DIE GEKNAKTE RIET
Mattheus 12:20
“‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie.”
Jesus het op ‘n Sabbatdag in ‘n sinagoge gekom en daar ‘n man met ‘n verdorde hand gesond gemaak. Die Fariseërs was vir Hom smoorkwaad omdat Hy op ‘n Sabbat aan iemand goed gedoen het. Volgens hulle was dit nie geoorloof nie! Dink net! Hulle wou vir Jesus doodmaak omdat Hy aan ‘n man wat deur sy gebrek soos ‘n geknakte riet was, goed gedoen het. Jesus het toe vandaar weggegaan en op ‘n ander plek al die siekes wat agter Hom aangeloop het, gesond gemaak. Ons lees dat Hy hulle streng beveel het om Hom nie bekend te maak nie sodat die woord wat deur die profeet Jesaja gespreek is vervul kon word. Dan volg hierdie aanhaling dat sy stem nie in twis en harde uitroepe op straat gehoor sal word nie. Hy sal ‘n riet wat geknak is nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie.
Dit is duidelik dat hier van mense gepraat word, ‘n mens wat soos ‘n geknakte riet is of soos ‘n lamppit wat rook. My gedagtes het na Elia toe gegaan. Hy wat so kragtig deur God gebruik was toe Israel van God afvallig geword het, het onverwags opgetree soos ‘n geknakte riet en soos ‘n lamppit wat rook.
Elia het opdrag gekry om ‘n droogte wat drie en ‘n halwe jaar sou duur, aan te kondig en daarna moes hy gaan wegkruip dat Agab hom nie kon kry en doodmaak nie. Daar in die eensaamheid van sy skuilplek het kraaie hom versorg met vleis en brood, elke oggend en aand. Toe die water in die spruit opgedroog het, is hy na ‘n weduwee in Sarfat gestuur en sy sou hom versorg. Toe dit die Here se tyd was vir ‘n konfrontasie tussen Hom en die Baäl profete wat sy volk so mislei het, het Elia weer in die openbaar verskyn en koning Agab gevra om die volk van God en die profete van Baäl op die berg, Karmel saam te roep.
“Hoe lank hink julle nog op twee gedagtes. As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na.”
Voor die oë van die afvallige volk het dit baie duidelik uitgestaan dat Baäl net ‘n dooie afgod was met ore wat nie kon hoor nie en hande wat nie kon beweeg om sy aanbidders te help nie. Die God van Israel leef, want Hy het sy dienaar, Elia, se gebed dadelik verhoor en vuur gestuur om die offer te verteer. Die hele volk het op hulle aangesigte voor die lewende God neergeval en uitgeroep dat Hy God is. Daardie konfrontasie met die profete van Baäl, die reën wat die jarelange droogte gebreek het en nog die krag om voor die koets van Agab vir meer as dertig kilometers uit te hardloop, het Elia se kragte getap. Na al die verstommende gebeure, vind ons die profeet, Elia, ‘n dag of twee later in die woestyn onder ‘n besembos.
‘n Geknakte riet.
Moeg, uitgeput en sonder hoop vir sy lewe.
‘n Lamppit wat rook.
Nie dat hy teen sy God gedraai het nie, nee, net tot die dood toe moeg en stukkend, want na alles wat hy gedoen het vir God se volk kry hy stank vir dank. Na daardie ingrypende wonderwerk van God waar Hy Homself weereens as die God van Israel openbaar het, hoor ons nie dat een van die volk hulle openlik by Elia geskaar het nie. Nie een van hulle het vir hom huisvesting, kos of beskerming aangebied nie. Agab wat ‘n ooggetuie was van alles wat daar op Karmel gebeur het, moes tog ook neergeval en saam met die volk uitgeroep het dat God waarlik die God van Israel is. Met watter soort gesindheid het hy dan vir Isébel gaan vertel alles wat Elia gedoen het? Niks van wat God gedoen het nie – Elia kon tog nie die vuur vanuit die hemel laat val het om die offer te verteer nie. Om te hoor van die slagting van vierhonderd en vyftig van háár Baäl profete het haarmet woede en wraak gevul. Sy het onmiddellik ‘n boodskapper na Elia gestuur om hom in te lig dat sy lewe aan ‘n draadjie hang. Wat hy aan die profete van Baäl gedoen het, sou aan hom gedoen word.
Elia het gevlug! Eers ver genoeg om in ‘n gebied te kom te kom waar die wrede Isébel geen gesag gehad het nie. Dit was egter vir hom nog nie ver genoeg van die gevaar nie. Hy was volgens hom die enigste profeet wat uit haar kloue ontsnap het. Die volk het weggedraai van hulle God, en sy altare lê omgegooi. Niks wat hy kon doen, het die volk teruggebring na God nie en nou wil hulle hom ook doodmaak.
“Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here.”
Het die Here hierdie geknakte riet gebreek en sy lewe weggevat? Hierdie lamppit waar die vlammetjie nie meer sigbaar was nie, net die rook van moedeloosheid – het die Here dit doodgedruk en uitgedoof?
Nee! God in die hemel het anders gedink as sy profeet. Miskien het Elia gedink en gehoop dat die Here sy gebed sou verhoor voordat hy uitgeput daar onder die besembos aan die slaap geraak het. Die Here het egter ‘n engel na die geknakte riet gestuur om vir hom kos te maak!
“Staan op, eet!”
Die engel se aanraking en stem het Elia wakker gemaak. Dit lyk nie asof hy die engel gesien het nie, maar wel die broodkoek en die kruik water. Hy het geëet en gedrink en dadelik weer aan die slaap geraak. Vir ‘n tweede keer het die engel hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel.”
Dis duidelik dat die Here geweet het dat Elia beplan het om so ver weg te vlug dat Isebel hom nooit in die hande kon kry nie. Hy het Elia nie gekeer nie, maar vir hom kos gestuur om hom te versterk vir die lang pad – moontlik ses tot sewe honderd kilometer deur die woestyn! Elia se kop het in die rigting van Horeb gestaan, Horeb die berg van God. Hy het mos vir drie en ‘n halwe jaar weggekruip, nou kon hy weer gaan wegkruip, ver weg waar niemand hom sou vind nie. Daar waar God wonderbare dinge vir sy volk gedoen het, dáár kon hy dalk heenkome vind.
Die geknakte riet het vir veertig dae en veertig nagte deur die woestyn gestap. Die vlam wat so hoog gebrand het in sy binneste daar op Karmel, was nou so klein dat die pit maar net gerook het, hy was ‘n vlugteling.
Wat het in Elia se gedagtes omgegaan toe hy vir meer as ‘n maand lank elke dag net gestap het deur die sand van die woestyn? Het hy die geskiedenis van die volk van God onthou? Gedink aan Moses wat daar by die voet van berg Horeb die lewende God ontmoet het? Daar waar Hy vanuit ‘n brandende bos met Moses gepraat het en vir hom opdrag gegee het om die volk uit Egipte te bring. Moses wat vir veertig dae en veertig nagte daar op die berg in God se teenwoordigheid deurgebring het? Het hy onthou hoe die volk daar in die woestyn tientalle kere gemurmereer het en wat hulle alles oorgekom het? Of was sy gedagtes besig met alles wat hyself deurgegaan het vandat hy as ‘n profeet van die Allerhoogste opgetree het?
Horeb was ‘n heel ander soort berg as Karmel. Dáár op Karmel was Elia die profeet wat aan die kant van God gestaan het en hy kon die koning en die hele volk uitdaag. Die Here kon daar groot wonderwerke doen, maar op Horeb het hy aangekom as ‘n vlugteling, ‘n profeet wat kom wegkruip om sy lewe te red. Die Here het vir hom gevra:
“Wat maak jy hier, Elia?”
Het Elia in die vraag gehoor dat die Here hom berispe? Waarom het hy die volk wat hom nodig het, verlaat? Waarom het hy sy roeping as profeet vergeet? Die geknakte riet verdedig homself en regverdig sy optrede. Die smart van sy hart oor die toestand van die volk, die seer en die bedruktheid van sy gemoed het hy in ‘n paar sinne verwoord:
“Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem.”
Wat wou die Here God vir Elia leer toe Hy hom beveel het om uit die spelonk te kom om daardie sterk wind wat rotse kon breek, die aardbewing en toe die vuur te aanskou? Dit het Elia nie so diep beweeg soos die sagte, koel ruising wat gevolg het nie. Daarin het hy die teenwoordigheid van God herken en sy gesig bedek.
‘n Tweede keer het die Here vir Elia gevra:
“Wat maak jy hier, Elia?”
Na alles wat Elia beleef het daar op die berg, was sy antwoord presies dieselfde. Hy was waarlik ‘n diep geknakte riet! En wat het God gemaak met die profeet wat daar voor hom so sonder vlam was, bedek in rook van sy selfregverdiging en ellende? God het hom die hele pad teruggestuur na dieselfde volk toe, maar met ‘n opdrag wat hom gevul het met nuwe moed. Die drie mense wat hy moes gaan salf, hulle sou afreken met die afvallige volk en die afvallige koningshuis.
Kan dit wees dat jy ook na ‘n goeie en vrugbare lewe, jouself daar bevind dat jy maar liewers wil doodgaan. Jou hart sê ook vir jou: “Dit is nou genoeg. Genoeg van sukkel en stry. Genoeg aan misverstande en harde woorde. Genoeg van al die mislukkings en foute. Genoeg van die wêreld met al sy onmin, haat, nyd en donkerte. Genoeg!”
Het jy handdoek ingegooi? Jou hande gevou en laat alles by jou verbygaan asof jy niks sien en niks hoor nie? Jou geloof in God die Almagtige wat oor alles heers, het geword soos ‘n lamppit wat rook – daar is amper niks meer oor nie. Jy kan nie meer in die wind beweeg soos ‘n riet nie – die wind van die lewe het die riet geknak. Jy voel geknak, jy dink soos ‘n geknakte en jy reageer vanuit ‘n geknakte toestand. Dit is makliker om liewers die tyd om te slaap of om te wens.
“Staan op! Eet.”
Die Woord van God is die Brood wat jy nodig het. Maak jou hart wyd oop en kom as die geknakte riet na die Een wat jou nie verder sal breek nie. Kom as die rokende lamppit na die Een wat jou nie sal uitdoof nie, maar eerder die lamppit sal skoonmaak dat die vlam van die lewe weer hoog in jou kan brand.
Daar is vir jou ‘n opdrag: “Eet, anders gaan die pad vir jou te lank word. Jy moet nog baie vir my Naam ly. Jy moet nog die opkomende geslagte vertel van die groot dade van God. Jy moet hulle verseker dat Hy, ons barmhartige en genadige God, ons God sal wees tot die dood toe.”