DIE DEUR
Net die ander dag het ‘n broer uit Openbaring 3:20 vir ons gelees: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou en hy met My.” Toe het hy opgekyk en gevra: “Dink julle ooit daaraan wie dit is wat by die deur staan en klop en aan watter deur Hy klop?”
Sy vrae was dae lank soos aangename kuiergaste in my gedagtes. Ek het daaroor nagedink – ook oor my eie verhouding met die Een wat staan en klop. Toe Hy hier op aarde was, het Hy Homself voorgestel as die Deur vir sy skape – die toegang na die hart van die Vader in die hemel en hier staan Hy, die Godgestuurde Deur om die mens met die hemel te verbind – Hy staan en klop om ingelaat te word!
So het my gedagtes teruggegaan na die deur van die ou plaasopstal waar ek grootgeword het. My oorgrootjie het sy enorme plaas onder sy seuns verdeel en my oupagrootjie het ons huis in 1860 op die gedeelte gebou wat hy ontvang het. My oupa is in daardie huis gebore en het daar grootgeword en het die plaas geërf. Toe is my pa ook in daardie huis gebore en het die plaas geërf. My oudste broer wat die plaas geërf het, is egter in die hospitaal gebore, tog ken hy elke hoekie en draaitjie van die huis en die plaas. Dit is ook in sy bloed!
Ons huis het ‘n groot, swaar houtvoordeur wat oopmaak op ‘n stoep met ‘n houtvloer en mooi siertralies. Ek het vas geglo dat die deur nie ‘n sleutel het nie, want dit is nooit gedurende my kinderjare gesluit en ek het nooit ‘n sleutel in die slot gesien nie. Ook nie die agterdeur waar mens die onderste gedeelte kon toehou met ‘n skuiwer nie. Die bodeur het gewoonlik oopgestaan behalwe met sterk wind of ysige koue. Daar was net geen sleutels nie, behalwe die badkamerdeur, daar was ‘n skuifslot aan die binnekant – geen sleutels vir die slaapkamers of selfs die mooi gangdeur nie. Dit was asof sleutels nie eers nodig was nie, want ons almal het ‘n deur wat toe was met groot respek behandel. Niemand in ons gesin het ooit sommer net ‘n deur oopgemaak en ingeloop nie. Ons het geklop en gewag om die antwoord te ontvang of ons mag inkom of nie. ‘n Mens het heeltemal veilig gevoel en geleef in die versekering dat niemand ongenooid in jou privaatheid sou inbars nie.
Somernagte het die voordeur en slaapkamerdeure wawyd oopgestaan om koel lug in te laat in die drukkende hitte. Ek het sonder vrees vir diewe of inbrekers grootgeword, ons het net nooit gedink dat iemand ongevraagd in ons huis sou inkom nie. In die een gang het die jaggewere aan dieselfde kapstokke gehang waar die mans hulle hoede en baadjies na werk opgehang het, maar die deure was nie gesluit nie.
Min mense het ooit aan die voordeur geklop, want niemand kon eintlik onaangekondig daar opdaag nie. Die ruiter wat te perd opgedaag het, se koms is aangekondig deur die honde wat gewoonlik buite was en dan het iemand uitgegaan om hom in te nooi terwyl hy nog besig was om af te saal. ‘n Motor is al van ver af gehoor want ons plaas het eenkant gelê en mens kon ‘n voertuig hoor aankom. Die besoekers is al buite ingewag nog voordat die voertuig tot stilstand gekom het. Of my ma het vanuit haar werkkamer geroep en gesê: “Gaan kyk gou waarom blaf die honde, dit klink asof daar iemand buite is.” Of “Kyk gou by die voordeur wie daar is, ek hoor die tuinhekkie het oopgegaan.”
My ma het grootgeword in ‘n huis waar die deur vir almal oopgestaan het. In die langdurige droogte van 1933 het haar familie baie dinge beleef met mense wat net nie meer kon voortbestaan op hulle plase nie en dan maar so sonder heenkome met wa en perde die pad gevat het. Omdat Oupa en Ouma se voordeur en hulle harte vir hulle medemense oopgestaan het, het baie behoeftiges hulle weg daarheen gevind. My ma het ons vertel hoedat hulle soms van die plaasskool af teruggekom het, dan het Ouma hulle tegemoetgekom en gesê; “Kinders, net so op etenstyd het daar ‘n man en sy gesin onverwags opgedaag. Foeitog, hulle was twee dae op pad en regtig honger, so ma het maar al die vleis en gekookte kos vir hulle uitgeskep, maar daar is darem vars gebakte brood wat vir julle wag.”
Die berede polisiemanne wat so ‘n paar keer elke jaar al die afgeleë plase besoek het, het graag teen sononder by hulle huis kom afsaal. Hulle het geweet dat die deur oopstaan en daar sou ‘n stomende bord kos wees en ‘n skoon opgemaakte bed in die spaarkamer waar hulle kon oornag. Hulle het nooit ‘n boodskap vooruit gestuur om te sê dat hulle kom nie, want dit was nie nodig nie. Hulle was altyd welkom en alles was altyd gereed.
My pa se neef, oom Piet, het altyd lekker gekry as hy ons met ‘n onverwagte besoek kon betrap. Soms het die noordewind so kwaai gewaai dat hoor en sien vergaan het of die seuns was met die honde weg op ‘n jagtog, dan het hy langs die buitekamers van ons huis stilgehou en die motordeur sag toegemaak. As hy by die agterdeur kon instap sonder dat iemand hom opgemerk het, het hy dit baie geniet. Hy was skielik net daar in die kombuis en sy harde groet het deur die huis gedawer. Sy gesig het van genot gestraal, want hy het ons uitoorlê.
So het die gemeente van Laodisea eendag onverwags ‘n Besoeker gekry. Dit was nie sy bedoeling om hulle te bekruip en uit te oorlê nie, want dit was sy tuiste, sy mense, sy duur gekoopte eiendom. Hy was nie ‘n vreemdeling nie. ‘n Mens wonder wat in sy hart moes omgaan dat Hy voor ‘n geslote deur moes staan en klop.
Eintlik het Hy al lankal geweet dat die deur nie meer vir Hom oopgestaan het nie en daarom die onverwagte besoek. Hy het nie in lewende lywe aan hulle verskyn soos in die dae toe Hy op die aarde geleef het nie, Hy het hulle egter besoek in ‘n brief wat Hy aan Johannes gedikteer het toe Hy die apostel daar op Patmos besoek het. Dit was ‘n duidelike opdrag dat ‘n brief aan die gemeente van Laodisea geskryf moes word met ‘n baie spesifieke boodskap. Dus het die lewende brief van Hom by hulle in Laodisea aangekom, en Jesus Christus self het die dag vanuit die geskrewe woorde met hulle gepraat.
Hulle het Hom geken! Hy was dan die Deur wat op die grondvlak van hulle lewens skielik vir hulle oopgegaan het toe die waarheid van die koninkryk van God hulle harte aangegryp het. Toe hulle besef het dat hulle sondaars was en die doodstraf verdien het, was Hy daar. Gedompel in diepe berou en benoudheid oor die verlore toestand van hulle siele, was Hy, die Deur van hoop, genadiglik daar.
Ja, hulle het Hom geken! Sy Naam was Jesus Christus, die Deur na ware vergifnis; die Deur na daardie fontein van sy gestorte bloed wat in ‘n gloed van liefde reinig van alle sonde en smet; die enigste Deur na die hart van die Hemelse Vader waar hulle in die hemelse koninkryk ontvang is en deur Hom kinders van God geword het.
Hyself was die Deur na die skaapstal waar Hy die goeie Herder van sy kudde was. Hulle was die skape van sy weide en nou het die Herder van die kudde hulle kom besoek. Die Hoof van die gemeente was skielik daar tussen hulle, want sy woorde in die brief was sy eie lewende stem.
Daar was ‘n tyd toe hulle siele in sy teenwoordigheid tevrede en versadig was.Toe het hulle niks meer nodig gehad as om net te doen wat Hy verlang het en om te gaan waar Hy gelei het nie. Hulle het Hom regtig geken, maar daar moes ‘n dief in die skaapstal ingekom het, daardie dief wat net kom om te roof en te steel en te vermink. Die eerste liefde vir Christus, vir hulle goeie Herder wat sy lewe vir hulle afgelê het, is weggesteel en hulle het dit nie eers agtergekom nie. Hulle het gepraat en getuig asof alles so goed gegaan het , maar intussen het hulle siele verhonger, want hulle het hul Herder vergeet. Hulle het nie meer geleef volgens sy opdragte en die leiding van sy Gees nie. Daar was ‘n baie groot verskil tussen die beeld wat hulle van hulself gehad het en hoe hulle hemelse Herder hulle gesien het.
Ek kan my net voorstel watter diep skokgolwe deur hul geledere getrek het toe die woorde een vir een daar in hul midde voorgelees was. Seker soos geweerkoeëls wat hulle harte getref het.
“Ek ken jou werke!”
“Jy is nie koud nie, ook nie warm nie, en Ek sal jou uitspuug!”
“Jy is ellendig, beklaenswaardig, arm, blind en naak.”
Die wat ‘n oor gehad het om te hoor, het gehoor in watter noodtoestand hulle siele verkeer het. Hulle het ook ‘n oor gehad om te hoor dat Jesus ‘n uitkoms aangebied het. Hulle hoef nie te bly soos hulle was nie. Hy het hulle bestraf omdat Hy hulle liefgehad en verlang het dat hulle weer die deur vir Hom oopmaak. Hy het gekom om hulle te red uit daardie haglike geestelike toestand waarin hulle hulself bevind het. Hy was daar om hulle te help. Hy het by die deur gestaan. Dit was sy stem wat geklop het om ingelaat te word. Hulle kon die deur van hulle harte oopmaak dat Hy kon inkom, dan sou Hy goud saambring dat hulle weer geestelik ryk kon word en wit klere wat hulle geestelike naaktheid sou bedek. Hulle het Hom vergeet, Hom uitgestoot uit hulle lewens, maar Hy het hulle besoek. Hy het geklop en die een wat sy vermaning en bestraffing hoor, kon berouvol die deur oopmaak. Hy sou inkom en hulle red van hul afvalligheid en liefdeloosheid. Hy sou alles tussen Hom en hulle weer herstel.
Wat daardie dag in die harte van die gemeentelede in die bymekaarkomplek gebeur het, kan ‘n mens jou net voorstel. Hulle was ook mense net soos ons. Ek dink dat van die gemeentelede sommer net daar waar hulle vergader het, op hulle knieë geval het en met gebroke harte hulle tot Christus gewend het. Sy woorde het hulle sekerlik kragtiglik oortuig van hul afdwaling van die nou pad omdat hulle nie meer die kruis wou opneem en hulleself verloën nie. Hulle sou hul net daar bekeer van die liefde vir die wêreld wat weer in hulle gegroei het en genesing gesoek het vir hul geestelike blindheid en naaktheid. Hulle het die deur van hul harte oopgemaak en Jesus Christus het ingekom. O, watter heerlike saamwees by ‘n maaltyd van God se genade, vergifnis en herstelde vrede!
Ek is oortuig dat daar egter ook dié sou wees wat nie wou hoor nie, die wat met opset hulle harte verhard het; dit is mos hoe ons ook vandag nog is. Moontlik het hulle verontwaardig na die ander gekyk wat op hulle knieë besig was om hardop te huil en uit te roep vir genade. Miskien het hulle uitgeloop en mekaar buite gekry en hul besorgdheid teenoor mekaar gelug.
“Broers, wat dink julle, het die arme Johannes nie te swaar gekry onder al die vervolging nie? Was die verbanning na Patmos nie te veel vir die ou man nie? Dit klink asof hy geknak het en sy verstand verloor het. Die arme ou apostel, dit gaan dan so goed met ons, ons is so suksesvol as ‘n gemeente, hoe sal die Here dan so met ons praat?”
“Ag, ek dink iemand wat jaloers is omdat dit so goed met ons gaan, het die brief geskryf. Hoe sal die Here nou sê dat Hy op die punt is om ons uit te spoeg omdat ons lou is. Nee wat, dis duidelik dat die brief nie van Johannes kan kom nie, want eenmaal ‘n kind van God, dan tog vir ewig sy kind.”
“Broers, ons moet bid! Hier kom probleme! Kyk nou net na die klomp wat glo dat Christus die woorde tot ons gerig het. Ek sien klaar hoe hulle ‘n dwaalspoor gaan inslaan. Kom, ons paartjies wat nie so oploop gejaag is deur ‘n brief nie bly staande dat die gemeente nie in ‘n sekte ontaard nie!”
By hoeveel van die deure waar Jesus gestaan en klop het, moes Hy later maar omdraai en wegstap. Daar was nie meer ‘n oor om te hoor nie. Die stem van die Herder was nie meer geliefd nie. Hoe onbeskryflik tragies!
Dink daaraan! Die brief is ook vir ons geskryf, vir die kerk van vandag, maar ook vir elkeen van ons persoonlik. Dit is Jesus Christus wat in diepe nederigheid staan en klop. Aan watter deur? Aan die deur van die hart van ‘n gelowige wat Hom eers goed geken het, maar Hom toe vergeet het. Maak tog oop! Daar is ‘n maaltyd wat vir jou wag saam met die Koning van die verlostes.