My ma het vir ons iets vertel wat gebeur het toe sy so ongeveer nege jaar oud was. Dit was lank baie droog en die vrugtebome en diere het swaargekry. Die damme was dolleeg en die son het warm neergebak op die dorre aarde. Hulle het gevrees dat daar die jaar geen vrugte oes sou wees nie.
Die boere van die omgewing het ‘n dag bepaal waar hulle almal saam sou kom en die Here aanroep om genade. Hulle sou pleit vir reën.
My oupa het die afleislote op sy plaas laat skoon skoffel en hy was gereed vir die reën wat die Here sou stuur. Hy het sy buurman gesien werk in sy perskeboord reg langs die grensdraad en hom toegeroep:
“Buurman, ry saam met my. Ons kom vanmiddag bymekaar om die Here te vra vir reën.”
“Oom Manie, gaan bid jy maar, ek het nie tyd vir sulke goed nie. Buitendien as jou Here vir jou reën stuur, val dit tog ook op my grond.”
My oupa het sy buurman bestraf en ernstig gesê: “God is nie ‘n mens se speelmaat nie.
Boere het saamgekom op een van die plase en een van hart by die Here gepleit vir reën. ‘n Paar uur later het Oupa na sy plaas teruggery in gietende reën! Die Here het dadelik geantwoord. Sagte deurdringende reën het die aarde bevogtig en plaasdamme het weer leiwater gehad.
Op die buurman se plaas was dit ‘n ander storie. ‘n Verwoede storm het daar losgebars met hael wat baie vrugte van die bome afgeslaan het. ‘n Wolkbreuk reg oor sy plaas het gemaak dat vloedwaters in sy dam ingestorm het. Die damwal het gebreek en die vloedwater het selfs bome ontwortel en alles meegesleur en op die onderpunt van my oupa se plaas oor die grensdaad gegooi.
My ma het vertel dat Oupa all sewe van hulle bymekaar geroep het en hulle na die onderpunt van die plaas geneem het. Daar het hy vertel wat die buurman vir hom gesê het en vir hulle gewys wat op die buurman se plaas gebeur het, maar op geen ander plaas in die kontrei nie.
“Sien en verstaan, kinders, God is nie ‘n mens se speelmaat nie.”
In die dorp word daar vertel van ‘n dag waar Ouma en Oupa die atmosfeer in ‘n bus so aangenaam gemaak het dat baie die rit onthou het. Iemand het blykbaar geweet dat Oupa so verlang het om weer sy suster in Kaapstad te sien en toe het hy Oupa-hulle gaan nooi om saam met hulle te ry.
“Oom, ‘n groot klomp van ons het ‘n bus gehuur want ons wil die vakansiedag by die see gaan deurbring. As Oom wil saamry, kan ons julle aflaai op ‘n plek wat naby is vir Oom se suster om julle te kom haal.”
Na deeglike oorweging het Oupa en Ouma toe die afgespreekte oggend dou voor dag op die bus geklim. Hulle sou vir ‘n hele week gaan kuier, dus het hulle met dankbaarheid die aanbod vir een rigting aangeneem. Soos meer en meer van die groep die bus bestyg het, kon die genooide twee opmerk dat daar ook bottels wyn in die piekniek mandjies ingepak was. So hier en daar het ‘n dorstige gevoel ‘n goeie sluk sou help vir die lang pad. Die gepratery was gou-gou nie meer opbouend nie. Ouma het ‘n oplossing gevind, sy het hard begin sing: “Prys die Heer met blye galme!” en Oupa se basstem het ingeval. Voordat die lied tot ‘n einde gekom het, het die meeste mense in die bus saamgesing. Sodoende het hulle toe een psalm en gesang na die ander gesing vir die grootste gedeelte van die pad.
Een van die bure het ons ook vertel wat die aand gebeur het toe daar ‘n aardbewing was wat die dorpie geskud het. Oupa en Ouma was al vroeg in die bed en reg vir die vroeë nag se slapie, toe hulle bed skielik heen en weer geskommel het. Die kas het dieselfde gedoen. Byna dadelik was daar ‘n groot geskreeu in die strate. Oupa het opgestaan en deur die venster gaan kyk. Die berge rondom die dorp was aan die brand en mense het oral in die straat gestaan, sommige het vreesbevange geskree.
“Nonnie, dit is die koms van ons Here Jesus,” het Oupa opgewonde vir Ouma vertel en weer terug in die bed geklim. Die twee het begin sing terwyl hulle wag dat die Here Jesus sou kom. Daar was vreugde dat hulle saam hemel toe sou gaan. Hulle het met blye afwagting gesing en later het Ouma hoofstukke van die Bybel uit haar kop opgesê, en nog het die Here Jesus nie gekom nie.
Daar was ‘n harde klop aan die deur en ‘n buurman het geroep: “Oom Manie, tannie Nonnie, dit was ‘n aardbewing. Die berge brand, want die rotse wat losgeruk is, het seker vonke gemaak en die berge is reeds so droog.”
Hulle was waarlik teleurgesteld dat dit nie die wederkoms van die Here Jesus was nie, dan sou hulle tog saam die aarde kon verlaat het na hulle ewige tuiste by hulle Here Jesus.
As kinders het ons graag by Ouma en Oupa op die plaas gaan kuier. So in die gang van ‘n dag het Ouma baie lewenswaarhede in ons vasgeheg.
“Kinders, dit is nooit nodig dat ‘n mens vuil en slordig is nie. Al is jy brandarm en kan nie nuwe klere bekostig nie, kan jou klere altyd heel en skoon wees. Dit is nie moeilik om ‘n naald en gare te kry nie, maak heel ‘n skeur, werk aan ‘n knoop wat afgeval het, knip af die toiings en soom dit om, lap dit as nodig, maar sorg dat jy skoon is en heel. ‘n Mens loop nie rond met geskeurde en vuil klere nie. Jyself hoef ook nooit vuil te wees nie, ‘n mens kan jouself silwerskoon was in ‘n klein bietjie water.”
“Kinders, moenie met kos mors nie. Skep net op waarvoor jy plek in jou maag het.”
Op die houtstoof het ‘n pot rooibostee gestaan en trek en ons kon ook die lekker soet tee met baie melk gedrink het voordat dit nog regtig teetyd was. Oupa het altyd vir Ouma die groente geskil. Met sy knipmes het hy die groenboontjies in sulke dun skyfies gesny en dan het Ouma dit met aartappels en uie gaargemaak.
Toe Oupa en Ouma al in my pa-hulle se tuishuis op die dorp gewoon het, het Oupa ernstig siek geword en was vir weke lank in Kaapstad. Van ons kleinkinders het beurte gemaak om by Ouma te gaan slaap sodat sy nie alleen was nie. Ek het dit so geniet, want ek het dan by Ouma in die dubbelbed geslaap. Saans voordat ons ingekruip het vir die nag, het ons eers gekniel. Ouma se grys hare wat bedags altyd in ‘n bolla agter haar kop vasgesteek was, het dan in ‘n vlegsel oor haar rug gehang. Ouma het gebid, soms sulke hooghollandse woorde wat ek nie verstaan het nie, maar haar stem was vir my so mooi. Soggens is ek weg skooltoe met ‘n toebroodjie vir pouse en die huistoekom in die middae was net te lekker! My bord kos het vir my gewag. Ouma het klokslag twaalfuur geëet soos die gewoonte op die plaas was en die skool het eers net so voor twee uitgekom. Soms was daar ‘n paar skywe polonie saam met die middagkos. Dit was vir my ‘n lekkerny, want op die plaas het ons nie winkelkos gekry nie.
Toe ek na my troue met my man by Ouma en Oupa gaan kuier het, het Ouma met sulke glinsterende, ondeunde oë vir my man gesê: “As Esther nie mooi vir jou sorg nie, mag jy haar maar slaan.”
Ek het met groot skok uitgeroep: “Ouma!” want so iets het ek nog nooit uit haar mond gehoor nie.
“Ja, maar jy slaan net met ‘n sysakdoek en daar mag nie eers ‘n knoop in die sakdoek wees nie.”
Sy het saam met ons gelag, net die breë glimlag en die liggaam wat skud.