EN DIT WAS SO
‘n Paar dae gelede het ek het weer die Skeppingsverhaal in Genesis gelees. Wanneer God ‘n bevel gegee het: “Laat daar … wees,”
Dan sê die Bybel: “En dit was so.”
Iets het in my hart gebeur elke keer wanneer ek die spesifieke woorde gelees het. ‘n Verlange het te voorskyn gekom, ‘n verlange dat dit oor my lewe gesê kan word.
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, en met jou hele siel, en met jou hele verstand en al jou kragte…”
En was dit so? Is dit so? Sal dit so wees tot aan die einde van my bestaan hier op aarde? Dit is ‘n uitdruklike bevel van die Skepper van hemel en aarde, die Skepper van die mens, my Skepper.
“…en jou naaste soos jouself.”
Kan die hemel getuig oor my lewe in hierdie verband en sê: “Dit was so?”
Gisteraand was ek saam met ander en deel toe hoe hierdie woord my aangegryp het. Een van die gelowiges neem ons toe almal nog ‘n bietjie dieper. Sy het deur baie pyn en lyding in haar lewe gegaan en het pas teruggekom na nog ‘n groot operasie. Sy het uit Genesis 1:27 gelees:
“En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”
Sy het verduidelik dat al gaan ons ook onder groot swaarkry gebuk, moet ons God se woord gehoorsaam, want ons is sy ewebeeld, ons aard na Hom. Al is ons arm en benodig baie dinge, moet ons nogtans sy woord gehoorsaam, want ons is sy ewebeeld. Al is ons ook ernstig siek, ons moet Hom gehoorsaam, omdat ons na Hom aard. Daar is niks wat ons deurgaan of beleef wat ons vrystel van die vereistes van God se bevele nie. Ons is geskape na sy beeld.
Ook wanneer ‘n mens ouer word – ‘n verswakte bejaarde – verander die standaard van die woord van God glad nie. Jy moet aan die Here jou God gehoorsaam wees, meer as aan mense.
Ds. Petrus Moolman skryf in sy boek , “Meaningful ageing”
“The challenge in ageing is to live meaningfully in God’s image, experiencing ‘God’s breathing’ even in the face of ageing difficulties. Christian understanding of life as ‘eternal life’, particularly also in ageing, offers that possibility. It is a pity that simply too often the notion of ‘eternal life’ is understood in terms of life hereafter only. In ordinary terms ‘eternal life’ is a heavenly quality which the believer in Christ owns as gift from God which is required to be exhibited in earthly life. This distinguishes the Christ-following believer as a person with abilities, gifts and ‘fruits’ (Galatians 5:22) of Christ’s Spirit. It enables and showcases a life lived in dedication to God and His Kingdom, moving away from an empty self-centered life with no meaning (often to others) particularly to God’s Kingdom, to a specific focus on God and what He requires from life to His glory.”
Daar is iets wat jare gelede gebeur het wat ek nou onthou terwyl ek hier sit en skryf. Dit hou direk verband met God se opdrag, sy bevel: “Eer jou vader en jou moeder.”
By ‘n Geloftedagherdenking in een van die Vrystaatse dorpe het ‘n groot klomp mense onder die bome saamgetrek en uitgekamp. In die namiddag sou ‘n ouer man een van die sprekers wees.
Hy het ‘n bietjie op sy kampstoel gaan rus en vir sy seun gesê:
“Krisjan, hier is so baie vlieë, pa wil ‘n bietjie dut, want ek moet netnou praat. Jaag tog die vlieë weg dat hulle nie pla nie.”
“Goed pa.”
Krisjan het ‘n takkie met baie blare aan in ‘n bos gaan soek en dit met sy knipmes behendig afgesny. ‘n Stewige takkie met ‘n harde stukkie stam.
Hy het agter sy slapende pa gaan staan en rustig enige vlieg wat naby gekom het, weggewaai.
Nou moet ek hier eers van Krisjan vertel. Hy was sy pa se skaduwee. Hulle het oral saamgegaan. Sien, Krisjan was verstandelik vertraag en kon nooit weggaan om sy eie potjie te gaan krap nie – hy was sy pa se kind en waar sy pa se voete geloop het, daar het Krisjan se voete geloop.
Daar was toe darem een vlieg wat net te astrant geword het na Krisjan se sin. Elke nou en dan het hy onder die takkie ingeduik en op sy pa se voorkop gaan sit. Dit het Krisjan omgekrap. Hy het al die blare van die takkie met sy hand afgestroop en die vlieg ingewag. Die oomblik toe die lastige sitter weer op sy pa se voorkop land, het hy goed gemik en met ‘n moordende hou die vlieg vermorsel. Hy het nooit daaraan gedink dat sy pa se voorkop dit ook sou voel nie!
‘n Opgehewe rooi haal het oor die voorkop van Krisjan se pa gelê toe hy opstaan om te praat. Hy het om verskoning gevra dat hy so voor die mense staan en het verduidelik dat dit die ywer van sy seun Krisjan was om getrou te wees in wat sy pa hom gevra het – hy het net probeer om die vlieë weg te hou.
“En dit was so.”