DIE WERELD IS KLEIN
Nadat ons het ontmoet en ek het verneem dat sy ouers in Madagaskar grootgeword het, ek het so terloops gevra:
“Het jy dalk vir Daniël Rajakoba geken?”
Sy gesig het oopgebreek in ‘n groot glimlag, asof ‘n lig vir hom op die vreemde plek aangesteek is: “Het jy hom geken! Hy was soos ‘n oupa vir my en my familie. Ons het hom goed geken en baie van hom geleer.”
Die wêreld is klein!
Hy en sy broer het van Frankryk gekom en ook die predikante konferensie hier bygewoon. Hulle het foto’s op hulle fone van Daniël wat soos hulle oupa was, en het dit vir my gewys. Het ons nou stories uitgeruil van die man wat ons geken het! Hy was ‘n besondere mens en ek was so bly om te hoor dat die oudste broer en nog ander beplan om ‘n biografie oor sy lewe saam te stel.
Ek moes byna veertig jaar terugstap in my geheue, hulle net etlike maande. Dié Daniël wat hulle geken het, is verlede jaar oorlede. Hy was ‘n professor aan die universiteit van Antanarivo, ook ‘n prediker en geestelike leier op die eiland en later ‘n politikus wat deur president Ramanantsoa aangestel was om op sy kabinet te dien. My man se naam was ook Daniël en na die eerste ontmoeting het die twee Daniëls vriende geword. Kort na my man se dood het ek Daniël van Madagaskar weer ontmoet in die kantoor waar my man gewerk het. Sy woorde van medelye was diep, dit het gekom vanuit ‘n hart wat werklik ‘n vriend was, van iemand wat self lyding geken het. Hy en my man was kollegas – saamgewerk vir dieselfde organisasie. Met sy eerste besoek aan Suid-Afrika het ons hom op die lughawe gaan haal, hy sou by ons tuis gaan. Ek het in die motor opgemerk hoedat hy elke nou en dan sy sakdoek uitgehaal het om die sweet van sy voorkop af te vee. Dit was nie eintlik so warm nie en ek het gewonder of hy dalk siek gevoel het. Later het ons die storie gehoor toe hy hartlik vir homself gesit en lag het. Dit was nog gedurende die apartheidsjare en Madagaskar het ‘n regering gehad wat Suid-Afrika erg vyandiggesind was. Tog was hy oortuig dat hy na die konferensie moes kom waar al die buitelandse werkers van die organisasie bymekaar sou wees. Hy het vertel dat hulle daagliks oor die nuus skrikwekkende berigte oor Suid-Afrika gehoor het, dat die land soos die hel was en waar die polisie sommer iemand van ‘n ander kleur arresteer as hy net op ‘n verkeerde manier gehoes het! Hy was so benoud dat polisie ons motor sou voorkeer en hom sommer sonder rede in die tronk sou stop. Tydens sy twee weke verblyf het hy self beleef en gesien, en daarna maklik weer gekom. Sy lewe het ‘n indruk op my gemaak soveel so dat ek hom na al die jare nog onthou en ook die merkwaardige gebeurtenisse tydens sy bediening waarvan hy ons vertel het.
Die twee broers ken ook die stories wat ek so goed onthou. Die wêreld is regtig klein. Soos ons gesels, het ek gevra hoe hulle van Kwasizabantu gehoor het. Meer as agt-en-twintig jaar gelede het hulle ouers ‘n woonstel in Frankryk gesoek, die oudste van die twee is daardie jaar gebore. In die woonstel waar hulle toe ingetrek het, was daar ‘n sak wat die vorige bewoner nie saamgeneem het nie. In die sak was kassette met preke van Erlo Stegen. Oom Erlo het dikwels in Duitsland gepreek. Dan was daar ‘n Franse predikant wat ook vlot Duits kon praat, gewoonlik aan oom Erlo se sy en hy het die preke dan in Frans vertaal. Die jongmanne vertel dat hulle pa na die preke begin luister het. Eendag was hy so omgekrap en ontsteld oor ‘n onderonsie met iemand by sy werk dat hy besluit het om die nommer wat ook op die kassette verskyn, te skakel. Dit was laataand, maar sy oproep is dadelik beantwoord en hy het die stem van die tolk herken. Dit was Ferny Jaegle en hy het na die hele treurmare geluister. Aan die einde van die gesprek het hy toe gesê: “Ek sal vir u bid.” Hulle pa het gedink die prediker sou met hom simpatiseer en vir die ander persoon bid dat dié sy verkeerde optrede sien en verander. Gedurende Ferny se gebed was dit asof alles wat hy in oom Erlo se preke gehoor het, skielik lewend geword het en hy het besef dat die probleem eintlik by homself lê. Hý is die een wat hulp nodig gehad het en wat moes verander! Dit het tot ‘n geestelike verdieping gelei en so het hulle ook met die oorsese werk van Kwasizabantu in kontak gekom. Die seuns kon hulle verlange om Kwasizabantu – die plek van herlewing – te kom besoek, verwesenlik, tot hul groot vreugde.
As so iets gebeur dat ‘n mens onverwags besef dat mense van ver uithoeke van die wêreld dieselfde persoon van nog ‘n ander uithoek ken, dan sê ons: “Die wêreld is klein.” Tog is dit hier duidelik dat die Here se hand in al die gebeure te bespeur is – dit het nie sommer net gebeur nie. Die invloed en nalatenskap van een man wat die Here met ‘n onverdeelde hart gevolg het, het die wêreld klein gemaak. Dit het ons beleef gedurende die pas afgelope predikante konferensie. Baie van die predikers uit Afrika en van Europa, selfs van Asië en Suid-Amerika kon Engels of Zoeloe verstaan, maar vir die wat net hulle eie land se taal kon verstaan, was daar tolke wat gehelp het. Oral in die ouditorium was daar groepies en ‘n druising van stemme was in die agtergrond hoorbaar – Hongaars, Roemeens, Sotho, Portugees, Frans, Duits, Armeens. Oom Erlo leef nie meer nie, maar die getuienis van sy lewe en hoe hy die Evangelie uitgedra het, leef nog voort en al die geestelike leiers het gekom om te kom skep van die lewende water.
Sommige van die besoekers kon seker ook in vrees vir wat hulle hier sou aantref sweet afvee soos Daniël Rajakoba jare gelede op sy eerste besoek aan Suid-Afrika. Die koerante en verskillende stemme op sosiale media het mos onlangs van Kwasizabantu gepraat soos die radio omroepers in sy land oor Suid-Afrika gepraat het. Maar wat het hulle hier aangetref? Die verstommende nalatenskap van ‘n man wat net een doel voor oë gehad het – om Jesus Christus se lewe uit te leef in sy daaglikse omgang met mense, dat hulle Hom kan ken soos hy Hom geken het. Wat hy onderrig en geleer het aan oud en jonk het hier gestalte gekry en is met vreugde en dankbaarheid oorgedra en bedien aan al die konferensiegangers, aan almal wat daarvoor ontvanklik was.