MY OUMA EN OUPA HET ONTHOU WAT HULLE BELOWE HET

“As jy ‘n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe het.”  (Prediker 5: 3)

‘n Mens kan nie maklik my ouma vergeet as jy haar geken het nie. Sy was ‘n groot vrou. Sterk, nie net sterk met krag in haar liggaam nie, sy was innerlik ‘n sterk mens.

Ek het eendag by die swaai onder die moerbeiboom gespeel, die grootmense het my nie daar in die skaduwee opgemerk nie. Ek het gehoor hoedat my ouma my pa bestraf oor wat uit sy mond uitgekom het en dit het diep in my vasgesteek.

“Jy moet nog eendag voor die lewende God staan en rekenskap gee,  jy kan nie sulke woorde uiter nie. Jy moet vergewe.”

Ek weet hoekom ouma so kon praat, want sy het eendag self voor die lewende God gestaan en ‘n belofte gemaak. Sy het ons vertel van daardie belofte. Dit het gebeur in die konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boere oorlog.  Sy was maar nog net veertien jaar oud en het gesien en beleef hoe baie vrouens en kinders daar gesterf het. Eendag toe sy weer by hulle tent kom, het sy opgemerk dat haar ma ernstig siek was van die koors. Terwyl sy so na haar ma staan en kyk wat so siek en hulpeloos daar gelê het, het ‘n groot benoudheid haar aangegryp. Ouma het vertel hoedat sy weggestap het na die plek waar die gestorwenes begrawe was. Dit was eenkant en stil.  Daar het sy in ‘n oop graf geklim, gekniel en haar hart voor die Here uitgestort. Sy het gepleit dat die Here tog haar ma se lewe spaar, want so baie was alreeds dood en weg uit hulle lewens, en hulle kon nie nog ook haar ma verloor nie. Met kinderlike opregtheid het sy haar lewe vir die Here gegee sodat Hy liewer vir haar neem, maar asseblief haar ma se lewe spaar.

Toe sy na ‘n lang tyd weer by die tent kom, was haar ma beter en besig om daar  skoon te maak. Ouma het nooit vergeet dat sy haar lewe aan die Here gegee het nie.

Na die oorlog is sy en haar ma terug na hulle plaas waar alles afgebrand was. Hulle het weer begin en eendag was hulle buite besig om wasgoed te was toe ouma mense sien aankom: “Ma, hier kom kuiermense. Ons het nog net genoeg koffie vir een keer se maak en ‘n halwe brood. Alles is op. Wat doen ek nou?”

“Gaan maak die koffie, en sit die brood voor, kind.  Gee jy die laaste, God stuur weer die eerste.”

My ouma het toe gedoen soos haar ma gevra het. Nadat die kuiergaste vertrek het, het hulle weer aangegaan met die wasgoed. Toe sien ouma weer in die verte iets beweeg. Sy het stip gekyk en kon later uitmaak dat dit drie mans was. Soos hulle nadergekom het, kon sy skaars haar opgewondenheid onderdruk. Aan die manier van stap het sy haar pa herken.
“Ma, dit lyk kompleet asof dit Pa, Koot en Jan is wat daar op die verste land aangestap kom.”  Haar ma het opgekyk en met vreugde hulle tegemoet gegaan. Hulle was terug van Bermuda waar hulle krysgevangenes was. Dit was ‘n wonderlike weersiens. In die hulle bagasie was daar ook kosvoorraad. God het weer die eerste gestuur! Net soos haar ma gesê het.

‘n Mens kan so maklik vergeet wat jy belowe het, veral as die belofte opoffering en ongemak meebring, of maak dat jy nie jou eie weg kan inslaan nie, maar nie ouma nie. Haar een broer was verstandelik vertraag en na haar ouers se dood het sy na hom omgesien… ook omdat sy haar ma belowe het. Tot sy dood was ouma se oog altyd daar om hom tot bedaring te bring as dit nodig was en om na sy behoeftes om te sien.

Baie van ouma leef nog voort in my herinneringe. Veral wanneer hulle vir ons op die plaas kom kuier het. Dit was so heerlik om vroeg in die oggend wakker te skrik met ouma en oupa se sang in die kamer langs ons. Ouma se stem was al bietjie skril van die ouderdom en oupa se bas het die lae note geslaan. Dan was daar die dreuning van oupa se stem wat uit die Bybel  gelees het. Daarna het die twee liewe mense hardop gebid. Hulle het lank gebid en ek het gewoonlik weer aan die slaap geraak want dit was nog baie vroeg. En buitendien was dit vakansie.

My niggie vertel dat sy eenkeer haar oor dig teen die muur gedruk het en sy kon hoor dat ouma en oupa elkeen van ons kleinkinders se name voor die Here genoem het en vir elkeen afsonderlik gebid het. En ons was baie. ‘n Hele gemeente. En dan nog al die agterkleinkinders!

Wanneer Oupa en Ouma se stemme weer stil word, het my ma koffie en beskuit kamer toe geneem. Daarna het die twee oumense weer ‘n bietjie ingedut en dan opgestaan om betyds vir ontbyt te wees.

Oupa het vir ons vertel waar hierdie gewoonte van vroeë oggend se Boekevat ontstaan het. Dit was ook uit ‘n belofte wat hy teenoor die Here gemaak het – ‘n belofte wat hy deur al die jare van sy lewe getrou nagekom het

Hy was ‘n jong boer en het net sy graanoes afgesny en alles in gerwe gebind. Dit moes nog van die land ingebring word na die plek waar hy jaarliks die mied gepak het. Toe skrik hy die een oggend voor dagbreek onrustig wakker en loer by die venster uit. Swaar reënwolke het oor die plaas gehang. Dit was onheilspellend vir die gerwe op die land, sy graanoes was in gevaar.

Sonder om twee keer te dink het hy vinnig aangetrek en hom gehaas om die perde uit die stal te kry en voor die wa in te span. So in die halfdonker het hy daarteen besluit om van sy werkers te gaan wakker maak om te help. Hy het die leiels gevat, op die wabankie gaan sit en op die gebruiklike manier met sy perde gepraat. In die vars oggendlug was die perde lus vir werk en het  op ‘n vinnige drafstap die wa oor die plaaspad af lande toe getrek. Die pad was al diep uitgetrap in twee duidelike spore, en tussen die spore was ‘n middelmannetjie vol bossies en gras wat nooit deur die perde of die wawiele raakgetrap was nie. In daardie bossies het fisante oornag en hulle het skielik verskrik met ‘n groot geraas hier reg voor die perde opgevlieg.

Dit was so onverwags en die perde het van skok wild begin hardloop. Oupa het opgestaan van die wabankie en met sy hele gewig aan die leisels gehang, terwyl hy paaiend praat, maar die perde was totaal buite beheer. In dolle vaart het hulle die wa oor die nou plaaspad agter hulle aangeruk. En toe kom die skerp draai en die wa het begin kantel. Oupa het afgespring toe hy besef wat gaan gebeur. Die wa het omgeval en teen die afdraend omgerol. Die perde is meegesleur. Skielik was alles doodstil.

Oupa het die perde verlos uit hulle tuie, maar sy geliefkoosde perd, sy getroue ryperd wat agter teen die wa getrek het, kon nie opstaan nie.  Die slag van die disselboom het sy agterbeen gebreek. Oupa se hart was stukkend. Hy het vertel hoedat hy teruggestap het huis toe, sy geweer van die haak in die gang afgehaal het, ‘n paar patrone uit die laai in sy sak gesit het. Daar was geen ander manier om sy perd uit die pyn te verlos nie.  Hy moes hom doodskiet.

Daarna het Oupa weer teruggestap huis toe.  Hy het die geweer opgehang en by sy bed gaan kniel:

“Here, vergewe my. Ek het vanoggend uit die huis gestorm sonder om een oomblik aan U te dink. Ek belowe U, dit sal nie weer gebeur nie. Ek benodig U en u seën in my daaglikse lewe. Van nou af sal ek eers my knieë voor U buig en U aanbid voordat ek my kamer verlaat en die dag se werk begin.”

So het ons kinders vir Oupa en Ouma leer ken. Vroeg oggend was daar die sang, die Bybellees en die gebede, dit was hulle lewenstyl. Oupa het nooit sy belofte aan die Here vergeet nie.

afAfrikaans