand in die buurt roer, is Dibri al op pad na die groot tronk buitekant die dorp. Moordenaars word mos in tronke opgesluit so hy sal daar begin om sy pa te soek. Hy ken darem sy pa se naam. Sy ouma spoeg altyd die naam so uit wanneer sy s\u00ea: \u201cEn dit is die kind van Alku wat ek moet groot maak.\u201d Nie haar dogter Serah se kind nie, maar Alku s\u2019n. Alku, die wilde donkie wat sy huis by die groot witklip gebou het, dit is sy pa.<\/p><p>Die tronk was baie ver weg van hulle dorp en Dibri was al so honger en dors, maar hy het net aangehou om te loop en te loop. Op die nou stofpaadjie het hy nog niemand te\u00ebgekom nie. Die tronk is sommer so half in die berg ingebou, \u2018n plek waarheen nie baie mense stap nie. Uitgeput gaan sit hy in die skaduwee van \u2018n bos om eers \u2018n bietjie te rus. Na \u2018n rukkie dwing hy homself om op te staan. Hy gaan mos na sy pa toe! Sy pa sal verstaan van die seer wat vanoggend so wurg in sy keel dat hy gedurig moet sluk anders kom die trane.<\/p><p>Moeg en dors bereik Dibri uiteindelik die tronk en voel hoe die moedeloosheid oor hom spoel toe hy vasloop in \u2018n groot, swaar ysterhek wat sy pad versper. Hy probeer sy kop tussen die ysterstawe deur druk, maar die opening is net te nou anders sou hy kon deurglip. Hy bekyk die binneplaas wat so leeg en kaal lyk, maar toe sien hy tog iemand in die skaduwee van \u2018n pilaar sit.<\/p><p>\u201cKan ek water kry om te drink?\u201d Die wag sien die klein seuntjie buitekant die hek en in plaas van kwaad word, soos sy gewoonte is wanneer iemand hom iets vra, voel hy jammer vir die kind. Hy loop na \u2018n kruik en gooi water in \u2018n beker.<\/p><p>\u201cD\u00e8, drink!\u201d<\/p><p>Dibri gryp na die beker wat deur die hek kom en drink gulsig. Hy is nog dors, maar is skrikkerig om weer te vra. Stadig kyk hy op, binne-in die gesig van die wag wat vir hom staan en kyk. Sy o\u00eb is nie so hard soos sy ouma s\u2019n nie.<\/p><p>\u201cHet jy alleen gekom?\u201d<\/p><p>\u201cJa.\u201d<br>\u201dHoekom dan?\u201d<\/p><p>\u201cEk het my pa kom soek. My ouma s\u00ea my pa se moordenaarsbloed loop ook in my are. Nou wil ek maar by hom kom bly. My ouma wil my nie h\u00ea.\u201d<\/p><p>Die wag sluit die hek oop.<\/p><p>\u201cKom in dan vertel jy my wie jou pa is.\u201d<\/p><p>Dibri het nog altyd die beker in sy hand en vra versigtig: \u201cMag ek nog water drink?\u201d<\/p><p>\u201cSkep vir jou,\u201d en hy wys na die kruik wat Dibri al gesien het.<\/p><p>Die wag gaan sit weer in die skaduwee van die pilaar en sy gedagtes is besig met die kind. Dit is sleg as \u2018n mens so klein is en jy word al vir \u2018n moordenaar uitgeskel.<\/p><p>\u201cWie is jou pa?\u201d vra hy toe Dibri naby hom kom sit.<\/p><p>\u201cAlku.\u201d<\/p><p>Die wag werk al twaalf jaar by die tronk van Gadara. Daar het al meer as een Alku gekom en gegaan. Die laaste Alku is weggeneem, seker meer as vier jaar gelede omdat hy so sterk was, die owerhede het slawe nodig gehad vir harde klipwerke.<\/p><p>\u201cSeun, gaan maar weer terug na jou ouma, jou pa is al lankal nie meer hier nie.<\/p><p>Ek weet nie waarheen hulle hom geneem het nie.\u201d<\/p><p>\u201cKan ek nie maar hier bly nie? Ek sal soet wees. Ek kan in julle groentetuin werk of skoonvee buite die tronk. Asseblief? My ouma hou nie van my nie, wanneer sy my sien word sy sommer dadelik kwaad. Ek kan nooit iets reg doen nie.\u201d<\/p><p>\u201cHoe oud is jy?\u201d<\/p><p>\u201cAmper tien, Oom.\u201d<\/p><p>Die wag sit vir \u2018n lang ruk stil en kyk so sydelings na Dibri. Die seun is so klein en tengerig. Na sy mening is hy niks ouer as sewe jaar nie. Praat hy die waarheid, maak hy homself nie maar net ouer as wat hy regtig is nie? Of is dit sy swaarkry wat maak dat hy nie groei nie. Hy sug diep.<\/p><p>\u201cDie tronk is nie die plek vir \u2018n kind nie. Hier word net gedoen wat verkeerd is, lelike dinge en dit sal nie mooi wees as jy dit leer nie.\u201d<\/p><p>\u201cMaar Oom is goed. Kan ek nie by Oom bly nie, ek belowe ek sal stil wees.\u201d<\/p><p>Die wag kyk af na Dibri en sien die smekende o\u00eb van die kind. Diep in sy harde hart roer daar weer \u2018n jammerte. As die kind maar weet! Hy is nie goed nie. Hy is ook \u2018n uitgeworpene. Sonder vrou en sonder kinders juis omdat hy nie goed is nie. Ag nee, die kind maak hom nou-nou \u2018n ou tjankbalie!<\/p><p>Hy staan op, sluit die hek oop en wys met sy kop vir Dibri om te loop.<\/p><p>Die kind loop toe maar. Hy hoor die hek agter hom sluit, maar kyk nie weer om nie. Hy is te sleg, selfs die tronkmense wil nie eers saam met hom woon nie en waar sal hy ooit in die wye w\u00eareld sy pa kan vind. Miskien sal sy pa hom ook nie wil h\u00ea nie.<\/p><p>Hy stap maar terug op die pad na die dorp, want dit is die enigste pad wat daar is. Sy hart hang swaar in hom. Om te oorleef sal hy maar moet terugkeer na sy ouma, daar is darem \u2018n dak oor sy kop en kos om te eet. Sy kan maar skree en hom klap en skop, maar sy sal nie weer sien dat hy een enkele traan stort nie. Hy sal nie weer huil en by haar kerm nie. Hy sal nie weer vir haar s\u00ea dat hy jammer is nie. Hy het nie vir haar nodig nie, net die huis wat sy pa gebou het en waar sy ouma kom nesskrop het asof dit aan haar behoort. Sy s\u00ea vir almal dat sy pa vir haar nie \u2018n sent agtergelaat het om sy kind groot te maak nie, maar sy woon darem in die huis wat sy pa vir hulle gebou het en sy plant op sy pa se lande. Sy gebruik die water wat sy pa aangel\u00ea het. So hy sal in sy pa se huis gaan bly. Die huis wat sy pa by die groot witklip gebou het. Hy gaan nie terug na die ouma met die harde o\u00eb nie, hy gaan terug na sy pa se huis al woon sy daar.<\/p><p>Die son begin sak toe Dibri uitgeput langs die pad gaan sit om eers \u2018n bietjie te rus. Hy sien \u2018n akkedis op \u2018n klip naby hom en vang dit behendig. \u2018n Diep begeerte om die lewende dingetjie seer te maak soos wat hy seergemaak is, gryp hom vas. Hy tel \u2018n klip op en kap die akkedis se kop pap. Toe kan hy nie ophou nie, hy kap en kap totdat die akkedis net een papperige gemors is. Toe slinger hy die klip weg en loop verder.<\/p><p>Dis al donker toe hy die agterdeur oopmaak en inloop. In die kombuis brand \u2018n lampie en sy ouma sit vooroor en slaap, haar kop op die tafel. Hy stamp die deur hard toe en sy skrik wakker.<\/p><p>Sy kyk na hom. Haar o\u00eb en stem is yskoud en kil.<\/p><p>\u201cO, jy het besluit om terug te kom?\u201d<\/p><p>\u2018n Vreemde woede kom oor hom en hy skree in haar gesig:<\/p><p>\u201cDit is my pa se huis! Ek sal hier bly!\u201d<\/p><p>Hy het nie rekening gehou met die harde klap teen sy kop wat hom wegslinger van haar af tot teen die kombuismuur nie.<\/p><p>\u201cMoenie jou staan en astrant hou met my nie.\u201d<\/p><p>Sy vat die lampie en loop na haar kamer.<\/p><p>Lank staan hy nog so teen die muur in die donkerte. Hy is nou nog net te klein en te swak, maar wag maar dat hy groot en sterk word, dan sal hy haar bykom.<\/p><p>Hy het nie lig nodig om sy slaapplek te vind nie. Uitgeput en opgefrommel in sy innerlike raak hy tog aan die slaap.<\/p><p>\u201cToe roer jou, luiaard. Die son sit al wie weet waar en jy moet skool toe.\u201d<\/p><p>Dibri skrik wakker van die skop teen sy voete en die harde stem. Hy staan sommer dadelik op van sy slaapplek op die vloer.<\/p><p>\u201cHier is jou waswater, kyk dat jy skoon kom. Jou kos is op die tafel.\u201d<\/p><p>Hy hoor dat sy ouma uitgaan by die voordeur. Hoekom moet hy gaan was en hoekom moet hy skool toe gaan? Niemand gee tog om nie. Op die tafel is brood en melk vir hom. Hy eet want hy is rasend honger. Toe steek hy sommer nog brood in sy sak en glip by die agterdeur uit. Vandag is die dag dat hy op \u2018n ontdekkingstog gaan na sy pa se witklip. Wie is nou bang vir spoke!<\/p><p>Met \u2018n heerlike gevoel van oorwinning staan Dibri bo op die groot rots wat almal die witklip noem. Hy kan ver oor die dorp uitkyk en hier reg onder hom l\u00ea hulle huis. Sy ouma dink hy is in die skool, maar hy kan haar sien waar sy buite met die buurvrou staan en gesels. Sy is \u2018n groot, sterk vrou en die buurvrou lyk sommer klein en pieperig langs haar. Daardie vreemde woede teen sy ouma wel weer in hom op en hy wonder hoe hy haar kan terugkry vir al die klappe en skoppe wat hy moet verduur?<\/p><p>Sy moet nou net nie opkyk en hom hier sien staan nie. Die rots voel warm onder sy maag toe hy liewers plat gaan l\u00ea en die twee vrouens dophou. Sy ouma loop na die hoenderhok en staan \u2018n rukkie daar.<\/p><p>\u201cJa, nou gesels sy seker met haar hoenders, want sy is mos so lief vir hulle en sy is so trots op hulle. Die hele buurt praat oor Ouma se mooi hoenders en hoe goed sy hulle versorg. Hulle kom koop eiers by haar wanneer daar \u2018n broeishen is, sodat hulle ook sulke mooi hoenders kan h\u00ea. Maar haar kleinkind wil sy nie h\u00ea nie want hy het moordenaarsbloed in sy are, daarom kan sy hom nie liefh\u00ea soos haar hoenders nie.\u201d<\/p><p>Dibri se gedagtes is donker en hatig. Ouma het nou sy vyand geword. Hy het nog nooit gesien dat sy een van die hoenders skop of op hulle skree nie. Sy kiep-kiep altyd vrolik wanneer sy hulle nader roep vir kos. Sy het net verlede week so oor die een groot hoenderhaan gekloek toe hy \u2018n bietjie kroeserig en siek was. Vir hom wat Dibri is, hy wat \u2018n mens is en haar dogter se kind, vir hom het sy nooit \u2018n sagte woord of aanraking nie en raas altyd omdat hy kos en klere nodig het.<\/p><p>Net vir \u2018n kort oomblik laat hy sy kop op sy arms sak en gee so ampertjies toe aan warm trane wat in sy o\u00eb opdam en wil uitloop. Toe ruk hy sy kop op, verseker homself weer en s\u00ea dit sommer hardop dat sy o\u00eb en ore kan hoor. \u201cEk sal nie weer huil nie! Nooit weer nie!\u201d<\/p><p>Dibri sien sy ouma pad toe stap met \u2018n mandjie in elke hand. Toe onthou hy. Dit is Vrydag! Dit is die dag wanneer sy winkels en mark toe gaan. Sy sal lank weg wees. As hy nou afklim en die hek van die hoenderhok oopmaak, sal die hoenders mos uitkom en tyd h\u00ea om ure lank in haar groentetuin te skrop. Hulle kan dan lekker al die nuwe plantjies verniel. Dan moet sy ouma \u2018n slaggie vir hulle kwaad wees, want sy is ook baie lief vir haar groentetuin.<\/p><p>Toe sy ouma al ver in die straat afgestap het en hy doodseker was dat sy regtig oppad dorp toe is, staan hy op van die rots en klim haastig teen die koppie af huis toe. Op hulle werf kyk hy versigtig rond of die buurvrou nie buite is. Niemand moet hom sien nie. Hy sukkel om die knip oop te kry want dit is amper te hoog vir hom, maar toe swaai die hoenderhokhek oop. Hy druk \u2018n groterige klip onder die hek in sodat dit nie weer toewaai nie. Dan verdwyn Dibri net so stil soos hy gekom het. Hy klim weer op na sy pa se witklip hoog bokant die huis.<\/p><p>Daar gaan l\u00ea hy op sy uitkykpos en skrik toe hy die bure se hond naby Ouma se hoenderhok opmerk. Wat gaan nou gebeur as hy sien dat die hek oop is? Die groot hond is nog jonk en hou daarvan om te speel met enige ding wat beweeg. Van die hoenders het al agtergekom dat die hek oop is en hulle geniet hulle vryheid om op die werf rond te loop. Gaan die hond nou die hoenders op die werf rondjaag? Die bure se hond laat nie vir Dibri lank wonder nie, want hy spring uitgelate deur die oop hek en begin opgewonde blaf. Die hoenders begin verskrik rondhardloop en hulle geraas en gefladder maak iets in die hond wakker. Soos \u2018n wafferse jagterhond begin hy vang en byt, vang en byt. Hoe meer die hoenders raas en probeer wegkom, hoe maller word hy in sy jagtog. Dit lyk asof hy homself geniet en nie weet hoe om weer op te hou nie.<\/p><p>Dibri sien hoe die buurvrou met haar besem in die hand aangehardloop kom en die hond begin slaan en slaan. Ander bure kom ook help. Toe die hond uiteindelik uit is, maak hulle die hek weer toe en die hoenders kom tot bedaring.<\/p><p>Dibri voel eintlik naar van die skrik. Dit was darem nie sy bedoeling nie. Wat gaan sy ouma s\u00ea! Hy wonder hoeveel van die hoenders doodgebyt is. Hy moet seker gaan kyk. Nee, hy is veronderstel om in die skool te wees. Hy moet wag tot die skool uitkom, anders is dit baie duidelik dat hy die hek oopgemaak het. So bly hy maar net daar op die rots in die son l\u00ea. Hy sien van die hoenders wat lustig in die sagte grond van ouma se groentetuin skrop en dink: \u201cEk het haar lekker teruggekry.\u201d Tog maak die gedagte nie sy hart warm nie, dit vee ook nie die wurgseer weg nie, dit maak hom ook nie bly nie. Hy voel donker en moeg, niks lus om te lewe nie.<\/p><p>Hy moes ingesluimer het, want toe hy sien, stap die skoolkinders al terug na hulle huise toe. Dadelik spring hy op, hy moet by die huis kom dat dit vir sy ouma lyk of hy by die skool was.<\/p><p>Tot sy verligting is sy ouma nog nie terug nie. Hy gaan was gou en trek skoon klere aan. Gooi die waswater uit en sit sy klere by die ander wasgoed. Toe soek hy iets om te drink en te eet. Hy is net buite by die hoenderhok toe sy ouma terugkom met swaar mandjies wat sy dra.<\/p><p>\u201cKan jy nie kom help nie,\u201d raas sy toe sy hom sien.<\/p><p>Die buurvrou kom dadelik aangewaggel en praat sommer van ver af.<\/p><p>\u201cHier was so \u2018n storie met Trifie se hond vanoggend! Ek weet nie hoeveel van jou hoenders l\u00ea dood nie.\u201d<\/p><p>\u201cMy hoenders?\u201d hyg Ouma.<\/p><p>\u201cJa, die hond was binne-in die hok want die hek het wawyd oopgestaan..\u201d<\/p><p>\u201cDe, vat die goed in die huis in, ek wil gaan kyk wat aangaan.\u201d Ouma los haar mandjies net so voor die deur en haas haar na die hok. Dibri dra-sleep dit in die huis in en toe gaan staan hy ook eenkant en kyk. Sy hart klop vinnig.<\/p><p>Sy ouma en die buurvrou is binne-in die hok wat weer agter hulle toegemaak is. Hy kan vir hulle sien deur die skrefies van die pale wat opmekaar gespyker is. Sy ouma buk en tel een van haar mooi groot henne op. Morsdood. Nog een en nog een. Ook haar beste haan. Sy sit die dooie hoenders op \u2018n hoop neer en loop eers na al die neste en gee dan aandag aan die hoenders wat om haar voete bymekaar kom. Sommige se stertvere is nie meer daar nie. Die buurvrou lewer \u2018n lopende kommentaar van die oggend se gebeure, soveel so dat sy ouma nie \u2018n woord inkry nie.<\/p><p>\u201cNie al die hoenders is hier nie. Het hulle uitgekom?\u201d<\/p><p>Dibri maak hom vinnig uit die voete en gaan sit onder die boom waar die takke hom wegsteek. Hy hoor die donderweer in daardie enkele sin wat sy ouma ingekry het en hy is bang. Vandaar kan hy ook die groentetuin sien. Die hoenders is nog altyd daar!<\/p><p>Sy ouma kom om die hoek van die huis. Toe sy die hoenders gewaar waar sy pas wortels gesaai het, gee sy so \u2018n lang gil van woede. Toe bedwing sy haarself en roep: \u201cKiep \u2013 kiep- kiep.\u201d<\/p><p>Die hoenders reageer dadelik en kom na haar aangehardloop. Sy stap met hulle na die hoenderhok en lei hulle tot binne. Nadat sy mielies gegooi het vir al die hoenders, en die hek weer toegemaak het, stap sy terug huis toe.<\/p><p>Dit voel vir Dibri of sy binnegoed bewe. Sy ouma is te stil. Gewoonlik skree en raas sy dat die hele buurt haar hoor. Hy is skielik so bang dat hy besluit om liewer by die witklip te gaan wegkruip, maar voordat hy kan beweeg, gryp \u2018n sterk hand hom agter sy nek en ruk hom onder die takke uit. Dit is sy ouma, sy het hom bekruip en hy het dit nie verwag nie.<\/p><p>Asof hy net \u2018n stukkie hout is, dra sy ouma hom na die kombuis en gooi hom op die vloer neer. Haar voet op sy borskas pen hom vas en hy voel asof al sy asem uitgepers word. Sy buk en bind sy twee hande agter sy rug vas. Hy begin skop na haar en probeer wegrol. Sy voete word ook vasgebind en toe val die houe. Op sy kop, op sy skouers, op sy lyf en bene. Daar l\u00ea hy magteloos vasgebind terwyl sy ouma haar woede op hom uithaal.<\/p><p>\u201cOuma weet dat dit ek was wat die hek by die hoenders oopgemaak het en sy gaan my pap slaan soos wat ek met die akkedis gemaak het,\u201d dink Dibri. \u201cSy sal nie \u2018n geluid uit my mond hoor nie. Ek sal doodstil wees net soos die akkedis. Laat haar maar slaan.\u201d Na nog \u2018n harde hou teen sy kop verloor hy sy bewussyn.<\/p><p>Dibri kom by met \u2018n een gedagte. Water! Sy lippe is droog en hy is dors. Hy probeer opstaan maar vind dat hy nie kan nie. Alles aan hom is seer. Stadig dring dit tot hom deur dat hy nie in hulle huis is nie. Hy is buite, vasgemaak aan die paal langs die groentetuin. Rondom hom is dit pikdonker, geen maanskyn nie, net die sterre wat vonkel. As hy tog net water kan kry om te drink. Hy is so dors en seer.<\/p><p>Hy beweeg sy voete. Dankie tog sy bene is nie vasgebind nie. Net sy hande agter sy rug aan die paal. Hoe gaan hy los kom? Hy trek sy bene op, maar dit is so seer dat hy byna hardop kerm. Tog probeer hy kyk of hy kan opstaan, of die tou wat hom vasbind nie ho\u00ebr kan skuif nie. Moeisaam druk hy homself op teen die paal totdat hy op sy voete kan staan. Dit voel of sy kop gaan bars van pyn en of sy arms uitskeur. Maar nou weet hy dat die tou kan skuif, sy ouma het dit nie te styf vasgemaak nie. As hy nou net die knoop onder sy vingers kan kry, dan kan hy dit dalk loskry.<\/p><p>Hy gly weer af teen die paal om liewers te sit. Sy bene bewe so. Alles pyn en hy is dors, so vreeslik dors. Hy raak bewus dat daar iemand aangestap kom in die donker. Dit is sy ouma.<\/p><p>\u201cWil jy water h\u00ea?\u201d<\/p><p>Hy antwoord nie en maak ook geen beweging nie.<\/p><p>\u201cHier is water.\u201d<\/p><p>Hy roer nie, haal skaars asem.<\/p><p>\u201cWel, more is nog \u2018n dag. Miskien is jy dan dors.\u201d<\/p><p>Sy skiet die water in die beker oor hom hom uit en loop weg. Hy hoor hoedat sy die agterdeur hard agter haar toeslaan.<\/p><p>Die vreeslike dors dryf hom om te kyk of hy die knoop kan bykom. Uiteindelik het hy die tou so gedraai gekry dat hy die knoop onder sy vingers voel. Dibri is bang dat die son gaan opkom en dan vind sy ouma hom hier waar sy hom vasgemaak het. Hy moet wegkom! Hy wil haar nooit weer in sy lewe sien of haar stem hoor nie. Tog kry hy dit net nie reg nie, want hy word duiselig en raak heeltemal weg, maar as hy weer bykom, vroetel hy angstig aan die knoop. Uiteindelik slaag hy daarin om een punt van die tou deur te trek en dan gaan dit makliker. Die knoop gaan los en die tou wat hom aan die paal vasgebind het, val af.<\/p><p>Moeisaam staan hy op. Elke spier in sy liggaam pyn. Die dors dryf hom na die bergstroompie wat agter die groentetuin verbyloop. Hy gaan l\u00ea op sy maag en druk sy gesig in die water en drink totdat hy tevrede is. Vir \u2018n lang ruk l\u00ea hy nog daar langs die stroompie voordat hy opsukkel en in die donker wegstap van sy ouma se huis af. Hy weet nou dat hy van mense moet wegvlug en nie toelaat dat iemand weer naby hom kom nie, want hulle sal hom na sy ouma toe terugneem.<\/p><p>Dibri het verdwyn. Hy is maar net nie meer daar nie. Sy ouma soek ook nie na hom nie. Eintlik is sy verlig. Dis baie makliker as hy nie altyd onder haar voete is nie. Hy moet maar sien en kom klaar. Net soms flits daar so \u2018n ongemaklike gedagte deur haar of hy nie dood l\u00ea daar bo agter \u2018n rots nie. Het sy hom nie dalk so geslaan dat hy dit nie oorleef het nie? Dan skud sy die gedagtes af en vergeet weer van hom. Die buurvrou word om die bos gelei toe sy een oggend vra wat dan van die kind geword het, want sy sien hom nie meer nie. Dus het sy ook nie meer vrae nie. Een van die onderwysers met so \u2018n sagte plekkie vir die stil, eensame kind, doen tog navraag. Ouma se vriendelike verduideliking stel hom gerus. Dibri is weg na \u2018n verlangse familielid wat kinders van sy ouderdom het.<\/p><p>Verbygangers van veraf streke in Dekapolis begin vertel van \u2018n jong seun wat soos \u2018n dier tussen die rotse woon en groentetuine en huise besteel vir kos. Dibri se ouma voel weer daardie ongemak in haar, kan dit dalk die kind wees? Soms oorval \u2018n aaklige vrees haar in die nag en sy wonder of die kind nie sal kom en wraak neem nie. Selfs bedags wanneer sy in die groentetuin werk, begin die vrees en ongemak aan haar vreet en sy kyk gedurig om haar rond. Toe besluit sy om maar eerder alles te los en by haar ander kinders te gaan bly. Dit is waarom Dibri een dag toe hy na meer as vyf jaar terugkeer na sy pa se witklip, geen lewe bespeur in die huis nie. Daar is geen hoenders meer in die hoenderhok nie en geen groente meer in die tuin nie.<\/p><p>Haat vir sy ouma het soos \u2018n lewende dier in hom geword en hy het deur die jare gewoond geraak aan die stem van die lewende ding in hom. Hy was van plan om haar met sy kaal hande aan te val en wraak te neem, maar nou is sy nie meer daar nie. Dibri is lank nie meer \u2018n klein, pieperige ou seuntjie nie, hy het ontwikkel in \u2018n gespierde jong man wat bomenslike krag openbaar wanneer mense hom probeer vaskeer en vasketting.<\/p><p>Oral in die dorpe en streke het mans al saamgestaan om hom gevange te neem, want hy het nie net gesteel en geroof nie, hy het ook \u2018n gevaar geword vir die kinders en vrouens. Hulle maak op hom jag soos op \u2018n roofdier en probeer om hom met die jaghonde in \u2018n lokval te lei. Elke keer breek Dibri los en vlug die berge in. Tussen mense pas hy nie meer in nie, sy vriende is die stemme in sy kop. In hulle geselskap voel hy tuis. Hulle vertel hom soms sulke snaakse stories van die mense daar onder in die dorp, dat hy sit en lag. Ander kere vertel hulle vir hom bangmaak stories en as hy in \u2018n grot gaan wegkruip dan lag hulle hom uit en spot hom sonder ophou. Soms stook hulle die haat in hom so erg op totdat hy iets gaan verskeur en verniel.<\/p><p>Soos hy ouer word, kom daar net meer stemme in sy kop. Dit is asof daar \u2018n horde lewende goed in hom bly wat die hele tyd met mekaar stry en baklei. Die donkerte in sy gemoed l\u00ea die heeltyd daar soos \u2018n groot, swaar rots en dit knel soos \u2018n stywe band om sy gedagtes. Hy dink nie meer helder nie. Daar is ook nie meer die vriendskap van die begin, toe hy nog dinge gedoen het vir sy stemme-vriende se plesier nie. Hy word die hele tyd rondgejaag deur teenstrydige opdragte. As hy gaan sit, dan moet hy staan, as hy staan dan moet hy hardloop. Wanneer hy hardloop dan moet hy skielik neerval en rol. So hou dit aan dag en nag. Hy kan maar sy kop teen die rotse stamp so hard soos hy wil en bondels hare uitpluk, hy kan maar skree en skree en skree, hy kan homself maar met skerp klippe kap en oopsny dat die bloed loop, daar is egter niks wat hy kan doen om weg te kom van die stemme in hom nie, van die geraas en die bakleiery wat binne-in hom aangaan nie. Hy word gemartel en rondgejaag soos \u2018n verstandlose wat nie meer vir homself dink nie en hy kry nooit rus nie. Sinneloos en sonder heenkome woon hy tussen die grafte.<\/p><p>Soos die stormwind sterker waai een nag, word Dibri al hoe meer onrustig. Die donkerte in hom is donkerder as die nag daar buite en die stemme binne-in hom praat vreeslike dinge in sy gedagtes in. Dit voel vir hom asof hy sy kop kan afruk en dit van hom wegslinger net om vry te wees van die gekoggel, die gespot en die donkerte wat alles in hom doodwurg. Dik wolke het in die lug saamgepak en versper die lig van die maan en die sterre. En die wind! Dit is so sterk dat hy byna van die krans afgewaai word. Hy veg teen die wilde wind en skree teen die loeiende geluid in. Wind vererger altyd die nimmereindigende storm in sy binneste. Sy gedagtes is soos die krag van die stormwind wat teen hom waai en hy kan nie daarvan ontsnap nie. Hy kan nog teen die slag van die wind gaan skuil agter \u2018n rots, maar hy kry n\u00earens \u2018n skuilplek teen die donkerte wat hom met so \u2018n sterk greep vashou nie. N\u00earens is daar skuiling teen die meedo\u00ebnlose stemme in sy kop nie. Dit is binne-in hom en hy weet nie hoe om van homself weg te kom nie.<\/p><p>Die stormwind het die golwe so hoog opgejaag dat dit met \u2018n donderende geluid teen die rotse vasslaan en die wildheid, en ongetemdheid van die reuse golwe trek hom aan. Miskien moet hy homself vannag oor die kranse in die see gooi, dat die malende, rasende golwe hom liewers insluk en maal dat daar niks van hom oorbly nie. Hy is ook so wreed en wild en ongetem, tog is hy \u2018n mens en nie \u2018n golf in die see wat willoos deur die wind rondgeslinger word nie. Hy word ook honger en dors, hy re\u00ebn nat en kry koud. Sy gees, sy siel en sy liggaam het \u2018n woonplek vir duiwels geword, sy gedagtes is \u2018n nes vir die bewoners van die duisternis. Hy leef nog, haal nog asem, maar magte van die duisternis beheer hom. Die donker magte ken geen deernis of jammerte nie en al wat hy kan doen is om te skree en te skree en te skree. Heeltemal mal en heeltemal alleen gaan die lewe by hom verby sonder iemand wat omgee.<\/p><p>In die vroe\u00eb oggendure hou die sterk stormwind plotseling op om te waai en die branders word onmiddellik doodstil. Die skielike stilte in die natuur, maak dat al die stemme in Dibri se kop ook doodstil word. Iets vreemds het in die natuur gebeur, so ongewoon dat self \u2018n besetene soos Dibri dit bespeur. Hy gaan sit op \u2018n rots en kyk na die see daar ver onder hom. Dit is so rustig dat daar amper geen deining of branders meer uitspoel op die strand nie en net \u2018n oomblik gelede het die stormwind nog gewoed. Vir \u2018n lang ruk sit hy daar en roer nie, seker ook omdat daar geen stem is wat met hom praat nie. Toe val sy o\u00eb op \u2018n boot wat naby die strand anker gooi en mense wat uitklim om die boot op die sand te trek.<\/p><p>Dibri staan op en begin teen die berg afdaal. Hy moet so gou soos moontlik by daardie boot uitkom. Al die stemme in sy kop begin weer tegelyktydig vir hom skree om terug te gaan na die grafte toe, maar daar is \u2018n krag wat baie sterker is as al die stemme, \u2018n krag wat hom aantrek na die Man by die boot. Hy begin hardloop, al vinniger en vinniger en uitasem val hy voor die Man neer wat daar vir hom staan en wag.<\/p><p>\u201cOnreine gees, gaan uit die man uit!\u201d Die stem is gevul met gesag en Dibri se hele liggaam krimp inmekaar, hy ervaar geweldige woelinge binne in hom.<\/p><p>Dan hoor hy een van die bekende stemme in sy kop hardop deur sy mond skreeu:<\/p><p>\u201cWat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God Moet my nie pyning nie!\u201d.<\/p><p>\u201cWat is jou naam?\u201d<\/p><p>Die onrein gees antwoord weer deur Dibri se mond:<\/p><p>\u201cLegio is my naam, want ons is baie. Stuur my nie weg uit die land nie.\u201d<\/p><p>Hy hoor hoedat die stem wat hom altyd gespot het nou baie smekend praat en skielik probeer al die stemme in sy kop om gelyktydig deur sy mond te praat.<\/p><p>\u201cStuur ons tog in die varke sodat ons in hulle kan vaar.\u201d<\/p><p>Hulle het skaars toestemming gekry of die hele trop varke begin skree en storm oor die kranse die see in. Die hele groep mans staan en kyk na die spektakel wat die bose geeste aanvang met die varke. Die geeste het sekerlik nie verwag dat die varke so vreemd sou optree nie, want nou is hulle nuwe blyplekke morsdood.<\/p><p>Dibri hoor en sien wat gebeur, maar hy is so diep verwonderd oor die stilte wat in hom neergedaal het. \u2018n Lewende stilte. Hy weet skielik wie hy is, en waar hy vandaan kom. Die krag in die Man hier voor hom, het hom bevry van die baie duiwels wat nou in die varke ingevaar het. Die varke het net so mal geword soos hy was. Maar hy kan nou dink! Die donkerte is weg uit hom uit en hy voel so lig en vry!<\/p><p>Hy kan sy o\u00eb nie van die Man se gesig wegdraai nie. Net een bevel uit die mond van hierdie Man en die magte wat in hom geheers het, moes uit. Hy kon hulle nooit ontvlug nie, maar hierdie Man het hom uit hulle mag gered! Hulle kon hom nie weghou van die Een wat sterker as hulle is nie. Hulle en hulle donkerte kon hom nie langer vaskeer daar tussen die graftes by die dooies nie!<\/p><p>\u201cPetrus, neem hom dat hy in die meer gaan was en gee vir hom \u2018n onderkleed om aan te trek.\u201d<\/p><p>\u201cEk maak so, Meester.\u201d<\/p><p>\u2018n Paar mans stap saam met hom na daar waar die boot l\u00ea. Die water kom tot by sy knie\u00eb. Hy buig vooroor en was sy gesig met sy hande. Dan val hy sommer vooroor in die water dat dit hom heeltemal bedek. Een van die mans gee vir hom \u2018n doek en seep, wat hy uit die boot gehaal het. \u2018n Ander een begin sy rug en skouers was. Die een wat Petrus genoem word, s\u00ea vir hom: \u201cKom ek help jou met jou hare.\u201d Hy smeer sy hande vol seep en vryf dan met sy twee groot hande diep in die hare wat so wild gegroei het en vol knope en grassade is.<\/p><p>Uiteindelik is die mans tevrede en hulle help om hom af te droog. Hande help hom om \u2018n onderkleed aan te trek. Hy is skoon en sy naaktheid is bedek, hy is by sy verstand en binne-in hom is net \u2018n wonderbare stilte en iets wat hy laas as \u2018n klein seuntjie geken het; dankbaarheid..<\/p><p>\u201cWie is julle? En wie is die Man wat my bevry het van die donkerte binne-in my en my weer my verstand teruggegee het?<\/p><p>Hy is verbaas om te hoor dat hy met \u2018n normale stem kan praat, net soos die ander om hom.<\/p><p>\u201cOns is dissipels van Jesus van Nasaret. Hy is gestuur om die volk van God te red.\u201d<\/p><p>\u201cJa, en vandag het Hy my gered!\u201d<\/p><p>Hulle sluit weer aan by Jesus en die ander en Dibri gaan val dadelik voor Jesus se voete neer. Hy kyk op in sy gesig en ervaar hoedat die verskrikking van sy verlede en al die skuld van wat hy verkeerd gedoen het wegvloei uit sy gemoed en \u2018n diep vreugde deur hom stroom. Die Meester kyk met deernis na hom:<\/p><p>\u201cAlles het vir jou nuut geword, seun. Die lewe l\u00ea nou voor jou. Moenie weer sondig nie.\u201d<\/p><p>Jesus was nog besig om met hom te praat toe \u2018n groot klomp mense aankom en vir Jesus smeek om tog dadelik weer in sy skuit te klim en van hulle weg te vaar.<\/p><p>Hulle was bang. Vreemde dinge het gebeur. Hulle varke het beserk geword en oor die kranse gehardloop en in die see geval en verdrink, omtrent twee duisend varke het hulle so verloor. Dis \u2018n groot verlies en \u2018n klomp geld. Wie gaan dit vir hulle weer gee? En kyk net, hier sit die besetene van Gadara met klere aan en by sy volle verstand. Hoe kon \u2018n hele legioen duiwels uit hom uitgaan en in hulle varke invaar? Wie bewerk sulke dinge?<\/p><p>Jesus kon duidelik sien en hoor dat Hy nie welkom was nie, Hy het omgedraai en weer in die skuit gaan klim. Dibri stap saam en kyk Hom smekend aan.<\/p><p>\u201cKan ek asseblief by U bly, en saamgaan na waar U gaan? Ek wil nie dat U van my af moet weggaan nie. Ek wil nie weer van U geskei word nie.\u201d<\/p><p>\u201cJy kan nie saam met ons in die boot wegvaar nie, seun. Gaan na jou huis, na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.\u201d<\/p><p>Dibri aanvaar dadelik wat Jesus vir Hom s\u00ea en stap weer terug na die strand. Lank staan hy daar en kyk die skuit agterna. Hy is so verwonderd, want die stilte en die lig in hom verdwyn nie saam met die boot nie, ook nie die vreugde nie. Daardie diep donkerte bekruip nie weer sy gemoed en gedagtes nie. Hy is nog steeds by sy volle verstand, en helder van gedagte al het sy Verlosser weggevaar!<\/p><p>Soos hy wegstap om Jesus se opdrag uit te voer, sien hy mense wat besig is met die dooie varke wat uitgespoel het. Die verwondering oor die groot ding wat die Here vir hom gedoen het, vul sy hele wese en hy voel vir hulle so jammer dat hulle die Verlosser gesmeek het om van hulle weg te gaan. Hy het dan vir hulle almal gewys dat Hy gesag het oor die duiwels wat in mense nes maak. En hoe wonderlik sal dit wees om vir altyd by Hom te bly!<\/p><p>Sy gedagtes gaan heel eerste na sy ouma. Hy sal haar gaan soek, haar vertel wat met hom gebeur het en haar vra om hom te vergewe vir wat hy aan haar gedoen het toe hy die hoenderhok hek met opset oopgelaat het. Sy lewe het nuut geword! Na al die mense wat hy soveel skade aangedoen het, kan hy nou gaan en vra dat hulle hom vergewe. Hy wil vertel dat hy verlos is van die inwoning van die duiwels omdat Jesus van Nasaret hulle uit hom weggedryf het. Hulle sal dit kan sien en ervaar en net soos hy verwonderd wees oor die groot barmhartigheid en genade wat die Here aan hom bewys het.<\/p>\t\t\t\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/section>\n\t\t\t\t<section class=\"elementor-section elementor-top-section elementor-element elementor-element-4309064 elementor-section-boxed elementor-section-height-default elementor-section-height-default\" data-id=\"4309064\" data-element_type=\"section\" data-e-type=\"section\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-container elementor-column-gap-default\">\n\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-column elementor-col-100 elementor-top-column elementor-element elementor-element-cc3acf4\" data-id=\"cc3acf4\" data-element_type=\"column\" data-e-type=\"column\">\n\t\t\t<div class=\"elementor-widget-wrap elementor-element-populated\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"elementor-element elementor-element-582adfa elementor-widget elementor-widget-progress-tracker\" data-id=\"582adfa\" data-element_type=\"widget\" data-e-type=\"widget\" data-settings='{\"percentage\":\"yes\",\"sticky\":\"bottom\",\"type\":\"horizontal\",\"relative_to\":\"entire_page\",\"sticky_on\":[\"desktop\",\"tablet\",\"mobile\"],\"sticky_offset\":0,\"sticky_effects_offset\":0,\"sticky_anchor_link_offset\":0}' data-widget_type=\"progress-tracker.default\">\n\t\t\t\t<div class=\"elementor-widget-container\">\n\t\t\t\t\t\n\t\t<div class=\"elementor-scrolling-tracker elementor-scrolling-tracker-horizontal elementor-scrolling-tracker-alignment-\">\n\t\t\t\t\t\t<div class=\"current-progress\">\n\t\t\t\t\t<div class=\"current-progress-percentage\"><\/div>\n\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/div>\n\t\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/section>\n\t\t\t\t<\/div>\n\t\t<\/body>","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>Dibri \u201cFoeitog, het jy uit die nes geval?\u201d Dibri tel die vo\u00ebltjie op en voel hoe die hartjie teen sy vingers klop. Hy laat dit in sy bak hand sit en bekyk dit van alle kante. Die vo\u00ebltjie het \u2018n gesonde veredos en lyk asof dit gereed is om te leer vlieg. Dibri kyk op [&hellip;]<\/p>\n","protected":false},"author":1,"featured_media":0,"parent":892,"menu_order":0,"comment_status":"closed","ping_status":"closed","template":"","meta":{"h5ap_radio_sources":[],"footnotes":""},"class_list":["post-923","page","type-page","status-publish","hentry"],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/pages\/923","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/pages"}],"about":[{"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/types\/page"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/users\/1"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=923"}],"version-history":[{"count":5,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/pages\/923\/revisions"}],"predecessor-version":[{"id":1049,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/pages\/923\/revisions\/1049"}],"up":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/pages\/892"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/www.heartatrest.net\/en\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=923"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}