DIE STYWE NEK

Om ‘n mens se nek styf te maak wanneer jy iets nie wil doen nie is sekerlik aan almal van ons al van kleintyd af bekend. Hoe baie geduld en tyd spandeer ‘n ouer nie om sy kind te leer om te buig en te kies dit wat reg en die beste vir hom sal wees nie. Ons weet almal dat gehoorsaamheid en ‘n stywe nek nie saam gaan nie, dit is of die een of die ander. Om die wil van ‘n kind te oefen en te rig om te buig, is die besondere en geseënde werk van ouers. Almal wat kinders groot maak weet watter uitdaging dit kan wees, want sommige kinders het ‘n wil van hulle eie wat skrik vir niks! ‘n Mens benodig die wysheid van Bo om ‘n kind te leer dat ‘n stywe nek, daardie EK, moet kan buig ter wille van gehoorsaamheid en saamleef met ander. Dikwels lees ‘n mens in die Ou Testament dat die Here sy volk ernstig vermaan deur sy profete om nie hulle harte en nekke verder teen Hom te verhard nie. Wie vind dit maklik en aangenaam om saam met iemand te leef of te werk wat nooit geleer het om te buig nie, en ook nie weet hoe om te buig voor die wil van die Almagtige nie?

Toe ons in Frankryk was, het daar eendag by die taalskool ‘n sendeling met ons kom gesels. Hy het iets uit sy eie lewe vertel wat my nou nog bybly, iets wat hom oorgekom het omdat hy nie sy stywe nek wou buig nie. Ek vertel dit nou in my eie woorde soos ek dit onthou.

Sy ma was ‘n weduwee en diep gelowig, maar hy was ‘n opstandige jong man wat nie maklik na raad wou luister nie. So het hy toe met dieselfde soort jong manne vriende gemaak. Hulle het ‘n bende gevorm, elkeen met sy eie motorfiets waarop hulle onbeskaamd amok en geraas in die buurt gemaak het. Wanneer hy snags laat by die huis ingestrompel het, was daar vir hom ‘n bord warm kos en ‘n ma wat hom vemaan het: “My seun, ek hou nooit op om vir jou te bid nie, maar dis tyd dat jy jou nek voor die Here buig en jou verkeerde weë laat staan.” Hy het haar vermaning egter ligtelik opgeneem en iets begin wat ‘n refrein tussen die ander bendelede geword het. Toe hulle klomp eendag ‘n grondpad verken het, het die pad skielik voor ‘n diep, wye sloot geëindig. Natuurlik was die uitdaging dadelik daar om te kyk of hulle met die motorfietse daaroor sou kon spring. Andre, die seun van die weduwee het gesê: “Ek sal eerste probeer,want my ma bid vir my.” Hy het geslaag en die ander het gevolg. Daarna was hulle by ‘n kroeg waar hulle iemand wou gaan uithaal om ‘n loesing te gee omdat hy dit gewaag het om iets aan een van hulle te doen. Dit was ‘n groot ou, baie groter en sterker as hulle. Hulle het Andre aangepor: “Toe gaan jy eerste in en slaan hom, jou ma bid mos vir jou.” So het hy die voorbok in alles geword, met die refrein “want jou ma bid mos vir jou.”

Eendag toe hulle uit ‘n winkel na hulle motorfietse gestap het, het Andre skielik met ‘n uitroep van pyn sy kop vasgegryp en langs sy fiets neergeval. Hy is hospitaal toe vervoer in ‘n ambulans wat haastig ontbied was. Die personeel het sy ma gekontak om dadelik te kom. By die hospitaal het die dokter vir haar gesê dat hy nie dink die jong man het ‘n kans om te oorleef nie. Haar seun was by sy volle bewussyn toe sy langs die bed kom staan het. Sy het in ‘n sagte stem met hom gepraat, maar hy het elke woord gehoor:

“Andre, jy wou nie hoor wanneer ek jou vermaan het om jou nek voor die Here te buig nie. Ek het elke dag by die Here gesmeek om jou genadig te wees, maar nou bid ek nie een enkele woord verder vir jou nie, want jy verhard nog steeds jou nek teen God.” Na die woorde het sy ma omgedraai en uitgestap.

Hy het vertel dat hy hardop uitgeroep het: “Ma kan dit nie doen nie! Ek het nou Ma se gebede nodig!” Maar sy ma het nie teruggekom nie. Hy het geweet dat hy gaan sterf en daar op die hospitaalbed het hy sy nek voor die Here gebuig en gesmeek om vergewe te word. Hy het homself daar as sondaar gesien wat verdien om die ewige verdoemenis in te gaan en het gepleit vir vergifnis en genade. Hy het hom bekeer en die Here het hom genees. Hy het ‘n sendeling geword om die Woord van die Here uit te dra na ander wat ook verlossing nodig gehad het. So het ons hom ontmoet, jare nadat hy sendeling geword het.

Ek het van hom onthou toe ek so ‘n ruk gelede die boek gelees het wat J.E. Church oor die herlewing in Oos-Afrika geskryf het.“Quest for the highest.” Daarin vertel hy van ‘n droom wat een van die Mutusi Christene met hulle gedeel het. Dit het ook met ‘n nek te doen, maar met ‘n geboë nek. Miskien sal dit die heel beste wees om die droom net so aan te haal soos dit in Engels geskryf is.

“I saw all the host of heaven and heard the voice of God calling to his Son who stood before Him. Then God said, ‘My Son, are you willing to go down to the earth which Satan has spoiled, to save the world?’ The Lord Jesus, standing erect, bowed his head and said, ‘Yes, Father’. Then a second question came: ‘My Son, are you willing to be born as a human being into a very poor home, and to be rejected, and to be deserted by all your friends and family to die a very cruel death?’ Again the Lord Jesus bowed his head and said, ‘Yes, Father’. Then a third question came: ‘Are you willing, my Son, as you die for the sins of the world, for Me, your Father, to hide my face?’ Then for a few moments Christ stood erect, and paused, while all heaven waited. Then He bowed slowly and said, ‘Not my will, but Thy will, oh my Father.’”

Each time Kilimenti bowed his head as he said the words. Then he said, “I saw Christ dying for me, I found myself gazing at Him on the Cross as He bowed his head for my sins, and I heard a voice saying to me, ‘Are you a thief?’ But quickly I stiffened my neck and said, ‘No I’m not. It’s only what everyone does!’ Then as I looked at the One on the cross looking down at me my heart melted, and I bowed my head to Him and said, ‘Yes, Lord, I am a thief. It is I who should have died, not You.’”

Ek kon met daardie woorde identifiseer, dit is ek was moes gesterf het, nie Christus nie. Ook in my plek het Hy die straf vir die sonde gedra. Dit raak my altyd wanneer ek lees hoe Jesaja meer as seshonderd jaar voor die geboorte van Christus al voorspel het dat Hy in ons plek sou sterf. Wat Hy deurgegaan het, is toe reeds in die profesie so aangrypend uitgebeeld.

“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

Ek lees sommer my eie naam in daar waar die profeet “ons” geskryf het. Dan is daar net ‘n diepe dankbaarheid dat dit in my lewe waar geword het. Dat ek, deur die magtige werking van die Heilige Gees in my innerlike, ook my nek kon buig en kon erken dat ek die skuldige was. Deur sy wonde kom daar waarlik genesing van die diep werke wat sondeskuld in ‘n mens se siel ingraveer het.

Ek onthou hoedat my ouma ons vertel het van ‘n ma wat dikwels by haar kom huil het oor ‘n seun wat so roekeloos geleef het dat hy geen plek vir God en sy gebod gehad het nie. Die ma het vir Ouma gesê: “Nonnie, hy sal eers sy nek moet breek voordat hy dit voor God sal buig.” Die ma was al oorlede toe haar seun in ‘n ongeluk was en sy nek gebreek het. My ouma het hom in die hospitaal gaan besoek en hom vertel wat sy ma oor hom gesê het. Toe het sy bygevoeg: “Dus het die tyd vir jou aangebreek om jou te bekeer en jou nek voor God te buig.”

Paulus skryf ook van iets anders wat eendag sal moet buig. “…sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”

Elkeen wat ‘n nek en ‘n knie het, kan maar vir seker weet dat daar ‘n dag kom wanneer dit sal moet buig voor die Een wat ons gemaak en alles gegee het om ons te red uit ‘n nuttelose lewe sonder God. Buig liewers nou terwyl jy nog asemhaal, want as die Skepper die asem kom wegvat wat Hy jou geskenk het, moet ‘n mens in Christus gevind word anders is dit vir ewig te laat.

afAfrikaans